Liz McGregor
Boeke

Nog ’n interessante rugbyboek uit die pen van Liz McGregor

Al het sy nog nooit self rugby gespeel nie kan hierdie vrou met gesag skryf oor rugby. Haar tweede boek oor rugby het onlangs verskyn.

Dit het Liz McGregor twee jaar geneem om al die inligting bymekaar  te maak vir haar jongste boek, Springbok Factory: What it takes to be a Bok (Jonathan Ball, R195). Sy het wyd onderhoude gevoer met die spelers en afrigters, die Bokke se dokter en hul fisoterapeut, borge, handelsmerkbestuurders en nog ‘n swetterjoel mense.  Die Bokke se vrouens en meisies en ma’s het ook ‘n kans gekry om oor die manne te praat. McGregor het ook met rugbybase gepraat om te probeer om so volledige prentjie te kry van wat daarin sit om ‘n Springbok rugbyspeler te wees. In haar eerste boek, Touch, Pause, Engage!, het sy ook ‘n intensiewe ondersoek oor rugby gedoen, maar op skole-; universiteits- en provinsiale vlak. Sy het drie jaar aan dié boek gewerk. Rugby is dus ‘n belangrike deel van McGregor se lewe. Ek het haar per e-pos uitgevra oor waarom sy juis oor rugby skryf.

Het jy ooit rugby gespeel?
Nee, want dit was nie aangebied by die skool wat ek bygewoon het nie. Ek sou ook heel moontlik maar pateties gevaar het. Ek het net geen sporttalent nie en daarom bewonder ek spesifiek mense wat uitblink in sport.

Wat dink jy van vroue wat rugby speel?
Ek dink dis fantasties en moet aangemoedig word.

Waarom skryf jy juis oor rugby, want dis nie jou eerste boek oor die sport nie?
My eerste boek, Touch, Pause, Engage!, het die lig gesien, want my uitgewer, Jonathan Ball, het gedink ‘n vrou wat oor rugby skryf sal ‘n interessante perspektief oplewer oor rugby.  Dit was kort nadat die Bokke die 2007 Rugby Wêreld-beker gewen het. Die idee was oorpsronklik dat my tweede boek  ‘n dagboek oor die 2011 Rugby Wêreld-beker moet wees, maar ons het natuurlik nie baie goed gevaar nie. Ek het toe begin ondersoek instel na al die aspekte van Springbok-rugby in ‘n poging om te verstaan waarom ons nie konstant die wêreldwenners is wat ons moet wees nie, gegewe die talent en passie wat tot ons beskikking is.

Watter span ondersteun jy en waarom?
Eerstens die Springbokke en dan my tuisspan, die Stormers.

Gunsteling speler? Gunsteling afrigter?
Kan ek twee van elk noem? My gunsteling speler is Jean de Villiers, want ek het gesien hoe ‘n wonderlike kaptein, en ‘n fantastiese mens, hy is. Tweede is Jannie du Plessis, want hy bestuur die ongelooflike dubbele  prestasie om vir die Bokke te speel en om ‘n werkende dokter te wees. Hy hou toesig oor die MIV/vigs-kliniek by die Militêre Hospitaal in Durban. Hy kry dus dubbel punte omdat hy met baie hulpbehoewende pasiënte in ‘n openbare gesondheidsmilieu werk.
My gunsteling afrigters is Heyneke Meyer omdat ek dink hy doen ‘n moeilike werk goed en Allister Coetzee, want hy is die eerste en enigste Super Rugby-afrigter van kleur, maar hy maak geen bohaai daaroor nie.

Uit jou boek is dit duidelik dat jy baie respek vir Peter de Villiers het. Hy het al dikwels in die media met minagting na rugbyskrywers verwys. Voel jy deel van die span rugbyskrywers of sien jy jouself as ‘n ander tipe skrywer op wie De Villiers se minagting nie van toepassing is nie?
Ek is ‘n rugbyskrywer omdat ek oor rugby skryf, maar my fokus is anders as meeste van my kollegas s’n. Wat my die meeste interesseer is die man agter die speler/afrigter. Ek dink De Villiers het by tye rof deurgeloop in die media, maar hy het dit vir homself op die hals gehaal want sy uitlatings was dikwels alles behalwe konvensioneel. Hy was ten minste vermaaklik!

Hoe sien jy die toekoms van rugby in SA?
Kan ek dit verander na hoe ek dit graag wil sien? Ek sal daarvan hou dat die Suid-Afrikaanse Rugby Unie hervorm om te voldoen aan globale mededingende standaarde. Tans moet die Springbokke te veel klein, onmededingende unies subsidieer. Dit beteken ons kan ons beste spelers nie ordentlik betaal nie, dis waarom ons hulle verloor aan Japan en Europa, en daar is byna geen ontwikkeling van swart talent nie. Die onderste ses unies moet laat vaar word en SARU se uitvoerende raad moet bestaan uit super skerp talent vanuit die sakewêreld, nie die huidige oes van verouderde oudprovinsiale presidente nie.