Boeke

Nuut & nuus

Afrikaanse Skryf Goed 2008 is ’n versameling skryfhulpmiddels wat jou skryfwerk met die klik van ’n muis reg maak. Die Afrikaanse Speltoetser herken meer as 430 000 woorde, wat vakterme, akronieme en ’n verskeidenheid eiename insluit. Dan help die Afrikaanse Tesourus jou om nie dieselfde woorde oor en oor te gebruik nie. Die belangrikste toevoeging is die eerste Afrikaanse Grammatikatoetser vir Microsoft®Office. Dié program help om die taalgebruik in jou teks te evalueer ten opsigte van woordkeuse, los- of vasskryf van woorde en die regte grammatikale konstruksie. Dit kyk selfs na leestekengebruik en konsekwente taalgebruik. Die program is ontwikkel deur die Sentrum vir Tekstegnologie (CText™) van die Noordwes-Universiteit en het twee jaar geneem om te ontwikkel. Bestellings en navrae by 018 297 0164, 0800 203 048 of www.spel.co.za.

E-boeke hier om te bly

E-boeke is besig om al hoe gewilder te raak. In die VSA het verkope van e-boeke verlede jaar met 53% gestyg. Alle internasionale uitgewers belê in dié groeiende mark. Electric Book Works van Suid-Afrika het die e-boekweergawe van Moxyland uitgegee, wat die eerste is om ’n vasgelegde klankbaan het. Die nuutste toevoeging tot hul reeks skrywers is Lindy Bruce, met haar boek Motherhood and Me. Van die anders skrywers is Tony Wende, Angela Lloyd en Barbara Erasmus. Besoek www.electricbooks.com vir meer inligting.  

Motherhood and Me - Lindy Bruce

 

Harry opgeveil

Harry Potter verslaafdes kan nou bydra tot J.K. Rowling se Engelse liefdadigheidsorganisasie, The Children’s High Level Group (CHLG), met die aankoop van The Tales of Beedle the Bard. Amazon het verlede jaar ’n recordbedrag van £1.95 miljoen betaal vir Rowling se handgeskrewe en self-geïllustreerde veiling-eksemplaar van dié towerfeeverhale. Al die wins uit verkope van dié boek sal aan CHLG geskenk word. Die organisasie probeer om gemarginaliseerde kinders in inrigtings regoor Europa se lewens draagliker te maak. Drie uitgawes, deur Bloomsbury, Amazon en Scholastic, almal in Engels, sal beskikbaar wees. Die vyf feeverhale gee die leidrade wat Harry lei op sy finale missie om Lord Voldemort se Horcruxes te vernietig.

The Tales of Beedle the Bard - J.K. Rowling