FOTO: verskaf

Boeke

Nuwe jaar met nuwe voornemens

Ek maak nie graag voornemens vir ’n nuwe jaar nie. Te veel daarvan bly net ’n voorneme en word nooit werklik uitgevoer nie.

Dit frustreer my as ek voel ek het misluk, omdat ek nie iets gedoen het nie – boonop as dit iets is wat ek vir myself voorgeneem het! Maar daar is wel een belofte wat ek elke jaar aan myself maak en dit is dat ek gaan probeer om soveel boeke as moontlik te lees. Daar word geen syfer aan die belofte gekoppel nie. Dis veiliger, want dan weet ek aan die einde van die jaar dat ek my belofte gestand gedoen het. Ek het soveel boeke gelees as wat my tyd, lus en energie toegelaat het. My wens vir julle almal is vanjaar ook net dat julle soveel boeke as moontlik sal lees, dit geniet en die plesier oordra aan nog een ander mens in jou lewe. Dis al.

Bones never lie, Kathy Reichs (William Heinemann, R257)
Dr. Tempe Brennan word genader om te help in die ondersoek na die ontvoering en moord van ’n minderjarige meisie. DNS wat op die meisie se hande gevind is, word gekoppel aan ’n ou saak waaraan Dr. Brennan en speurder Andrew Ryan gewerk het. Die verdagte in hul saak was die psigopaat, Anique Pomerleau. In Kanada was daar ’n hele paar verdwynings van jong meisies en sy het hulle ontvoer en aangehou. In die daaropvolgende ondersoek, het sy die polisie ontglip. Brennan en Ryan was nie ingenome hiermee nie, want hulle het gevoel dat hulle mislik het in hul taak om geregtigheid te laat seëvier. Met die nuwe ondersoek word Brennan ook gevra om Ryan op te spoor en hom te vra om te kom help om Pomerleau vas te trek – ’n verbitterde Ryan het verwyn na die dood van sy dogter aan ’n oordosis dwelms. Brennan spoor hom op, oorreed hom om saam met haar terug te gaan. Saam gaan hulle deur die ou saak en probeer om al die meisies op te spoor in die hoop dat hulle nuwe leidrade sal vind.
Dis ’n uitstekende speurverhaal met Brennan en Ryan terug as ’n gedugte span. Reichs weet net hoe om jou vasgenael te hou aan hierdie reeks vol intrige. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Broken Monsters, Lauren Beukes (Umuzi, R180)
Speurder Gabriella (Gabi) Versado het al baie lyke in haar jare by die Detroit polisiemag gesien, maar dié een is die ergste: half-seun, half-bok. Binne dae is daar meer vreemde moorde en gebeurtenisse wat al meer en meer onskuldiges betrek. Gabi is ook ’n enkelma met ’n tienerdogter wie se vriendin Cas haar betrek in ’n gevaarlike speletjie met ’n aanlyn seksuele rower. Die hoë profiel saak en die probleme met haar dogter is besig om sy tol te eis op Gabi. Kan sy die saak oplos, die moorde en gebeurtenissse aan mekaar koppel en haar dogter help voordat dit te laat is vir almal wat betrokke is?
Die verhaal raak heelwat aktuele kwessies aan en lewer gepaste sosiale kommentaar. Briljant geskryf en boei tot die laaste blad! Beukes is een van die mees opwindende Suid-Afrikaanse skrywers en het ’n unieke stem in haar verhale. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Cop Town, Karin Slaughter (Century, R257)
Die verhaal speel af in 1974 en daar was nog baie vooroordele en rassisme in die polisiemag van Atlanta. Boonop word alles deur mans beheer. Kate Murphy se eerste dag as ’n polisiebeampte begin op die dag wanneer ’n polisieman doodgeskiet word. Humeure in die polisiemag loop hoog en almal ly daar onder. Maggie Lawson kom uit ’n familie van polisiemanne, nie dat hulle haar keuse goedkeur nie. Selfs haar ma wil hê Maggie moet tog net ’n kêrel kry en trou voordat sy nie meer so jonk en aantreklik is nie. Kate en Maggie word saam gesit as ’n span. Hul manlike kollegas skuif die twee vroue al hoe meer na die kantlyn in die ondersoek na die moord op die polisiebeampte. Hul betrokkenheid by die ondersoek word al minder en minder. Hulle besluit om op hul eie ander moontlikhede te ondersoek, omdat hierdie nie die enigste moord op ’n polisiebeampte was nie. Hulle vermoed hulle het te make met ’n reeksmoordenaar. Kort voor lank word hul lewens op die spel geplaas. Maar watter een van die verskeie scenario’s waaraan hulle werk, het hulle in gevaar gestel? Boeiende speurverhaal vol verrassings op sy beste! – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dark Whispers, Joanne Macgregor (Protea Boekhuis, R175)
Megan Wright, ’n sielkundige by ’n private hospitaal, het dit nog altyd reggekry om kontak te maak met die diepste gevoelens van haar pasiënte. Sy kon haar beoordeling gelig het tot insig en empatie, maar nou sit daar ’n pasiënt voor haar wat moontlik deur ’n mede-kollega van Megan, die ginekoloog by dieselfde hospitaal, emosioneel mishandel en geskend is. Megan kom agter daar is meer as net die een pasiënt wat in die operasiesaal onder die hande van die ginekeloog deurgeloop het en letsels daarvan oorgehou het.
Megan worstel met haar professionele posisie. Kan sy ’n terapeut wees wanneer haar doel nie meer is om te help nie, maar om die ginekoloog te ontbloot en te ruïneer? Vasberade om die waarheid uit te vind, begin Megan die dokter ondersoek. Maar dan word sy self deur persoonlike omstandighede ’n pasiënt by die ginekologiese afdeling van die hospitaal.
Dark Whispers is ’n heerlike spanningsvolle lees en word aanbeveel vir boekliefhebbers. – Sandra Marais

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Innocence, Dean Koontz (Harper Collins, R246)
Addison Goodheart woon in die tonnels onder die stad, omdat hy wegkruip om te ontvlug van mense se reaksie as hulle hom sien. Hul reaksie is een van afgryse en geweld. Vir hom is boeke sy ontvlugting. Bedags kruip hy weg en snags besoek hy die Sentrale biblioteek. Een nag in die biblioteek ontmoet hy vir Gwyneth wat ook haar ware self wegsteek agter ‘goth’-grimering. Hy help haar ontsnap van J. Ryan Telford, die biblioteek se kurator wat haar wou aanrand. Sy en Telford het ’n geskiedenis, dis nie die eerste keer wat sy amper deur hom aangerand is nie. Hy is ook verantwoordelik vir haar pa se dood, omdat hy Telford wou ontmasker as ’n dief. ’n Reeks gebeure laat hulle besef dat dit nie toevallig was dat hulle albei dieselfde nag in die biblioteek was nie. Die aarde se finale afrekening is op pad. Hulle sal moet saamwerk om te oorleef. Hulle besluit om die stad te verlaat en op pad ontmoet hulle uiteenlopende karakters, onder meer Hanlon, ’n priester. Hy vertel hulle die rede vir mense se reaksie as hulle Addison sien. ’n Uitstekende verhaal soos net deur Koontz vertel kan word. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Raaiselspieël, Chanette Paul (Lapa Uitgewers, R234,95)
Frieda is psigies en heldersiende en ’n jaar na sy moord, begin haar pa, die kunstenaar Nils van der Sluijs wat bekend is vir sy vetvrouskilderye, met haar kommunikeer. Frieda gehoorsaam sy opdrag en met die hulp van die skrywer Stas, span sy haar gawes in om nie net haar pa se biografie te skryf nie, maar ook om te probeer uitvind wie hom werklik vermoor het. Hoe meer geheime Frieda van haar pa se verlede ontdek, hoe meer verdagtes blyk daar te wees. Soos sy nader aan die waarheid kom, besef Frieda haar eie lewe is ook in gevaar.
Raaiselspieël is ’n lekkerlees spanningsverhaal met ’n intelligente storielyn en interessante karakters.  – Danica Steyn

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Solo: a James Bond novel, William Boyd (Randomhouse, R250)
Dit is 1969, en kort nadat James Bond sy vyf-en-veertigste verjaardag gevier het, kry hy ’n ongewone opdrag van M. Hy moet die burgeroorlog in Zanzarim, ’n klein olieryke staatjie in Wes-Afrika, gaan stopsit. Met sy aankoms daar vind hy dat dit nie so eenvoudig gaan wees nie, alhoewel hy aangenaam verras is met die oulike vroulike agent wat hy daar ontmoet. Nadat Bond ernstig gewond is, moet hy sake heroorweeg en besluit hy om alleen op ’n solo-sending te vertrek om wraak te neem.
Getrou aan enige James Bond avontuur is daar baie aksie, heelwat intrige, rugstekery en ’n gewillige mooi meise.
William Boyd het sy navorsing baie goed gedoen en hierdie James Bond verhaal kan trots staan saam met die bestes van Ian Fleming wat die oorspronklike James Bond boeke geskryf het. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Boy in the Snow,   M.J McGrath (Mantle, R240)
Edie Kiglatuk is in Alaska waar sy haar vorige man Sammy help om aan die bekende Iditarod hondeslee-wedren deel te neem. Die wedren neem ’n draai toe  Edie op die liggaam van ’n baba in die sneeu afkom.  Die polisie is ywerig om die dood toe te dig aan die “Dark Believers”,  ’n Russiese ortodokse sekte wat in die omgewing bly, maar Edie se instink en verdere ondersoek lei haar in die wêreld van korrupte politiek, godsdienstige onverdraagsaamheid,  hebsug  en sekshandel.  Edie is sterk, vasberade, intuïtief en hardnekkig.
Ek het die meeste gehou van haar intense behoefte om  geregtigheid vir die klein, onskuldige kind te vind en nadat  ’n  tweede  kind  gevind  is,  het  dit  haar aangespoor om antwoorde te vind. Sy het sake nie net daar gelaat nie, al kon dit vir haar noodlottig wees.   – Tersia Steenkamp

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

What Hidden Lies, Michéle Rowe (Penguin, R230)
Die boek se titel het my vreeslik gefassineer, want dit kan twee betekenisse hê: die woorde, leuens en lê. Eintlik weet ek nog steeds nie, want die boek het baie versteekte intriges!
Die verhaal speel af in Noordhoek waar ’n lyk van ’n man op die strand uitspoel. Speurder Persy Jonas moet die moord ondersoek en sy doen alles moontlik om ’n oplossings vir die ongeluk of moord te kry. Elke karakter in die verhaal het ook sy eie geheime, stryd en verlede wat stelselmatig onthul word. Alles is so in mekaar verweef dat mens regtig vasgenael lees om uit te vind wat regtig gebeur het.
Wat my baie getref het in die verhaal is die bruin mense wat verwyder is uit hul huise in die ou regering en hoe die Kaapse vlakte ontstaan het (of wel daardie een in die boek) en hoe moeilik dit vir die mense is om hulself uit daardie omstandighede uit te lig. In hierdie land plaas ons onsself te min in ’n ander se skoene en bekyk die lewe te min vanuit ’n ander se oogpunt. Ons leef te dikwels maar net in ons eie klein raamwerkie. In die boek vra die wit onderwyseres vir die bruin speurder (Persy) of sy klavier speel, omdat sy by die klavier staan en daarna kyk. Toe dink die speurder by haarself dat die wit vrou nooit eers daaraan gedink het dat die vleuelklavier amper so groot was soos die hele huisie waarin sy groot geword het nie. Wat nog te sê van die kostes van klavierlesse! Dit het my weereens laat besef dat ons in die land nog ver verwyder van mekaar is, en nie regtig weet wat in ander se lewens aangaan nie.
Wat ook uitgestaan het, was hoe belangrik opvoeding en voorbeeld vir kinders is. Persy en die gangster (Sean Dollery) het saam grootgeword. Na haar ouers se dood het haar oupa haar en haar boetie met baie wysheid en insig grootgemaak. Hy het haar ook na ’n kloosterskool buite die township gestuur vir beter opvoeding. Die skelm se pa het hom mishandel en hy was baie jaloers daarop dat Persy beter geleenthede gekry het as hy. Alhoewel hy altyd haar oupa gekoester het as die enigste mens wat hom ordentlik behandel het. Hy het baie wrokke en woede gehad, waar sy rustig en vreedsaam was.
In geheel was dit ’n lekker spannende speurverhaal met baie intriges en klein stories binne die groot storie. Ek was aangenaam verras deur hierdie debuut en het dit baie geniet!   – Elmarie Rust

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Without you, Saskia Sarginson (Little Brown, R300)
Elke moontlike geleentheid wat hulle kry, gryp die 17-jarige Eva en haar pa, Max aan om op die see te gaan seil. Terwyl hulle op die see is, steek ’n storm op en Eva word oorboord gespoel. Almal neem aan dat sy verdrink het, veral nadat haar reddingsbaadjie deur seereddingspersoneel in die see gevind word. Net Faith, haar jonger suster, glo dat Eva nog lewe. Faith is vas oortuig dat Eva op ’n eiland aan die kus van Suffolk gevange gehou word deur ’n persoon wat sy ‘the wildman’ noem. Faith is reg, want Eva hét op die eiland uitgespoel en ís gered deur Billy. Billy glo die stem van ’n engel het hom vertel om Eva te red en nou wil hy haar nie laat gaan nie, omdat hy vir nuwe instruksies wag. Faith loods haar eie reddingspogings, maar sal sy suksesvol wees of gaan dit op ’n tragedie uitloop?
Die boeiende verhaal van ’n familie wys hoe hulle verlies hanteer en hoe hulle probeer om ’n ingrypende tragedie te oorkom. Dis ’n uitstekende verhaal wat die leser se verbeelding aangryp. Alhoewel die boek vinning en maklik lees, sal die storie jou nog lank by bly. – Karien Labuschagne