Boeke

Top vakansieboeke

As jy op die strand lê met ‘n boek, hoef jy nie skuldig te voel dat jy enigeen afskeep nie! Jy mag maar lê en lees, want die kinders sal hulself besig hou. Of miskien kan manlief hulle besig hou. Dié week se keuse is almal perfekte vakansieboeke, dis nou te sê as jy hou van spanningsverhale. Jy hoef nie jou intellek in te span nie, jy kan jouself bloot verloor in die verwikkelinge van die intriges. En heerlik ontspan!

Black Hills, Dan Simmons (Quercus, R194,95)
Paha Sapa is ‘n shaman (wyse man) van die Sioux-Indiane. Hy is genoem na die Black Hills waar hy gebore is en dit is ongewoon, want normaalweg word die kinders na diere of hul sterkste eienskap genoem.
Vandat hy kan onthou, het hy die vermoë om mense se toekoms en herinneringe te sien deur net aan hulle te raak. Op negejarige ouderdom raak hy aan die sterwende Generaal Custer kort na die Battle of Little Bighorn en neem die generaal se gees in homself op. Sestig jaar later werk hy aan die konstruksie van die gesigte wat uit Mount Rushmore gekerf word. Hy gebruik dinamiet om die rots weg te blaas om te help met die uitkerf van die gesigte. As gevolg van sy ervaringe en visioene besluit hy om die werk aan Mount Rushmore op te blaas. Intussen skryf die vasgevange Custer harstogtelike liefdesbriewe aan sy vrou.
Die verhaal speel af oor verskeie dekades en raak aan groot gebeurtenisse soos die Eerste Wêreldoorlog, die griepepidemie van 1918 en die Groot Depressie van die 1930’s.
Aanvanklik is dit moeilik om in die verhaal in te kom, maar as jy eers die trant gekry het dan is dit boeiend, veral met die verwewing van Paha Sapa se lewe met geskiedkundige gebeurtenisse. Dis een van daai boeke wat jy moet lees op vakansie, wanneer jy niks anders te doene het nie en as jy hou van geskiedenis.- Karien Labuschagne

 

Blind Fury Blind Fury, Lynda La Plante (Simon & Schuster, R180)
Die lyk van ‘n jong meisie word naby ‘n diensstasie langs die hoofweg naby Londen gevind. Die taakspan vermoed dat die moord gekoppel kan word aan twee ander onopgelosde moorde, maar daar is geen verdagte vir enige van die moorde nie. Speurder Anna Travis word gevra om die taakspan by te staan met die ondersoek. ‘n Veroordeelde moordenaar, Cameron Welsh, kontak Anna om te sê hy kan hulle help met die ondersoeke na die moorde. Anna was oorspronklik ‘n lid van die span wat hom vasgetrek het. Hy weier om met enigiemand anders as Anna te praat. Sy is baie teësinnig om hom te betrek by die ondersoek, maar sy word beveel om met hom te gaan praat. Kan hy werklik help of mors hy hul tyd? Soos die ondersoek vorder, besef die span hulle het met ‘n moordenaar te doen wat al vir jare aktief is, maar die polisie bly ontduik. Welsh se obsessie met Anna hou ‘n bedreiging in vir haar en almal na aan haar. Dis ‘n verhaal vol moord, obsessie en onverwagte verrassings en ‘n heerlike spanningsverhaal vir die vakansie. – Karien Labuschagne
Salamander Cotton  Salamander Cotton, Richard Kunzmann (Pan Books, R123,95)
In ‘n gegoede woonbuurt van Johannesburg word ‘n afgetrede mynmagnaat wreed vermoor. Die moordondersoek word gelei deur ‘Detective Inspector’ Jacob Tshabalala. Die oorledene se voormalige vrou is baie geheimsinnig oor hul verlede en glo vas dat die rede vir die moord in die Noord-Kaap op die vermoorde se plaas gevind sal word. Jacob oorreed Harry Mason, ‘n voormalige kollega, om ondersoek in te stel. Kort voor lank het Harry te doen met kapers, bonatuurlike aanvalle op jong meisies en ‘n ou onopgeloste moord. ‘n Lekker boeiende speurverhaal met ‘n snelle pas en genoeg intrige om jou die bladsye te laat blaai. – Karien Labuschagne
Dark Spectre  Dark Spectre, Michael Dibdin (Faber and Faber, R124,95)
‘n Reeks onverklaarbare moorde ruk Amerika. Op die oog af lyk dit of die moorde niks met mekaar verband hou nie, want daar is niks wat die moorde aan mekaar bind nie. Net deur die vasberadenheid van Kristine Kjarstad, wat een van die moorde ondersoek, word daar vasgestel die moorde hou wel verband met mekaar. Maar al weet Kristine en haar span daar is ‘n konneksie tussen die moorde, weet hulle steeds nie waarom die moorde gepleeg word nie.
Die slagoffers is vasgebind, gemuilband en dan van naby geskiet. En die moorde word helder oordag in die slagoffers se huise gepleeg. Verder is die hele besigheid ‘n raaisel, want geen ander verbintenis tussen die moorde kan gevind word nie. Die slagoffers ken mekaar glad nie en hulle profiele stem ook nie met mekaar ooreen nie. In Kristine se kop bly ‘n paar vrae rondmaal: Waarom en hoe word die slagoffers gekies en hoe hou die moorde verband met ‘n obskure geloofsgroep op ‘n eiland in die Stille Oseaan van die noordweskus van Amerika?
Die heruitreiking van Dibdin se 1995-trefferboek sal jou laat lees tot op die laaste blad. – Karien Labuschagne
The disappeared  
The Disappeared, MR Hall, (Macmillan, R157,25)

Jenny Cooper is ‘n lykskouer wat geregtelike ondersoeke lei. Die lyk van ‘n onbekende jong vrou word op die oewer van die Avonrivier in Engeland ontdek. Voordat haar identiteit bepaal kan word, verdwyn haar liggaam uit die lykshuis. Amira Jamal nader Jenny om ondersoek in te stel na die verdwyning van haar seun, Nazim, en ‘n vriend van hom, Rafi Hassan. Nazim en Rafi het in die jaar na die tereuraanvalle van 9/11 verdwyn, toe daar gefokus is op terroriste-bedrywighede wêreldwyd deur alle veiligheidsmagte. Mev. Jamal wil Nazim finaal dood laat verklaar en terselfdertyd uitvind wat van hom geword het en of hy wel betrokke was by terrorisme, wat sy betwyfel.
Soos Jenny se ondersoek vorder, tree onrusbarende vrae na vore. Dit blyk dat daar ‘n konneksie is tussen die verdwyning van Nazim en Raffi en ook die lyk wat uit die lykshuis verdwyn het. Wanneer mevrou Jamal oënskynlik selfmoord pleeg, besef Jenny dat haar eie lewe, asook die lewens van ander wat betrokke is by die twee sake ook in gevaar is. Gaan sy tot die hart van die saak kom voordat dit te laat is?
‘n Verrassende speurverhaal wat lig werp op die mens se geneigheid om te oordeel op kleur en geloof sonder om die persoon self te ken. – Karien Labuschagne
First Family  First Family, David Baldacci (Pan Books, R95)
Michelle Maxwell en Sean King het meer vrae as antwoorde wanneer hulle op die bloederige toneel aankom waar Amerika se Eerste Dame se skoonsuster vermoor en haar dogtertjie ontvoer is. Die misdade is fyn beplan en die vraag op almal se lippe is: ”Wat het die presidentsvrou met die moord en ontvoering te doen?”
First Family is Baldacci se vierde aflewering in die bekende King-en- Maxwell-reeks. Maar as jy op soek is na iets rustigs om in die aand te lees, is hierdie verseker nie die boek vir jou nie. Dis eerder ‘n boek wat jou vinnig ingryp en voor jy jou kom kry, klop jou hart in jou keel, loop sweet teen jou voorkop af en besef jy dis halfdrie in die oggend en jy’t nog nie ‘n oog toegemaak nie.
Hierdie is ‘n intense speurverhaal wat jou bekendstel aan die innerlike sielestryd van die speurders en verdagtes en daarmee saam vlek dit ook sommige van die geheimsinnigheid rondom Amerika se eerste gesin oop. En nee, hierdie is nie nog ‘n Obama- of Bush-biografie nie. Dis ‘n weldeurdagte speurriller wat jou op die punt van jou stoel gaan hou totdat jy eindelik die laaste bladsy omblaai. – Marick Hornsveld
My Brother&aposs Keeper  My Brother’s Keeper, Jassy Mackenzie ( Umuzi, R170 )
Mackenzie se werk herinner sterk aan dié van Jeffrey Deaver – beide skrywers het ‘n voorliefde vir verweefde storielyne, obskure leidrade, oënskynlike toevallighede en sekondêre vertelsels.
Nick Kenyon, ‘n Johannesburgse paramedikus, word een aand na ‘n ongelukstoneel uitgeroep. Die bestuurder het soos mis voor die son verdwyn en die kritiekbeseerde passasier vra Nick om namens haar ‘n oproep te maak. Wat hy egter nie weet nie, is dat die vermiste bestuurder deel is van ‘n bende genadelose skurke wat hul grootste rooftog ooit beplan. Verdere verwikkelinge ontvou teen ‘n verbete pas en die leser word naarstig van een aksietoneel na die volgende gesleep; halfpad deur die verhaal staan jy reeds kniediep in die lyke.
Dié outeur se vaardigheid lê grootliks in haar talent om ‘n beproefde formule tot op die letter na te volg, maar gee haar wat haar toekom: Sy besit die vermoë om ‘n magdom karakters en slenters bymekaar te klits sonder dat die verhaal te veel geloofwaardigheid prysgee.
Ligte leesvermaak en goed geskryf, maar eindig met ‘n ietwat onoortuigende kinkel in die kabel. – Emsie Viljoen
Rescuing Olivia  Rescuing Olivia , Julie Compton (Macmillan,295)
Anders Erickson en sy vriendin, Olivia Mayfield, raak onder verdagte omstandighede in ‘n motorfietsongeluk betrokke. Hy ontkom sonder ernstige beserings, maar sy word in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Wanneer hy haar wil besoek, word hy gedwarsboom deur haar pa (wat sterk teen Anders en Olivia se verhouding gekant is). Hy keer die volgende dag terug, net om uit te vind dat Olivia intussen spoorloos verdwyn het. Om alles te kroon, ontken die hospitaal dat sy ooit daar was – volgens die owerhede is daar geen rekord van haar opname nie.
Anders kry dadelik snuf in die neus en besluit om eie reg te gebruik en uit te vind wat agter dié toesmeerdery skuil. Só kom hy op ‘n hele paar grynsende geraamtes in die kas af, en besef Olivia verkeer in doodsgevaar. Maar waar is sy geliefde, en wat kan hy doen om haar te red? Die daaropvolgende verwikkelinge en ontknoping van die verhaal herinner sterk aan die storielyn van ‘n sepie – die pas is vinnig, belaai met aksietonele en skurwe taalgebruik, maar hier teen die middel se kant word die ou staatmakers van misplaasde identiteit, geheueverlies, afpersing en sameswering een vir een aan die hare bygesleep. Hierdie is die tipe boek wat ‘n mens lees as jy op die lughawe sit en wag vir ‘n vlug wat weens gure weer meer as twee ure lank vertraag is. – Emsie Viljoen
The Bellini Madonna  The Bellini Madonna, Elizabeth Lowry (Quercus, R129,95)
Lowry se debuutroman draai om Thomas Lynch, ‘n uiters selfsugtige en dekadente kunskenner, wie se voorliefde vir alkohol, bloedjong studente en uitstel met verloop van tyd tot die ondergang van sy akademiese loopbaan lei.
Hy word versoek om uit sy pos as lektor te bedank en in ‘n poging om sy naam as kunshistorikus in ere te herstel, neem hy hom voor om sy teorie in verband met ‘n verlore skildery van Renaissance-meester Giovanni Bellini te ondersoek. Sy speurtog lei na ‘n verwaarloosde herehuis wat aan die Ropers, ‘n eens gesiene familie bekend vir hul kunsskatte, behoort. Ter wille van verdere studie word hy uitgenooi om sy intrek te neem en kom sodoende op ‘n joernaal af wat die bestaan, asook die geskiedenis van die skildery bevestig.
Maar spoedig besef Lynch daar skuil ‘n hele aantal adders in die hooi; gelykstaande aan die ontleding van kunswerke, blyk dit dat daar meer as net die oënskynlike in die Roper-gesin se gasvryheid steek. – Emsie Viljoen
What to do when someone dies  What To Do When Someone Dies, Nicci French (Penguin, R120)
Normaalweg as jou man jou verneuk, het jy gewoonlik ‘n vae spesmaas dat hy dit doen. Dit kan ‘n vreemde kredietkaartstrokie wees, dalk ‘n SMS wat nie uitgevee is nie – net daardie iets wat jou van balans af gooi en jou laat vermoed alles is nie pluis in julle verhouding nie. Ellie Faulkner se hele lewe val uitmekaar as haar man skielik omkom in ‘n motorongeluk – met ‘n vreemde vrou in sy kar. Ellie het nie net haar man verloor nie, maar ook haar waardigheid. Sy voel verontreg en skaam, want almal (die polisie en haar vriende) neem aan haar man was betrokke in ‘n buite-egtelike verhouding.
Sy bevraagteken egter die omstandighede van die ongeluk en hoe meer vrae sy vrae, hoe meer dink haar vriende sy moet geïnstitusionaliseer word. Die polisie is ook siek en sat vir haar vrae.
Al wat sy wil weet is of sy gek was om al die jare te dink sy was gelukkig in ‘n gesonde huwelik. En wanneer ‘n gelukkig-toevallige geleentheid hom voordoen vir haar om speurwerk te doen, word alles vinnig vreemd – en gevaarlik!
Prikkelend en goed geskryf met ‘n onverwagse wending aan die einde. ‘n Heerlike vakansieboek – Deirdre Holzer
  • DaleLacey

    I received my first loan when I was 20 and that aided my business a lot. However, I require the college loan once more time.