FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Omstredenheid is Rian van Heerden se tweede naam!

Jy kan inderdaad dink dat Rian van Heerden se tweede naam omstredenheid is. Hy was al dikwels in die spervuur oor omstrede uitlatings wat hy op radio gemaak het.

Nou gaan dié omstrede radio- en TV-persoonlikheid ’n boek skryf oor sy mees opspraakwekkende oomblikke. Die boek sal in Oktober 2017 by Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskyn.

Kort voordat Rian aangekondig het dat hy ’n boek skryf, het hy ook op 11 Julie vanjaar luisteraars van sy ontbytprogram, Complimentary Breakfast op Jacaranda FM, ingelig dat hy in Maart 2017 gaan uittree uit die radiobedryf.

Op 12 Julie het hy getwiet:
Rian Van Heerden@RianVanHeerden Jul 12

“Looking forward to year ahead. More honesty, more truth. More shaking the cages of the mofo’s that deserve it. I will not retire quietly!”

Dié belofte gaan hy ook gestand doen in sy boek, want daarin gaan hy juis skryf oor sy omstrede uitsprake en debatte wat hewige reaksie by luisteraars uitgelok het. In ’n persverklaring sê hy oor sy besluit om die boek te skryf: “Ek het altyd gedink dat ek nie genoeg het om te sê vir ’n boek nie, maar nou het ek. Ek het baie wat ek nou uiteindelik oor wil praat, eintlik genoeg vir twee boeke. Ek kom agter dat ek ná jare van hard kuier sekere dinge begin vergeet hier in my veertigs. Ek wil die groot en kontroversiële dinge wat in my lewe gebeur het neerpen op papier terwyl ek nog helder is daaroor. Veral sodat my peetkind, Jace, eendag sy oom beter kan verstaan.”

In die verklaring staan dat die boek oor jou mees omstrede uitlatings en debatte gaan. Wat beskou jy as die mees omstrede kwessie wat jy in die boek gaan aanraak?
Ongelukkig (vir my) was daar nie een meer omstrede as die ander nie. Die meeste het groot debatte ontlok. Meer in die boek.

Die verklaring sê ook dat jy die boek skryf sodat jou peetkind, Jace, jou eendag beter kan verstaan. Hoe belangrik is familie en spesifiek jou peetkind vir jou, dat hulle jou verstaan?
Gelukkig verstaan die lede van my familie my redelik goed en het die meeste gebeure saam met my beleef. Maar ons lewe in ’n tyd dat aanlyn inskrywings gesprekke domineer en ek wil graag dit bewerkstellig dat Jace eendag sal kan lees wat ek geskryf het en nie hoef staat te maak op wat hy aanlyn kan opspoor nie.

Gaan jy oor jou persoonlike  lewe skryf, of net oor kwessies waaroor jy omstrede uitlatings gemaak het?
Ek sal beslis oor my persoonlike lewe ook skryf.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer wat al ’n hele stuk van die boek klaar het, of werk jy nog daaraan?
Hierdie is ’n boek in wording. Daar is nog ’n tydjie oor voordat dit op die rakke sal wees volgende jaar en heelwat gaan intussen nog gebeur! (Watch this space!)

Jy het getwiet dat jy in jou laaste dae by die radio cages gaan rattle. Is dit in jou aard om mense aan te vat, of waninterpreteer mense jou woorde soms?
Ek dink dit is in my aard om dinge te bevraagteken en nie net goedsmoeds te aanvaar nie. Ons moet vrae vra. Ongelukkig is daar heelwat mense wat eenvoudig weier om ’n saak van alle kante af te beskou!

Rian se uitgewer, Maryna Lamprecht, sê Tafelberg sien uit om dié boek uit te gee, wat mense beslis aan die praat gaan hê. “Almal wat Rian ken, weet hy is nie bang om sy sê te sê nie. Rian hou daarvan om mense se idees en persepsies oor alles van die huwelik tot geloof en seksualiteit uit te daag. Suid-Afrikaners kan hulle gereed maak vir ’n boek wat hulle gaan laat regop sit, ’n boek wat grense gaan verskuif.”