FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ons lees lekker saam

Daar is niks so lekker as om saam met iemand te lees nie. Of dit nou voorlees is, en of elkeen sy eie boek in stilte lees, dit bly een van die lekkerste tydverdrywe.

Ek kry die indruk dat toe die digitale ontploffing plaasgevind het, dit minder cool geraak het om regte-egte boeke van papier te lees. Alles moes op die rekenaar gelees word, of die een of ander leestoestel. Klein brokkies inligting op die rekenaar is opgeslurp. Maar baie van die inligting is weer blitsvinnig vergeet. Vir my is daar niks soos ’n boek van papier nie. Ek hou van die reuk van die papier, die gevoel van die gewig van die boek in my hand, en van hoe die woorde op die bladsye lyk. As kind kon ek nooit wag om daardie fantasiewêreld op papier te betree nie. Dis steeds so. Gelukkig raak dit deesdae weer ’n modegier om te lees. Kyk maar na bekendes wat hul volgelinge aanmoedig om saam te lees (Oprah is hulle jare vooruit!). Daar is Mark Zuckerberg se 2015 Year of Books online reading club. Ja, dit is weliswaar aanlyn, maar darem! Selfs president Barack Obama se leeslys word breedvoerig in die media bespreek. Maar mens hoef nie ’n rekenaar-geek of ’n president te wees om die gier aan te gryp nie. Hoe meer mense oor boeke praat, skryf en lees, hoe gewilder sal die gawe tydverdryf weer raak. Ek is gelukkig genoeg om mense te ken wat lees in hul gene het. Een so gesin is die Liebenbergs van Pretoria. Hier lees gesinsgenote dikwels saam.
Alma LiebenbergMa Alma glo dis ’n uitstekende manier om kosbare tyd saam te bestee. Sy en haar dertienjarige seun, Dian lees graag saam.
Hy vertel haar dan wat hy van die stories dink en sy skryf sy menings neer.

Hierdie week is dit Dian en Alma Liebenberg se boekkeuses wat op ons virtuele boekrak staan.dian liebenberg

 

Baasspeurder Blomkvist, Astrid Lindgren (Human &Rousseau, R139)
Baasspeurder Kalle Blomkvist en sy maats, Eva-Lotta en Anders is die hoofkarakters in die drie Sweedse jeugverhale: Baasspeurder Blomkvist, Baasspeurder Blomkvist in die knyp en Baasspeurder Blomkvist Hier.

baasspeurder blomkvist hierKalle wil nie sy pa se besigheid eendag oorneem nie, maar wil ’n meester-speurder word soos Sherlock Holmes en Hercule Poirot. Niks veel gebeur op hul dorp nie, maar as daar iets eienaardigs gebeur, moet jy weet Kalle en sy bende, die Wit Rose, gaan weer die ongelooflikste avonture beleef. Hulle gaan telkens tergende misdade oplos omdat Kalle die leidrade raaksien wat deur die polisie oor die hoof gesien word. Dan is daar ook die ewige oorlog tussen die Wit Rose en die Rooi Rose, die ander bende op Suiderberg.

Die verhale is vol drama, maar mens lag ook baie. Die boeke is ’n goeie manier om jonger lesers in die lekker van speurverhale in te lei.

die dingesfabriekDie Dingesfabriek: Jannus en Kriek onder die see, Elizabeth Wasserman (Tafelberg, R105)
Jannus en Kriek is ’n tweeling en hulle is agt jaar oud. Hulle woon saam met hul ouers, Knersius en Soetlief Knoets, in Huis Deurmekruis by afrit 7 van die groot snelweg in die stad. Saam met hulle woon hul eksentrieke oupa Dinges.

Hierdie tweede boek in die reeks gaan oor ’n reuse-oereier wat gevind word in die Suid-Atlantiese Oseaan. Oupa Dinges word gevra om dit te ondersoek. Oupa neem hulle in sy duikboot, die Krisantalia, na die plek waar die reuse-eier gevind is. Dis ’n diepsee-wêreld waar jeti-krappe en eienaardige fluoresserende visse leef . . . Alles is baie opwindend, maar dan kraak die eier se dop terwyl die tweeling saam Oupa onderwater is. Wat nou? Wat ook al daarbinne is, is reg om uit te broei. Bowendien gaan die ding se ouers hom mos kom soek . . .

Hierdie boek was super cool en ek kan nie wag om die ander te lees nie.

die vampiere van londen 8Die Vampiere van Londen, François Bloemhof (Human & Rousseau, R89,95)
Gedink vampiere bestaan net in flieks en storieboeke? Nadat jy Die Vampiere van Londen gelees het, sal jy anders dink.

Die storie gaan oor Ken en sy gesin wat in Londen met vakansie is, terwyl sy pa daar is vir ’n werksonderhoud. Maar wat veronderstel is om vir Ken-hulle ’n opwindende vakansie te wees, verander toe hulle agterkom dat almal nie is wat hulle voorgee om te wees nie. Snaakse mense kom oor hul pad, soos die vreemde kaalvoetmeisie en die vriendelike seun. Waar pas hulle in al die raaisels in? Wat Ken uiteindelik uitvind, sou hy nooit in sy wildste drome kon glo nie.

’n Lekker spannende storie vol kinkels en kabels met ’n vinnige pas wat jou op die punt van jou stoel hou. Aanbeveel vir lesers tussen 11 en 14, maar ouer lesers sal dit ook geniet.

nog_13_spookstoriesNog 13 Spookstories, François Bloemhof, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R100)
As jy die eerste 13 Spookstories gelees het, is hierdie net die boek vir jou. Ons bekendste drie grilskrywers het weer opgeteam om ’n verskeidenheid spookstories in een bangmaakbundel bymekaar te sit. Elkeen het vier stories bygedra en dan is daar die strokiesprentstorie aan die einde, alles saam 13 stories. Die syfer 13 dra by tot die bangmaakeffek van dié boek. 13 is mos ’n ongelukkige syfer, nie waar nie?

Die sketse in die boek is weereens in swart, wit en rooi. Spoke is immers wit, bankmaakgoed gebeur in die swart nag en die spatsels is rooi . . .? Wel, ek gaan swyg oor die storiebesonderhede van “Spookdorp” se begin tot “Die laaste woord” se laaste woord. Skrik is tog iets wat jy eerstehands wil ervaar.

Ek kan met sekerheid sê dat daar nie ’n storie in hierdie bundel is wat nie sal bangmaak nie. Die spoke het onafgehandelde sake – en hulle besigheid is immers om bang te maak!

oor 'n motorfietsOor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word , Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R110)
“My naam is Martin Antonio Retief. Ek is dertien jaar, elf maande en twaalf dae oud. My ma noem my Martin, maar almal by die skool noem my Hoender. Ek hou daarvan om dinge te tel.”
Hoender woon saam met sy ma, sussie en oom op die plotte buite die dorp. Hy doen graag moeilike somme, hou van bepaalde kleure en is innig lief vir sy hoenders. Die hoenderboerdery het hy by sy oorlede pa geërf. Terwyl sy gesin probeer om hul verlies te verwerk, versorg hy sy hoenders, verkoop die eiers aan die mense op die plotte en doen wiskunde as hy sukkel om te slaap. Op ’n dag faal Martin se logika hom toe hy Drikus, die nuwe buurseun, bloedneus slaan: Drikus wat aan ’n siekte ly wat na iemand vernoem is en wat droom daarvan om sy eie zombiefliek te maak.
Wat volg is ’n boek vol avontuur, skelms, mooi meisies, wiskunde, zombies en langdeelsomme.

ratelsRatels, Leon van Nierop (Human & Rousseau, R130)
Ratels is ’n somerskool op ’n wildsplaas naby Hoedspruit waarheen leerders vir vier weke tydens die Desembervakansie gaan. Hier kom hulle bymekaar vir ’n uit-die-boks ervaring waar hulle nie net oor die natuur en die lewe leer nie, maar ook oor hulself.

Ons leer ken vir Fanie “Velskoen” Ferreira en sy medestudente Jan-Lourens, Vincent, Pauline en Bankies, en Stefan, die eienaar. Deur Velskoen se oë beleef ons alledaagse probleme soos renosterstropery, eetversteurings, groepsdruk, aanvaarding en afknouery. Op Ratels leer Velskoen en sy nuwe vriende om mekaar te aanvaar ten spyte van verskille, en hoe om onsekerhede wat jy in jouself dra, te oorkom.

Dis ’n lekker lewendige storie in jongmens-denke en –taal wat deur oud en jonk geniet kan word. Ons was mal daaroor!

kwaaikofski die geheim van die vlieënde koeiSpeurder Kwaaikofski, Jürgen Banscherus (Human & Rousseau, R79,95)
Kwaaikofski is ’n 9-jarige seun met ’n avontuurlike stokperdjie. Hy is ’n amateur-speurder. Hy kou altyd kougom, want dit help hom dink en hy haal ook NOOIT sy keps af nie, want dit sorg dat sy brein altyd teen optimale temperatuur funksioneer. Dit is natuurlik baie belangrik vir ’n belangrike speurder soos hy! Ons vind uit hoe dit dan eintlik gebeur het dat Kwaaikofski ’n speurder geword het en hoe hy Carpenters kougom in Ogla se kiosk ontdek het.

kwaaikofski die aand van die blou kaalkoppeOns het “Die geheim van die vlieënde koei”, “Die pienk skoolspook”, “Die aand van die blou kaalkoppe” en “Die slinkse slangslenter” gelees. Die Kwaaikofski-boekreeks is ’n lekker speurreeks vir beginnerlesers, propvol lewendige en humoristiese illustrasies en spannende intiriges. Ons is seker daarvan dat kinders dol sal wees oor hierdie koddige, brawe klein speurder se avonture.

 

Speurder Kwaaikofski, Jürgen Banscherus (Human & Rousseau, R89,95)
Ons het reeds voorheen kennis gemaak met Kwaaikofski, die 9-jarige speurder van dié reeks boeke. Hy kou nog steeds Carpenters kougom en sy pet bly steeds altyd op sy kop.

In Speurder teen speurder het Kwaaikofski kompetisie. ’n Ander speurder krap in sy slaai. Hy kan dit nie net daar los nie, want die dorp is te klein vir albei van hulle. En ’n speurkompetisie is die enigste manier om te wys wie bly en wie waai.

kwaaikofski vuilspel en nat voeteVolgende was Vuilspel en nat voete. Iemand het Olga se geliefde Mercedes gekrap. Die leidrade lei Kwaaikofski na die karwassery in Hoofstraat en onverwagse gevaar.

Laaste het ek Die Stinkstorie gelees. Elke oggend voor oopmaaktyd, steel iemand van Olga se koerante. Dis ’n saak vir beginners, dink Kwaaikofski. Maar skielik verander alles en word dit een van die gevaarlikste sake wat hy nog ooit ondersoek het.

Ek is mal oor hierdie speurreeks en sien uit na nuwe avonture.