FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ontstuimigheid aan die begin van die jaar

Ek is ontsteld oor die ontstuimigheid so aan die begin van die jaar. Die rand wat so swak is, die padsterftes en die droogte stem my sommer morbied.

Ek het soveel hoop gehad dat vanjaar baie beter sou afskop as wat verlede jaar geëindig het! Helaas toe nie. Die universiteite het skaars begin, toe is daar klaar weer protesaksie. Die rand skommel nog steeds tussen laagtepunte en dit lyk asof alles vanjaar baie duurder gaan wees. Die droogte is baie erg vir mens en dier. Vir ons wat in groot stede woon waar die watertoevoer relatief betroubaar is, voel ons moontlik nie die waternood aan ons bas nie. Solank jy die kraan oopdraai en die water vloei, is alles mos reg. Natuurlik gaan kos baie duur word. Die oeste lyk maar skraal en sekere voedselsoorte sal ingevoer moet word. Inderdaad is dit nie ’n rooskleurige prentjie nie. Maar ek glo ons moet optimisties bly, want beter dae sal weer kom. Dis nou elkeen se verantwoordelik om spaarsamig te wees met water, te sorg dat jy nie kos mors nie en om meer verdraagsaam teenoor mekaar te wees. Daar lê nog ’n lang jaar voor.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

We have now begun our descent, Justice Malala (Jonathan Ball, R246)
Elke Suid-Afrikaner moet hierdie boek lees. Dis ’n nugtere oorsig oor presies waar die land nou staan ten opsigte van die regering en die politiek. Malala begin sy boek met die stelling: “I am angry. I am furious. Because I never thought it would happen to us.” Sy ontsteltenis gaan oor hoe ons toegelaat het dat een man en sy kabinet alles vernietig, waarvoor duisende Suid-Afrikaners baie hard gewerk het – ’n demokratiese land waarin die welstand van alle landsburgers ’n prioriteit is. Hy skryf hoe haglik dit eintlik in die land gaan, dat die ekonomie onder die regering van Zuma agteruit gaan, dat onderwys in ’n toestand is, dat daar geen intellektuele debatvoering meer is nie, en dat Zuma homself in sy kabinet omring het met ’n spul jabroers wat hom nie sal teengaan nie. Malala se boek is die skok wat elkeen nodig het om te besef elke burger van hierdie pragtige land het ’n verantwoordelikheid om toe te sien dat ons land, die grondwet en die ekonomie beskerm word. Dit kan jy net doen deur aktief deel te wees van die stelsel deur jou stem uit te bring in elke moontlike verkiesing. Alhoewel hy baie plek afstaan aan al die slegte, negatiewe aspekte van die regering, los hy mens tog met hoop. Dinge kan verander en verbeter. Maar dit gaan mense met ruggraat neem, mense soos Thuli Madonsela en ander politici met morele waardes wat die president en sy kabinet dwing tot verantwoordbaarheid – tot die voordeel van almal in die land. Die boek word sterk aanbeveel. Malala skryf toeganklik en boeiend. – Phyllis Green

All-InvolvedAll Involved, Ryan Gattis (Picador, R240)
Die verhaal speel af oor ses dae en gaan basies oor die onluste in Los Angeles wat op 29 April 1992 onstaan het nadat ’n jurie die polisie beamptes wat Rodney King aangerand het, vrygespreek het. Die stad het in geweld ontplof en elke beampte wat ontplooi kon word om dinge in beheer te bring, is ontplooi. Terwyl die polisie elders besig was, het bendelede die geleentheid gebruik om ou vetes en gevegte af te handel. Die verhaal draai om die dood van die onskuldige man, Ernesto Vera. Hy is deur ’n bende vermoor om ’n boodskap aan die res van sy familie, wat betrokke is by bendegeweld, te stuur. Die verhaal word verdeel in ses dae en elke dag word vertel deur ’n spesifieke karakter wat op die een of ander manier betrokke was by Ernesto se dood: die verpleegster wat hom probeer help het, die brandweermanne, dwelmverslaafdes, graffitti-kunstenaars, haweloses, en lede van Ernesto se familie.
Dis ’n boeiende verhaal wat jou op ’n jaagtog van geweld neem, van wraak en weerwraak, en van onskuldige mense wat willens en wetens ingesleep word by die gebeure. Al speel die verhaal 20 jaar gelede af, is dit steeds relevant en gee dit insig in gebroke gemeenskappe wat beheer word deur rassisme en bendegeweld. – Phyllis Green

A-God-in-Every-Stone-webA god in every stone, Kamila Shamsie (Bloomsbury, R290)
Hierdie verhaal speel hoofsaaklik af in Britse Indië (die deel wat later Pakistan sou word) en bevat boeiende beskrywings van die verskillende gebiede waar die storie afspeel. Qayyum is ’n 20-jarige Pashtun soldaat wat tydens die Eerste Wêreldoorlog by Ypres in Frankryk gewond word en ’n oog verloor. Vivian Rose Spencer is ’n jong, avontuurlustige Britse vrou wat passievol is oor argeologie en alreeds voor die oorlog deelgeneem het aan uitgrawings in Turkye.

Teen die wense van haar ouers vertrek Vivian in 1915 op ’n tog na Peshawar (vandag in Pakistan) om ’n verlore skat te gaan opgrawe. Op die trein ontmoet sy ’n ontnugterde Qayyum wat terugkeer huis toe, omdat hy medies ongeskik is om verder te veg. Die verhaal hervat 15 jaar later waar die twee mekaar weer teëkom tydens gewelddadige betogings net voordat Pakistan afskei van Indië.

Kamila Shamsie is ’n bekende skrywer van Pakistan. - Retha Burger

in sneeu geskryfIn sneeu geskryf, François Loots (Umuzi, R236)
Hierdie roman sal nie in alle lesers se smaak val nie, veral nie as hulle ’n konserwatiewe benadering tot seks het nie. ’n Baie groot deel van Loots se verhaal speel af in ’n bordeel soortgelyk aan die Sizzler’s-masseersalon in Kaapstad waar die eienaar en agt werknemers in 2003 gewetenloos vermoor is. Dié storielyn word verweef met een oor twee priesters se verhouding in die Russiese platteland tydens die Russiese revolusie en die spanning wat daarmee saamgaan. Drie karakters, Heinrich, Adam en Bertus speel die hoofrolle in die bordeel-storielyn. Heinrich kom na die stad om geld te probeer verdien, sodat hy sy ma kan help om haar huis in ’n Karoo-dorpie af te betaal. Hy beland in die bordeel, en word as Frikkie een van die gewildste sekswerkers. Bertus, een van sy kliënte, wroeg oor sy lewe en verhouding. Frikkie hang ná sy skofte saam met sy kollegas by ’n kroeg uit en Adam is die skisofreniese kelner wat hulle bedien. Hier loop Frikkie Bertus raak en daar ontstaan ’n verhouding tussen hulle. Al die karakters gaan gebuk onder lewensomstandighede wat nie uitgedraai het soos wat hulle verwag het dit sou nie. Dis ’n komplekse en ontstellende verhaal oor aspirasies, en hoe geld, verhoudings en seksualiteit bepalend is van die lewe wat hierdie karakters uiteindelik lei. Die mensdom is nie eenvoudig nie, en dikwels ook nie voorspelbaar nie. – Phyllis Green

jimfishJimfish, Christopher Hope (Atlantic Books, R275)
Dis 1984, midde in die apartheidstydperk. Jimfish bevind hom op Port Pallid, ’n Suid-Afrikaanse kusdorpie. Jimfish en die polisie het egter ’n probleem. Hulle weet nie mooi waar hy inpas by die kleurkategorieë van die “ou” Suid-Afrika nie, want sien, hy is kleurloos. So werk Jimfish as junior tuinier by die polisieman en leer ken Soviet Malala, ’n Marxis. Ná ’n onderonsie met sy werkgewer oortuig Malala hom om sy heil in Zimbabwe te gaan soek. Hy word egter ontnugter en so begin Jimfish se reis deur die wêreld: Uganda, Rusland, Oos-Berlyn, Roemenië, Zaïre, Liberië, Somalië, Tanzanië, Comore eilande tot terug in Suid-Afrika.

Die naïewe Jimfish bevind hom telkens in die een of ander staatsgreep of burgeroorlog en is verbyster deur die dinge wat hy sien. Moord en doodslag is volop en Jimfish self trek ’n slag of twee die sneller.

’n Satiriese verhaal waarin ’n mens nooit seker is wat om volgende te verwag nie en waar die absurde baie na aan die waarheid lê. – Alma Liebenberg

labirintLabirint, Chanette Paul (Queillerie, R275)
Vir Vasti de Leeuw is Leeuwendrift nie net haar geboortedorp nie, maar ook die laaste stop in haar vlug van haar eksman, Dolf Verster. Vir jare het Dolf haar gesteister, maar dit stop hier! Sy is moeg gevlug. Hier hoop sy om weer haar voete te vind en meer ernstige skilderye te skilder, nie die kommersiële goed wat sy moes maak om die pot aan die kook te hou nie. Maar Leeuwendrift is vol geheime en hier in die oewerhuis wat sy van haar pa geërf het, kom klop die spoke van die verlede een vir een aan haar deur. ’n Reeks raaiselagtige moorde volg en Vasti is die skakel wat al die slagoffers verbind.
Hierdie spanningsroman ondersoek die donker kant van die psige. Hier vind jy boosheid waar dit nie vermoed word nie, en goedheid wat diep verborge lê. Die verhaal is voorwaar ’n labirint van die verlede en die hede, legendes, skinderstories en feite – ’n misterie wat uitgewoel word tussen die bladsye. – Alma Liebenberg

the nightingaleThe Nightingale, Kristin Hannah (Macmillan, R370)
Die verhaal begin ongeveer vyftig jaar ná die Nazi’s Frankryk ingeval het. ’n Vrou, sterwend aan kanker, sukkel die lendelam trappies op na haar solder waar sy ’n swaar trommel met haar herinneringe oopmaak. Sy wil voor haar dood die waarheid oor haarself en haar rol in die oorlog aan haar seun openbaar.
Twee susters van die stil dorpie, Carriveau, woon in Frankryk wat verskeurd is ten tye van die Tweede Wêreldoorlog. Hul lewens verloop verskillend omdat elkeen haar eie keuse uitoefen ter wille van haar siening van oorlewing. Albei susters is dapper en bereid om te veg vir dit waarin hulle glo.
Vianne groet haar eggenoot, Antoine, wat na die oorlog toe op pad is. Sy besluit later dat die Nazi’s vanuit haar huis mag werk sodat sy kan oorleef tot haar man se terugkeer.
“Juliette”, aan die ander kant, plaas haar lewe op die spel om teen die Nazi’s se oorname van Europa te veg. Sy word ’n simbool van Frankryk se weerstand.

Hannah se bedrewe vertelstyl maak hierdie ’n opwindende, bevredigende leeservaring. – Mariette Postma

the_spiral_house_dust_jacketThe Spiral House, Claire Robertson (Umuzi, R165)
In haar debuutroman word twee stories langs mekaar vertel.
In 1794 gaan Katrijn, bevryde slavin na Vogelzang, ’n verafgeleë Kaapse plaas, maar ten spyte van haar bevryde status identifiseer sy egter eerder met die slawe in die kombuis en sy kom agter dat daar geheime is, soos die begin van rasse-klassifikasie. Sy raak ook verlief.

Die tweede storie speel twee eeue later in 1961 af, toe Suid-Afrika ’n onafhanklike republiek geword het en afsonderlike ontwikkeling in werking tree. Gesinne word onmenslik uitmekaar verskeur. Suster Vergilius, ’n non in ’n sendinghospitaal, poog om haarself van haar sombere lewe te bevry, en haar lewe raak verstrengel met ’n kommunistiese Engelsman.

Katrijn en Suster Vergilius se lewens verskil hemelsbreed, maar albei worstel met dieselfde vraag – om te behoort.

Vryheid en slawerny is kernkwessies en Robertson beklemtoon wat ons as mense universeel saambind en vrymaak, nieteenstaande die tydsverskil. – Linda Volschenk

untitledUntitled, Kgebetli Moele (Kwela Books, R195)
Mokgethi is ’n slim 17-jarige skooldogter met drome om eendag by Oxford te gaan studeer, al sal dit noodwendig met ’n beurs moet wees, want haar ouma het nie geld om haar te laat leer nie. As verteller gee Mokgethi ons ’n ontstellende blik op haar lewe: Die brutale lewe waarin meisies gedurig misbruik word deur enige man van enige ouderdom – of dit nou haar skoolhoof, dansonderwyser of oom is; die lewe waarin ’n kind van elf deur ’n onderwyser verkrag word, en waar die polisie die familie aanraai om eerder die saak te laat vaar, want dis maar hoe dit is.
Tot dusver het die mooie Mokgethi dit reggekry om uit die mans se kloue te bly. Tot die Saterdagmiddag wat sy teen haar beterwete, maar tog vreemd willoos om dit te keer, saam met ’n ouer man in sy kar gaan ry. . .
’n Ontstellende boek, maar tog die moeite werd om te lees, al is dit net om jou oë te laat oopgaan vir die omstandighede waarin jong meisies in ons townships leef.   – Retha Burger