Boeke

Top-5 boeke wat jy nie kan neersit nie

Ek onthou hoe ek in die koshuis skelm met ‘n flitslig onder die komberse gelees het na ligte uit, omdat ek nie kon wag om te sien wat verder gebeur nie. Natuurlik was my ore gespits om te luister of daar voetstappe in die gang afkom. Julle kan seker raai wat gebeur het. Ek het so vasgevang geraak in my boek dat ek natuurlik ‘n paar keer lekker in die moeilikheid beland het, maar wat! Ek het myself belowe: Niks meer gelesery onder die komberse nie. Tot die volgende lekker boek in my hande beland. Een keer ‘n boekwurm, altyd ‘n boekwurm. Hierdie week het ek dat ander mense die leeswerk doen, maar het almal gevra of die boek boeiende leesstof is. Almal het ja geantwoord. Hoop daar is iets vir jou onder die hopie.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke teen ‘n afslagprys aanlyn te bestel.

Blacklands, Belinda Bauer (Random House Struik, R195)
Die 12 jarige Steven skryf aan die veroordeelde reeksmoordenaar, Arnold Avery. Negentien jaar tevore is Avery verbind aan die verdwyning en moord op jong seuns in die Exmoor-gebied van Engeland. Steven se oom Billy was een van die seuns waarmee Avery verbind is, Billy se lyk is egter nooit gevind nie. Steven se ouma kan nie Billy se dood verwerk nie en wag steeds elke dag op sy terugkeer. Dit gee aanleiding dat die verhouding tussen Steven se ma en sy ouma by die dag versleg. In ‘n poging om hulle te versoen, besluit Steven die enigste manier dat sy ouma sal aanvaar dat Billy dood is, is as hulle sy lyk vind. In die middae na skool en tydens naweke grawe Steven in Exmoor op soek na leidrade. Maar dis alles tevergeefs. Dan besluit Steven eendag dat hy aan Avery gaan skryf om uit te vind presies waar Billy se lyk begrawe is. So begin ‘n kat-en-muis-speletjie tussen Steven en Avery waartydens hulle kriptiese briewe uitruil, met byna tragiese gevolge. Dis ‘n verrassende debuut vol intrige. – Karien Labuschagne

9th Judgement, James Patterson en Maxine Paetro (Random House Struik, R215)
‘n Jong vrou en haar kleuter word koelbloedig doodgeskiet in die parkeerterrein van ‘n winkelsentrum. Die enigste leidraad is die letters WCF wat op haar motor se windskerm geskryf is deur vermoedelik die moordenaar. Speurder Linday Boxer word in beheer van die ondersoek geplaas. Later die aand word sy onttrek aan die ondersoek, wanneer die bekende akteur Marcus Dowling se vrou by hulle huis vermoedelik deur ‘n inbreker noodlottig gewond word. Wanneer daar egter nog vrouens en hul kleuters vermoor word, neem Lindsay weer die ondersoek oor. Dié is ‘n speurverhaal met ‘n ‘twist’. Die leser weet reeds vroeg in die verhaal wie die skuldige is, maar die motiewe vir die moorde kom eers heelwat later na vore. Die verhaal draai om Lindsay Boxer, haar span, asook haar vriende se vermoë om sake op te los. Dis die negende boek in die reeks wat gegrond is op die gewilde televisiereeks Women’s murder club. ‛n Lekker boeiende speurverhaal wat vinnig lees. – Karien Labuschagne

Beautiful Assassin Beautiful Assassin, Michael White, (Quercus, R194,95)
Hierdie boek was onverwags meesleurend. Ek kon dit kwalik neersit voor die laaste bladsy. Dit speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar in ‘n gebied waarvan ek baie min weet, die Russiese Front. Dit gaan oor die (fiktiewe) verhaal van Rusland se vermaarde skerpskutter, ‘n vrou genaamd Tat’yana Levchenko. Gedryf deur haar smart oor die dood van haar jong dogter deur ‘n Duitse vliegtuig, stapel sy ‘n ongeëwenaarde 300 doodskote op. Hierdie prestasie maak dat sy nie as ‘n soldaat gebruik word nie, maar as ‘n stuk Russiese propaganda en uiteindelik as ‘n spioen teen Rusland se ou vyand en oorlogsbondgenoot, die VSA. Dis ‘n verhaal vol ryk detail en jy kan nie onaangeraak staan teenoor dié vrou wat vasgevang is in omstandighede waaroor sy geen beheer het nie. Michael White skryf boeiend en trek jou in in ‘n empatiese verhouding met Tat’yana. Hierdie boek is die lees absoluut werd. – Julia Boltt

Homing

HOMING, Henrietta Rose-Innes (Umuzi, R170)
Hierdie bundel van 15 kortverhale is oor ‘n dekade deur Rose-Innes geskryf. Almal bevat ‘n element van die magiese. “Poison” het die Caine-prys gewen, “Bad Places” was op die Caine-prys se kortlys; en “Falling” was naaswenner van die 2010 Willesden-prys.
Die meeste verhale speel in Kaapstad af en handel oor mense se aankoms of vertrek, stadiums in lewens, verandering. Voëls kom heelwat voor. Ons kry ‘n kykie in gewone lewens geraak deur waansin, moord, eensaamheid, verlies. ‘n Seun in die biblioteek red ‘n gewonde rampokker. ‘n Spookskip word gesien. ‘n Selfgenoegsame kopieskrywer se lewe word deur ‘n vreemdeling geraak. Die diverse karakters word met deernis en begrip uitgebeeld. Die verhale word algaande beter tot by die laaste uitstekende een – “Poison”. ‘n Besonderse leeservaring. – Malene Breytenbach

Man-eaters, mambas and marula madnessMan-eaters, Mambas and Marula Madness, Mario Cesare (Jonathan Ball, R185)
Suid-Afrikaans-gebore Italianer Cesare vertel van sy wedervaringe as wildbewaarder in verskeie wildtuine wat wissel van Timbavati tot Mala Mala. Hy was onder meer verantwoordelik vir die ontwikkeling van die Olifantsrivier Wildtuin nadat die grensdrade tussen dié wildtuin en die Kruger Nasionale Park verwyder is. Met tipiese Italiaanse passie dek hy ‘n verskeidenheid van temas wat hom na aan die hart lê. Dit sluit onder meer in mensvreter leeus, die uitdunning van olifante en ander wilde diere en bome wat hulself teen plantvreters kan beskerm. Cesare is ‘n natuurkenner en sy passie en emosies word gerugsteun deur wetenskaplike feite en navorsing. Familie en vriende en sy geliefkoosde hond, Shilo, speel ‘n groot rol in sy lewe en word by talle van die vertellings betrek. Een van die hoofstukke handel oor hulle besoek aan Italië om sy pa se familie te gaan opsoek. Talle vertellings oor sy jeugjare dui aan dat sy passie vir die natuur alreeds van jongs af aan die ontwikkel was. Cesare is ‘n uistekende verteller en sketse, kaarte en foto’s help om die leeservaring nog interessanter te maak. – Gert Venter