kortetjies_en_n_lange
Boeke

Top-5 Phyllis se keuse

Al hierdie faktore speel gewoonlik ‘n rol by my keuse. Partykeer lyk ‘n boek net vir my of dit iets gaan oplewer en dan lees ek dit. Ander kere is dit ‘n onderwerp wat my interesseer en dan lees ek ook. Daar is sekere skrywers wat ek nou eenmaal maar net moet lees. En dan is daar soms ‘n titel wat my nuuskierig maak. My keuse hierdie week is letterlik gegrond op al hierdie faktore. Hoop dit prikkel julle ook.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Kortetjies en ‘n lange, P.G. du Plessis (Tafelberg, R170)
“Kortetjies en ‘n lange” is ‘n versameling van 67 vertellings van die bekende en bobaas-storieverteller P.G. du Plessis. Alhoewel van die verhale reeds in vorige kort-kortverhaalbundels verskyn het, is daar heelwat nuwe stories. PG het ook, soos hy self sê, aan van die vorige stories gepeuter en hulle lees dus nou heel anders. Die “outobiografiese verdigsel soos bygelieg deur P.G. du Plessis” is ‘n heerlike leeservaring. Die titel van die bundel kom van die ou slinger-luie van plaastelefone en dui op die inhoud van die boek, ‘n versameling kort kortverhale afgesluit deur ‘n langer, volbloed kortverhaal. Die verhale is in ‘n geselstrant geskryf en die inhoud daarvan is soos om in te luister op die gesprekke en skinderstories op die ou plaastelefone. PG is ‘n gesoute mensekenner en hy slaag daarin om ons, op ‘n humoristiese wyse, te help om die lief en leed van ons medemens, asook ons eie beter te verstaan en te begryp. As jy van stories hou wat iets om die lyf het, sal jy beslis die boek geniet. - Gert Venter

 

Chastened Chastened – no more sex in the city, Hephzibah Anderson (Chatto & Windus, R215)
Die skrywer met die onuitspreekbare naam is ‘n vryskutjoernalis en skrywer wat besluit het om vir ‘n hele jaar selibaat te leef en ‘n boek daaroor te skryf. Nou toe nou, het ek gedink toe die boek op my lessenaar beland. Kan dit regtig so interessant wees om oor iemand se sekslewe, of eerder gebrek aan sekslewe te lees? Want, het ek verder gedink, wat gaan sy nou eintlik skryf? Behalwe om elke man wat oor haar pad kom van die hand te wys, want sy doen nie seks nie … Ek het effe gesukkel om in die boek in te kom, maar toe ek eers begin lees, het ek tog wel gesien sy skryf oor meer as net seks. Sy vertel haar lewensverhaal, waarom sy besluit om selibaat te leef en hoe dit ‘n nuwe insig in haar lewe gebring het oor haar benadering tot verhoudings, asook hoe sy met ander oë na ander mense se verhoudings kyk. Maar nou ja, dit alles gesê, die selibaatskap het ook net vir daardie jaar gehou, toe is sy weer terug na haar vorige weë. Julle sal seker nou vra, waarom moet ek die boek lees. Die antwoord – dis altyd interessant om te lees wat in ‘n ander mens se sekslewe aangaan, selfs iemand wat jy nie ken nie! - P.G
My name is Charles Saatchi My name is Charles Saatchi and I am an artoholic, Charles Saatchi (Phaidon, R104,95)
Charles Saatchi fassineer my. Eerstens omdat hy een van die suksesvolste advertensieagentskappe op die been gebring het en baie interessante veldtogte van stapel gestuur het. Tweedens is hy een van die grootste versamelaars van moderne kuns. Ek is altyd geïnteresseerd om te sien watter kunswerke hy aankoop en hoe omstrede die stukke is! Derdens is hy met Nigella Lawson (ja, die domestic godess) getroud. Vierdens is hy onderhoud-sku en praat hy omtrent nooit formeel met die pers oor sy doen en late nie. Wat hierdie boek so leesbaar maak, is dat dit ‘n versameling is van al die onderhoude wat al met hom gevoer is. Maar dis nie lang uitgerekte relase nie. Dis in vraag-en-antwoord-formaat, wat die lees daarvan vergemaklik en dit raak aan omtrent elke onderwerp onder die son. Al is jy nie ‘n kunskenner of advertensie-ghoeroe nie, sal jy tog ‘n stukkie wysheid iewers in die boek kry waarmee jy jouself kan vereenselwig. Wat dit nog meer pret maak, is sy vreemde sin vir humor wat in onverwagse antwoorde uitkom. - P.G
A Beautiful Place to Die A Beautiful Place to Die, Malla Nunn (Picador, R125)
Kaptein Willem Pretorius, die polisiebevelvoerder op ‘n klein plattelandse dorpie Jacob’s Rest word vermoor. Emmanuel Cooper is die speurder wat gestuur word om die omstrede moord te ondersoek. Vir die dorpenaars en die familie van die oorlede polisiekaptein is daar geen kwessie dat dit ‘n politieke moord was nie, want die dorpie is geleë teenaan die grens. Cooper dink nie so nie, want hoe meer hy grawe en onderhoude voer met almal (baie van hulle is onwillig om oop kaarte te speel), hoe meer ontdek hy aspekte van die kaptein se dubbele lewe. Die storie speel af in die vroeë 50’s en natuurlik teen die agtergrond van die apartheidsjare. Die situasie in die dorpie is ‘n kruitvat na die moord en Cooper se teenwoordigheid maak dit nog meer vatbaar vir ‘n ontploffing. Veral aangesien hy veel eerder saamwerk met konstabel Shabalala. Daar is ‘n klomp vreemde karakters op die dorp, waarvan enigeen die skuldige kan wees. En moenie vergeet van kaptein Pretorius se seuns nie. Hulle blyk ook maar ‘n spulletjie willewragtigs te wees. Dis ‘n heerlike speurverhaal met ‘n storie wat baie geloofwaardig vertel word. - P.G
Nuusbriewe uit Londen Nuusbriewe uit Londen, Miems Botha (West Publishers, R220, posgeld ingesluit)
‘n Besonderse boek met pragfoto’s gedruk op mooi glanspapier. Die boek gaan jy nie in ‘n boekrak wegsteek nie, maar met trots op jou koffietafel neersit. Dis ‘n heerlike nostalgiese terugkyk na die “goeie ou dae” met ‘n insiggewende blik op die jare 70’s van die gebeure in die lewe van Miems Botha in Londen.

Sy was ‘n buitengewone mens, intellektueel en interessant. Haar “Nuusbriewe uit Londen” vanaf Junie 1970 tot Maart 1974 is as radiopraatjies op SAUK gelees en het haar ‘n bekende naam gemaak onder radioluisteraars in SA.

Hierdie is nie ‘n boek wat jy op een slag moet inryg nie – geniet elke brief afsonderlik. “Ander Gesprekke” in die tweede deel van die boek is ‘n besondere genotvolle leeservaring en die spreekwoordelike kersie op die koek is “Radiopraatjies – Ek onthou vir Pappie”. - Nikki Strassburg

Vir meer inligting oor die boek en hoe om te bestel: www.suidland.net of skakel 012 346 1220