FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor debute en debutante

Ewe skielik wonder ek oor die twee woorde: debute en debutante.

In Amerikaanse stories lees ek oor debutante en hoe belangrik die ritueel is vir die jong vroue wat deel daarvan is. Die bal waar hulle voorgestel word aan die voorste mense in die gemeenskap kan hul toekoms maak of breek. Daar kan hulle ’n perfekte huweliksmaat ontmoet of bloot bande smee wat in die toekoms vir hulle baie voordele gaan inhou. Dit kan ook bepaal hoe die jong vroue se status in die gemeenskap gesien word. Toe besef ek met boeke is dit eintlik seker ook so. ’n Debuut wat lekker lees help dat jy in die toekoms meer van die debutant se boeke sal wil lees! So, eintlik is ’n debuut ook ’n tipe van “coming out” vir die skrywer en is daar ook groot verwagtinge oor die uitkoms. Nie net vir die skrywer nie, maar ook vir die lesers. Ek hou van die afwagting wat die twee woorde vir my inhou: debuut en debutant. Ek lig ’n glasie op julle!

Adrenalien: die waarheid, Leon van Nierop (Tafelberg, R240)
Gustaf Prinsloo moet sy een suksesvolle boek in ’n draaiboek omskep. Vele neuroses en duiwels dryf hom. Die rolprentregisseur stuur hom na ’n afgesonderde, eensame en half vervalle ou huis in die Bosveld waar die drie eienaars, ma, pa en seun, dood is. Gustaf sien spoke, en ervaar vreemde verskynsels. Vrees is vir hom amper ’n menslike gedaante. Vrees laat hom adrenalien afskei. Dit is verslawend en laat hom aanhou skryf. Die beeldskone aktrise, Astrid, lyk na ’n tipiese bimbo, maar sy kan skryf en sy het ’n geheim. Sy boelie en dreig Gustaf om die draaiboek na haar sin te skryf. Wat het hy gedoen wat vir haar mag oor hom gee? Die een oordrewe skriksituasie en gruwel ná die ander hou die leser geboei. – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Be Safe I Love You, Cara Hoffman (Virago, R180)
Lauren Clay has returned from a tour of duty in Iraq just in time to spend the holidays with her family. Before she enlisted, Lauren, a classically trained singer, and her brother Danny, a bright young boy obsessed with Arctic exploration, made the most of their modest circumstances, escaping into their imaginations and forming an indestructible bond. Joining the army alloLauren Clay keer sielkundig beskadig terug van die oorlog in Irak. Sy het aangesluit om van armoede te ontsnap en om haar gesin te help onderhou. Haar pa was hulpeloos depressief. Boonop het haar ma hulle verlaat. Haar tienerbroer is liefdevol, maar swak. Voor die oorlog wou Lauren ’n operasangeres word. Nou wil sy haar broer leer om te oorleef as sy nie meer vir hom kan sorg nie. Sy hoor en sien goed wat nie daar is nie. Die weermagsielkundige bel herhaaldelik. Ander mense kom agter dat Lauren vreemd optree. Sy neem Danny oënskynlik na hul ma, maar hulle beland in ’n Kanadese bos waar sy hom probeer taai maak. ’n Roerende verhaal oor die negatiewe impak van oorlog op veral vroue wat versorgers is. – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Chasing Sunsets, Karen Kingsbury (Simon & Schuster UK, R250)
Chasing Sunsets is die tweede van drie boeke in die Angels Walking-reeks. Die verhaal staan egter goed op sy eie indien jy nie die eerste boek gelees het nie.

Mary Catherine Clark se liefde vir God is voorop in haar lewe. Dis haar passie om haar lewe ten volle te leef en ander te help, al het sy ernstige gesondheidsprobleme. Marcus Dillinger is ’n professionele bofbalspeler wat nuut is tot godsdiens en geloof. Hy het ook ’n passie om mense te help. By die nuwe jeugsentrum in ’n bende-geweld geteisterde gebied, groei hul vriendskap ten spyte van haar voorneme om romanties onbetrokke te bly. Saam werk hulle in ’n program wat hierdie bende tieners probeer lei na beter keuses.

Hierdie verhaal gaan oor engele, liefde, bendes, haat, geweld, vergifnis en vertroue in God. Teen die einde van die boek het ek net weer besef dat ons meer vertroue in God moet hê en meer moet bid en dat net God weet hoeveel dae ons op aarde het. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die jaar toe Emma begin kook het, Ilse de Korte (Tafelberg, R185)
Emma, heethoofdige sjef van ’n eksklusiewe wildplaas in Upington, sit sonder werk ná die spyseniering van ’n bedorwe brokkie se boerebarok-troue in ’n fiasko eindig. Sy kry ’n pos in Hermanus, pak haar messe en koffiemasjien, en spring weg om nuwe lewe aan die kwynende restaurant Chantilly te gee. Daar is egter heelwat vlieë in die salf en gou leer sy dat sake nie is soos dit skyn te wees nie. By die eerste aanblik van die buiteblad weet jy watter kos in dié chicklit-pot prut: ’n mooi, skraal en eiesinnige heldin bots met ’n aantreklike, welaf en stugge held in ’n streek waar newekarakters kleurvol is en misverstande die situasie kompliseer. Die verskeie storielyne is effens voorspelbaar en neig soms na die stroperige kant; nietemin is De Korte se debuut ’n lekkerleesroman, perfek vir diegene wat van eietydse taalgebruik, ’n ongedwonge skryfstyl, vermaaklike intriges en ’n gelukkige einde hou. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Early warning, Jane Smiley (Mantle, R195)
Smiley se epiese roman oor die lewens van ’n familie oor ’n paar dekades is so boeiend geskryf dat mens dit liewer oor ’n naweek moet lees. Want as jy weer sien, is die boek terug in jou hand en lees jy amper koorsagtig verder om uit te vind wat gebeur met die karakters wat so oortuigend leef deur haar beskrywings.

Die boek is die tweede van ’n trilogie wat afspeel vanaf 1953 tot 1986 oor die Langdon-gesin, waar elke jaar in ’n hoofstuk vertel word.

Die vyf kinders word in Iowa groot en die gesin brei uit, met vertellings oor babageboortes, kleuters en kinders wat kattekwaad aanvang.

Die beskrywings is ingestel op die innerlike lewens van karakters en roep die werklikheid op sonder literêre aanspraak ten spyte daarvan dat die skrywer ’n bekroonde romanskrywer in Amerika is. Die gesinslewe word beskryf teen die politiese gebeure waartydens dit plaasvind, soos die Viëtnam-oorlog. Dit gee konteks aan hulle alledaagse bestaan en laat buite-egtelike verhoudings, borskanker of Vigs minder dramaties lyk.   – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

eMajuba, Dawie Louw (Naledi, R140)
Die verhaal draai om die vete tussen twee families, die Boshoffs en die De Beucks. Die familiesage strek oor vier tot vyf geslagte, vanaf 1901 tot die hede. Dit begin in die hede met die aankondiging dat die verkragtingsaak van Nelia teen die skatryk Boris de Beuck teruggetrek is. Nelia is egter ʼn kuberkenner en gaan haarself wel deeglik wreek. Sy kry onverwagte steun van Retief Boshoff, ’n geskiedkundige met ʼn historiese wrok teenoor die De Beucks. Terwyl Nelia aan ’n wraakaanval op die De Beucks se maatskappy werk, vertel Retief sy eie geskiedenis, en dié van die De Beucks, aan Nelia.

Die afwisseling tussen die hede en verlede is goed gedoen. Die Suid-Afrikaanse geskiedenis word sterk in die teks weerspieël. Dit is ’n sterk storie vol wraak en bloederige aksietonele met meer as genoeg om jou te boei tot op die laaste bladsy. Die liefdesdramas tussen verskeie karakters sal jou aan die lees hou. Die boek werp ʼn blik op die soeke na identiteit, tegnologie, en die rol wat vrouens in die Anglo-Boereoorlog gespeel het. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The extraordinary journey of the Fakir who got trapped in IKEA wardrobe, Romain Puertolas (Vintage Books, R263)
Die oorspronklike, Franse verhaal is in Engels vertaal deur Sam Taylor. Dit was ’n topverkoper in Frankryk en is in 36 ander lande uitgegee.

Ajatashatru is bekend is as ’n fakir in sy dorpie in Indië, maar hy het slegs diè status bereik deur sy hele lewe lank slinkse toertjies te doen en mense te bedrieg. Hy gaan Frankryk toe, sonder ’n pennie op sy naam, om ’n bed met naalde by die IKEA-winkel te verkry deur sy kulkunsterye. Heel per ongeluk beland hy in ’n kas wat verpak en weggestuur word en so begin sy avonture:

Hy reis na ’n klomp lande in onder andere ’n kas, ’n tas, ’n lugballon en ’n skip sonder om ’n sent uit sy eie sak te betaal! In die proses ontmoet hy vlugtelinge en ’n bekende aktrise en hy raak verlief, terwyl daar boonop ’n wraaksugtige taxibestuurder op sy spoor is. Ná ’n sameloop van gebeure is hy gereed om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Die karakter aan die einde van die storie het baie verander van die kulkunstenaar en bedrieër wat die leser in die begin leer ken het.

Daar is ’n onderliggende tema van onwettige immigrasie regdeur die verhaal, die humor is vlymskerp en die gebeure is propvol aksie. Dis ’n snaakse storie, maar wat ook daarin slaag om meer ernstige temas op ’n menslike manier te benader. Die goeie debuutroman lees maklik en mens kan nie help om meegevoer te word met die fakir en sy omwentelinge nie. Hou hierdie skrywer dop! – Danica Gouws

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Gelyke kans, Santie van der Merwe (Lapa Uitgewers, R199,99)
Die ondenkbare gebeur – Jessica se man, Anton, kondig aan dat hy wil skei, want hy het iemand anders lief – ’n veel jonger vrou wat saam met hom werk. Jessica is verpletter en weet nie hoe om aan te gaan met haar lewe nie. Aangesien haar kinders almal oorsee is en haar besigheid sonder haar kan aangaan, besluit sy om vir ’n rukkie na haar strandhuis te gaan. Daar loop sy haar ou jeugliefde, Joe, raak. Joe, wat haar hart gebreek het toe hy na matriek net verdwyn het. . .

Die verhaal speel af vanuit die perspektief van beide Jessica en Anton en dit gee baie meer diepte aan die karakters. Dit laat die leser met nogal meer begrip vir almal en ook vir die gelyke kans wat hulle mekaar jare gelede belowe het.

Hierdie aangename debuut is allermins ’n voorspelbare liefdesverhaal. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Shotgun lovesongs, Nickolas Butler (Picador, R145)
Hierdie verfrissende debuut vertel die verhaal van vier vriende wat in die klein dorpie, Little Wing in Wisconsin grootgeword het. Henry, Lee, Kip en Ronny behou reg deur hul lewe bande met mekaar, al het net Henry nie weggetrek van Little Wing af nie. Lee is ’n sanger en beroemd, maar vir sy vriende van Little Wing maak dit nie saak nie. Sy musiekloopbaan is ’n ander wêreld, een wat hy in elk geval weghou van hulle. Ronny het sy eie roem gehad as rodeo cowboy, maar drank en ’n lyf wat nie meer wil nie, het sy loopbaan kortgeknip. Die vriende herenig wanneer Kip hulle na sy troue nooi. Stadigaan ontvou ’n menslike verhaal van vriende wat mekaar herontdek, van ou wonde uit die verlede wat weer oopgekrap word, en ’n geheim wat onthul word, wat dreig om ’n huwelik te ontspoor. Dis ’n lieflike verhaal wat jou enduit boei, juis omdat die karakters nie perfek en foutloos is nie. Die kleindorpse lewe en die waardes van dié samelewing vorm die grondslag van die gebeure. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Woestynroos, Vita du Preez (LAPA Uitgewers, R199,99)
Wat doen jy as jou moederlike instinkte skielik eendag die oorhand kry oor jou berekende beroepslewe? Kato Klinge is aantreklik, intelligent en baie suksevol in haar beroep as ingenieur, maar sy is nie in ’n liefdesverhouding betrokke nie – en ’n baba kort ’n pa. In ’n oomblik van swakheid erken sy hierdie behoefte aan haar buurman Stef. Stef saam wie sy grootgeword het, en wat nog altyd haar boesemvriend was en wat net soos sy, glad nie in ’n huwelik belangstel nie. Ook in Stef is daar dieselfde behoefte – en ná redelike beraadslaging en oorreding van sy kant, sluit haar baba-planne Stef in. Hulle sien dit as ’n saketransaksie, maar Stef is ’n boerseun en dring aan om dinge op die “regte” manier te doen. Kan ’n mens ’n baba saam maak en nog steeds onbetrokke bly en heel ander kant uitkom?

Wat volg is ’n lekkerlees storie vol emosie, intriges en ’n hele klomp warm baba-maak tonele. Hierdie is die tweede boek in ’n vierluik genoem Vinkel & Koljander-vroue, wat begin het met Solitaire. –Alma Liebenberg