Boeke

Top-5 lewensverhale

Die week het ek hulle lewensverhale gekies om met julle te deel, juis oor die draaie wat hul lewens geloop het. Elkeen se verhaal het ‘n element wat ek nie verwag het nie en het my iets geleer oor mens wees, veral hoe mense optree wanneer hulle ‘n situasie in die oë staar wat lyk of dit vir hulle net swarigheid gaan beteken. Uit hierdie mense se verhale het ek ook geleer mens het baie meer krag diep in jou weggesteek, wat jy regtig eers begin gebruik wanneer die skrif aan die muur is. Of dit ‘n fisiese uitdaging of ‘n emosionele uitdaging was, elkeen van hierdie skrywers is daardeur getemper en het sterker aan die anderkant uitgekom. Hoop julle vind hulle ook fassinerend.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Tangled Toes, Pins & Needles, Richard Pike (TerraNova, R135)
In 1981 was Richard Pike aan die begin van sy volwasse lewe. Hy het pas uit die Weermag gekom na voltooiïng van sy diensplig en was ingeskryf by die Universiteit van die Witwatersrand om te studeer. Hy was ‘n lid van die roeiklub en het baie meer aandag aan hierdie aktiwiteit gegee as aan die lesings wat hy veronderstel was om by te woon. Kort na die akademiese jaar begin het, moes die roeiklub na Oos-Londen ry om aan die Buffalo Regatta te gaan deelneem. Hierdie rit sou Pike se lewe onherroeplik verander. Die voertuig waarin hulle gereis het, het omgeslaan nadat die treiler met die kano op gemaak het dat die bestuurder beheer verloor het. Die ongeluk het tussen Tweeling en Reitz in die Vrystaat gebeur op ‘n baie stil pad. Pike het sy rug gebreek en te danke aan een van sy mede studente wat verhoed het dat hy beweeg word en ‘n helikoptervlug na ‘n hospitaal in Johannesburg het hy vinnig behandeling gekry wat sy toestand kon stabiliseer. In hierdie boek vertel Pike van hierdie ontberinge en hoe hy dit oorkom het om ‘n suksesvolle loopbaan en lewe te lei. Hoe hy van voor af moes leer om te loop en onafhanklik oor die weg te kom, is bewonderingswaardig. Hy deel ook sy lewenslesse en die dinge wat hom gehelp het om iets wat as ‘n terugslag beskou word, tot sy voordeel te gebruik. ‘n Insiggewende boek.

Around Madagascar on my kayak Around Madagascar on my kayak, Riaan Manser (Jonathan Ball, R185)
Manser is ‘n ware avonturier en een van daardie mans wat my hare laat reis met al die dinge wat hy aanpak. Nietemin is dit uitstekende leesstof en stof tot nadenke oor wat daardie iets is wat iemand dryf om hierdie lewensbedreigende avonture aan te pak. Om met ‘n kajak om Madagaskar te roei met ‘n see wat so onstuimig is dat jy rond dobber soos ‘n kurkproppie, sit nie in enigeen se broek nie. Hy het in 2009 die roete van 5 000 km in net bietjie minder as ‘n jaar voltooi. Met die lees van sy verhaal besef mens watter eise hierdie avontuur aan hom moes stel, nie net fisies nie, maar emosioneel en geestelik ook. Eerstens moes hy fiks genoeg wees om vir ten minste agt ure ‘n dag alleen op die see deur te bring, alleen – met niemand wat hom kan help sou hy in ‘n verknorsing beland nie. Boonop moes hy baie dae van sy kajak af hengel, anders het hy nie kos gehad om te eet nie. Manser skryf baie onderhoudend en gee ook goeie agtergrond oor die plekke en mense wat oor sy pad kom. Na die lees van die boek besef ek net weer dat sulke avonturiers gebore word om hul lewe op ‘n adrenalien gevulde wyse te leef en dat hulle baie deursettingsvermoë en durf het. Waarskynlik is die boek meer gepas vir die man in jou lewe, maar dit is beslis ‘n verhaal wat tot vroue ook sal spreek.
Chasing the Devil  Chasing the DevilSearching for Africa’s Fighting Spirit,  Tim Butcher (Chatto & Windus, R215)
Tim Butcher is ‘n joernalis wat al in ‘n hele paar Afrika lande gewerk het om verslag te lewer oor, gewoonlik, oproer en politieke veranderinge. Tydens 2001 -2003 was hy in Sierra Leone en Liberië en het ‘n paar kollegas (wat ook vriende was) aan die dood afgestaan. Hyself is deur Charles Taylor gewaarsku dat daar ‘n losprys op sy kop is, sou hy waag om terug te kom na Liberië. Hy skryf oor sy werk as joernalis in Afrika die volgende: “I did my best but the truth was I never had a real sense of having understood the region, and long after I left Sierra Leone and Liberia my feeling of having missed something was like a stone in my shoe, a nagging irritation that never fully went away.” Hierdie gevoel is een van die dinge wat hom gedryf het om te probeer om ‘n beter begrip te kry vir die streek en sy mense. Hy het afgekom op geskrifte van Graham Greene se reis in Sierra Leone en Liberië en was gefassineer daardeur. Hy het besluit om in Greene se voetspore te volg, letterlik, en ‘n staptog aan te pak wat hom deur dié lande sou neem. Die uiteinde daarvan is hierdie boek waarin hy die reis beskryf en al sy gewaarwordinge van die mense, asook sy ervaringe van ‘n oorlog-gesteisterde streek. Butcher se boek gee baie agtergrond oor Greene se reis en hoe hy dieselfde plekke op sy eie reis ervaar. Die reis was ook vir hom ‘n mylpaal, want hy het sy hele beroep en bestaan in heroorweging geneem, tot so mate dat hy besef het hy kan nie meer as ‘n koerantjoernalis werk nie. Hy is nou voltyds ‘n skrywer. Dis baie interessante leesstof, veral as jy hou van die onderliggende misterie van Afrika.
Unbearable Lightness  Unbearable Lightness – a Story of Loss and Gain, Portia de Rossi (Simon & Schuster, R250)
Hierdie is vir my een van die mees ontstellende boeke wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Portia de Rossi, wat bekend geword het vir haar rol in die tv-reeks Ally McBeal, beskryf hierin haar stryd om “the drill sergeant that reminded me of that extra inch of fat” te probeer stil maak, sodat sy ‘n soort van ‘n normale lewe rondom kos kan lei. Haar obsessie met haar gewig het gemaak dat sy ‘n obsessie oor kos ontwikkel het – om dit gram vir gram af te weeg en kalorie vir kalorie te tel. En as sy iets in haar mond gesit het, het sy onmiddellik in haar kop uitgewerk wat sy alles moet doen om van die kalorieë ontslae te raak, sodat dit nie eens ‘n krieseltjie van ‘n kans het om in vet om te skakel nie. Die eetversteuring het ook gemaak dat Portia haarself afgesonder het van ander mense, want sosiale kontak sou noodwendig beteken dat sy voor mense moet eet – en dit kon sy net glad nie doen nie. Hierdie eerlike vertelling van haar emosionele en fisiese stryd is nie noodwendig ‘n boek wat mens vir die lekker lees nie, maar dis nieteenstaande ‘n boek wat alle vroue behoort te lees. Al is dit om meer realisties te kan kyk na hul eie verhouding met hul liggame en gewig.
The Elephant to Hollywood  The Elephant to Hollywood – The Autobiography, Michael Caine (Hodder & Stoughton, R185)
Michael Caine het eintlik al agtien jaar gelede sy outobiografie geskryf (What’s It All About?), omdat hy gedink het sy loopbaan is verby. Toe nie, want daar was nog ‘n hele paar rolprente in die afgelope agtien jaar. Die boek is sy tweede outobiografie, soos hy self sê ” It’s the story of the last eighteen years, but it’s also the story of where I came from and where I’m going.” Vir iemand wat die lewenslig aanskou het vanuit ‘n armoedige deel van Londen, het hy uitgestyg en sy merk baie duidelik op die vermaaklikheidswêreld gelaat. Caine se skryfstyl is boeiend en onpretensieus en maak dat jy elke bladsy wil lees. Al die staaltjies oor ander bekende akteurs en rolprentvervaardigers maak dit ‘n boek vol heerlike sappige brokkies inligting. Hy skryf met humor en eerlikheid oor al die dinge wat in sy lewe en loopbaan gebeur het. ‘n Loopbaan van oor die vyf dekades, twee Oscars, ‘n sirskap – dis wat hy vermag het. Nie te versmaai nie, vir Maurice Micklewhite van die Elephant & Castle in Londen nie!