FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor inkleurboeke vir volwassenes

Die trend vir volwassenes om in te kleur het verlede jaar posgevat en dié trend het homself nog nie uitgewoed nie.

Ek het vroeër hierdie jaar geskryf oor volwassenes wat inkleur en ek kon nie glo hoeveel eksemplare van verskillende inkleurboeke verkoop is nie. In daardie rubriek het ek geskryf oor The Mindfulness Colouring Book. Die drukoplaag daarvan was 280 000 eksemplare. Vir een boekie wat in jou handsak kan pas! Maar as mens kyk na die totale verkope van die 10 gewildste inkleurboeke, dan is daardie syfer ’n verstommende 1,5 miljoen boeke wêreldwyd volgens Bookscan.

Vir baie mense is dit ’n manier om tyd vir hulself af te knyp en bietjie te ontspan. Maar daar is beslis gesondheidsvoordele met hierdie aktiwiteit. Jy moet fokus om binne die lyne in te kleur, maar nie soveel dat dit jou uitstres nie. Dit help mens ook om binne die oomblik te bly en van alles rondom jou te vergeet. Dis natuurlik ’n voordeel in ’n besige wêreld wat net al hoe besiger raak. Om in te kleur, gebruik jy verskillende dele van jou brein, logika en kreatiwiteit, en so hou jy jou breinfunksie gesonder.

Duidelik doen inkleurboeke dit steeds vir grootmense en moet daar regtig waarde in wees, want die verkope stoom voort. En daar word in omtrent elke taal van die wêreld inkleurboeke uitgegee. Ja, jy kan in Frans ook inkleur, sou jy wou!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Colouring for Adults 2: Mandala Art by Lize Beekman (R280, bestel by www.artlizebeekman.com of beskikbaar by uitsoek boekwinkels)
Dis Lize Beekman se tweede inkleurboek met mandalas. Die grootste verskil tussen die eerste en tweede boek, is dat die tweede boek twee bladsye het waarop vier kleiner mandalas is. Lize sê: “Daar is ook vierkantige mandala-ontwerpe. Die res – gehalte, grootte en bindmetode – is dieselfde aangesien ek baie goeie terugvoer daaroor gekry het.” Die boek bevat 16 handgetekende mandalas en kan met verskillende mediums soos potlode, ink of waterverf ingekleur word. Die sielkundige Carl Junge het jare gelede inkleur vir van sy pasiënte voorgeskryf as terapie. Hy het vir hulle mandalas gegee om in te kleur.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tweede Skeppende inkleurboek, Emma Farrarons (PanMacmillan, R124)
Emma Farrarons se eerste boekie was baie gewild. Haar agtergrond in tekstielontwerp kan baie duidelik in hierdie boekie gesien word. Van die patrone lyk net soos materiaal en daar is geometriese-, blom- en branderpatrone wat jou ure sal besig hou. Die boekie pas gerieflik in jou handsak vir ‘nóg ontspanningsterapie vir besige mense’, soos die voorblad sê. Jy kan jou skeppings deel op twitter by #mindfulnesscolouringbook.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Winged Daydreams en Garden Daydreams, Monique Day-Wilde (Metz Press, R95)
garden daydreams
Monique Day-Wilde is ’n bekende kunstenaar van Pringlebaai. Sy het al ’n hele paar uitstallings gehad en sy het ook reeds tiena ander boeke (smmige in samewerking met Angie Franke). Hierdie twee inkleurboeke van haar se inspirasie kom uit die natuur. In Winged Daydreams is dit voëls, skoenlappers, bye en ander insekte wat die basis van die ontwerpe vorm. Sommige van die ontwerpe in Garden Daydreams herinner aan mandalas met vorms uit die natuur. Hier is dit blomme en blare wat die botoon voer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

My Koebaai, Stres!-joernaal, Tanya O’Connor (Naledi, R145)
In die voorwoord skryf die sielkundige, Dr.ST Potgieter: “Hierdie boek is bevrydend. Dit bring rad, praktiese wenke en terapie byeen. Deur die terapie van skryf én inkleur kan jy weer lag, speel, dink, vrede en vryheid kry. Volg jou hart op ’n eerlike manier. Begin om die realiteit van jou stres te hanteer.” Nou ja, ek kan dit nie beter stel nie. Gebruik die boek elke dag om te ontlaai en te herlaai. Soos O’Connor self tereg opmerk op die agterblad, jy hof die boek met niemand te deel nie, dis jou persoonlike boek wat jy maar mag wegsteek.