FOTO: verskaf

Boeke

Oor innovasie en om planne te maak

Deesdae is innovasie ’n gonswoord wat oral opduik. As daar ’n oplossing gevind moet word vir iets, word ons aangemoedig om innoverend te dink.

In die sakewêreld, die kunste, die onderwys – oral kom innovasie ter sprake. Dit laat my dink aan baie jare gelede, toe ek as kind by my ouma op die plaas gaan kuier het. Die plaas was in die ou Wes-Transvaal, en ver van enige groot dorpe. Al die niggies en nefies het vakansietye soontoe gegaan, maar te bly om uit die stad te kom. Ek dink dit was ons ouers se manier om te verseker hulle het ’n bietjie vrede vir ’n tydjie. Ons was ’n woelige spannetjie en was aangewese daarop om onsself te vermaak. Dit was natuurlik heerlik om heeldag buite in die veld te speel en om in koppie te gaan soek na wildeperskes en ander veldvrugte. Ons was altyd diep teleurgesteld as dit reën, want dan moes ons binne bly. Dan moes daar planne gemaak word oor hoe ons onsself besig gaan hou. As jy uit verveeldheid vir Ouma gaan vra wat jy kan doen, het sy altyd geantwoord dat jy mos ’n brein het en ’n plan kan uitdink. So was my ouma jare gelede eintlik al ’n voorloper van innovasie! Vir haar was dit so eenvoudig soos om ’n plan te kan maak. So het sy ons aangemoedig om innoverend te dink, en daarvoor is ek haar ewig dankbaar.

A Fête to remember, Julia Stagg (Hodder & Stoughton, R285)
Die klein berggemeenskap van Fogas in die Franse Pireneë se fees is voorhande. Maar hulle is onheilige aanvalle deur die elite van die naburige groter dorp te wagte. Boonop is daar ’n hittegolf en verskeie liefdesprobleme. Die plaaslike politiek is stormagtig en daar is sprake dat Fogas by die groter dorp ingelyf kan word en sy identiteit verloor.
Daar is ’n verskeidenheid interessante karakters. Christian en Fabian moet hul vroue wen. Pascal is ’n vabond. Sal sy vrou dit agterkom? Jacques, die spook in die herberg, vrees dat sy familie en vriende die spit gaan afbyt. Hy sien alles. Sal die mense van Fogas hul stryd wen? Hoe sal die liefdesprobleme opgelos word?
’n Heerlike storie, vol kinkels, waar ’n stryd tussen goed en kwaad warm woed.Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Als oor kop, Bernette Bergenthuin (Lapa Uitgewers, R195)
Na ’n geweldige uitval met haar pa verlaat CC Veldsman die familieplaas met net twee voornemens: om ’n modeontwerper te word en om nooit weer terug te keer plaas toe nie. Met haar tante Karla se ondersteuning voltooi sy haar studies. Sy begin ’n suksesvolle studio met die hulp van ’n paar vreemde medewerkers. Op die liefdesfront gaan dinge ook klopdisselboom met ’n aantreklike ryk ingenieur aan haar sy.
Dan begin die ekonomie knyp en alles lyk nie meer so rooskleurig nie. Net toe CC begin planne beraam om haar besigheid te red, kom die nuus dat haar pa oorlede is en sy moet teruggaan plaas toe vir die begrafnis. Terug op die Karooplaas moet CC vrede maak met haar verlede en ook hoe haar pa se testament haar toekoms bepaal – ’n toekoms nou verweef met ’n aantreklike buurman . . .
Hierdie is ’n heelike romantiese komedie vol kwinkslae en aksie. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Be Careful What You Wish For, Jeffrey Archer (Macmillan, R213)
Het Sebastian Clifton die motorongeluk oorleef of nie? Sommer vroeg in die boek word die raaisel opgelos waarmee die vorige Archer-boek in die Barrington-saga geeëindig het. Nadat Harry en Emma Clifton vasstel dis Bruno Martinez, Sebastian se vriend wat gesterf het, begin die poppe behoorlik dans. Don Pedro, Bruno se pa, het allerlei sluwe planne om Barrington Shipping Company te saboteur.
Gelukkig vir die Cliftons word Cedric Hardcastle deel van hul lewens en al die intriges. Die bankier het ’n hospitaalkamer met Sebastian Clifton gedeel na die motorongeluk en baie oor die gesin en hul kwellinge agtergekom. Nie net koop hy aandele in Barrington Shipping nie, maar word ook lid van die direksie. Die slim strategie en finansiële kundigheid van Hardcastle om Emma en Barrington Shipping te help, en die skelmstreke van hul teenstanders, sorg bladsy vir bladsy vir boeiende lekker lees. – Alida Vos

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Claire of the sea light, Edwidge Danticat (Quercus, R250)
Hierdie verhaal speel af in the klein vissersdorpie, Ville Rose in Haïti. Claire Limyè Lamnè Faustin se ma sterf die nag wat sy gebore word. Haar hartgebroke visserman-pa, Nozias, gee die baba vir sy skoonfamilie om groot te maak. Op driejarige ouderdom kom woon Claire weer by haar pa. Hulle lewe in uiterste armoede, maar tenspyte daarvan is Claire slim en vaar goed op skool. Nou, op die dag van haar sewende verjaardag, besluit Nozias om vir haar ’n beter huis te soek. Hy vra vir Madame Gaëlle, die eienaar van ’n materiaalwinkel in die dorp, om vir Claire te vat aangesien haar eie dogtertjie in ’n motorongeluk gesterf het. Maar dan raak Claire weg. . .
Aan die begin lyk hierdie na ’n eenvoudige verhaal wat in pragtige liriese taal geskryf word, maar mettertyd ontvou ’n verstommende web van gebeure. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die belofte, Kim en Krickitt Carpenter saam met Dana Wilkerson (Christelike Uitgewersmaatskappy, R119,95)
Gegrond op die New York Times blitsverkoper The Vow waarin Kim en Krickitt hul verhouding en huwelik bespreek. Die boek was die inspirasie vir die baie suksesvolle fliek met dieselfde titel.
Twee maande nadat hulle getroud is, is hulle in ’n motorongeluk betrokke. Krickitt doen ernstige kopbeserings op en is vir weke in ’n koma. Toe sy uiteindelik bykom, herken sy haar familie, maar glad nie vir Kim nie; vir haar is hy ’n volslae vreemdeling. Hulle is albei toegewyde Christene en Krickitt behou wonderbaarlik haar geestelike bewustheid en vertroue in God. Sy bewys sy is tot alles in staat deur Christus wat haar krag gee. Hulle raak weer verlief en trou vir die tweede keer.
Ek sou verkies het om die boek in Engels te lees, want vertaling veroorsaak dikwels dat die gemaklike lees van die oorspronklike skryftaal verlore gaan. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Onthulling, Dee Henderson (Christelike Uitgewersmaatskappy, R199,95)
Paul Falcon en Ann ontmoet vir die eerste keer by die FBI-kantore in die midde weste van Amerika. Hy is ’n top-moordspeurder en sy is die moordondersoeker van die hele Midde-Weste. Alhoewel hulle baie gemeenskaplike vriende het en Ann selfs van sy onmiddelike familie ken, ontmoet hulle nooit nie. Paul en sy span is al vir jare op soek na ’n sluipmoordenaar wat dertig moorde gepleeg het. Die middelman waardeur die sluipmoorde gereël word, verongeluk in Ann se geweste en sy kom gee die saak aan Paul oor. Hierdie onselfsugtige daad lei hulle uiteindelik na al dertig onopgeloste sluipmoorde. Daar is dadelik ’n wedersydse aangetrokkenheid tot mekaar toe hulle ontmoet. Ann is ’n merkwaardige vrou, sy is ’n baie bekwame vlieënier en ’n uitstekende skrywer. Haar vriendekring sluit vise-presidente, top-advokate en hooggeplaasde leiers in. Sy is baie skrikkerig vir ’n ernstige verhouding, maar Paul het klaar sy teiken op haar gestel; sy sal die perfekte vrou vir hom wees. Stadig maar seker wen hy haar hart en mettertyd laat sy hom toe om haar al beter te leer ken. Dit beteken sy moet van haar mees private geheime met hom deel. Geheime wat al jare onder die stof lê.
Die boek het ’n sterk Christelike aanslag. Dis egter bietjie langdradig en te gedetailleerd geskryf. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Identical, Scott Turow (Mantle, R145)
Die speurverhaal gaan oor die identiese tweeling, Paul and Cass Gianis. Hul lewens het heeltemal uiteenlopende paaie geloop. Paul is ’n senator wat besig is met ’n veldtog om die volgende burgemeester van Kindle County te word. Cass is pas vrygelaat nadat hy 25 jaar tronkstraf uitgedien het vir moord. Hy het skuldig gepleit op die wrede moord van sy meisie, Dita Kronon. Sy was die dogter van Zeus Kronon, ’n ryk en invloedryke sakeman van Kindle County.
Die Gianis en die Kronons, beide deel van die hegte Griekse gemeenskap, was vir jare boesemvriende totdat Zeus Kronon en Mickey Gianis, die tweeling se pa, kwaaivriende geraak het nadat ’n saketransaksie skeefgeloop het. Dit het van Zeus ’n baie ryk man gemaak, maar het die twee families uitmekaar gedryf.
Die storie begin in 2008, kort voor Cass Gianis se vrylating uit die tronk. Zeus is reeds oorlede, en sy seun Hal bestuur die familiebesigheid. Hal is vasbeslote om Cass Gianis langer in die tronk te hou vir die moord op sy geliefde suster. Hy vra vir Evon Miller, sy sekuriteitshoof om die saak weer in diepte te ondersoek. Sy nader weer die 81-jarige Tim Brodie, ’n afgetrede speurder, om haar te help met die ondersoek.
Die skrywer se kennis van die regstelsel is indrukwekkend. Dis soms moeilik om kop te hou met al die karakters en kinkels, maar die verrassende einde maak dit beslis die moeite werd. – Gina Oosthuizen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

‘n Hap van die appel, Kristel Loots (Tafelberg, R155)
Die titel van hierdie boek het ’n tweeledige betekenis.  Maxi vat ’n hap van die appel wat New York is, maar ook ’n hap uit die stoute appel. Maxi wil nie vir ewig in die skadu van haar formidabele en baie bekende ma, Johanna van der Merwe, leef nie en daarom die bietjie rebelsheid. Sy word groot sonder ’n pa en met ’n ma wat chronies afwesig is. Dora, die oppasser met die gladde tong en ’n dobbel-probleem, maak haar groot. Gustav is ook glad nie die regte man vir Maxi nie, hy is ’n selfsugtige opportunis, en hopelik gaan haar oë oop voordat dit te laat is. Dit is dan ook wanneer sy in New York is dat die spreekwoordelik bom bars. Sy leer dat haar pa, wat sy nooit geken het nie dalk omgekom het in die 9/11 Twin Towers bomaanval-tragedie. Gaan Maxi se lewe ooit weer dieselfde wees? – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Paradise, Greg Lazarus (Kwela Books, R195)
Kaapse egpaar Greg Fried en Lisa Lazarus skryf saam onder ’n pseudoniem en dié is hulle derde boek. Paradise handel oor die wel en wee van Hershel, Maja en Surita, en die gebeure rondom ’n skynbaar eenvoudige versoek van Maja se nuwe werkgewer. Hierdie roman sal waarskynlik met sukses as die basis van ’n klugspel kan dien – die verwikkelinge word afwisselend vanuit die oogpunt van ’n hooffiguur weergegee en is dikwels verspot. Afgesien daarvan is die lawwe kinkels in die kabel grotendeels te wagte, meestal banaal en boonop is die einde niks om oor te kraai nie. Origens is die karakters stereotiep: die middeljarige man wat ’n oorgangskrisis beleef, die pragtige bedrieër wat hy ontmoet en die vervreemde dogter, belas met persoonlike kwessies. Ondanks die kritiek, toon hierdie skrywerspaar potensiaal – solank hulle stylsgewys uit een mond praat en daarby hou. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Seisoen van lig en donker, Alta Cloete (Lapa Uitgewers, R214,95)
Liesel, Herman en Jen is drie vriende met hegte gesins- en uitgebreide familiebande. Hulle beleef ook elkeen ’n situasie wat nie noodwendig aan al hierdie mense bekend is nie, maar waarmee baie van ons deesdae kan identifiseer. Wanneer een van die vriende sterf, kom die hele uitgebreide familie, die “clan” soos hulle genoem word, bymekaar en ou stories, gebeurtenisse en wrokke word weer herleef.
Dis die sewende boek van ’n reeks en aangesien ek nie een van die ander boeke gelees het nie, het ek maar langtand en al sukkelende aan die gang gekom. Die eg menslike skryfwyse en dialoog van hierdie hedendaagse verhaal het my egter gou tot ander insigte gebring en ek het dit baie geniet. Die belangrikheid daarvan om jouself te ken, vergewe en vergeet, en sterk vriendskaps-, gesins- en familiebande maak hierdie boek aangename leesstof. – Amanda van Schoor