troublemaker
Boeke

Top-5 boeke oor koerante, joernaliste en die geskiedenis

Snaaks hoe omgekrap ‘n mens kan raak as jou roetine versteur word. ‘n Dag loop net nooit vir my lekker as ek nie begin met koffie en die koerant nie. Daarom het ek ook uiteraard ‘n diep belangstelling in alles wat geskryf word oor koerante, nuusgebeure en joernaliste. Dis waar ek ons land se geskiedenis en dié van die wêreld leer ken – uit hoe daar geskryf is oor die dinge en die mense wat die nuus gemaak het. Nie uit geskiedenisboeke nie. Die voordeel van koerante lees, is dat ‘n mens die nuus uit verskillende oogpunte onder oë kry, want elke koerant het sy eiesoortige manier van nuus aanbied en die trant waarin hy skryf. So aan die begin van ‘n nuwe jaar is dit vir my interessant om terug te kyk na die verlede en waar ons vandaan kom en wat gebeur het. My keuse is daarom boeke van joernaliste oor koerante, tydskrifte en die belangrikste nuusgebeure waaroor hulle verslag gelewer het.

Jy kan van die boeke aanlyn bestel by ons elektroniese boekwinkel.

Troublemakers, saamgestel deur Anton Harber en Margaret Reen (Jacana, R180)
Hierdie boek bestaan uit die artikels en stories wat die wenners en finaliste was vir die 2009 Taco Kuiper Awards. Dié prys word sedert 2006 toegeken aan uitnemende ondersoekende joernaliste in Suid-Afrika. Dis mense soos Rob Rose, Pearlie Joubert, Julian Rademeyer, Alex Eliseev, Susan Puren, Yolandi Groenewald en Adriaan Basson, onder andere. Die stories het almal hoofopskrifte gehaal en handel oor uiteenlopende nuusgebeure. Daar is Shabir Shaik, Carl Niehaus en Barry Tannebaum se kaskenades. Verder is daar stories oor xenofobie, Eskom, taxi’s en bedrog by verskeie instansies van die staat tot in die private sektor.

Anton Harber sê in die voorwoord oor die boek: “The journalists featured here are our proverbial troublemakers – those who relentlessly disturb the complacency of people with power and wealth, making difficult their lives and limiting their opportunities to abuse their power and wealth.” En dit is wat hierdie boek so belangrik maak, hierdie joernaliste is die waghonde wat seker maak dat mense in verhewe posisies nie misbruik maak daarvan ten koste van Jan en Alleman nie. Was dit nie vir hierdie klomp joernaliste nie, sou baie van die ongerymdhede nooit bekend geword het nie.

Steeped in Blood

Steeped in Blood, deur David Klatzow soos vertel aan Sylvia Walker (Zebra Press, R220)
Klatzow sê alles wat jy doen in die lewe is soos om ‘n reuselegkaart te bou. Elke klein stukkie inligting pas in totdat jy ‘n groter geheel kry wat uiteindelik ‘n totale beeld vorm. Met forensiese patologie is dit presies dieselfde. Elke saak wat hy ondersoek, moet hy so benader – sodat hy die totale beeld kan kry. In hierdie boek, wat sy lewensverhaal vertel aan die hand van sake wat hy forensies ondersoek het, word jy gefassineer deur hierdie geheelbeeld wat gevorm word. ‘n Maklike man is Klatzow beslis nie, want in sy werk stamp hy dikwels koppe met kliënte en ook die gereg, omdat hy onwrikbaar vas staan by die getuienis wat sy forensiese ondersoeke oplewer. Dis boeiende leesstof wat ‘n mens ander insigte gee in nuusgebeure wat hy ondersoek het – die Kinross-mynramp van 1986 waarin 177 myners gesterf het, die Helderberg-vliegramp van 1987 waarin al 140 passasiers en 19 vlugbemanning omgekom het, die moord op Inge Lotz in 2005, sowel as die moord op Brett Kebble in dieselfde jaar.

Klatzow sê self: ”As I hope to have demonstrated in this book, the purpose of a forensic investigation is to get to the truth. The facts should then be presented in an impartial court of law in order for the correct legal findings to be made … As a forensic scientist who has been involved in the criminal and political life of South Africa for many years, I have a role to play in this regard, and I will speak out whenever I feel it necessary.”

Radical Middle Radical Middle, Confessions of an Accidental Revolutionary, Denis Beckett (Tafelberg, R180)
In die boek kyk Beckett terug op die verloop van sy lang loopbaan in die joernalistiek. Hy het aanvanklik regte studeer en het sy loopbaan by die destydse Rand Daily Mail begin. Daarna het hy ‘n gap-jaar gevat en in Engeland en Ierland gaan rondreis en met die terugkomslag by The Star gaan werk. Nie as joernalis nie, maar wel as assistent van die bestuurder! Waarom, wonder ‘n mens dadelik, en dan antwoord Beckett op sy lakoniese manier dat deel van sy pligte sou wees om die “black affairs”- portefeulje by die koerant te hanteer en só het hy gedink, sou hy ‘n impak kon maak om dinge te verander en te verbeter vir dié groep mense. Maar dinge werk nie altyd uit soos beplan nie. Hy beland weer in die joernalistiek toe hy uiteindelik sy eie tydskrif op die been gebring het. Hy beskryf dié tydskrif as volg: “Frontline was going to be the most raceless journal there ever was. It would reflect and forge the new South Africa where nobody would notice complextion. It would be the meeting place for everyone from Crimplene Grieta in Brakpan to Sophie Mthetwa at the mealie stand.” Sy ideale was edel en hy het die tydskrif aan die lewe gehou met omtrent geen geld nie. Maklik was dit nie, want adverteerders was traag om ruimte te koop. Maar die joernalistieke pryse het hom geloofwaardigheid gegee en Beckett het begin om rubrieke te lewer aan ander hoofstroompublikasies. Dis ‘n insiggewende boek, omdat Denis Beckett se terugkyk eerlik en onomwonde is – nes die man self.
First Drafts First Drafts, South African History in the Making, Allister Sparks (Jonathan Ball, R190)
Allister Sparks is reeds sedert 1951 ‘n joernalis wat by onder meer by die Rand Daily Mail gewerk het. Hy was later redakteur van dié koerant. Daarna was hy die Suid-Afrikaanse korrespondent vir die oorsese koerante, The Washington Post, The Observer en die NRC Handelsblad. Hy het ook vir ‘n kort tyd gedien as redakteur by SABC TV se nuus- en aktualiteitsprogramme, maar sy vrou het terminale kanker opgedoen en hy moes sy lewe en beroep in heroënskou neem. Hy het toe as ‘n politieke ontleder begin werk en het begin skryf oor al die politieke gebeure, veral die transformasieproses in Suid-Afrika. Hierdie boek is ‘n keur uit sy rubrieke wat hy oor die afgelope dekade vir verskeie koerante geskryf het en handel oor ‘n wye verskeidenheid van politieke onderwerpe en politici. Dit is nie ‘n boek wat ‘n mens in een sitting van hoek tot kant lees nie, eerder een waarin jy eerste die rubrieke lees waarin jy die meeste belangstel en dan die ander soos jy tyd het. Altyd interessant om ‘n joernalis se waarnemings oor hoe hy sake skets te lees.
25 Years of the M & G 25 years of The Mail & Guardian, saamgestel deur Shaun de Waal (Tafelberg, R220)
Die boek is vol interessante gebeure van die afgelope 25 jaar. Die kleurryke illustrasies maak dit ‘n fees om deur die boek te blaai en trek onmiddellik aandig. Al die gebeure en veranderinge wat plaasgevind het, word deur top-joernaliste weergegee. Die boek verduidelik ook die Mail & Guardian se werkwyse, hoe hulle nuus versamel, selekteer en weergee. Die vorige redakteurs, Anton Harber, Irwin Manoim, Philip van Niekerk, Howard Barrell, Mondi Makhanya en Ferial Haffajee skryf oor die koerant se geskiedenis, van al die hoogtepunte en die laagtepunte, van hofstryde, verbannings en natuurlike finansiële tekorte. Dis ‘n boek vir enigeen wat nuuskierig is oor die verlede en die hede van die Mail en Guardian. Dit gee in geheel ‘n wye perspektief op die koerant en joernaliste kan ook baie hierby baat vind. - Monique Bolton