FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor kortverhale

Daar verskyn deesdae heelwat bundels met kortverhale. Helaas, nie so baie hier in Suid-Afrika nie, maar weliswaar oorsee.

Hier het vanjaar enkele bundels van plaaslike skrywers verskyn, maar glad nie so baie soos wat internasionaal die mark tref nie. Ek het vroeër hierdie week na ’n praatjie van Mr. Magazine, Samir Husni, gaan luister. Hy dra ’n verstommende stukkie inligting oor: die gemiddelde Amerikaner se aandagspan duur net agt sekondes! Dis deur nuwe navorsing bepaal. Ek is verbysterd hierdeur, want wat beteken dit vir die toekoms van die boek. Miskien is die ongelooflike ontwikkeling van tegnologie en digitale media van die faktore wat bydra tot Amerikaners se swak aandagspan. Dalk is dit ook een van die redes waarom daar soveel bundels kortverhale in Amerika uitgegee word. Die res van die wêreld moet maar in hul spoor trap, want om aandagtig te lees, bly een van die beste vaardighede wat ’n mens kan hê. Op my bedkassie lê daar altyd twee bundels met kortverhale, een in Afrikaans deur skrywers uit eie bodem en een Engelse bundel. Dit is vir die aande wat ek my nie wil laat verlei deur ʼn lang verhaal wat my tot in die vroeë oggendure gaan besig hou nie!

Chestnut Street, Maeve Binchy (Orion, R300)
Met die afsterwe van dié gewilde Ierse skrywer in 2012 het haar uitgewers hierdie bundel met 36 kortverhale saamgestel as ’n soort huldeblyk aan haar. Sy het hierdie stories oor die fiktiewe straat in Dublin regdeur haar lewe geskryf met die oog daarop om dit uiteindelik in boekvorm te publiseer.
Die verhale word in Binchy se humoristiese, deernisvolle styl vertel en handel oor karakters uit verskillende lewensomstandighede, beroepe en wat ’n wye verskeidenheid dilemmas beleef agter hul geslote deure. Hoewel sy in die verhale ’n betowerende beeld van Ierland skilder, skram Binchy nie weg daarvan om oor die harde werklikhede van die lewe te vertel nie: ontrouheid in die huwelik, mishandeling, kinders wat nie aan ouers se verwagtinge voldoen nie . . . In net ’n paar goedgekose woorde teken sy ’n prentjie wat die leser lank bybly. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Diepsee, E. Kotze (Tafelberg, R185)
Kotze beheer die moeilike genre van kortverhale skynbaar so maklik. Die bundel sluit werk uit haar vorige bundels in. Haar karakters is geloofwaardig, multidimensioneel en gee lesers die gevoel van déjà vu. Die stories oor Sandvelders laat mens voel hulle kom uit jou eie verlede.

Haar vertellings is nie aanstellerig nie en deurspek van deurleefdheid. ’n Mens lees telkens ’n klein detail raak wat eie kinderdae lewendig maak. Die pa wat sy baadjie aantrek vir huisgodsdiens is terloopse detail, maar dit eggo respek vir godsdiensaangeleenthede wat lesers sal herken as eg Afrikaans.

Kotze skryf eenvoudig oor hartseer, sterftes en innerlike sterkte. ’n Rare bundel wat veel meer gee as wat mens verwag. Duik gerus diep in hierdie boek oor ons eie mense. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vlieger en die gevare van die close dance, Harry Kalmer (Queillerie, R175)
Hierdie bundel humoristiese kortverhale is aanvanklik in Rapport gepubliseer. Dit vertel die storie van Vlieger se grootwordjare in Johannesburg in die laat sewentigs. Dit begin met hoe hy die naam “Vlieger” kry en volg hom deur sy hoërskooljare tot nadat hy sy weermagdiens voltooi. Deur byvoorbeeld die vertelling van Vlieger se dilemma toe hy die perfekte meisie by die swembad ontmoet net om uit te vind dat sy Portugees en dus Rooms-Katoliek is, word die tydgees van die tydperk akkuraat weerspieël. Die skrywer skram ook nie weg van die politieke ongemaklikhede van die tydperk nie.
Die verhale word met baie detail van die era ingekleur en veral middeljarige wit Suid-Afrikaners sal die beskrywings geniet en met nostalgie terugdink aan ’n eenvoudiger tyd.
Dis genotvolle leesstof en elke kortverhaal kan afsonderlik geniet word.  – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Assassination of Margaret Thatcher, Hilary Mantel (HarperCollins, R290)
Die bundel bevat ʼn versameling van 10 briljante kortverhale. Al die stories, of dit nou in ʼn beklemmende woonstel in Saoedi-Arabië, of ʼn bedenklike bergpas in Griekeland, afspeel reflekteer ʼn fyn aanvoeling vir karakterisering en waarneming. Die temas wissel van onskuldige kinderwreedheid tot anoreksie. Die dood as tema kom in baie van die verhale voor en alhoewel van die stories jou ʼn gevoel van ongemak kan laat ervaar, is dit moeilik om die boek neer te sit. In die titel-verhaal word ʼn onskuldige middelklas-huisvrou betrek by ʼn sluipmoordaanval op Margaret Thatcher. Die storie ontvou uit die oogpunt van die huisvrou wie se woonstel in Windsor deur die skerpskutter oorgeneem word. Die verhaal gee ʼn unieke en geïnspireerde insig oor die middelklas-Britte se siening van die eertydse premier se politieke beleid en loopbaan. As meester van die kortverhaal het Mantel die vermoë om baie te sê met min woorde. Mantel is een van die mees bekwame en bekroonde skrywers in Brittanje en is al twee keer met die Man Booker–prys bekroon. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Some People…., Chris du Toit (Feather Communications, R220)
Some People…. handel oor die hoërskooljare van Piere de Villiers aan ʼn Engelse seunsskool. Dit vertel van sy vriende, liefdeslewe en van die eksentrieke Engelse onderwyser, Mr Banyard of Barmy soos hy meer algemeen bekend is. Die ietwat onkonvensionele bundel is ʼn potpourri van aanhalings, pret, feite, fabels, vriendskap, vrese, frustrasies, filosofie en veel meer. Die boek verskaf antwoorde op talle van die belangrike vraagstukke van die wêreld. Byvoorbeeld: Was die Tuin van Eden aan die agterkant van Tafelberg geleë? Was Shakespeare homoseksueel? Wat is die hoogste telling wat jy in Scrabble kan opstel? Hoe kon Jona vir drie dae en nagte in die maag van ʼn walvis oorleef het?
Met ’n onkonvensionele aanslag slaag Du Toit daarin om die aspirasies, probleme en vrese van jongmense te verwoord. Die bundel is ryklik geïllustreer met sketse van Walter Battis wat dit ʼn heerlike lees, asook visuele ervaring maak. Du Toit is ’n Vrystater van geboorte. Hy het gegradueer aan die Universiteit van die Vrystaat en was vir tien jaar onderwyser by Pretoria Boys High. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Loss Library and Other Unfinished Stories, Ivan Vladislavić (Umuzi, R199,95)
Die kortverhaalbundel van Ivan Vladislavić ondersoek die tema van wat gebeur met ʼn storie as dit verlore raak of nie gepubliseer word nie. Wat gebeur daarmee as die skrywer die verhaalgegewens per ongeluk weggee voordat die einde van die verhaal geskryf is? Sulke verhale beland in die “Loss Library”, waar stories wat nog nie geskryf is nie, in ʼn biblioteek vir verlore verhale bewaar word. In die 11 kortverhale word telkens die een of ander onafgehandelde verlies verwoord. Vladislavić (p. 7) noem in die voorwoord dis gevallestudies van verbeelde verhale wat nooit voltooi is nie. Dit blyk ook ʼn poging te wees om die verlies van ʼn storie en of gedeeltes daarvan om te swaai na ʼn intertekstuele huldeblyk aan Kafka, Borges en Joyce asook die onbekende Fries skrywer, Schuitevoerder. ʼn Toeganklike en uiters interessante bundel. – Linette van der Merwe

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Primal Night, Maja Kriel (Tamboti Press, R196)
Hierdie versameling van nege kortverhale het ’n paar dinge in gemeen: hulle speel almal in Suider-Afrika af, die karakters is merendeels ouer mense wat by ’n kruispad in hul lewens kom en die tema van reis en verlies word ondersoek. In “The Door of Life” ontmoet die weduwee iemand anders na haar man se afsterwe, en daar is pragtige beskrywings van volwasse liefde. In “Horizon” ontmoet ons die weduwee wat sukkel om haar man se dood te verwerk, en “Last Holiday” vertel die bittersoet verhaal van Marianne en Mordechai wat weet dat die dood vir hom wink en ’n laaste vakansie saam onderneem.

Die stories is pragtig geskryf met ’n weemoedigheid wat elke storie omgewe. Die naam van die bundel word ontleen aan die eerste kortverhaal “Primal Point”. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tales of the metric system, Imraan Coovadia (Umuzi, R250)
Hierdie boek bestaan uit tien hoofstukke waarin die skrywer die 40 jaar tussen 1970 en 2010 opsom.

Elke hoofstuk dek ’n dag in die lewe van ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaners van verskillende rasse, klasse, ouderdomme en politieke neigings. So ontmoet ons in 1970 vir Paul wat geskors word uit sy elite privaatskool oor sy pa se politieke bedrywighede. Ons leer ken in 1979 vir Yash wat droom daarvan om ’n bekende popmusikant te word, maar wat opgeskeep sit met ’n kwaai Indiese vrou en ’n kind vir wie hy moet sorg. Deurentyd word daar belangrike geskiedkundige gebeure en geskiedkundige figure vermeld, soos Russiese spioene in Londen in die 1980’s, intrige in die Uniegebou en die 1995 Rugby Wêreldbeker. Sommige karakters is fiktief, maar is baie duidelik gegrond op bekende figure, al is hul name verander.

Daar is deurentyd ’n politieke ondertoon aan die verhale wat soms effe geforseerd kan voel. -Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Nuwe stories 2, saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn (Human & Rousseau, R179)
The weight of a feather
, Judy Croome (Aztar Press, R195)
Hierdie is twee uiteenlopende bundels kortverhale: die eerste bundel het ontstaan uit Human & Rousseau se tweede Nuwe Stories-kortverhaalwedstyd vir skrywers onder dertig, en die tweede bundel is een skrywer se pennevrug.

Die finale twintig kortverhale in Nuwe Stories 2 is gekies deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn wat ook die skrywers bygestaan het in die finale afronding van hul stories. Daar word ’n wye verskeidenheid temas gedek, van verveelde huisvrouens tot hondebegrafnisse en ’n troue. Wat die leser opval is die vars, jeugdige aanslag met die vreeslose aanpak van moeilike temas.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dis so jammer dat daar nie ’n groter mark vir kortverhale is nie, want The weight of a feather verdien om op die topverkoperlys te wees. Die temas in hierdie bundel is net so uiteenlopend, maar wat vas staan is die skrywer se talent en vaardigheid. – Retha Burger