FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor kuns en kultuur

Vir my is een van die kalmste plekke om te wees ’n galery, maar dié ruimte het my al dikwels laat wonder oor kuns en kultuur.

Daar is ’n rustigheid wat my omvou in die ruimte van ’n galery. Toe ek baie jonk was, het galerye my geïntimideer. Dit was in die sewentigs en vroeë tagtigs. Miskien was dit net my verbeelding, maar ek het gevoel almal in die galery kon sien ek weet nie ’n bloue duit van kuns nie. Soms moes ek al my moed bymekaar skraap om net by die deur in te loop. Wanneer ek eers binne was, het daar gewoonlik so gevoel van behaaglikheid oor my gesak. Dit het my baie lank gevat om te besef dat dit nie gaan oor hoeveel jy van kuns weet nie, maar dat jy dit bloot moet ervaar. Jy moet net kyk en kyk en kyk . . . Uiteindelik vind jy tog jou selfvertroue om in te stap deur die intimiderende portale, want jy het geleer jy mag maar van sekere kunswerke hou en van ander nie. Al weet jy nie veel van kuns nie, dit gaan oor die ervaring daarvan.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

365 Postcards for Ants, Lorraine Loots (Burnet Media, R750)
Lorraine Loots is ’n kunstenaar van Kaapstad wat in 2013 elke dag ’n miniatuur waterverfskildery so groot soos ’n muntstuk gemaak het. Die reeks het sy ‘Painting for Ants’ genoem en daagliks op Instagram gedeel. Sy het eers bekend geraak in SA en het toe internasionaal aandag getrek en het vinnig lojale ondersteuning gekry. In 2014 het sy met haar nuwe projek, ‘Postcards for Ants’, gefokus op Kaapstad wat toe aangewys was as die World Design Capital. Haar gewildheid het vinnig gegroei en haar 225 000 volgelinge op Instagram is verspreid oor die wêreld. Haar skilderytjies word regoor die wêreld opgeraap. Hierdie boek bestaan uit dié 365 skilderytjies wat iets van Kaapstad uitbeeld, ’n inleiding deur Lorraine en ’n vrae-en-antwoorde afdeling. Van ’n relatief onbekende kunstenaar het hierdie projekte Loots in ’n gesogte kunstenaar verander.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Onbekende Van Gogh, Chris Schoeman (Zebra Press, R230)
Weens die massa briewe wat vir die nageslag behoue gebly het, is die meeste mense bewus van die stormagtige verhouding tussen Vincent van Gogh en sy kleinboet Theo; van Cornelis, agste kind en jongste seun van dié welbekende gesin, weet die publiek egter min. Cor verhuis in 1889 uit Nederland en werk hier ter plaatse as ingenieur verbonde aan die goudmyne, en doen later diens by die spoorweë. Na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, meld Cor aan as lid van ’n Vrystaatse kommando. Vanweë koors kry tragedie die oorhand; hy sterf op dieselfde wyse as Vincent en word begrawe in ’n ongemerkte graf op Brandfort. Schoeman se uitvoerige verslag oor Cor, en sy ervaring tydens die laaste dekade in negentiende-eeuse Suid-Afrika, bevat allerlei foto’s en steun op persoonlike skrywes, argiefstukke en oorspronklike navorsing, materiaal uit privaat versamelings, ongepubliseerde verhandelings en verwysings na koerantartikels. Vandaar is dié biografie, uit die pen van ’n gesoute historikus en joernalis, voorwaar ’n aanwins vir diegene met ’n voorliefde vir die skone kunste en geskiedskrywing. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sugar Man, Craig Bartholomew Strydom en Stephen ‘Sugar’ Segerman (Penguin, R230)
Die twee skrywers is obsessief versot op die musiek van Rodriguez en sê hulle het nog altyd probeer om te verseker dat sy musiek die erkenning wêreldwyd kry wat dit verdien. Uiteindelik is dit reggekry met die rolprent wat gemaak is deur Malik Bendjelloul. Hulle dra ook die boek op aan die rolprentmaker in erkenning vir sy bydrae tot die bekendheid van Sugar Man. Die sanger se musiek was in die sewentigs en tagtigs gereeld gehoor in Suid-Afrika en al was die musiek hier bekend, was dit nie so elders in die wêreld nie. Min inligting was ook beskikbaar oor die geheimsinnige sanger self. Strydom en Segerman het op ’n soektog gegaan. Hulle het Rodriguez uiteindelik in Detroit opgespoor waar hy as ’n arbeider gewerk het. Hierdie boek dokumenteer drie reise: Rodriguez se poging om ’n lewe uit sy musiek te maak; die swerftog van twee obsessiewe bewonderaars om uit te vind wat van hul held geword het; en, Bendjelloul se pogings om die storie op film vas te lê. Daar is baie inligting in die boek wat nie in die rolprent was nie en skets ’n volledige prentjie oor die lewe van Rodriguez, veral hoe sy lewe verander het na die sukses van die rolprent.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die ou met die snor by die bar, Jack Parow en Theunis Engelbrecht (Penguin, R200)
Parow skryf in die voorwoord: “Hierdie boek is geskryf in die taal wat ek en my tjommies praat en wat mense op straat praat, dis ons reality.” En hy waarsku mense wat suiwer Afrikaans praat en ook wil lees om eerder nie die boek te lees nie. Wat is die boek? Hy sê: “Ek sal vir julle ’n bietjie tune van my lewe en baie van my mal, wilde avonture, maar ek sal ook oor baie ander stuff praat.” Ek was onmiddellik nuuskierig om verder te lees, en glo my dis ’n wipwaentjierit, so opwindend vertel hy sy storie. Niks aan hierdie boek, of aan Jack Parow, is boring nie. ’n Heerlike en onkonvensionele biografie.

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Still Grazing, Hugh Masekela en D. Michael Cheers (Jacana, R245)
Hugh Masekela se lewensverhaal lees soos fiksie wat vreemder as die waarheid is. Hy skryf boeiend oor hoe sy lewe ontvou het teen die politieke agtergrond van apartheid Suid-Afrika. Dis ’n openhartige biografie wat niks wegsteek nie, nie die geweld, drank en dwelms wat deel van sy eie lewe en die van mense rondom hom was nie. Sy musiekloopbaan was net so onstuimig soos sy persoonlike lewe. Hy was ’n rokjagter van formaat en selfs hier ontsien hy homself nie deur volledige inligting te gee oor sy vele verhoudings. Dis die moeite werd om die boek te lees, omdat mens bietjie uit ’n ander oogpunt sien hoe hard die lewe vir baie mense was. Ten spyte hiervan het Masekela uitgestyg bo sy omstandighede en ’n wêreldster van jazz geword.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Afrika My Music, Es’kia Mphahlele (Kwela Books, R175)
Hierdie is die tweede outobiografie van Es’kia Mphahlele en gaan oor sy lewe van 1957-1983. Hierin vertel hy hoe hy die uitdagings van die lewe in Suid-Afrika in die gesig moes staar ná twintig jaar in ballingskap in Europa, Afrika en Amerika. Vir sy vroeëre skryfwerk is hy in 1969 benoem vir die Nobelprys vir Literatuur. In hierdie boek, wat in 1984 vir die eerste keer uitgegee is, skryf hy hoe sy toewyding aan die opvoeding en opheffing van Afrikane regoor die kontinent hom sy familie gekos het. Nie net gee hy hier ’n oorsig van sy eie lewe nie, maar skets hy ook ’n kritiese prentjie van die weerstandsbewegings van die 1960’s en 1970’s in Afrika en die rolspelers van daardie tyd. Van ’n nederige begin in Marabastad, Pretoria waar hy gebore is, het hy hom opgewerk tot ’n gerespekteerde skrywer oor opvoeding, literatuur en kultuur.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

#Cool Capital Biennale, Pieter J. Mathews en Carla Taljaard (Visual Books, R276)
Die eerste Cool Capital Biennale is verlede jaar in Pretoria gehou, die eerste fees van sy soort waar alle inwoners van die stad genooi is om bydraes in kuns, ontwerp en argitektuur te lewer. Daar was meer as 150 burgerlike kuns- en argitektoniese installasies oral in die stad; musiek en filmfeeste in interessante plekke in die stad, en toere na geboue en plekke. Hierdie pragtige koffietafelboek dokumenteer al die projekte wat deel was van dié kuratorvrye fees. Elke projek word grafies gedokumenteer met youtube- en vimeo-skakels, beskrywings van die projek en wie almal betrokke was. Pretoria kan trots wees op hul kreatiwiteit wat so lieflik uitgebeeld word in die katalogus. Hierdie een is vir alle trotse Pretorianers en ook vir kunsliefhebbers.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tea at Anstey’s, Tanya Zack en Mark Lewis (Fourthwall Books, R200)
Hierdie is die sesde boek in die reeks, Wake Up This is Joburg Wake Up, deur die stadsbeplanner en skrywer Tanya Zack en fotograaf Mark Lewis. Dié reeks dokumenteer unieke stories van inwoners van Johannesburg se middestad en hoe hulle ’n lewe vir hulself uitkerf in dié stedelike omgewing. Hierdie boek gaan oor Anstey’s, ’n Art Deco- gebou wat in 1937 voltooi is. Die 20-verdiepinghoë gebou was eens op ’n tyd die hoogste gebou in Afrika. Die hart van die stad, sowel as dié gebou, het baie veranderings ondergaan. In ’n vorige era was die gebou geweldig stylvol met pragtige winkels en teahouses. Stedelike verval het ook die gebou geraak en huurders het gekom en gegaan. Huidige inwoners is ’n hutspot van kunstenaars, kleremakers, beeldhouers, vakbondlede, straatsmouse en mense wat dit nie breed het nie. Vir Zack en Lewis is die boek, en die reeks, ’n manier om die verrassende stories oor ’n stad en sy inwoners wat die heeltyd ’n metamorfose ondergaan, te vertel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Stukke Teater, Pieter-Dirk Uys (Human & Rousseau, R280)
Almal weet wie Evita Bezuidenhout is, of Tannie Evita soos sy in die volksmond bekend staan. Hierdie alter-ego van Pieter-Dirk Uys skroom nooit om die regering van die dag aan te vat nie en spreek dikwels sosiale kritiek uit op sinnelose reëls en regulasies wat die land se inwoners raak. Minder bekend is Uys se ernstige dramas waarin hy ook deur vlymskerp humor kritiek uitgespreek het op die samelewing van die tyd. Hierdie bundel bevat vyf van sy Afrikaanse dramas wat gesorg het dat burokrate en lede van die Publikasieraad lekker warm onder die kraag geraak het. Uys skryf oor elke stuk iets oor die omstandighede waaronder die opvoerings ontvang is en hoe twee van dié stukke deur die Publikasieraad verbied is. Meeste teatergangers sal “Die Van Aardes van Grootoor” onthou, die stuk beskryf Uys as volg: “’n Epiese Boeredrama in 780 episodes, vyf bedrywe en twee landstale.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Seks & drugs & boeremusiek – die memoires van ’n volksverraaier, Koos A. Kombuis (Human & Rousseau, R250)
Die eerste uitgawe van Kombuis se outobiografie het in 2002 verskyn en hierdie is die jongste herdruk van ’n boek wat al meer as tien drukke beleef het. Dis ’n bewys van hoe Kombuis die toets van die tyd weerstaan het, dat daar deur die jare elke keer nuwe lesers vir sy lewensverhaal bygekom het. Waarom sou dit wees? Moontlik omdat hy ’n rebel was wat nooit geskroom het om sy sê te sê nie. Hy vertel op sy kleurvolle manier alles van sy loopbaan, die wille tye . . . die mense wat deel was van sy reis. Dis vermaaklike leesstof wat tydloos is, maak nie saak van watter generasie jy is nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Beyoncé: Running the world, Anna Pointer (Coronet, R200)
Dis harde werk om ’n wêreldster te word en in hierdie biografie oor Beyoncé sien mens dit duidelik. Sukses het nie in haar skoot geval nie, haar ouers het baie tyd bestee om hulle talentvolle dogter se loopbaan op dreef te kry; tot so mate dat hul eie verhouding daaronder gely het, omdat hulle baie geldelike opofferings moes maak. Beyoncé was nege toe sy aangesluit het by haar eerste popgroep, Girls Tyme. Later het Kelly Rowland ook deel van die groep geword. Dit het gelei tot die ontstaan van Destiny’s Child. Daarna ken Beyoncé se loopbaan geen perke nie. Die boek kyk na alle aspekte van die ster se lewe, die positiewe en die negatiewe, van hoe ’n lewe in die kollig nie maanskyn en rose is nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Bushman Rock Art, Tim Forssman en Lee Gutteridge (Southbound, R195 + versendingskoste)
Suid-Afrika is gelukkig om van die beste voorbeelde van rotskuns in die wêreld te hê. Van die oudste voorbeelde dateer uit 27 000 jare gelede. Die mens het nog altyd probeer sin maak van sy eie bestaan deur sy verlede te ondersoek en in hierdie gids word spesifiek die rotskuns gemaak deur Boesmans ontleed. Die skrywers wys voorbeelde van die verskille motiewe wat te sien is in die kuns en verduidelik op ’n toeganklike manier wat die simboliese betekenis daarvan vir die Boesmanskunstenaars was. Mense wat graag na rotskuns gaan kyk, behoort hierdie gids saam te neem. Dis baie visueel met uitstekende kleurfoto’s wat vergelyking maklik maak. Die inleidende hoofstukke gee ook ’n baie goeie oorsig oor die geskiedenis, verspreiding en tydlyn van wanneer rotskuns ontstaan het. Baie belangrik ook bespreek die skrywers etiket by plekke waar rotskuns voorkom – ter wille van die bewaring daarvan vir almal se nageslagte.
Bestel by: http://www.30degreessouth.co.za/bushman_rock_art.htm