Boeke

Top-5 boeke oor Nelson Mandela

Om te kyk hoeveel keer hy genoem word op die web, het ek sy naam ge-google en op die verstommende syfer afgekom: 9 300 000. Dit is die hoeveelheid soekresultate in 0.26 sekondes vir die Groot Gryse! Daar is al baie boeke oor hom gepubliseer en nou is daar nóg ‘n hele paar oor hom, sy lewe, sy wyshede en sy lewenslesse. Aan die vooraand van sy twee en negentigste verjaardag kies ek dié week boeke wat oor hom handel.

Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Op pad met Mandela: 15 lewenslesse, Richard Stengel (Kwela, R175)
Stengel is die redakteur van die invloedryke Time-tydskrif en was ook die medeskrywer van Long Walk to Freedom. Tydens die skryf van Madiba se outobiografie het hy vir drie jaar baie nou saam met Mandela gewerk en het hy al die verskillende aspekte van Mandela leer ken, asook die lesse wat Mandela geleer het uit sy uiters uitdagende lewenspad. Hierdie 15 lewenslesse sal almal baat. Saam met elke lewensles word daar ook interessante omstandighede bygegee oor hoe Mandela tot sy gevolgtrekking en oortuigings gekom het. Een van die lesse wat ‘n indruk op my laat, is: Sien die goeie in ander raak.” Dis so maklik om mense op hulle baadjie te takseer, maar hierdie wysheid van Mandela sê: “Dis ‘n goeie ding om te aanvaar, om van die veronderstelling uit te gaan dat jou medemens ‘n persoon van integriteit en eer is, want jy is geneig om integriteit en eerbaarheid na jou toe aan te trek as dit is hoe jy dié beskou saam met wie jy werk. Ek glo daaraan.” Die boek is iets wat op jou bedkassie moet lê, sodat jy weer en weer kan terugkeer na Mandela se wyse woorde. Die boek is ook in Engels beskikbaar: Mandela’s Way: Lessons on Life.

 

Long walk to freedom Nelson Mandela – Long Walk To Freedom, verkort deur Chris van Wyk (Macmillan, R158,95)
Dit word geklassifiseer as ‘n kinderboek, maar volwassenes kan gerus ook dié boek nader trek om sekerlik een van die bekendste lewensverhale in die geskiedenis te beleef. Veral as die oorspronklike boek se sowat 650 bladsye die rede is waarom jy nog nie Madiba se alombekende outobiografie gelees het nie. Lesers van alle ouderdomme kan Chris van Wyk se weergawe van dié geskiedkundige verhaal met gemak lees. Dit is op só ‘n wyse geskryf dat dit maklik lees en voel of Mandela sélf by jou sit en sy storie vir jou vertel.
Paddy Bouma se illustrasies maak dié boek die moeite werd om te koop en vir toekomstige generasies op die rak te bêre. Die kleurryke sketse gee nuwe lewe aan Mandela se stryd vir vryheid teen rassediskriminasie, en ‘n prentjie by die woorde maak dit ook soveel makliker om die pad saam met Madiba te stap. –    Liesl du Toit
Let freedom reign Let Freedom Reign: The Words of Nelson Mandela, Henry Russell (Zebra press, R139,95)
Vanjaar is dit twintig jaar gelede dat Mandela vrygelaat is uit die tronk waar hy die grootste deel van sy volwasse lewe deurgebring het. In sy politieke en openbare lewe het hy baie toesprake gemaak. En so het hy baie mense beïnvloed en tot ander oortuigings gebring. Hy het sy woorde as een van die doeltreffendste wapens aangewend in sy stryd teen apartheid en onregverdigheid. Die titel, “Let freedom reign” kom uit sy toespraak toe hy as die eerste swart president van Suid-Afrika ingehuldig is op 10 Mei 1994. In dié hoofstuk kyk Russell hoe Mandela woorde inspan om sy gehoor aan sy lippe te laat hang. Dit gaan oor die lewering van die toespraak, die manier waarop hy pouses tussen frases hou, klem wat hy op sekere woorde plaas en met watter oortuiging hy praat. Al stel jy nie belang in hierdie aspek van die boek nie, is die lees van Mandela se toesprake beslis van waarde.
In the words of Nelson Mandela In The Words of Nelson Mandela, saamgestel deur Jennifer Crwys-Williams (Penguin, R60)
Jenny Crwys-Williams kan bedank word vir die samestelling van dié boek vol aanhalings deur waarskynlik een van die beste en invloedrykste sprekers wat al ooit in die openbaar gepraat het. Oud-president Nelson Mandela se woorde in dié bundel is vir enigiemand wat na inspirasie soek.
Die boek is vol onderwerpe wat perfek sal wees om ‘n gesprek aan die gang te sit en sal interessante debatte met familie en vriende opwek. Een van die probleme met dié boek is egter dat dit moeilik is om van die aanhalings te verstaan sonder om die konteks waarin dit gesê is te ken. Die beskrywing onderaan elke aanhaling probeer om die konteks te stel, maar is nie in elke geval genoeg nie. Soms kry jy ook ‘n gevoel van déjà-vu met baie aanhalings wat dieselfde idee oordra.
Hoewel In The Words of Nelson Mandela ‘n juweel vir enige boekrak sal wees, word dit eerder aanbeveel vir die hard Madiba-aanhangers. – Liesl du Toit
Young Mandela

Young Mandela, David James Smith (Weidenfeld & Nicolson, R195)
Daar is heelwat omstrede opinies oor hierdie boek. Party lesers voel die skrywer is besig om Mandela se beeld skade te berokken met van die dinge wat hy oor Mandela se jong lewe skryf. Ander lesers voel dit is goed dat die mite van ‘n amper vlekkelose karakter wat aan Mandela toegedig word in sy outobiografie en ander biografieë so bietjie in perspektief gestel word. Ek kan verstaan dat mense emosioneel ontstig raak as daar iets minder positiefs oor Mandela kwytgeraak word, want hy het so volksbesit geword, spesifiek as ‘n nasie-bouer, dat mens soms vergeet dat hy ‘n gewone mens van vlees en bloed is. Hy is weliswaar ‘n uitsonderlike mens, maar steeds iemand wat geleef het. In hierdie boek vertel die skrywer oor Mandela se jong lewe, van sy voorliefde vir mooi vroue, mooi klere en hy maak selfs beweringe oor geweld. Lesers moet self die boek lees en hul eie opinie vorm. Dit is tog noodsaaklik om te probeer so wyd lees as moontlik oor geskiedkundige figure om ‘n breër insig oor die mens te kry.

  • lwfbywzf

    vqQRpg uorcnbcivfpz, [url=http://urdoyrzcavnn.com/]urdoyrzcavnn[/url], [link=http://xahgtlqgkcou.com/]xahgtlqgkcou[/link], http://ufextxemzhrr.com/