FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor ’n ander wêreld

Wens jy ook soms jy kan uit ons wêreld ontsnap en op ’n ander planeet gaan woon?

As ek so gebombardeer word deur slegte nuus oor terreuraanvalle, moord en geweld voel dit of ek nie meer deel van hierdie wêreld waar ons woon, wil wees nie. Dan wens ek vir ’n wêreld waar mense in vrede saam kan leef, met respek vir mekaar en waar almal ’n sin vir verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid het. ’n Plek waar politiek geen rol speel nie. Waar niemand magtiger as iemand anders wil wees nie. Wat is dit met die mensdom dat daar altyd ’n struweling van die een of ander aard is? Ek lees onlangs daar is water ontdek op Mars. Dis goeie nuus, want dalk is dit waar mense wat soos ek voel ’n heenkome gaan kry. Helaas, onthou ek nou, ek het nie vir die Mars-ekspedisie aansoek gedoen nie. . .

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Banished, The Blackhart Legacy: Book One, Liz De Jager, (PanMacmillan, R175)
Vowed, The Blackhart Legacy: Book Two, Liz De Jager, (PanMacmillan, R175)
Die sewentienjarige Kit Blackhart is die jongste lid van die Blackhart-familie. Sy het eers onlangs ná die dood van haar ouma uitgevind dat sy ’n Blackhart is. Kit is uniek onder haar familie, want sy het sekere magte, alhoewel sy nou eers begin leer om dit te gebruik. Die wêreld van die mense en die van die ‘Fae’ (bonatuurlike wesens soos in hierdie fantasieverhaal) word van mekaar geskei deur ’n onsigbare versperring bekend as die ‘Veil’. Daar is wel deure bekend as ‘portals’ waardeur beweging kan plaasvind. Dit is die plig van die Blackharts om die mensdom te beskerm teen die slegte Fae wat op mense jag maak.

In boek 1 red Kit vir Prins Thorn van die Fae ná ’n aanslag op sy lewe deur ’n groep ‘redcaps’, wat ’n subgroep van kabouters is. Sy moet Prins Thorn teen sy vyande beskerm en hom veilig aan sy familie terugbesorg. Sy besef egter gou dat nie net is al die ‘portals’ gesluit en word bewaak deur die prins se vyande nie, maar dat selfs hier in ons wêreld die prins ’n prys op sy kop het. Slegs deur samewerking met nuwe vriende (of is hulle vriende?) sal sy die prins kan terugbesorg aan sy familie.

In boek 2 ondersoek Kit die verdwyning van jong kinders uit Londen. Maar die ouers, die polisie en selfs Kit se bondgenote in die ‘Fae’ weet nie hoekom die kinders verdwyn het en waarheen die kinders is nie. Sy word geforseer om saam met Dante Alexander van die regering te werk. Hy werk by ’n geheime department wat die sake waarby die “Fae” betrokke is, ondersoek. Ongelukkig is die department en die Blackharts gereeld in konflik met mekaar. Kit en Dante stamp koppe van hul eerste ontmoeting af, maar net wanneer Kit dink hulle kan vriende word, ontrafel Dante se lewe. Nou moet sy nie net die kinders red nie, maar ook uitvind wat met Dante aan die gang is voordat dit te laat is.

Die wonderlike fantasieboeke is nie net vir tieners nie, maar ook vir volwassenes. Ek het elke oomblik van die twee verhale geniet. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dreamless, Josephine Angelini (Macmillan, R159)
Dis die tweede boek in die Starcrossed trilogie. Helen is terug, en as die Descender is sy die enigste Scion wat na die onderwêreld kan afdaal. Hier moet sy die Furies kry en ’n manier vind om ’n einde te maak aan die vloek wat oor die Vier Huise van Scion geplaas is. Maar hierdie is geen maklike taak nie. Vasbeslote om dit so gou as moontlik te vermag, daal sy elke nag na die onderwêreld af, waar sy heeltemal alleen doelloos ronddwaal. Een nag bevind sy haar in dryfsand en word gered deur ’n onbekende manlike Scion, Orion. Dankbaar vir hulp probeer hulle saam die taak vermag, maar Helen se tyd is min. Elke afdaling eis sy tol op haar liggaam en verstand.

Hier is baie kinkels en kabels: ons ontmoet nuwe Scions, helde en skurke. Ook die inmengerige gode maak ’n verskyning. Hierdie verhaal is hartverskeurend, frustrerend en vol inspirasie – alles in een! – Caro Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Glinda of Oz, L. Frank Baum (Hesperus Press Ltd, R188)
Oorlog broei tussen die Flatheads en die Skeezers in een van die afgeleë uithoeke van Gillikin Country. Ozma en Dorothy vertrek daarheen om ondersoek in te stel en die oorlog te probeer verhoed. Hulle word egter gevange gehou deur Coo-ee-oh, die koningin van die Skeezers, in die Skeezers se eilandstad wat deur ’n koepel bedek word. Die stad word beskerm deur dit onder die water te laat sink. Tydens ’n konfrontasie verander die Flatheads se diktator, Su-Dic, Coo-ee-oh in ’n swaan en die twee prinsesse is gestrand op die eiland onder die water. Glinda, die goeie towenares, saam met ’n klomp ander bekende karakters van die Land van Oz, is verantwoordelik om die twee te red. Die veertiende en laaste boek deur L. Frank Baum is gepubliseer ’n jaar en ’n half ná sy afsterwe en boei nes al sy ander. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ice Kissed, Amanda Hocking, (Pan Macmillan, R155)
Ice kissed is die tweede boek in die ‘Kanin Chronicles’ deur Amanda Hocking. Dié reeks, nes die ‘Trylle’-reeks, handel oor die gemeenskap van trolle. Bryn Aven droom daaroor om deel van die Kanin-koning se persoonlike wag te wees. Maar sy twyfel in haar eie vermoëns omdat sy nie ’n volbloed-Kanin is nie, sy is half-Kanin en half-Skojare. As die Skojare koningin verdwyn, word Bryn en haar baas Ridley Dresden gevra om te help met die ondersoek. Nes hulle begin vordering maak, word hulle onttrek van die ondersoek. Bryn hou egter aan met die ondersoek en kom op ’n baie groter komplot as net die koningin se verdwyning af. Sy kry te doen met ou, asook nuwes vyande en die lewens van geliefdes word op die spel geplaas. ’n Ligte, lekker vinnige lees. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Bone Clocks, David Mitchell (Sceptre, R487)
Dié roman is in ses segmente verdeel wat elk ’n greep uit die lewe van Holly Sykes voorstel. Sy is ’n weglooptiener wat uiteindelik ’n suksesvolle outeur word – in die eerste en laaste gedeeltes is sy aan die woord, en in die res maak karakters wat sy tydens haar omswerwinge ontmoet het, hul stemme dik. Na afloop van die vierde afdeling besef die leser alles is nie pluis in die wêreld waar Holly leef nie: somtyds verweef haar werklikheid met ’n ander dimensie en kom ’n sinistere, alternatiewe realiteit aan die lig. Lesers sal daarby baat vind om vertroud te wees met karakters en verskynsels uit Mitchell se vorige boeke; tipies verwissel hy van skryfstyl, genre en onderwerp, en daarby tree hy graag in gesprek met elemente uit sy eie oeuvre. Met die lees van ’n skryfsel soos hierdie, kry mens die idee dat Mitchell ses novelles neergepen het en besluit het om daardie mengelmoes as een storie op te dis. Of dit ’n suksesvolle eksperiment afgegee het, sal net Mitchell se aanhangers kan bepaal. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Book of Strange New Things, Michel Faber (Canongate, R462)
USIC, ’n enigmatiese maatskappy, het vir hulself ’n nuwe wêreld begin ontgin op planeet Oasis iewers in die buitenste ruim. Peter kry ’n unieke geleentheid om as “sendeling” na Oasis te gaan om die inheemse inwoners te help om die Bybel te verstaan. Maar dit beteken sy geliefde vrou, Bea moet in Engeland agterbly. Hulle enigste manier van kommunikasie is per brief. Hoe meer Peter betrokke raak by sy sendingwerk, hoe meer raak hy verwyderd van die dinge waaroor Bea vir hom skryf.

Dis ’n vreemde verhaal, en dit het my ’n tydjie geneem om my tande daarin te slaan. Veral die fantasie-deel wat in die buitenste ruim afspeel. Maar dis ’n roerende beskrywing van die verbrokkeling van ’n verhouding waar die paartjie skielik andersoortige uitdagings alleen moet aandurf. Die grootste waarde van hierdie verhaal lê in die insig wat die leser in verhoudings kry en hoe deernis en respek ’n integrale deel daarvan is. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Burning Shadow, Michelle Paver (Puffin, R139)
Hylas se lewe word steeds deur net een ding oorheers – sy soeke na sy verlore suster. Maar ongelukkig word hy gevang deur slawehandelaar en na die eiland Thalakrea geneem om in die “greenstone” myne van die Crows te werk. Hier staar hy wrede toesighouers en dodelike mynstortings in die gesig, terwyl hy probeer keer dat die Crows uitvind wie hy is. Dit vat al Hylas se moed en uithouvermoë om elke te dag te oorleef en uiteindelik te ontsnap. As die Crows hom kry, sal hulle hom onmiddellik doodmaak. Intussen probeer sy vriendin Pirra uit die paleis op Keftiu ontsnap, en sy jeugvriend Telamon – wat ongelukkig ’n Crow is – neem steeds ’n spul verkeerde besluite. Hylas se pad kruis die van Havoc, die leeuwelpie wat wees gelaat is nadat die Crows haar ma en pa doodgemaak het. Saam vlug hulle en ’n reeks avonture wat jou nou en dan na jou asem laat snak, volg.

Hierdie is die tweede boek in die Gods and Warriors-reeks. ’n Spannende verhaal wat jou sal wegvoer na ’n wêreld van gevaar en mitiese wesens! – Caro Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The History Keepers: Circus Maximus, Damian Dibben (Doubleday, R165)
Ná die verskyning van die laaste boek oor die avonture van ’n sekere weeskind met ’n litteken op sy voorkop, was leeslustige jeugdiges naarstig op soek na ’n waardige opvolger.

Vir diesulkes het ek goeie nuus – ontmoet Jake Djones, tydreisiger en melkbaard held van formaat. Jake en sy makkers se manewales skop af met die ontvangs van ’n kriptiese boodskap; hulle weet egter nie wie dit gestuur het nie, waarvandaan dit kom nie en ook nie na watter era dit verwys nie. Boonop beland ’n kosbare besending atomium (die vloeistof wat hulle in staat stel om deur tyd te reis) in die hande van Agata Zeldt, die venynigste feeks in die geskiedenis van die mensdom. En om alles te kroon, is daar tekens van verraad in hulle midde. . .

Circus Maximus is die tweede boek in Dibben se History Keepers-trilogie, ’n vervolg op The Storm Begins. Dié opwindende reeks verdien ’n pluimpie en word sterk aanbeveel vir lesers tussen twaalf en vyftien jaar oud. – Emsie Viljoen

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Keepers: Declan, Rae Rivers (Harper Impulse, R198)
The Keepers: Declan is die tweede boek in “The Keepers” trilogie. Ons leer ken Kate Carrigan waar sy besig is om in te breek in die Bennet huishouding met ’n magiese sleutel wat sy maande gelede van Declan, die middel-broer, gesteel het. Kate is grootgemaak om alles te wantrou wat te doen het met die geheime magiese wêreld van hekse en hul keepers, maar ’n brief wat haar ma op haar sterfbed geskryf het, noop haar om hierdie wêreld te betree. Die drie dolke van die Bennet-broers sal haar beskerm – maar teen wat – dit weet sy nie. Kate ontdek dat die donkerte van die magiese wêreld dieper in haar lewe loop as wat sy gemaak glo is, en dat dit die rede is waarom sy beskerming nodig het. Haar pad kruis weer met die van Declan en hulle word teen hulle wil aanmekaar gebind . . .  ’n Verhaal vol verrassings wat wipplank ry met jou emosies. ’n Awesome lees! Sien uit na die laaste boek! – Caro Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Mark, Edyth Bulbring (Tafelberg, R160)
Dit is die jaar 264 PC. Die aarde is in chaos ná die groot verwoestende brande. Dis ’n harde wêreld waar die son genadeloos neerbrand en die mensdom en amper alle ander lewe – behalwe vlieë en rotte – op aarde tot op die randjie van uitwissing gedryf is. Die Masjien is al wat die mensdom aan die gang hou deur die regulering van ’n baie streng klasse-stelsel waar net ’n paar gelukkig genoeg is om onder die Elite te tel. Almal wat nie volgens hierdie reëls speel nie word as Savages gesien, en word verwerp uit hierdie samelewing.

Ettie, eintlik Juliet Seven, is nie ’n spesiale meisie met supervermoëns wat die wêreld gaan red van hierdie bose Elite nie. Sy is ’n niemand, ’n Drudge wat bestem is om die vuil werk van die Elite te doen. So het die Masjien dit bestem en haar getatoeerde nommer is die bewys. Maar Ettie is nie tevrede met wat vooraf bepaal is nie…

’n Boeiende lees tot op die laaste bladsy. – Caro Liebenberg