FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor oorloë en veldslae

Ek het nog nooit self enige oorloë of veldslae beleef nie. Tog het ek self gesien wat die impak van oorlog was op my broers en ander vriende.

My broers was almal nasionale dienspligtiges in die tagtigerjare en is ook na die Grens gestuur waar hulle in die Bosoorlog geveg het. So ook vele van die seuns wat saam met my op skool was. Ek onthou al die praatjies oor die “Rooi Gevaar” en hoe al die gesonde mans op die Grens moes gaan veg om die naderende gevaar in sy spore te stuit. ’n Groot persentasie van die soldate het bestaan uit nasionale dienspligtiges, jong manne van 18 jaar en ouer. Ek onthou hoe my ma die posbus dopgehou het, elke keer wanneer een van my broers op die Grens was. Dikwels was daar in die briewe self nie veel nie, net dat hulle okei was, nie dat hulle toegelaat was om te skryf oor operasies waarby hulle betrokke was of goed wat met hulle gebeur het nie. Die briewe is deeglik gesensor. Nadat hulle uitgeklaar het en terug was in “civvie-straat” het hulle nie juis met ons gepraat oor wat hulle op die Grens beleef het nie. Hulle het die onderwerp vinnig verander, sou ons daaroor uitvra. Baie vriende het uitermatig baie gedrink, moontlik ’n manier om van die nagmerries te probeer ontsnap. Dood is nie maklik nie, veral nie in oorlogstye nie. Ek onthou net hoe gespanne hulle was wanneer dit tyd geword het dat hulle weer vir kampe opgeroep moes word – vir nog ’n dienstydperk op die Grens. Hoe meer ek lees oor die Grensoorlog en wat alles gebeur het, hoe meer besef ek hoeveel mense is direk en indirek geraak deur die oorlog. Daar gaan nog lank geskryf word oor die oorlog, want dis ongelukkig ’n deel van ons land se geskiedenis wat nie weggewens kan word nie.

Recce, Kleinspan-operasies agter vyandelike linies, Koos Stadler (Tafelberg, R225)
Vir almal wat nogal altyd nuuskierig was oor wie en wat die recces was, is hierdie boek ’n moet-lees. Stadler skryf biografies oor sy eie ervarings, maar hy dokumenteer ook breedvoerig hoe hierdie eenheid gefunksioneer het. Vroeër jare het daar ’n sluier van geheimhouding en misterie oor die recces gehang. Boonop was daar ook ’n klomp onsinnige kletspraatjies wat Jan Publiek goedsmoeds geglo het, natuurlik versprei deur mans wat nie deel was van dié eenheid nie, maar wat graag wou hê dat die reputasie van die recces hulle ook moes omvou. Vir gewone mense was die recces vreesloos en ongelooflike dapper soldate, maar ook mans wat so bietjie gevrees moes word. As jy Stadler se boek lees, besef jy hulle was inderdaad soldate waarmee rekening gehou moes word, juis omdat hulle nougeset was in hoe hulle opdragte uitgeoefen het. Stadler se boek gee die leser nie net insig in die operasies van die recces nie, maar skets ook ’n prentjie van die kwaliteite wat mans moes hê om deel van hierdie eenheid te wees. Die boek is ’n stewige bydrae tot die geskiedskrywing oor die Bosoorlog en onderwerpe wat daarmee verband hou. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Donkerstroom, Carel van der Merwe (Tafelberg, R375)
Van der Merwe was sedert hy Leon Rousseau se boek, Die Groot Verlange, gelees het baie nuuskierig oor die meer as vyf jaar wat Eugéne Marais in Londen en Europa was waaroor nie veel in Rousseau se boek geskryf is nie. Dis in hierdie jare dat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Hoewel hy aanvanklik ’n roman wou skryf met Eugéne Marais as hoofkarakter wat sou afspeel in dié tydperk het hy eerder besluit op ’n biografiese werk. Die verrassende dinge wat hy ontdek het toe hy sy navorsing gedoen het, het “uiteindelik gelei tot ’n werk wat die twee dekades van 1887 tot 1907 dek: van Marais as ’n 17-jarige seun uit die Paarl in Pretoria aankom tot hy op 37-jarige ouderdom na die Waterberg verhuis.” Van der Merwe het twee jaar navorsing gedoen en het argiewe besoek in Suid-Afrika, Engeland en Duitsland om die inligting vir dié lywige boek te versamel. Hy verskaf ’n volledige prentjie oor Marais se rol in die politiek en in die joernalistiek in die Transvaalkolonie ná die oorlog. Marais is een van die mees veelsydige en interessantse Suid-Afrikaanse karakters oor wie daar baie geskryf is en seker nog geskryf sal word. Van der Merwe help om ’n meer volledige beeld van dié komplekse mens se lewe te skets. Sy skryfstyl is boeiend en hy onthul baie van die geheime lewe van Marais.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

South African Battles, Tim Couzens (Jonathan Ball, R262)
Couzens het ’n manier om oor veldslae te skryf dat selfs iemand wat nie in oorlog belangstel nie, dit sal wil lees. Die 36 veldslae wat op Suid-Afrikaanse grondgebied plaasgevind het waaroor hy skryf, is nie regtig bekend nie. Soos hy in die inleiding sê: “Nakob, Middelpos, Mome Gorge or Mushroom Valley. For instance, are hardly household names, but each has its curiosities and fascinations and may even inspire a flash of recognition for some readers. The choice of subjects depended entirely on what interested me and where I detected an interesting story, nothing more.” Elke hoofstuk bestaan uit ’n veldslag en is amper ’n kortverhaal op sy eie. Met hierdie boek wil hy mense ook aanmoedig om te reis na die plek waar die veldslae plaasgevind het. Sy boek sal mense ook hopelik nuuskierig genoeg maak om wyer te lees. Hy skryf anekdoties oor sy reis na elkeen van die plekke waar die veldslae was en plaas elkeen ook in konteks. Dis nie swaar of depressiewe leesstof nie en dis ’n baie aangename manier om meer oor ons eie geskiedenis te leer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Churchill’s South Africa, Travels during the Anglo-Boer War, Chris Schoeman (Zebra Press, R250)
Churchill was 24 jaar oud toe hy na Suid-Afrika gekom het as oorlogkorrespondent van die Morning Post om verslag te lewer oor die Anglo-Boereoorlog. Schoeman vertel alles van Churchill se tyd in Suid-Afrika, die plekke waar hy was, die mense wat hy ontmoet het en gebeure waarin hy betrokke was. In sy eie skrywes het Churchill nie altyd feite in die pad van ’n goeie storie laat staan nie, want hy was ’n meesterverteller; soos Shoeman in die eerste hoofstuk opmerk, “He could write about his thrilling adventures so convincingly that few would doubt his daring exploits.” Een voorbeeld daarvan is dat Churcill geskryf het hy die magtige Apiesrivier geswem nadat hy uit die tronk ontsnap het.En dit terwyl die rivier net enkeldiep is! In hierdie boek word aangehaal uit Churchill se eie skryfwerk en die boek word ook uitstekend geïllustreer met foto’s. Dit gee ’n volledige beeld van wie Churchill was en hoe hy doelgerig gewerk het om sy politieke ambisie ’n werklikheid te laat word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Back to Angola, A Journey from War to Peace, Paul Morris (Zebra Press, R236)
In Julie 2012 het Morris met ’n fiets deur Angola gery om sy duiwels te probeer besweer en vrede te probeer maak met die tyd wat hy as dienspligtige in die land was in 1987. Hy skop sy reis af by Cuito Cuanavale waar hy stry teen sy eie onsekerheid en vrese oor wat hy gaan ontdek in die vreemde, watter mense sy pad gaan kruis, hoe hy gaan kommunikeer . . . “I’m back now, in the country that represents my shadow side. A place that signifies the blackest depths to which humankind can plunge: war. It has taken me twenty-five years and five continents of travelling to find my way back here. Will this place take me deeper into the darkness of my mind or does something else await me?” Hy gaan aan om te sê hy is nie ’n brawe mens nie, maar glo my, as jy die boek lees besef jy hy is inderdaad ’n brawe mens, om so op sy eie spore terug te loop en alles wat deel van sy ervarings tydens die Bosoorlog te bevraagteken en tot insigte te kom wat hopelik vrede in sy gemoed bring. Plek-plek worstel mens saam met hom deur sy emosionele vertellings, want dis nie altyd gemaklike leesstof nie. Vir almal wat iemand in hul lewe het wat deel was van die Grensoorlog sal die boek ’n mate van insig bring in waarmee die soldate te kampe gehad het – die gruwels van oorlog wat hulle altyd sal bybly.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Battle of Savate: 32 Battalion’s Greatest Operation, Piet Nortje (Zebra Press, R236)
Dikwels is daar nie akkurate weergawes van wat in spesifieke veldslae gebeur het nie, omdat daar nie toegang tot al die oorlogsdokumentasie is nie. 32 Bataljon het ’n groot rol gespeel in die Grensoorlog en daarom is hierdie boek ’n belangrike bydrae tot die geskiedskrywing oor dié tydperk in Suid-Afrika. Nortje sê oor hierdie boek: “This account is therefore based on a number of sources: the official war diary, situation reports, the original operation order, which includes a sketch of Savate base defence, the aforementioned recent declassified documents and the personal recollections of 35 former 32 Batallion members who took part in the battle.” Die boek bevat foto’s, kaarte, weermag memorandums en ’n baie handige woordelys van terme waarmee gewone mense nie bekend is nie. Nortje het in 1987 permanent aangesluit by die weermag en was ’n lid van 32 Bataljon. Hy was in 1985 aangestel as die regiment-sersant-majoor van die bataljon, die jongste ooit in die weermag.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

WW1 And The People of South Africa, Bill Nasson (Tafelberg, R185)
Mens besef nie altyd hoe die Eerste Wêreldoorlog die Suid-Afrikaanse samelewing en die politiek beïnvloed het nie. In hierdie boek kyk Bill Nasson na die Suid-Afrikaanse gemeenskap voor en na die Eerste Wêreldoorlog; hoe die oorlog die gemeenskap geaffekteer het en hoe die ekonomie ook beïnvloed is. Hy verduidelik oor sy boek: “a short, illustrated account of how the inhabitants of South Africa responded to the war, and lived as a population at war.”