FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor oorlog

Boeke oor oorlog is daar volop, van nie-fiksie tot fiksie.

Van die vroegste tye af word daar al oor die groot veldslae geskryf. Selfs in die Bybel. Dis asof mense nabetragting wil hou in nie-fiksie: waarom het die veldslae plaasgevind, hoe is dit geveg en wat was die afloop daarvan. Dan is daar die derduisende verhale waarin oorlog figureer. Dis asof die mensdom nie uitgeskryf kan raak aan die onderwerp nie, en dis te verstane. As jy dink hoeveel lewens geraak word deur oorlog en die nalatenskap daarvan, dan wil mens sin probeer maak daarvan. Dit bly ’n emosionele onderwerp en een wat in baie gevalle ’n blywende letsel op die mensdom laat. Meeste van ons in Suid-Afrika het familielede wat deur die Anglo-Boereoorlog geraak is en selfs tot vandag is die konsentrasiekampe en wat daar gebeur het onder bespreking. Ek dink elke nasie hou nabetragting oor die oorlog waarby hulle betrokke was. In die afgelope paar jaar het daar ook baie skrywes oor oorlog deur Suid-Afrikaanse skrywers die lig gesien. Hierdie week fokus ek op boeke met oorlog as tema.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Kamphoer, Francios Smith (Tafelberg, R220)
Dis die ware verhaal van Susan Nell wat gedurende die Anglo-Boereoorlog wreedaardig deur twee Britse offisiere en ’n joiner in ʼn konsentrasiekamp by Winburg verkrag is. Hier is sy dan ook vir dood agtergelaat. Met die hulp van Tiisetso, wat ’n bestaan maak uit die afvalhope van die konsentrasiekamp, oorleef sy egter. Sy beland in Kaapstad en met die hulp van o.a. Marie Koopmans-de Wet ontvang sy opleiding in psigiatrie in Nederland. Tydens die Eerste Wêreldoorlog bevind sy haar in ʼn Britse Militêrehospitaal en haar pad kruis met een die van die offisiere wat haar vir dood agtergelaat het. Die bordjies is nou verhang. Sielkundige wonde wat sy gedink genees het, word weer oopgekrap. Susan se verhaal is al in Engels deur Nico Moolman vertel. Die boek is egter nie ʼn vertaling van Moolman se The Boer Whore nie, maar ’n heel nuwe roman wat die verhaal nuut en spanningvol oordra. Die invloed van trauma op die menslike siel word meesterlik uitgebeeld in die sielkundige riller wat jou enduit sal boei. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

’n Nuwe Wildernis, Ben Viljoen (Human & Rousseau, R185)
Die relatief somber, maar besondere realistiese verhaal speel af tydens die Grensoorlog in die eertydse Suidwes-Afrika. Die vertelling begin met die aanvang van die oorlog in die vroeë sewentigerjare en strek tot aan die vooraand van die Waarheids- en Versoeningskommissie se werksaamhede in die negentigerjare. Die bedrywighede van ’n sogenaamde derdemag wat die Suid-Afrikaanse politieke oorgang voorafgegaan het, vorm ook deel van die gebeure. Ons ontmoet jong soldate soos Cassie Carstens, Leo Steyn en Khanda Mahlatini en sien hoe die oorlog die lewens van dié mans, en ook die van die mense om hulle, onherroeplik verander en beïnvloed het.
Die boek probeer nie om die oorlog te regverdig of te kritiseer nie en slaag daarin om die verskrikking, ontnugtering en absurditeit van die oorlog by jou tuis te bring. Dit is ’n baie leesbare en boeiende boek; die skryfstyl is gemaklik en die gebeure vloei vinnig. Ben Viljoen het in Vereeniging opgegroei en woon tans in Bellville in die Wes-Kaap. Van sy skryfwerk is al in verskeie kortverhaalbundels gepubliseer. – Gert Venter

die oorlog kom huis toeDie oorlog kom huis toe: Vroue en gesinne in die Anglo-Boereoorlog*
, onder redaksie van Albert Grundlingh en Bill Nasson (Tafelberg, R350)
Die lyding en sterftes in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het ’n onbetwisbare merk op die psige van die Afrikaner gelaat. Dié gesaghebbende boek is gepubliseer in die 100ste bestaansjaar van die Vrouemonument in Bloemfontein, wat destyds opgerig is ter nagedagtenis aan die lyding in die kampe. Dis ’n versameling skrywes deur vooraanstaande akademici, onder die bekwame redaksie van historici Albert Grundlingh en Bill Nasson. Die inhoud is nie net onberispelik nagevors nie, maar boonop so boeiend aangebied dat jy dit nie kan neersit nie. Daar is onder meer eerstehandse vertellings van mense wat die kampe oorleef het, en meer as 300 foto’s van die kamplewe en artikels uit die oorlog, soos kinderspeelgoed en rantsoenkaartjies.
Die doel van die boek was om antwoorde te gee op vrae soos hoe het die konsentrasiekampe ontstaan, aan watter toestande is die wit en swart kampinwoners blootgestel en wie was daardie vroue en kinders wat so strak in die kamera staar? Die antwoorde verstom. Die hoofstuk oor Nonnie de la Rey, vrou van die bekende genl. Koos de la Rey, was vir my veral aangrypend en insiggewend. Sy was die toonbeeld van die moed en krag wat die ganse Boereoorlog gekenmerk het. Die elfde en laaste hoofstuk is ’n vertaling van Emily Hobhouse se toespraak wat by die inwyding van die Vrouemonument voorgelees is. Daarin besing sy die bydrae van die vroue in die oorlog: “En hul invloed sal verder uitkring. Hulle het die wêreld gewys dat daar nooit weer gesê kan word dat ’n vrou geen burgerregte verdien omdat sy nie aan oorlog deelneem nie. Hierdie standbeeld staan as ’n ontkenning van daardie aanname … My vriende, dwarsdeur die wêreld is die vrou se tydperk aan die kom; haar dag breek aan.”

(*Die boek is ook in Engels beskikbaar onder die titel The War at Home: Women and Families in the Anglo-Boer War.) – Anine Capraro

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The undesirables, Dave Boling (Picador, R204)
Die titel is die argelose naam wat die Britte gegee het aan vroue en kinders van die plaaslike rebelle wat geweier het om oor te gee. Die skrywer van hierdie hartroerende vertelling bied ’n persoonlike uitbeelding van die Tweede Vryheidsoorlog, waar familie, vriendskap en liefde teen die agtergrond van die oorlog vertel word.
Aletta Venter, of Lettie word gevange geneem saam met duisende ander boerefamilies en saam met haar ma en sibbe in ’n konsentrasiekamp aangehou. Ten spyte van die beknoptheid in die tent en die uitdagings wat aan hulle gestel is om higiëne te handhaaf sonder enige geriewe, poog Lettie om die verlies aan privaatheid te oorkom.
Die gesin het ook hul afgebrande plaashuis moes agterlaat en al die meegaande verliese probeer verwerk in die kamp waar kos feitlik onverkrygbaar is. Onblusbare hoop lei die jong meisie om te soek na volwasse geselskap, en moontlik verbode romanse op die koop toe. Boling toon hoe beide partye, Boer en Brit, helde en veragtelike mense ingesluit het. ’n Juweel van ’n boek. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Harrowing, Robert Dinsdale (Faber and Faber, R125)
Dis die donker verhaal van die stryd tussen twee jong broers, William en Samuel, wat in ’n werkersklasomgewing tydens die Eerste Wêreldoorlog grootword. William is ’n skrander student en is bestem vir groter dinge, maar sy toekomsplanne word in die wiele gery wanneer hy opgeroep word vir oorlogsdiens. Op die vooraand van William se vertrek oorlog toe, slaan Samuel hom uit die bloute met ’n klip oor die kop en laat hom dan vir dood agter as hy wegvlug. Al uitweg wat sy ouers kan sien, is om vir Samuel in William se plek oorlog toe te stuur, deels om hom te straf en deels om hom te beskerm.
Toe William wakker word in die hospitaal en uitvind waar sy broer is, besluit hy, ten spyte van sy beserings, om sy broer te gaan vind sodat hy hom kan red en vergewe. Die res van die verhaal speel af op die chaotiese oorlogsvelde van Vlaandere. – Rheta Burger

One Night In WinterOne night in winter, Simon Sebag Montefiore (Random House Group, R257)
Hierdie verhaal speel af in Moskou in 1945. Tydens die oorwinningsparade om die einde van die oorlog te vier, word twee skoolkinders doodgeskiet. Dit lyk soos ’n selfmoordpakt tussen twee tieners, albei met hooggeplaaste ouers. Die polisie-ondersoek vind uit dat hulle lede van ’n geheime klub, toegewy aan die Russiese digter, Alexander Pushkin, is. Soos die ondersoek vorder, kom die polisie af op ’n dokument wat die hele saak verander en Stalin persoonlik betrek. Al die “Fatal Romantics”-klublede word verdink van hoogverraad, en kinders so jonk as twaalf en ses jaar oud word gearresteer.
Hierdie historiese roman is gegrond op werklike gebeure wat meesterlik in ’n fiktiewe verhaal ingeweef word. Dit bied ’n duidelike beeld van Stalin se politieke heerskappy en illustreer hoe hy vrees gebruik het om die Russiese volk te oorheers. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Black Roses, Jane Thynne (Simon & Schuster, R215)
Dis 1933 en in Duitsland het Hitler pas aan bewind gekom met oorweldigende steun. Clara Vine, ’n Engelse aktrise, is jonk en ambisieus en vasbeslote om ’n sukses van haar loopbaan te maak. Sy besluit halsoorkop om Berlyn toe te gaan vir ’n oudisie vir die rolprent Schwarze Rosen. Clara raak per ongeluk deel van die kring van Nazi hoëlui-vroue, onder meer Magda Goebbels. Sy ontmoet in die tyd vir Leo Quinn, ’n ondergrondse Britse Intelligensie agent. Hy haal Clara oor om op haar nuwe Nazi vriendinne te spioeneer. Frau Goebbels vertel Clara ’n donker geheim wat haar begin bedreig en desperaat laat voel. Die storie is gegrond op historiese feite en die klein detail oor Hitler, Goebbels en Goering is fassinerend. Ongelukkig is die storielyn taamlik vergesog en die spanningslyn baie stadig. Die paar dramatiese gebeur word op ’n manier beskryf wat jou amper koud laat. – Marian Cloete

wakeWake, Anna Hope (Doubleday, R257)
Die hele verhaal speel af oor vyf dae in November 1920 en word grotendeels vertel deur drie vroue van verskillende ouderdomme wat op die een of ander manier ’n verbintenis met die oorlog het. Wat die gebeure afskop is die oorskot van die “Unknown Warrior” wat van Frankryk (waar hy opgegrawe is) vervoer word na die Westminster Abbey waar hy begrawe sal word op Wapenstilstandsdag. Eerstens is daar Ada, ’n ma wie se seun dood is in die oorlog. Dan is daar Evelyn, wat ’n kêrel verloor het, maar wat nou as ’n klerk werk met oorlogsveterane ten spyte van haar gegoede agtergrond. Laastens is daar die 19-jarige Hettie wat as ’n dans-instrukteur werk en so ’n geldjie per dans verdien. Hulle uiteenlopende verhale word kundig saamgesnoer vir ’n boeiende vertelling oor hoe oorlog in elkeen van hulle se lewe, direk of indirek, ’n rol speel. Jy kan nie anders as om meegesleur te raak deur die tedere wyse waarop met hierdie vroue se emosionele baggasie omgegaan word nie. Aan die einde van die verhaal is daar een oorkoepelende gedagte wat in my kop bly maal en maal, dat daar in oorlog geen wenners is nie, of jy fisies daar was en of jy net op ’n ander manier ’n verbintenis daarmee gehad het. En of jy bloot net daaroor gelees het nie. – Phyllis Green