FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor persoonlike keuses

Persoonlike keuses is presies wat dit sê – persoonlik. En wanneer dit by boeke kom, is my keuse van wat om te lees regtig erg persoonlik.

Dikwels is daar nie ’n rede waarom ek ’n spesifieke boek opgetel het nie. Ek het dit gesien en gedink ek behoort dit te lees. Ander kere is die omslag die deurslaggewende faktor. Menige male is die skrywer iemand van wie ek voel ek kennis behoort te neem. Maar ek moet bieg, ek het al by ’n boekwinkel se rakke gestaan en perv oor die vele nuwe en opwindende boeke wat ek sien. En skielik sal die lelikste boek op die rak my oog vang. En as ek dan ’n paar paragrawe lees, kry ek gereeld ’n reuse verrassing met ’n boeiende storie. Dié lelikste eendjie verander baie keer in ’n swaan. Nou ja, raai julle maar self waarom ek hierdie boeke gekies het om te lees!

The Unexpected Inheritance of Inspector Chopra, Vaseem Khan (Hodder UK, R335)
Hierdie boek is ’n onverwagse verrassing, net so onverwags soos die olifantjie wat inspekteur Chopra erf van sy eksentrieke oom. Dis inspekteur Chopra se laaste dag in diens van die Moembaaise polisie. Hy tree vroeër af om mediese redes. Op hierdie dag vind hy uit van ’n arm jongman se dood deur verdrinking. Die polisie gaan nie dié saak ondersoek nie, maar iets rondom die omstandighede van die dood pla Chopra. Hy besluit om sy eie ondersoek te loods en dan is hy so baie weg van die huis af dat sy vrou, Poppy, begin dink iets is fout in hul huwelik. Die olifantjie, Ganesh, vorm ’n integrale deel van die storie en help Chopra om die raaisels rondom die jongman se dood op te los.

Die verhaal is boeiend en die skrystyl is vermaaklik. Die skrywer skep ’n insiggewende agtergrond van Moembaai, waarteen die verhaal afspeel. Ek het dadelik verlief geraak op Ganesh, Chopra en sy vrou Poppy en kan nie wag vir nog ’n aflewering in die reeks nie. ’n Verfrissende verhaal.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Midnight Sun, Jo Nesbo (Harvill Secker, R241)
As jy Blood on Snow van Nesbo gelees het, sal jy van hierdie verhaal ook hou. Die Fisherman speel ’n rol in hierdie verhaal, nes in Blood on Snow. Jon vlug om weg te kom van die Fisherman af, want Jon het nie sy opdrag uitgevoer nie. Jon is ’n onwillige moordenaar wat iemand nie op opdrag kan vermoor nie. Juis daarom is die Fisherman op soek na hom, want jy kan hom nie verneuk en daarmee wegkom nie. Nou bevind Jon hom in ’n afgeleë hoekie van Noorweë waar hy Lea en haar seuntjie, Knut, ontmoet. Hulle help hom om in ’n skaapwagtershut weg te kruip. Lea gee selfs vir hom ’n geweer en Knut help hom om proviand te kry om in die wildernis te oorleef. Lea en Knut is lede van ’n sekte en hy word by hul lewe betrek. Maar die Fisherman se manne is op sy spoor . . . Die heerlike verhaal is vol kompleksiteit oor die mens se oorlewingsdrang en wat jy sal opoffer van jouself om ander veilig te hou. Nesbo het ’n manier om die verhaal so te vertel dat daar aan die einde altyd ’n verrassing is wat jy nie sien kom het nie. Spanningsfiksie op sy beste!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Food of Love, Prue Leith (Quercus, R335)
Hierdie is die eerste boek in die trilogie wat oor die Oliver-familie gaan. Die verhaal speel af tydens die Tweede Wêreldoorlog en Laura Oliver, die jongste dogter van dié gesin, is die spil waarom die gebeure draai. Haar pa Donald is ’n regte snob en wil baie graag veel statiger wees as wat sy geldsake toelaat. Wanneer Laura verlief raak op Giovanni verban Donald haar, omdat sy volgens hom die famile se naam in oneer bring. Giovanni, ’n pennielose kok en oudkrygsgevangene, vlug saam met Laura na Londen. Hulle verhouding ly amper skipbreuk, omdat Laura haar baba opgee vir aanneming sonder om Giovanni daroor te vra. Sy moet hard werk om sy liefde terug te wen. Hulle liefde en deursettingsvermoë help hulle om sukses in die wêreld van kos te behaal.

Leith skryf onderhoudend oor die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog waarteen die verhaal afspeel, oor hoe moeilik die lewe op plase was en dat rantsoenering van alle produkte mense se lewe gereël het. Sy skep ’n beeld van ’n sosiale orde wat omver gewerp is en waar mense probeer om hul voete te vind in ’n gemeenskap waar vooroordeel, mag en ambisie ’n groot rol speel. Die karakters is geloofwaardig en maak vir boeiende leesstof. ’n Heerlike eerste aflewewering in haar trilogie oor die Oliver-familie se wel en wee.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The life and death of Sophie Stark, Anna North (Weidenfeld &Nicolson, R235)
Ek het gesukkel om vatplek aan die verhaal te kry. Totdat ek die derde hoofstuk gelees het waar die stukke van die legkaart stuk-stuk inmekaar begin pas het. Toe kon ek die boeiende verhaal oor die uiters vreemde Sophie Stark nie neersit nie. Stark is ’n rolprentmaker, maar nie die soort wat Hollywood lokettreffers die mark instoot nie. Nee, haar films is intens persoonlik, amper obsessief oor die onderwerp waaroor dit gaan. Jy hoor nooit uit haar eie mond wat sy dink, wat sy doen of waarna sy strewe nie. Haar verhaal word vertel deur Allison, Jacob, Daniel, George, Robbie en die resensies deur Benjamin Martin oor haar rolprente. Almal mense by wie Stark op die een of ander manier intens betrokke raak – maar net totdat hulle die doel gedien het wat sy vir hulle in gedagte gehad het. Stark is glad nie lekker nie, inteendeel, sy is een van daai mense wat jy as ‘af’ sou beskryf as jy haar in lewende lywe sou ontmoet. Tog trek haar disfunksionele persoonlikheid jou in soos ’n spinnekop in ’n web! Tot jy pens en pootjies deel voel van die gebeure. Dit klink asof alles in die boek net vreemd is, en eintlik is dit glad nie so nie. Die boek gaan oor weerloosheid, onsekerheid, verraad, vertroue, liefde, alles elemente wat lei tot obsessie. Druk deur as jy ook ná die eerste hoofstuk voel jy sukkel met die boek. Dis die moeite werd!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Mother, Yvvette Edwards (Mantle, R310)
Hoe woon jy ’n hofsaak by waar jy na jou seun se moordenaar moet kyk en moet luister na die presiese, aaklige gebeure van hoe jou kind vermoor is? Dis waaroor hierdie roerende verhaal gaan. Marcia Williams se sestienjarige seun is wreed met ’n mes doodgesteek deur ’n ander sestienjarige seun. Haar wêreld word op sy kop gekeer, want êrens moet sy probeer krag vind om aan te gaan met asemhaal. Die moord plaas ongelooflike spanning op haar huwelik en sy moet ook ’n manier vind om uit te reik na haar man wat homself onttrek om weg te kruip agter ’n muur van geheime. Al haar vooropgestelde idees oor wie en wat sy dink haar seun se moordenaar is, word uitgedaag deur dit wat sy in die hof ervaar. Dan is daar ook nog die jong meisie, Sweetie – kan sy vir Marcia antwoorde gee op haar tergende vrae? Hierdie boeiende verhaal is tragies, empaties en hartverskeurend, maar tog nie sonder hoop nie. Dis ongelooflik mooi geskryf.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Cometh the Hour, Jeffrey Archer (Macmillan, R393)
Toe Jeffrey Archer Suid-Afrika besoek het met die bekendstelling van die eerste boek in die Clifton Chronicles-reeks het ek die geleentheid aangegryp om hom te ontmoet. Eerstens omdat hy ’n skrywer was met ’n reputasie – hy het immers tyd in die tronk deurgebring weens bedrog! Tweedens het hy sy eerste boek geskryf toe hy 34 jaar was, juis om sy skuldeisers te kon terugbetaal. Derdens was hy reeds 70 toe ek hom ontmoet het met die bekendstelling van sy eerste boek oor die Cliftons en Barringtons. Nou ja, sou julle nie ook bekommerd gewees het dat hy op sy ouderdom ’n reeks boeke aanpak nie?! Ná daardie eerste boek kon ek nie wag vir die volgende aflewering oor die boeiende karakters wat deel vorm van die families nie. Nie een van die boeke het my teleurgestel nie en hierdie voorlaaste boek voldoen weer aan al my behoeftes vir ’n lekker storie: intrige, romanse, spanning en onverwagse kinkels in die verhaal. Cometh the Hour skop af met die hofsaak waarmee die vorige boek geëindig het. Dié uiteinde van die hofsaak kan die lewe vir die Barringtons en Cliftons indringend verander. Ek het die boek opgeslurp in ’n naweek, want Archer vertel die verhaal op so manier dat ek die heeltyd nuuskierig bly oor wat volgende met die karakters gaan gebeur. Daar is altyd ’n verrassende wending wat ek nie sien kom het nie. Dis seker nie Pullitzer-materiaal nie, maar dis beslis boeiende verhale waarin die karakters se doen en late mens eindeloos vermaak. Ek moet bieg dat ek baie spyt is die volgende boek gaan die laaste een wees in hierdie vermaaklike reeks uit die pen van ’n meester-storieverteller.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The waiting game, Jessica Thompson (Coronet, R209)
Nessa Bruce en haar dogter, Poppy, wag vir haar man, Jake. Hy is ’n soldaat en is terug uit Afghanistan. Maar waar is Jake? Hoe is dit moontlik dat hy kon verdwyn tussen die vliegtuig se deur en die lughawe gebou? Nessa se lewe is heeltemal deurmekaar met Jake se verdwyning. Sy weet nie of hy nog lewe nie. Boonop is Poppy ’n moeilike tiener. Haar skoonpa ly aan demensie. Haar suster vra vrae oor hul kinderdae en die voogpa wat ná hul voogma se dood net verdwyn het. Nessa moet sin maak van die omstandighede en almal probeer gerus stel.
Die skrywer slaag daarin om met empatie en insig te skryf oor moeilike tema’s soos hoe demensie en gesinsgeweld families raak, die opstandigheid van tieners, posttraumatiese stres onder soldate, en selfs tienerswangerskappe. Vriendskap speel ’n belangrike rol in Nessa se lewe. Dis haar ondersteuning en help haar om deur ’n moeilike tyd te kom. Die verhaal speel nie chronologies af nie en mens moet kophou terwyl jy lees. Dis ’n verhaal vol menslike karakters wie se drama enduit boei.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

You are dead, Peter James (Macmillan, R292)
Hierdie verhaal in James se Roy Grace-reeks is ’n treffer. Roy en sy span speurders probeer om hul kollega, Bella Moy, se dood te verwerk, terwyl hulle ’n reeksmoordenaar moet probeer vang. Tussen hierdie drama deur moet Roy ook nog trek na ’n nuwe huis, waar hy en die vrou in sy lewe, Cleo, gaan woon. Die hoof-storielyn gaan oor ’n jong vrou wat soos ’n groot speld verdwyn het, nadat sy ontvoer is vanuit die parkeerarea onder haar woonstelgebou. Dan is daar ’n storie oor beendere wat opgegrawe word; die beendere is reeds 30 jaar gelede begrawe. Wat is die konneksie tussen die beendere en die vrou wat ontvoer is? Peter James se verhale is nooit eenvoudig nie. Daar is altyd meer as ’n paar storielyne wat meesterlik verweef word tot ’n boeiende geheel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

An Empty Coast, Tony Park (Macmillan, R241)
Park se verhale is altyd vol aksie, drama en romanse en draai om ’n aktuele onderwerp. Hierdie verhaal gaan oor die smokkel van renosterhoring en onwettige jag. Die grootste deel van die verhaal speel af in Suid-Afrika en Namibië. Park bring twee karakters van vorige boeke terug, Sonja Kurtz, voormalige huursoldaat (The Delta) en Hudson Brand, ’n voormalige lid van die CIA (The Hunter). Die hoofplot gaan oor ’n vliegtuig wat in 1987 in Namibië neergestort het. Daar was iets aan boord wat baie waardevol is, en daar is ’n spul mense op soek na die wrak om hul hande op die vrag te kry. Sonja se dogter is ’n argeoloog en die span waarvoor sy werk, ontdek die lyk van ’n man wat geïdentifiseer word as Hudson Brand volgens die dogtags om sy nek. Maar Brand is springlewendig en boonop is hy gehuur deur ’n prokureur wie se seun in die verlore vliegtuig was. Sonja kry ’n boodskap van Emma af waarin sy sê sy is in gevaar. Sonja vlieg dadelik na Suid-Afrika om haar dogter te kom help. Sy en Brand herontmoet en moet saam werk om die raaisel rondom die verlore vliegtuig op te los. Daar is ’n paar kinkels in die aksiebelaaide verhaal waarin jy sommer meer leer oor renosterstropery. Heerlike leesgenot.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Omega, Oor en Uit, François Verster (Tafelberg, R200)
Miskien is hierdie boek meer gemik op mans, veral dié wat nasionale diensplig moes doen in die vorige politieke bedeling. Maar baie vroue sal ook baat vind by Verster se persoonlike ervaring oor sy tyd in die Suid-Afrikaanse Weermag, omdat hulle op een of ander manier iemand in hul lewe het wat ook diensplig moes doen. Verster begin sy lewensverhaal in 2014 waar hy jare ná sy diensplig as argivaris in Kaapstad werk. Sy hede verweef hy met uittreksels uit ’n manuskrip wat hy in 1989 oor sy ervaring van die Weermag geskryf het. Dis baie duidelik dat die ervaring ’n konstante teenwoordigheid in sy lewe is en dat hy bly stoei daarmee. “Afstand kom met tyd. So sê hulle. Dalk sal die verlede nie meer so ’n houvas op hom hê as hy sy verhaal voltooi?” Vir my was dit insiggewend om te sien wat die dinge is waarmee hy so stoei, die geldigheid van diensplig in die ou bedeling en dat baie jong mans nie juis ’n keuse gehad het of hulle wou gaan of nie. Baie van die jong manne is na die Grens gestuur waar hulle die vyand moes beveg. Verster wat reeds ’n gekwalifiseerde onderwyser was toe hy diensplig moes gaan doen, is ná sy basiese opleiding uitgeplaas na Omega, waar hy vir Boesman-kinders moes skoolgee. Al is daar snaakse oomblikke in die boek, is dit allesbehalwe lig en opbeurend. Dit laat jou diep dink oor politieke ideale en ideologieë en oorloë wat onskuldige mense raak. Hy eindig sy boek met hierdie insiggewende sin oor die Grensoorlog: “Miskien moet die debat nie gaan oor wie gewen het nie, maar oor wie bevry is?”