FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor rugby

Wat is dit met ons Suid-Afrikaners en rugby? Dis die een sport wat mense vinnig warm onder die kraag kry. Van die regering, ministers, vakbondleiers, voormalige spelers tot gewone mense op straat.

Elkeen wat na ’n rugbywedstryd kyk, het ’n opinie. En bowendien is hulle glad nie skaam om dit luidkeels te deel nie. Hulle weet beter as die skeidsregter wat die reëls is, en eintlik glo hulle die skeidsregter is blind! Afrigters is nooit goed genoeg nie en werk nie met ’n plan om die span op die wenpad te plaas nie. As die span nie presteer nie, is dit die afrigter se skuld. Maak nie saak of die spelers onfiks, op die krukkelys was nie. . . Dan is daar die kaptein. Kan hy die span ooit lei? En so gaan dit aan . . . Daar is al flieks gemaak oor rugby, televisiereekse en daar verskyn elke jaar boeke daaroor. Ja, rugby is die sportsoort wat Suid-Afrikaners aan die praat kry, al is dit om die braaivleisvuur.

The Springbok Captains, Edward Griffiths & Stephen Nell (Jonathan Ball, R250)
Ek het onmiddellik geblaai na die hoofstuk oor Danie Craven, want as jy regtig ’n rugbyliefhebber is, moet jy erken dat hy een van die grootstes in Suid-Afrikaanse rugby was. Hy was “Mnr Rugby” en was wêreldwyd só bekend. Ek onthou ook sy hond Bliksem. Wat ek nie besef het nie is dat hy meer as 60 seisoene betrokke was by rugby. Sy debuut as toetsspeler was in 1931 en as kaptein in 1937. As afrigter, bestuurder, keurder en eindelik die president van die Suid-Afrikaanse Rugby Raad het hy ’n onuitwisbare merk gelaat op dié sport waaraan hy sy lewe gewei het. Die tweede kaptein wat ek opgesoek het, is Naas Botha. Hoe sê hulle in die boek “Naas was Baas”. Amen. Maak nie saak of jy van hom hou nie, jy moet erken hy was ’n uitsonderlike speler. O ja, ek is ’n Noord-Transvaal-ondersteuner, deesdae die Bulle. Maar my beste tye by Loftus was toe Naas nog die baas was daar.
Wat ’n lieflike boek is hierdie vir my as geesdriftige ondersteuner! Dis een waarin jy telkemale kan naslaan oor die manne wat die leiers was van die speler in groen en goud. Wag, ek blaai gou na Gary Teichmann toe. . .

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wynie: My bloed is blou, Wynie Strydom met Alita Steenkamp (Zebra Press, R220)
Hierdie een is vir geharde Blou Bulle-ondersteuners, maar darem ook vir almal wat meer wil lees oor iemand wat ’n leeftyd deel was van rugby. Wynie Strydom was by Loftus net so bekend soos die spelers wat op die veld gedraf het. Sy “rooi snor, poenskop, donkerblou baadjie” was herkenbaar waar hy op die punt van sy stoel die wedstryd dopgehou het. Sy blydskap was ongekend as sy span punte behaal het en dan was hy die eerste om op te spring en te juig. Dis lekker om meer te lees oor dié man wie se lewe in Graskop in Mpumalanga begin het, om te lees van sy studentedae, die mense in sy lewe en sommer net die rugbystories wat hy deel. Hier is iemand wat sy passie sy beroep gemaak het en wat hart en siel was in Blou Bul-rugby. Soos Heyneke Meyer in die voorwoord sê: “Vir Wynie was die Blou Bulle ’n leefwyse en nie net ’n werk nie.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Springbok-rugby Vasvra: 10010 Vrae en Antwoorde, Pierre Francois Massyn (Zebra Press, R180)
Vraag 1001: In watter posisie het Blokkies Joubert gespeel? En Vraag 1: Op watter toer is die naam “Springbok” die eerste keer gebruik? Dis jou bonus, nou weet jy wat is die laaste en die eerste vrae in hierdie fantastiese vasvraboek. Maar ek gaan nie vir jou die antwoorde gee nie. Dit moet jy maar in die boek gaan naslaan, of dalk weet jy dit! Massyn sê in die inleiding: “Ek het gou agtergekom dat ek lief is vir rugby; nie net die stories nie, maar ook statistieke.” Hierdie insig het hy gekry toe hy twaalf jaar oud was en van toe af het hy alles oor rugby verslind. Vandag, 50 jaar later, is dit steeds so. Ek moet sê hierdie inleiding is een van die interessantstes wat ek al voor in ’n rugbyboek gelees het. Dit gee meer agtergrond oor wie Massyn is, maar deel ook kort vermaaklike staaltjies oor sy interaksie met van die spelers. My raad aan jou is, sê vir die familie om die fone weg te pak, sit om ’n tafel en vra mekaar vas uit hierdie uitmuntende boek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Suiwer Goud, Errol Tobias (Tafelberg, R190)
Die boek was verrassend en verfrissend en ek is dankbaar dat Tobias so eerlik was in hoe hy sy verhaal oor sy rugbyloopbaan vertel. Toe hy in 1980 ingesluit is as losskakel in die Springbokspan het dié besluit nogal omstredenheid veroorsaak. Dit ten spyte daarvan dat hy beslis een van die beste spelers in die wêreld was. Hy het nie altyd die erkenning gekry wat hom toekom nie, nie van ondersteuners of selfs van afrigters en ander spelers nie. Tobias vertel ook hoe hy ’n wêreldrekord gebreek het tydens ’n wedstryd in Suid-Amerika. Hy het die bal tien keer deur die pale gejaag, en so ’n nuwe Suid-Afrikaanse én wêreldrekord opgestel met 10 suksesvolle skoppe agtereenvolgens. Hy was ook op die rampspoedige toer na Nieu-Seeland waar die spelers deurgeloop het onder die meelbomme en hewige protesaksie. Maar terug in Suid-Afrika het die politiek steeds nie verander nie en moes hy steeds stoei om plek te kry in die Springbokspan. Skaf gerus Tobias se boek aan, want as jy jouself ’n rugbyliefhebber wil noem, moet jy insig hê in die geskiedenis van al die spelers en ook lees wat die opofferings is wat hulle maak om ons wedstryd na wedstryd te vermaak met hul spel op die veld.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Rugby Changed my World: The Ashwin Willemse Story, Heindrich Wyngaard, Peter Bills (On the Dot, R199)
Ashwin Willemse moes baie dinge te bowe kom om die man te word wat hy vandag is. Sy pa het die gesin verlaat toe Ashwin maar net twee jaar oud was. Hy het sonder ’n manlike rolmodel in sy lewe grootgeword en toe hy ’n tiener was het hy die spoor byster geraak. Dit was ’n tyd van dwelms en bende aktiwiteite vir hom en hy het selfs probeer om sy eie lewe te neem. Hy het ’n geweldige verlies ervaar omdat sy pa nie deel van sy lewe was nie en het jare na hom gesoek, totdat hy hom uiteindelik opgespoor het en vrede kon maak en sy eie duiwels so besweer. Willemse skryf roerend oor die herontmoeting met sy pa en watter impak dit op hom gehad het, hoe hy sy weergawe van die werklikheid moes vergelyk met die ware werklikheid. ’n Toespraak deur Breyton Paulse by sy skool het Ashwin gemotiveer om sy lewe om te draai en om iets te kry wat vir hom ’n doel in die lewe geword het. Rugby is die ding wat die leemte in sy lewe gevul het, wat hom ’n bekende gemaak het en wat hom gehelp het om ’n toekoms te bou.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Coach Loffie – Wenke vir wenners, Eugene Eloff in samewerking met Ria Engelbrecht (Naledi, R220)
Eugene Eloff was as afrigter elf jaar deel van die Golden Lions Rugby Unie vanaf 1998. Daarna het by die Junior Bokke afgerig en in 2003 en 2005 het die spanne die Wêreldbeker gewen. Van die spelers wat deur hom gebrei is, tel Willie le Roux, Cornal Hendricks, Ruan Pienaar, Bryan Habana, Conrad Jantjes en nog ’n hele paar manne wat gereeld vir verskillende spanne uitdraf. In hierdie boek wil hy sy jarelange kennis en ervaring terugploeg as ’n handleiding vir aspirant- en gevestigde afrigters, spelers, hul ouers en ander sportlui. Die boek gee wenke oor die opleiding en verantwoordelikhede van ’n afrigter, sy ondersteuningspan, leierskap, spankeuse, oefentegnieke, strategiese en taktiese beplanning en sielkundige voorbereiding.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Greatest Springbok Teams, Adam Hathaway (Zebra Press, R220)
Dis ’n taamlike leesbare boek waarin verskeie suksesvolle Springbokspanne se heldedade kortliks bespreek word.

Ná dié bespreking volg pensketse van die spelers wat die Groen en Goud daardie jaar gedra het. Van hierdie stukkies is heel vermaaklik en op dié wyse gee die skrywer meer lewe aan die statistiek en die spanfoto’s.

Die skrywer het ook vraag-en-antwoord-onderhoude met vier helde (Morné du Plessis, Rob Louw, Victor Matfield en John Smit) gedoen.

Die boek is heel handig om op die boekrak te hê en verskaf ’n paar ure se leesplesier.

Ongelukkig is daar ’n hele paar foutjies in die boek wat baie irriterend is. Daar word byvoorbeeld na die voormalige Springbok kaptein Basie Vivier as Basie Villiers verwys (bladsy 51). Op bladsy 115 is daar veronderstel om ’n foto van Moaner van Heerden te wees, maar dit lyk eerder na Johan Strauss.  En in die bibliografie word Peter de Villiers se Politically Incorrect sommer twee keer verskaf.

Daar is meer foute. Dit is nie die eerste keer dat dié uitgewer slordige redigeerwerk doen nie. Dis jammer, want ’n mens het waardering vir die rugbyboeke wat hulle publiseer. – Michael Green