FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor seks en seksvoorligting

Seks is ’n baie belangrike deel van intieme verhoudings. Tog bly dit ’n onderwerp wat min mense met gemak in die openbaar kan bespreek.

Toe ek op skool was, was daar nie so iets soos seksvoorligting nie. Behoede dit dat enige onderwyser sou waag om dié onderwerp aan te raak. Ons het weliswaar ’n jeugweerbaarheidperiode gehad, waarin ons gesit en huiswerk doen het. Party keer moes ons in dié periode op en af op die rugbyveld gaan marsjeer het, want ons moes paraat wees vir die GROOT GEVAAR. Nie dat enige een van ons ooit gekonfronteer was daarmee nie! Maar ek dwaal af. Wat ek van seks geweet het, was die bietjie wat my ma my vertel het en dit wat ek op haar aanbeveling in dr. Jan van Elfen se boek, “Wat meisies moet weet” gelees het. Ek dink met die veranderende generasies het dit minder taboe geraak om oor seks te praat. Dis nie meer ’n kwessie van ‘onder die kombers en agter ’n toe gordyn’ nie. Dankie tog dat ouers openlik met hul kinders oor die onderwerp praat, want dis ’n ander tyd waarin ons lewe!

Die Groot Boek oor Seks en My Lyfie, (Penstock Publishing, R149)
Hierdie is die perfekte boek vir ouers wat met hul kinders wil praat oor die bytjies en die blommetjies en moontlik te skaam voel om dit in hul eie woorde uit te druk. Hier is hulp! Die boek wat uit Spaans vertaal is, is reeds in sy vierde druk in Afrikaans, so gewild is dit. Die taalgebruik is toeganklik en eenvoudig en dinge word op die korrekte biologiese name genoem. Daar word nie vreemde byname vir liggaamsdele gegee nie. Beskrywings is duidelik sonder om te eksplisiet te wees. Die sketse help ouers om liggaamsdele, asook kernbegrippe rakende seks, te verduidelik. Al die vrae wat kinders moontlik oor seks kan vra, word in die boek beantwoord. Die handige handleiding word sterk aanbeveel vir alle ouers.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

101 Vrae & Antwoorde, (Penstock Publishing, R149)
As jy vir die tiener in jou lewe ’n waardevolle geskenk wil gee, oorweeg dit om hierdie boek te gee. Hierin word ’n verskeidenheid vrae beantwoord wat dikwels vir die tiener kwellende kwessies is. Van die onderwerpe onder bespreking is emosionele kwessies, veranderinge wat die liggaam ondergaan, higiëne en persoonlike voorkoms, gesondheidsake, vriendskap, en seks. Om ’n tiener te wees, is nie maklik nie en hierdie boek sal hulle antwoorde gee op daardie vrae wat hulle nie met iemand wil bespreek nie. Soms is dit eintlik iets eenvoudig, maar dis bloot ’n onderwerp wat hulle nie in ’n direkte gesprek wil aanraak nie. Ek dink ouers sal ook waarde vind by hierdie boek, want dit sal hulle help om meer insig in die wêreld van die tiener te kry en die vrae wat brandpunte in hul lewens kan veroorsaak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Cyber Infidelity, Marlene Wasserman (Human & Rousseau, R275).
Die digitale era het die wêreld op sy kop gekeer, veral op die gebied van verhoudings. Deesdae is dit glad nie vreemd om ’n lewensmaat aanlyn te vind nie. Jy begin die verhouding in die kuberruim en ontmoet eers die mens heelwat later van aangesig tot aangesig. Verstommend genoeg is daar selfs ’n webtuiste waar mense wat reeds in verhoudings is, betrokke kan raak in affairs! Ja, in die wêreld is daar baie mense wat gebruik maak van AshleyMadison.com se dienste, en dié webtuiste is ook ’n paar jaar gelede in Suid-Afrika geloods. Wasserman het die databasis van dié webtuiste gebruik vir haar navorsing oor kuber-ontrouheid. In die boek gaan dit oor mense wat doelbewus in die geheim met ander mense wil kommunikeer deur gebruik te maak van verskillende digitale opsies, al is hulle reeds in ’n verhouding betrokke. Sy gebruik interessante gevallestudies en gee ook feite en syfers oor kuber-ontrouheid. Die boek is ook ’n tipe werkboek waarin lesers hul eie aanlyn gedrag onder die loep kan neem. ’n Nuwe era vra vir nuwe reëls en hierdie boek is ’n waardevolle bydrae om verhoudings in die digitale era toe te lig.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Refined Player, Stevel Marc (Blackbird Books, R206)
Die skrywer skryf oor verhoudings vanuit sy eie oogpunt. Die afspringplek van die boek was toe iemand hom gevra het met hoeveel vroue hy al seks gehad het. Toe hy mooi gaan dink oor die sakie, het hy op ’n verstommende syfer van 180 vroue gekom – en dis dié wat hy kon onthou. Dit het hom tot insig gedwing en hy het begin om sy houding teenoor vroue en hoe hy sy verhoudings bestuur, verander. Vandaar glo hy ’n man moet ’n “refined player” wees, eintlik is dit sy manier om te verwys na ’n eerbare man, wat nie ontrou is nie, wat sy maat waardeer en haar hoflik behandel. Boonop kommunikeer hy eerlik met haar, en die belangrikste ding is dat hy luister. Daar word nie regtig nuwe wenke gegee nie, maar die wyse hoe hy oor verhoudings in die boek skryf, hou jou aan die lees. Dis ’n genotvolle leeservaring en in die proses leer mens tog iets by, of raak jy opnuut weer bewus van die belangrike bestanddele van ’n verhouding. Oor toksiese verhoudings waar dit net oor seks gaan, het hy die volgende te sê: “A refined player knows when to walk away from situations like these instead of thinking with his penis.” Hy begin elke hoofstuk met ’n kort paragraaf, wat ’n aanduiding is waaroor die hoofstuk handel. Dit is stof tot nadenke: “Sometimes walking away from a relationship has nothing to do with weakness, and everything to do with strength and courage.” Stevel Marc is ’n internasionale model en akteur en leef deels in SA en deels in Los Angeles.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Can You See Me Naked: Grow in a conscious relationship, Adele Green (R225)
Dié boek oor verhoudings is vir mans geskryf, maar vanuit ’n vrou se oogpunt. In die inleiding sê die skrywer: “This book offers a process that is designed to help you discover more about yourself through your relationship as well as information.” Sy skop af om te verduidelik wat dit beteken om bewustelik te lewe en hoe om dit toe te pas in jou verhouding. Dis dié beginsel waarop die boek gebou is en dis ’n tipe werkboek wat die leser lei om self tot gevolgtrekkings te kom oor die verskillende boustene waarop verhoudings gebou word. Mans en vroue se behoeftes is verskillend en bowendien dink hulle ook nie dieselfde daaroor nie. In die boek fokus die skrywer op die verskille en verduidelik eintlik vir die man hoe om empatie te ontwikkel vir die vrou in sy lewe deur bewus te wees van die verskille tussen die geslagte.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Honeymooner’s Cookbook, Ginger Sullivan (H&A, R389)
As jy ’n wip in jou stap wil sit en bietjie woema wil hê in die slaapkamer, dan is hierdie baie amusante kookboek net vir jou. Wees gewaarsku, die illustrasies in die vorm van strokiesprente beeld seksdade nogal eksplisiet uit, maar nie onsmaaklik nie. As jy konserwatief is oor seks moet jy eerder nie die boek optel nie. Die boek is ’n gids vir pasgetroudes van hoe om mekaar vir 52 weke te “ontdek” deur die resepte en die illustrasie. Elke resep se moeilikheidsgraad en die tyd wat dit neem om voor te berei, word duidelik aangedui. Meeste resepte is ook baie maklik, met ’n paar wat bietjie meer vaardigheid vereis. Die geregte het name soos ‘quickie turkey sandwich’, ‘heavenly thighs’, en ‘drop-your-panties gnocchi’. Dié een is vir paartjies wat wil eksperimenteer in die kombuis en in die slaapkamer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ritmes van ons Lyf, Christina Landman, Nicki Spies en Ralph Barnard (Naledi, R162)
Dis ’n maklike boek om te lees, want die verskillende aspekte van intimiteit word aan die hand van gevallestudies verduidelik. Die gevallestudies beeld al die fasette van intimiteit op ’n praktiese manier uit en so word verskillende fasette behandel. Die boek kyk na die verskillende lewensfases en verduidelik dat elke lewensfase sy eie ritme het. In die voorwoord sê dit duidelik waaroor hierdie boek gaan: “In hierdie boek stap ons saam met liefdesmaats op die pad van die liefde en die lewe. Ons reis deur die landskap van passie, lyflikheid en intimiteit.” Daar word nuttige skakels en kontakbesonderhede van organisasies waar mense om hulp kan aanklop by elke hoofstuk gegee.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

People who are addicted to Sex, Joanne Brodie (Penguin, R200)
Daar is mense wat verslaaf is aan seks en vir hulle is dit ’n ernstige probleem. Brodie verduidelik in hierdie boek presies wat seksverslawing is en watter faktore daartoe kan bydra. Dit beslaan die eerste helfte van die boek en sy gebruik gevallestudies om hierdie faktore te illustreer, onder meer ekshibisionisme, voyeurisme, pornografie- en internet-verslawing. In die tweede helfte van die boek skuif die fokus na die herstelproses. Brodie kyk na alternatiewe terapieë soos joga, meditasie en spiritualisme, sowel as na al die verskillende soorte medisyne waarmee die siekte behandel kan word. Ek het nie die omvang van seksverslawing besef nie, totdat ek hierdie boek gelees het. Brodie is ’n terapeut wat met mense wat aan seks verslaaf is, werk en dit was fassinerend om meer insig te kry in die verskillende aspekte daarvan. Die gevallestudies maak dit ’n hoogs leesbare boek.