listen
Boeke

Top-5 spanningsverhale

Eers wou ek kyk wat is die ordentlike Afrikaans vir suspense. Die woordeboek gee dit as: spanning, spannende afwagting, onsekerheid, uitstel, opskorting en suspensie. Toe begin ek wonder oor die woord “spanning” se betekenis. Nou ja, hier is dit: onrustige verwagting, opgewondenheid en geesdrif. Teen die tyd is die vraag seker, wat is my beheptheid met hierdie woorde? Omdat ek ‘n klompie spanningsverhale gekies het en wou kyk of dit voldoen aan hierdie woordeboek-beskrywings. Ek dink darem al hierdie eienskappe wat die woordeboeke toedig aan ”suspense” en ”spanning” kom voor in my keuse. Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

Listen, Rene Gutteridge (Tyndale, R129,95)
Op die oog af lyk dit of Marlo nes enige klein dorpie is. ‘n Plek waar die kinders saam groot word, die mense mekaar ken en help. Dus, die ideale plek om te woon en ‘n gesin groot te maak. Ongelukkig is dit nie so idillies nie. Die hele gemeenskap kom in rep en roer as daar van hulle private gesprekke op die internet verskyn. Dit veroorsaak onmin en twis onder familie en vriende. Hoe is dit moontlik dat goed wat in die privaatheid van die betrokkenes se huise gesê is so openbaar kan raak?
Damien Underwood, ‘n plaaslike joernalis en Frank Merret, ‘n polisieman, is geskok om te sien wat die gesprekke aan hulle eens rustige dorpie doen. Hulle stel ondersoek in in ‘n poging om die raaisel op te los. Van die vrae wat hulle probeer beantwoord is: Wie luister die gesprekke af, waarom en gaan dit ooit stop? Hierdie is ‘n spanningsverhaal vol verrassings. Die boek bewys die mag van woorde. Woorde het die mag om te wond of te heel, afhangend van hoe dit ingespan word. Die ander baie skrikwekkende ding is, is hoe relevant die onderwerp van die boek is in die moderne tyd waarin ons lewe, veral met al die nuwe tegnologie en hoe maklik ‘n mens se privaatheid geskend kan raak. - Phyllis Green

Venom

Venom, Joan Brady (Simon & Schuster, R180)
Minute voor ‘n sluipmoordenaar aan sy voordeur klop, word David Marion gewaarsku dat sy lewe in gevaar is. Hy fnuik die aanslag op sy lewe, maar totdat hy kan uitvind wie die moordenaar gehuur het en waarom, moet hy aan die beweeg bly. Dr. Helen Freyl, ‘n fisikus, ontvang ‘n onverwagse aanbod vir haar byeboerdery wat bygif aan instansies verskaf vir onder meer kankernavorsing. Sy wys die aanbod van die hand.

Enkele weke later word daar weer ‘n aanbod gemaak teen dubbel die oorspronklike bedrag – maar dié keer slegs vir die bye. Sy en haar ouma Becky besef daar skuil meer agter die aanbod as wat dit op die oog af lyk. Hulle agterdog verdiep verder, wanneer aan Helen ‘n werksaanbod gemaak word (deur dieselfde maatskappy wat die bye wil koop) om vir ‘n jaar in Engeland te gaan werk. Om tot die kern van die raaisel deur te dring, aanvaar Helen die werksaanbod.

Wanneer mense rondom haar begin sterf, besef sy dat sy uit haar diepte is en roep David se hulp in. Kort voor lank besef hulle dat die waarheid hul ergste vrese en verwagtinge oortref.

Die verhaal speel af teen die agtergrond van industriële spioenasie, geldsug en misbruik van menseregte. – Karien Labuschagne

Black water rising

 Black Water Rising, Attica Locke (Serpent’s Tail, R204,95)
Locke se Black Water Rising is ‘n spanningsroman wat op vele vlakke boei.

Die verhaal begin waar Jay Porter sy verwagtende vrou op ‘n donker aand op ‘n riviervaart neem om haar verjaardag te vier. Hulle hoor geweerskote en gille en moet ‘n vrou uit die rivier red. Hulle laai haar voor die plaaslike polisiekantoor af. Dié is egter net die begin van ‘n netwerk van ontwikkelinge waarby die hoogste koöperatiewe magte betrokke is.

Jay loop die gevaar om van moord beskuldig te word en alles wat hy besit, insluitend sy vrou en regspraktyk, te verloor. Korrupsie, omkopery en sameswering voer hoogty. Jay se reaksionêre jeug, wat steeds by hom spook en wat hy probeer afskud, help ook nie om sake te verbeter nie.

‘n Deel van die sukses van die boek is Locke se vermoë om die donker, somber en byna uitsiglose atmosfeer enduit te behou. Die gebeure speel af teen ‘n agtergrond van rassisme in Amerika en herinner ons daaraan dat sake daar ook nie altyd so rooskleurig was nie.

Alhoewel Locke al heelwat draaiboeke geskryf het, is Black Water Rising haar eerste roman. -Gert Venter

The Ghost
The Ghost, Robert Harris (Hutchinson, R201,95)

Die boek handel nie oor spoke nie! Dit gaan oor `n spookskrywer wat die lewensverhaal van `n gewese politikus van Engeland skryf. Hy moet dit in Martha’s Vineyard (in Amerika) in die middel van die winter binne `n baie kort tyd in `n afgesonderde maar baie luukse huis doen. En dit ná die vorige spookskrywer op `n baie vreemde manier dood is. Maar daar is ‘n tergende raaisel – was dit selfmoord of moord?

Die spookskrywer word meegesleur deur die omstandighede van sy voorganger se vreemde dood en besef hy het `n fout gemaak om die werk te aanvaar. Die politieke intriges is ook vir hom `n nuwe wêreld wat oopgaan. Geld, mag en selfs leuens speel `n geweldige groot rol. Die gewese politikus het ook baie geraamtes in sy kas én `n baie mooi vrou, wat geweldig uitgesproke is. `n Boeiende spanningsverhaal met `n báie verrassende einde. - Nicolene Carstens

Tooth and Claw

 Tooth and Claw, Nigel McCrery, (Quercus, R194,95)
Hoofinspekteur Mark Lapslie is terug. Mark is steeds met mediese verlof en sy ‘Synaesthesia’ vererger by die dag. Carl Whittley is 22 jaar oud, versorg sy gestremde vader. Carl is ‘n reeksmoordenaar en het pas ‘n TV-aanbieder doodgemartel. Wanneer die polisie die TV-aanbieder se lyk ontdek, word Mark se verlof onderbreek om die ondersoek te lei. Hoofsuperintendent Rouse hoop dat die uiters moeilike ondersoek Mark finaal sal red of knak.

Wanneer ‘n bom by ‘n treinstasie ontplof en ‘n onskuldige omstander gedood word, besef Mark dat dieselfde moordenaar verantwoordelik is vir beide die bom en die moord op die TV-aanbieder. Daar is egter geen bewyse nie, slegs Mark se voorgevoel. Wanneer Mark besluit om dieper te dwelf in onopgeloste, oënskynlik onverwante moorde besef hy dat hulle met ‘n reeksmoordenaar te doen het. Carl gaan uit sy pad om elk moord uitsonderlik en uniek te maak met geen ooreenkoms met enige van sy vorige moorde nie. Waarom doen hy dit en gaan hy ooit gevang word?

‘n Verrassende speurverhaal en ‘n merkwaardige opvolg van McCrery se vorige boek, Core of Evil (2007). - Karien Labuschagne

  • http://otfjozgifcxt.com/ ytkuxpgkcn

    rIhnuK xhriypkdnenf, [url=http://picbjvpherxf.com/]picbjvpherxf[/url], [link=http://zstctjagcuzv.com/]zstctjagcuzv[/link], http://jcgjdfhroyso.com/