FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor verrassings in die lewe

Ek is gek oor verrassings, daardie onverwagse gebeure wat jou lewe soms op sy kop kan draai.
Dit klink absurd, maar dikwels is dit net die woema wat mens nodig het om ’n nuwe uitdaging aan te pak. Of dit nou bloot is om ’n nuwe haarstyl of haarkleur te probeer, of my grootste vrees, ’n toe oë-afspraak deur te voer! ’n Uitnodiging na ’n geleentheid wat ek langtand aanvaar, verras my gereeld. Ek ontmoet ’n interessante mens daar, hoor ’n storie wat my lewe verryk, of word blootgestel aan nuwe musiek, kos en tendense.
Daar is ook tye wat ’n verrassing nie ’n aangename ervaring is nie, eerder ’n skok! Dan byt ek maar op my lip en probeer sin maak van die affêre en kyk watter positiewe les ek daaruit kan leer. Hierdie week se boeke hou almal die een of ander verrassing in.

A Girl Walks into a Blind Date, Helena S Paige (Jonathan Ball, R155)
Jy maak jou profiel op die aanlyn-afspraakwebblad oop en daar wag drie boodskappe vir jou. Van die brandweerman van New York, die kunstenaar van Amsterdam en die hertog van Venesië, en al drie wil jou persoonlik ontmoet! Wat doen jy?

As kind was daar baie boeke waar jy die keuse gemaak het oor watter wending die storie kan neem. Ek het nie besef daar is steeds of weer sulke boeke op die mark nie. A Girl Walks into a Blind Date is deel van ’n reeks boeke waar jy as leser die wending van die storie bepaal. Jy is self die hoofkarakter en regdeur die boek word ook so daarna verwys. Aan die einde van elke hoofstuk word jy opsies gegee oor waarheen jy volgende gaan en wat jy gaan doen.

Hierdie boek val in die kategorie volwasse erotika. Dit was ’n interessante leeservaring.         – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A Robot in the Garden, Deborah Install (Doubleday, R285)
Install se debuut oor ’n gebroke man wat ’n emosionele reis ervaar, is verfrissende en roerend. Die verhaal speel af in ’n toekomstige wêreld waar robotte en androïede deel van die daaglikse lewe is. En waar baie take deur dié kunsmense gedoen word. Ben en Amy se huweliksbootjie vaar in stormagtige waters en die paartjie het opgehou om eerlik met mekaar te praat oor wat hulle regtig in hul huwelik en lewe wil hê. Amy is gedrewe en fokus op haar loopbaan, terwyl Ben oënskynlik net rondsit en niks doen nie. Nadat sy ouers in ’n vliegtuigongeluk dood is, kon hy net nie weer rigting kry in sy lewe nie. Dan daag daar op ’n dag ’n robot, Tang, in hul tuin op, ’n stukkende, klein, kinderlike robot wat onmiddellik ’n verbintenis met Ben vorm. Tang kan nie help met huishoudelike take nie en Amy wil hê Ben moet ontslae raak van hom, of hom tenminste verruil vir ’n nuwe androïede. Hy kry dit nie reg nie, want in Tang vind Ben ’n soort bondgenoot deur wie hy met nuwe oë na die lewe kyk. Ben gaan op ’n reis regoor die wêreld in ’n poging om Tang te red, want die ‘waardelose’ robot vertrou op Ben om hom veilig te hou en heel te maak. Ben leer meer oor homself en sy eie waardes in die proses. Dis ’n verhaal oor liefde, vriendskap, grootword en emosionele rypwording. Die storie talm in jou gedagtes, lank nadat jy die laaste bladsy gelees het. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Before we met, Lucie Whitehouse (Bloomsbury, R238)
“The most dangerous lies are those closest to home.” Hannah werk in die advertensiewese in New York. Sy ontmoet mede-Brit, Mark Reilly, val vir hom, trou en gaan woon in Londen. Hannah is werkloos en gefrustreerd, maar Mark se besigheid floreer. Een aand wag sy by Heathrow dat hy terugkeer van ’n sakebesoek in die VSA. Hy daag nie op nie. Sy assistent dink hy is in Rome. Hanna wonder of daar ’n ander vrou is. Sy vind uit dat hy al die geld uit haar bankrekening onttrek het. Hoe meer sy dinge probeer ontrafel, hoe meer vind sy uit dat sy in ’n web van leuns vasgevang is. Hanna lewe in vrees. Mark word ’n skrikwekkende vreemdeling. Dis ’n baie spannende verhaal met ’n verrassende einde. – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Brothers in War and Peace, Constand and Abraham Viljoen and the Birth of the New South Africa, Dennis Cruywagen (Zebra Press, R230)
Min mense weet dat Generaal Constand Viljoen, die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, ’n identiese tweelingbroer het. Die wat dalk jare gelede Abraham Viljoen se foto op die destydse PFP verkiesingsplakkate sien pryk het, het waarskynlik ook al lankal daarvan vergeet.

Hulle lyk op ’n haar na mekaar, maar die kontras tussen die twee kon nie groter gewees het nie; Abraham, diep gelowig en teen Apartheid gekant en Constand, die soldaat wat die taal van oorlog maak verstaan. Tog was Abraham en Constand – wat vir baie jare vervreem was – saam met Nelson Mandela in geheime onderhandelings betrokke wat Suid-Afrika van ’n definitiewe bloedbad gered het. Die boek vertel hul storie, maar ook veel meer.

Die skrywer se noukeurige navorsing maak dit feitlik ’n naslaanwerk wat in elke Suid-Afrikaner se huis behoort te wees. Hy vertel die geskiedenis sonder om kant te kies of beterweterig te klink en tog is daar ’n besliste spanningslyn, selfs al weet die leser wat uiteindelik gebeur het. Mens kan nie anders as om te wonder hoekom hierdie storie so lank ’n geheim gebly het nie? – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The separation, Dinah Jefferies (Penguin, R185)
Hierdie aangrypende verhaal begin in 1955 in Maleisië tydens ’n onstuimige tydperk in die land se geskiedenis. Lydia Cartwright woon saam met haar man, Alec, ’n Britse regeringsamptenaar, en hul twee dogtertjies in die tropiese paradys.

In ’n stadium moet Lydia vir ’n paar weke ’n siek vriendin gaan versorg. Met haar terugkoms by die huis vind sy dat haar man en kinders spoorloos verdwyn het. Alec se bevelvoerder lig haar in dat hulle na die noorde van die land verplaas is, maar niks maak sin nie. Waarom het hulle nie vir haar gewag of tenminste ’n boodskap gelos nie? Waarom is al die geld uit die bankrekening onttrek? Met net ’n bietjie geld in haar besit, en ’n onverwagte medereisiger in die vorm van ’n klein sjinese seuntjie, vertrek Lydia op ’n gevaarlike reis deur die oorloggeteisterde binneland om haar man en kinders te volg. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Shadow Prince, Terence Morgan (Pan Macmillan, R230)
Een van die mees tergende raaisels in die Britse geskiedenis is die lot van Edward, die Prins van Wallis, en sy jonger boetie Richard, die Hertog van York, wat tydens hulle aanhouding in 1483 onder verdagte omstandighede uit die Toring van Londen verdwyn het. Is hulle vermoor soos algemeen aanvaar word, of het Richard (die tweede seun van koning Edward IV) op ’n manier aan die dood ontkom? En indien wel, wat het van hom geword – is hy in die geheim na België gestuur om as die aangenome seun van ’n dokwerker in Doornik groot te word in afwagting van ’n meer geleë tyd om sy ware identiteit bekend te maak? Want dit is presies wat die jongeheer Perkin Warbeck (aanspraakmaker op die troon van koning Hendrik VII) beweer het.

Hierdie boek volg op The Master of Bruges, Morgan se debuutroman, en bevestig sy talent as skrywer van historiese avontuurverhale; duidelik het hy groot pret gehad met die vermenging van bewese feite met fiktiewe gebeure. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Shadow Year, Hannah Richell (Orion, R225)
In 1980 ontdek ’n groep gegradueerde vriende ’n verlate kothuis aan die oewer van ’n meer. Soos die dag vorder, besluit hulle (versterk deur drank en dwelms) om hul beoogde loopbane vir eers opsy te sit ten gunste van ’n eksperiment – om vir ’n jaar lank in die vervalle geboutjie te bly en net van die natuur te lewe, sonder enige hulp van buite. Dertig jaar later ontvang Lila ’n geheimsinnige pakkie waarin ’n akte van oordrag en ’n sleutel is; sy spoor die vervalle huisie op en begin dit restoureer, maar kom gou agter iets is nie pluis nie – wat maak ’n koeëlgat, ’n tekening van ses mense en ’n gebreide babakombersie daar?
Richell hou jou strykdeur aan die raai; boonop draai sy dié verhaal teen die einde heeltemal op sy kop. Knap gedaan! - Emsie Viljoen

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Silent Sister, Diane Chamberlain (Pan Books, R251)
Riley MacPherson het altyd geglo dat haar ouer suster Lisa, ’n talentvolle violis, in haar tienerjare selfmoord gepleeg het. Na Riley se pa se dood in New Bern, North Carolina, gaan sy die huis skoonmaak. Sy vind bewyse dat Lisa nog lewe en ’n nuwe identiteit het. Waarom het sy gevlug? Gaandeweg ontdek Riley dat verskeie mense geheime oor haar gesin ken. Danny, wat geestelik versteur is na die oorlog in Irak, wil hê Lisa moet betaal vir iets wat sy gedoen het. Waarom het Riley se pa gereeld aan sy vriend Tom geld betaal? Wat steek Jeannie, haar pa se vriendin, weg?
Lisa se weergawe word teenoor Riley s’n gestel. Een vir een word die geheime ontrafel. Die melodramatiese, maar spannende verhaal eindig verrassend. – Malene Breytenbach

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Truth About You, Susan Lewis (Century, R195)
Lainey is getroud met die bekende skrywer, Tom Hollingsworth. Hulle het twee pragtige kinders saam en ’n ouer seun uit Tom se vorige huwelik. Lainey het ’n groot geheim aan moederskant wat soos ’n wolk oor haar kop hang. Haar ma, Allesandra het uit Italië na Engeland gevlug toe Lainey ’n baba was en getrou met Peter, die wonderlikste pa vir Lainey.  Met Allessandra se afsterwe wil Lainey terugkeer na Italië om die geraamtes te gaan uitkrap.  Sy moet uitvind waarom Allesandra uit Italië gevlug het. Voor die gesin se vertrek bars daar egter ’n bom in Lainey se amper perfekte lewe. Tom maak ’n onthulling wat hul huwelik kan vernietig. Lainey en die kinders vertrek na Italië sonder Tom. Wat sy daar uitvind, laat mens wonder of sy liewer nie slapende honde moes wakker maak nie. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Unlikely Genius of Dr Cuthbert Kambazuma, Chris Wadman (Jonathan Ball, R180)
Hierdie verhaal bied ’n satiriese blik op gebeure in ons buurland, Zimbabwe en jy lees dit met ’n lag en ’n traan, en soms ontsteltenis.
Teddington is ’n ambisieuse busbestuurder wat besig is om planne te beraam om na Suid-Afrika te vlug, toe ’n insident plaasvind wat sy hele lewe verander. Vir sy dienste aan die staat word hy beloon met ’n plaas naby Harare waar die vorige plaaseienaar sy plaasbestuurder word.
Naby die plaas is die William Westward kinderhuis wat geldelik sukkel om kop bo water te hou. Thomas, die opsigter by die kinderhuis, beraam ’n briljante plan om fondse in te samel. Die kinderhuis word so welvarend dat dit die aandag trek van die korrupte politici, nou moet hulle planne beraam om die kinderhuis uit dié se kloue te red. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Under your skin, Sabine Durrant (Hodder & Stoughton, R225)
Aantreklike televisie-aanbieder Gaby Mortimer se lewe is perfek: sy is getroud met ’n aantreklike, suksesvolle man, en hulle het ’n pragtige dogter. Haar glanswêreld stort in duie toe Gaby een oggend gaan draf en op die lyk van ’n jong vrou afkom. Om die een of ander onverklaarbare rede verdink die polisie vir Gaby van die moord op die jong vrou. Om alles te kroon word sy deur die televisiestasie gevra om verlof te neem totdat die sensasionele saak afgehandel is. Gelukkig ontmoet sy ’n joernalis wat in die saak belang stel en saam begin hulle die feite ondersoek om agter die kap van die byl te kom.
Hierdie sielkundige riller bied boeiende leesstof en verloop teen ’n snelle pas. Die leser word geheel en al onverhoeds betrap deur die onvoorspelbare einde. Retha Burger