engele_rondom_my
Boeke

Top-5 boeke oor vroue, vir vroue

Die week fokus ek op vroue, omdat ek ‘n klompie boeke onder oë gehad het wat my lewe verryk het. Twee vroue vertel hul persoonlike ervarings oor terugslae wat hulle beleef het en hoe hulle ten spyte daarvan steeds ‘n vol lewe lei. As jy, soos ek, nie wil dink aan ouer word nie en die veranderinge wat gaan kom, moet jy met Dr Eve kennis maak. Al is dit in boekvorm. Verder is daar iets vir die voornemende bruide en ook ‘n baie nuttige boek as jy krale-ontwerp as stokperdjie wil aandurf. Besoek ons winkel om van die titels te bestel.

Die engele om my: My stryd met borskanker, Frieda Barnard (LAPA, R90)
Vir nege lang jare, baie lang jare, veg Frieda Barnard verbete voort teen kanker. ‘n Dubbele mastektomie, ‘n ongeslaagde borsrekonstruksie, die siek wees van die kanker en die siek wees van die chemoterapie beskryf sy oop en eerlik en amper ongenaakbaar. Jy staan nie onaangeraak teenoor haar vertwyfeling oor haar vrou wees, haar seksualiteit en haar verhoudings met die mense naaste aan haar nie, haar seun en dogter en haar eks-man. Van ‘n eens uiters sportiewe lewe moes sy aanpas na iemand wat afhanklik is van ander om haar met die basiese te help. Daar is twee dinge wat haar deur hierdie worsteling help om te oorleef: haar vriende en haar familie – die engele om haar. ‘n Oop en eerlike vertelling van hoe dit regtig is om met kanker te leef, die mislikheid weens die behandeling, die hopeloosheid en die dankbaarheid dat jy nog ‘n jaar gespaar word. ‘n Boek wat alle vroue behoort te lees.

Nuwe lewe na &aposn brein besering ‘n Nuwe lewe na ‘n breinbesering, Susan Larney (Susan Larney, R130 posgeld ingesluit)
Op 23 Maart 1999 het Susan Larney ‘n telefoonoproep gekry met nuus wat haar en haar gesin se lewens ingrypend sou verander. Haar dogter, Lindie was ernstig beseer in ‘n motorongeluk en die kanse op oorlewing was maar skraal. Lindie was op universiteit en haar hele lewe het nog voor haar gelê. Toe gebeur die ongeluk waarin sy ernstige breinbeserings opgedoen het. So begin Susan en haar man se lang dae langs hulle kind se hospitaalbed waar sy in ‘n koma lê. Larney vertel in hierdie boek nie alleen Lindie se verhaal nie, maar ook haar verhaal van die proses waardeur hulle as gesin gegaan het en hoe hulle moes leer om met die dokters, mediese personeel en ander betrokkenes te kommunikeer. Deur alles het hulle staande gebly deur hulle geloof en hoop en toewyding. Die ingryping in hulle lewe en die kwessies wat hulle daagliks moes hanteer, asook Lindie se lang pad na herstel het Susan gemotiveer om ‘n boek oor die ervaringe te skryf. Die uiteinde is ‘n handleiding wat ander mense praktiese raad gee, van stappe wat jy moet volg wanneer jy in ‘n soortgelyke situasie sou beland. Dit sluit in wenke oor jou papierwerk vir versekeringsinstansies, tot vrae wat jy moet vra aan die mediese personeel, tot agtergrond oor die brein en die werking van die brein en mediese prosedure rakende breinbeserings en die lang herstelproses. Dis in verstaanbare terme en taal geskryf en is ‘n goeie hulpmiddel om te raadpleeg vir Jan en alleman wat in ‘n soortgelyke situasie sou beland. Bestel die boek by www.breinbesering.co.za
Krale-ontwerp Krale-ontwerp met halfedelstene, glaskrale, pêrels en meer, Kim Gover (Struik Lifestyle, R189,95)
Dis maklik om ‘n nuwe stokperdjie aan te leer uit die boek, want dis eenvoudig en verstaanbaar geskryf. Dit vat jou deur die hele proses van begin tot einde met ‘n projek. Eerstens word al die gereedskap verduidelik. Dan volg ‘n uiteensetting van die krale en edelgesteentes en dan kom jy by die grootste deel van die boek – die projekte. Daar is halssnoere, armbande, ringe en oorbelle. Elke projek word uiteengesit met ‘n kleurdiagram van die item, ‘n foto van die voltooide item, ‘n kraalbank wat die benodigdhede aandui en dan die werkwyse wat gevolg moet word. Die basiese tegnieke word in foto’s verduidelik met duidelike onderskrifte wat alles uiteensit. Die boek sluit af met ‘n lys van groothandelaars en kleinhandelaars wat verskaffers van krale en ander benodigdhede is. Ek is beïndruk met hoe verstaanbaar en duidelik die boek is en voel sommer lus om een van die projekte aan te pak
Ageing and Sexuality Ageing and Sexuality, Dr. Eve (Oshun Books, R159,95)
Ouer word is nou nie juis ‘n onderwerp wat my na aan die hart lê nie. Veral as ek na ‘n dag van intense fisieke aktiwiteite deur my liggaam herinner word dat dit nie meer so veerkragtig is nie! Dis moeilik om die veranderinge aan mens se liggaam te verwerk, wat nog te verstaan. Daarom moet elke mens wat meer senior in jare word Dr Eve se boek lees. Sy verduidelik op ‘n toeganklike manier wat jy kan verwag in jou dertigs, jou veertigs, jou vyftigs, jou sestigs en ouer. Dis nou fisieke, sielkundige en emosionele veranderinge en hoe dit jou seksualiteit beïnvloed. Ewe skielik lyk die toekoms nie meer vir my so donker nie en het ek ‘n sprankie hoop dat om ouer te word nie noodwendig traumaties hoef te wees nie! Dr Eve verduidelik baie van die prosesse uit ‘n persoonlike perspektief, omdat sy self reeds deur van die veranderinge gegaan het. Sy gee ook toepaslike wenke om jou deur die prosesse te help. Hierdie is nou een seks-ghoeroe wie se boeke jy maar kan lees, want jy sal beslis iets daaruit leer.
Little Pink Book
Little Pink Book: Weddings, Niki Steenkamp (Stefan en Niki Steenkamp, R105, posgeld ingelsuit)
Hierdie oulike pienk boekie is gemik op voornemende bruide en is een van die nuttigste klein gidsies wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Dit pas perfek in jou handsak, sodat jy dit kan saamdra na al jou afsprake vir die beplanning van jou troue. ‘n Gedeelte is ‘n notaboekie vir aantekeninge oor al jou reëlings, daar is selfs ‘n plek waar jy jou begroting kan invul. Verder is dit propvol wenke wat jou help met praktiese reëlings. Die telefoongids met adresse en plekke wat te doene het met troues is baie nuttig. Daar is ‘n Kaapse en ‘n Gauteng uitgawe van die gids. Dit word jaarliks hersien sodat alle inligting nuut en relevant is. Bestel by www.littlepinkbook.co.za