FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Oor woordsomme en ander raaisels

Ek wonder of julle ook oor woordsomme en raaisels voel soos wat ek voel.

Die hel van woordsomme het reeds op laerskool begin, ’n manier waardeur die juffrou my kon teister! Ek kon om die dood nie woordsomme lekker verstaan nie, want ek was meer geïnteresseerd in die woorde van die som, as die som wat ek nou eintlik moes doen! Kyk nou maar na hierdie volgende voorbeeld: “Die skool se graad 7’s gaan op ’n uitstappie na die museum toe. Daar is 224 kinders in die graad en daar is 10 onderwysers. Almal moet vervoer word na die museum. Elke bus kan 36 mense vervoer. Hoeveel busse is nodig daarvoor?” Onmiddellik wonder ek na watter museum gaan hulle, en moes die kinders betaal om te kan gaan? Hoe ver is dit? Is dit in dieselfde dorp of moet hulle ry na ’n naburige dorp? Verstaan julle my probleem! Teen die tyd wat ek besef ek moet eintlik ’n som doen, is die periode om. Ek wil nie eers uitbrei oor raaisels nie, want dan kan ek vir ure aaneen kla. Daar is die klassieke raaisel van die boer wat ’n bok en ’n koolkop het wat hy met ’n boot oor die rivier moet vervoer . . .

The House on Cold Hill, Peter James (Macmillan, R292)
As jy van spookstories hou dan is hierdie boek vir jou. Oliver Hardcourt en sy prokureursvrou, Caro en hul dogter Jade verhuis na Cold Hill House, ’n vervalle huis wat vir jare leeg gestaan het. Hulle het al hul geld gebruik en moet die huis in hul droomhuis verander. Caro is die hoof broodwinner en moet stad toe ry om daar te werk. Ollie het ’n nuwe webontwerp besigheid begin en werk van die huis af. Maar alles is nie pluis met die huis nie, want Ollie en Caro hoor nare stories oor die huis en sy vorige inwoners. Is die stories waar en watter booshede skuil in die huis? Dinge loop beslis nie volgens plan in dié huis nie. Sal dit nie maar beter wees as hulle van die huis onstlae raak nie?

James span tradisionele spook-elemente soos die wind wat koud deur vertrekke trek en onverklaarbare gebeure soos krane wat vanself oopdraai in saam met insidente met rekenaars en selfone om ’n prentjie van ’n baie vreemde huis te skep. Die huis word ’n nagmerrie vir sy inwoners en die besluite wat hulle neem, sal bepaal wat met hulle gaan gebeur.
Die verhaal is dalk nie almal se koppie tee nie, maar is heel vermaaklik en genotvol. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Behind closed doors, Susan Lewis (RandomStruik, R210)
Hoewel hierdie roman nooit benoem sal word vir ’n groot prys nie, is daar heelwat intriges in die spannende verhaal. Speursersant Andrea Lawrence ondersoek die verdwyning van veertienjarige Sophie Monroe ná ’n rusie met haar ouers. Sy sukkel om haar stiefma te aanvaar nadat haar eie ma oorlede is.

Die gebeure speel in ’n vakansiedorpie af waar Sophie en haar ouers woon voordat sy verdwyn met klere, haar rekenaar en selfoon. Soos die verhaal ontvou, lyk dit na ontvoering eerder as ’n tiener wat weggeloop het.

Speursersant Andrea se suster het ook so weggeraak. Met probleme in haar huwelik en twee kinders van haar eie wat gebalanseer moet word met ’n veeleisende beroep, lê Sophie swaar op haar gemoed. Die ontknoping is netjies en baie emosioneel. Hou genoeg snesies byderhand. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Burial rites, Hannah Kent (Panmacmillan, R145)
’n Stemmingsvolle, atmosferiese verhaal oor ’n man en vrou van Ysland wat onthoof is ná ’n moord wat op ’n afgeleë plaas gepleeg is. Die strakheid in die vertelling en die gestrooptheid van Agnes Magnúsdóttir se lewe weerspieël haar gemoedstoestand.

Agnes wag haar vonnis af en word intussen opgepas deur die boervrou en haar dogters. Die dae volg mekaar meedoënloos op in die roetine van werk op ’n plaas 200 jaar gelede, waar sneeu geensins ’n verskoning bied wanneer daar take is soos vee wat gemelk, geslag, geskeer moet word ten spyte van die koue of snydende wind nie. Agnes vertel haar verhaal aan die priester.

Kent trek haar lesers in by die vertelling van die ysige winter toe ’n vreemdeling wat ontstellend bekend voorkom, onverwags op die plaas aankom.

Dis nie ’n maklike lees nie, weens heelwat vertellers en argiefdokumente, maar wonderlik bevredigend. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Find me, Laura van den Berg (Penguin, R285)
’n Dodelike siekte saai pandemonium in die VSA. Joy Jones is een van die “gelukkiges” wat klaarblyklik immuun is daarteen. Dis byna die eerste keer in haar lewe dat die noodlot haar so bevoordeel, want Joy se lewe voor die siekte toegeslaan het, was ’n ramp. Sy is as weeskind van pleeghuis na pleeghuis oorgeplaas totdat sy 18 was. Toe word sy ’n rakpakker in ’n winkel waar sy na hartelus hoesstroop vir haar verslawing kon steel.

In die eerste helfte van die boek is Joy in kwarantyn in ’n afgeleë hospitaal, waar mense wat immuun is kwansuis bestudeer word sodat die medici ’n kuur kan vind. Dit word egter mettertyd duidelik dat die hele opset by die hospitaal ’n klug is. Joy speel vir ’n ruk saam, maar besluit dan om te ontsnap. In die tweede helfte van die boek reis Joy deur ’n verwoeste en gebroke land om haar biologiese ma te gaan vind.

Find me is ’n donker, depressiewe verhaal vol slim sielkundige insigte. Dit gaan lank by jou spook. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

GRUSAAM, De Wet Potgieter (Zebra Press, R220)
Tydens sy loopbaan as joernalis by die Sunday Times en later by Rapport het De Wet Potgieter se ondersoekende stories gereeld die voorblaaie gehaal. Hy het die grusaamhede eerstehands beleef en nou het hy sy navorsing en notas afgestof en ’n onvergeetlike boek die lig laat sien.

Grusaam is ’n bundel ware verhale oor gebeure wat die meeste lesers waarskynlik sal onthou. Dit was destyds so opspraakwekkend dat iets daarvan sonder twyfel in die Suid-Afrikaanse kollektiewe geheue sal bly voortbestaan. Potgieter skryf weereens met gesag oor sake soos die onopgeloste sluipmoord op professor Johan Heyns en die wrede aanval op Allison Botha in Port Elizabeth. Hy ontrafel ook die verdwyning van die ses jong meisies wat deur die pedofiel, Gert van Rooyen, en sy minnare, Joey Haarhoff, ontvoer is.

As joernalis het die skrywer deur die jare aanhou soek na antwoorde en lank ná sy stories nie meer hoofnuus was nie, het hy steeds van die veroordeelde moordenaars in die tronk besoek. Die verhaal van die jong bomplanter, Stefaans Coetzee, wat uiteindelik vrede gevind het nadat Eugene de Kock hom gelei en gesteun het om sy slagoffers te ontmoet, is een van die mees aangrypende oomblikke in die boek. Dit spreek van versoening; dit gee hoop en bevestig dat selfs die gehardste misdadiger sy lewe kan omkeer.

Soos die gesegde lui, is die waarheid dikwels beter as fiksie. Die boek is in Engels beskikbaar as Gruesome. Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ideas Like Shoes Take You Places, Debra Langley (Reach Publishers, R200)
Elke individu kan kreatief wees, en Langley wys haar leser deur praktiese voorbeelde hoe om innoverend en skeppend te wees. Dis idees wat ’n verskil maak en die ‘idee mense’ wat sukses behaal!

Lees maak jou slimmer, verbeter jou woordeskat, gee jou insig in ander kulture, bou jou selfvertroue, verbeter jou geheue en verlig jou stres, om maar net ’n paar te noem.

Alle antwoorde kan in boeke gevind word en as jy nog nie die regte antwoord gevind het nie, dan het jy nog nie die regte boek gelees nie!

En moenie perfeksionisme nastreef nie, want dit beroof jou van jou penne en verfkwaste.

Die Russiese Matryoshka-pop is ’n voorbeeld van hoe om kleiner voorwerpe binne-in kleiner voorwerpe te plaas – die beginsel wat besigheidsinnovasie geïnspireer het.

So kan ons ons eie unieke en oorspronklike talente ook ontwikkel, en suksesvol wees. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Marina, Carlos Ruiz Zafón, (Weidenfeld & Nicolson, R265)
In Mei 1980 verlaat Oscar Drai sy koshuis in Barcelona, Spanje. Vir sewe dae is daar geen tyding van hom nie. Dan word hy gevind op die stasie. Maar hy kan nie, of wil nie sê waar hy vir sewe dae was nie. Vyftien jaar later dink Oscar terug aan daardie sewe dae. Hierdie boek vertel waar hy was en wat in dié sewe dae gebeur het.

Sy verhaal begin waar hy vir Marina Blau ontmoet en die vriendskap wat ontwikkel tussen hom, Marina en haar pa, Germán. Een nag neem Marina vir Oscar na die begrafplaas waar hulle ’n vreemde ritueel aanskou wat elke vierde Sondag afspeel. ’n Vrou, geklee in swart, met ’n sluier en handskoene, klim uit ’n koets en plaas ’n enkele roos op ’n naamlose graf. Hulle agtervolg haar, en so begin ’n avontuur. Hulle leer ken die geskiedenis van Barcelona wat ná die Tweede Wêreldoorlog afgespeel het en ontdek ’n diep donker geheim wat hulle kan vernieting.

Die verhaal gaan oor vriendskap en ook verlies. Dis boeiend geskryf. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Prooi, Fanie Viljoen (LAPA Uitgewer, R220)
Cody, ’n aantreklike lafentelhaantjie, maak kompulsief jag op meisies. Sy nuutste prooi is Lauren, wat self besig is met ’n gevaarlike speletjie. Sy is verveeld met haar kêrel en soek na nuwe avonture. Owen, wat agterkom hy is besig om sy meisie, Lauren, te verloor, raak net meer obsessief oor haar en gaan haal sy frustrasies uit in die gimnasium. Hy het groot drome om ’n suksesvolle vegter te wees, maar kan homself nie ’n toekoms sonder Lauren indink nie.

Fanie Viljoen se deeglike beskrywing van afwykings en demone waarmee mense worstel, sorg vir ’n donker ondertoon in die storielyn. Beslis nie ’n ‘voel-goed’-verhaal nie, maar ’n lekker interessante storie. – Danica Gouws

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Boat, Clara Salaman (Head of Zeus, R220)
’n Verhaal vol kontraste – ’n onskuldige, pasgetroude egpaar hou vir ’n jaar lank wittebrood in Turkye. Hulle is brandarm en oorleef op liefde en water, maar ook waagmoed. ’n Boot meer vas naby hulle tydens ’n groot storm en Johnny en Clem bewonder die boheemse paartjie wie se boot dit is. Toe die kans hom voordoen, is hulle gretig om van agtervolging vir geringe diefstal weg te kom. Hulle word weggevoer op die boot saam met die paartjie. Min het hulle besef wat voorlê. Terwyl mens lees, raak jy bewus van naderende onheil wat nie direk uitgespel word nie.

Die skrywer hou lesers onkundig soos die twee hoofkarakters in die verhaal. Wanneer hulle besef wat besig is om met hulle te gebeur, is die boot op die oop see sonder geleentheid vir ontsnapping. Meesleurend, amper hipnoties geskryf. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Fetch, Finuala Dowling (Kwela Books, R226)
Finuala Dowling se vriende en familie haat haar seker, want die leser kan nie anders as om te glo dat die karakters in dié boek op werklike mense gegrond is nie. Sulke eksentrisiteit, wat tog so geloofwaardig is, kan mos net bestaan as daar ’n groot dosis werklikheid daaragter lê. Daar móét ’n William op Slangkop naby Kommetjie woon. En ’n Chas, en sy nudistiese vrou, Dolly, en sy getroue teemaker en bobbejaanverskrikker, Emmanuel, ook. Ek wens ek kon Dowling vra waar sy aan dié mense kom, maar ek dink nie sy sou haar geheime weggee nie.

Halfpad deur die boek was ek lus om ’n handdoek in te pak en af te sit Kommetjie toe om by Slangkop se karavaanpark rond te snuffel opsoek na die karakters.

Dowling lê haar Slangkopinwoners in al hul broosheid oor die loop van ’n paar jaar aan die leser voor. Van hulle ken mekaar van kinderjare af, ander is betreklik nuut in die omgewing. Daar is hunkering, liefde, seks, verdriet, partytjies, verraad, siekte, vergifnis, diëte, vergaderings en baie koppies tee.

Dis ’n lieflike, warm boek met fyn waarnemings van die mens en die natuur. Dowling is na my mening besig om ’n Kaapse kultuurskat te word. – Helen Schöer