FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ouer is nie noodwendig slegter nie

Is ouer besittings slegter, of het jy ’n waardering vir die ingeleefdheid van jou goed?

Ek is altyd verstom wanneer iemand maklik van besittings ontslae kan raak. Nie dat ek ’n opgaarder is nie! Ek kan maklik iets uitgooi wat nie meer bruikbaar is nie en ook as iets gebreek is. Maar ek sukkel om van daai nostalgiese goed, soos my grootjie se porseleinkoppie, of my ma se aandrok uit die 60’s, my pa se naelstelletjie wat uitmekaar val, uit te gooi. So kan ek nog ’n hele swetterjoel goed opnoem wat van my grootouers, ouers, broers, suster en vriende af ’n plekkie in my huis gevind het. Dan is daar my gunsteling paar jeans, die een wat eintlik uit gate bestaan wat met gare aanmekaar gehou word. Hoekom kan ek nie daarvan ontslae raak nie? Ek kan die broek nie meer in die openbaar dra nie, want ek sal vir myself groot skande maak . . . Onder in my een rak sit daar selfs nog ’n pop wat uit my kinderdae kom. Ja, ek het selfs ’n plakboek waarin ou skoolrapporte, briefies van skoolmaters en ander herinneringe ’n plekkie gekry het. En moenie dat ek eers begin praat oor boeke nie! As ek eerlik wil wees dan kan ek erken ek het al boeke laat gaan, maar net na mense wat ek weet dit sal waardeer. Maar my gunstelinge moet maar in my huis bly.

Man uit die vreemde, Kas van den Bergh (Protea Boekhuis, R160)
Hierdie is ’n heruitgawe van ’n roman wat oorspronklik in 1966 verskyn het.

Frans Smit is die geheimsinnige man uit die vreemde wat te voet by ’n bosveldplaas aankom om te kom werk soek. Dis kort na die Tweede Wêreledoorlog en Oom Andries is sieklik en is dankbaar vir die hulp. Hy dink niks daarvan dat die nuweling met net die klere aan sy lyf by die plaas aankom nie. Dan is daar ook die boer se beeldskone, parmantige jong dogter, haar jaloerse kêrel en die geheimsinnige klippe wat Frans in die berg optel, daar waar dit lyk asof iemand geprospekteer het. En hoekom klim Frans elke nag by sy kamervenster uit en waarheen gaan hy met ’n bondel in sy arms?

Die verhaal verloop vlot en daar is genoeg aksie en intrige om die leser geïnteresseerd te hou, al oortuig die karakters nie heeltemal nie. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Our GG in Havana, Pedro Juan Gutiérrez, vertaal deur John King (Faber & Faber, R262)
Tien jaar gelede het Gutierrez sy literêre loopbaan van stapel gestuur met die Dirty Havana Trilogy, ’n versameling stories wat al die smerighede rondom die diktatorskap van Castro onthul het. Hierdie roman vertel dan ook die verhaal van GG, ’n bekende skrywer, wat die Kubaanse hoofstad in die laat 1950’s besoek. GG (wat Graham Greene mag wees, of nie) drink te veel en is geneig tot depressie. Binne ’n paar uur dryf verveling hom na die gevaarlike naglewe van Havana, en kort voor lank raak hy by ’n moord-ondersoek, Nazi-haters en dubbele-agente betrokke.

Gutierrez word nie sonder rede met Raymond Carver en Charles Bukowski vergelyk nie; die meedoënlose nihilisme van sy karakters (swerwers, koppelaars, prostitute, dobbelaars en alkoholiste) is genoeg om enigeen na die naaste bottel opkikkers te laat gryp. Hierdie novelle (skynbaar geskryf as ’n soort huldeblyk aan Graham Greene) is nie een van Gutierrez beste werke nie, maar deels te danke aan die bysleep van Kubaanse eksotika, sal aanhangers van skrywer Graham Greene dit waarskynlik geniet. Wees egter gewaarsku: dié boek bevat eksplisiete tonele en sterk taalgebruik. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

So brave, so young and handsome, Leif Enger (Quercus, R199)
Enger se tweede roman, So brave, so young, and handsome, is ’n regte oudtydse cowboy-storie wat in 1915 in die Weste van Amerika afspeel. Sy skryfstyl is gestroop en presies. Sonder fieterjasies vertel hy hoe die skrywer Monty Becket op die stoep van hul plaashuis in Minnesota sit en bestek opneem van sy lewe: hy is nie arm of briljant nie, ook nie ’n weeskind nie, was nog nooit betrokke by ’n oorlog, of moes al hongerly nie. Sy gesondheid is goed, sy vrou getrou en sy seun is ordentlik en toon belofte.

Becket se eerste boek was taamlik gewild, maar hy kon dit nog nie ewenaar nie. Hy besluit om daagliks 1 000 woorde te skryf maar, vier jaar en ses halfklaar boeke later, is hy reg om moed op te gee wanneer hy ’n ou man sien stroomop roei en hul ontmoeting sy lewe verander. Glendon Hale is ’n voortvlugtige gevangene wat poog om sy foute van die verlede reg te stel.

Pragtig geskryf, deur ’n meesterverteller.   – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Pops and the Nearly Dead, Edyth Bulbring (Penguin, R120)
Terwyl Randolph St John Goodenough, beter bekend as Red, se ouers na Bangkok verhuis, gaan bly hy by Pops (sy oupa aan moederskant) totdat hulle rëelings kan tref om hom en sy behoeftes rakende ’n oppasser en skoolsake te akkommodeer. Red se pa verdiep hom in sy werk en sy ma steur haar min aan moederlike pligte. Nogtans is hy ’n gelukkige kind; dié disfunksionele huislike kring het geen impak op hom nie. Oor die volgende drie maande raak hy betrokke by die lewe van vele kleurryke karakters wat saam met Pops in ’n aftreeoord bly – en dan ontmoet hy vir Regina, wat sy voete onder hom uitslaan. Lesers wat aanklank vind by stories wat verhaal word uit die oogpunt van tienderjarige vertellers soos Sue Townsend se Adrian Mole en John van de Ruit se Spud, sal die avonture en waarnemings van Bulbring se innemende hoofkarakter des te meer geniet. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Spud – Exit, Pursued by a Bear, John Van De Ruit (Penguin, R150)
Ek het vreeslik uitgesien na die finale boek in die skreeusnaakse Spud-reeks en moet bieg dat in dié opsig, Exit – Pursued by a Bear my ietwat teleurgestel het. Moet my glad nie verkeerd verstaan nie, die boek is steeds ’n treffer wat mens plek-plek hardop laat lag, maar ek het beslis nie so uitbundig geskater soos met die vorige drie boeke nie. Die probleem lê glad nie by John Van de Ruit se vernuf nie – dis eerder die feit dat Spud Milton nou grootgeword het. Waar sy avonture saam met die Crazy 8 in die vroëere boeke vol komiese oomblike en domastrante waagstukke was, kom ’n mens duidelik agter uit Spud se dagboekinskrywings dat die erns en verantwoordelikheid van die laaste skooljaar, en sy vrese vir die toekoms, swaar op sy gemoed lê.

Tog bly die boek getrou aan die wenresep waarmee Van De Ruit mens met die eerste boek in die reeks reeds gevang het. Die sosio-politieke agtergrond waarteen die reeks afspeel, en die veranderings wat nie net vir Spud voorlê nie, maar vir die hele Suid-Afrika, asook die gepaardgaande vrese dra by tot die ietwat meer sobere aanslag van Exit – Pursued by a Bear. Dit voel amper asof mens sáám met Spud grootgeword het en ek dink die wete dat ’n hoofstuk van sy (en die leser) se lewe onherroepelik verby is, dra by tot die ietwat melankoliese gevoel wat die boek by my geskep het. Dis amper asof mens die onafwendbare so lank as moontlik probeer uitstel. As jy die ander boeke in die Spud-reeks geniet het, moet jy beslis hierdie een lees! As jy nie het nie, sou ek voorstel jy lees eers die ander. – Liezl Thom

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Team Trinity, Fiona Snyckers (Modjaji Books, R763)
Nooit sou Trinity kon dink dat die termyn wat sy in die koshuis moet deurbring soveel opwinding en verrassings sou meebring nie. As die bedorwe brokkie van baie welgestelde en vooraanstaande ouers moet Trinity koshuis toe, terwyl haar ouers drie maande in Chili spandeer. Lael, haar beste vriendin is gelukkig saam met haar daar. Hulle beplan die diefstal van ’n baie prominente skild wat in die seuns se koshuis onder streng sekuriteit toegesluit word. Hulle durf ook verskeie diëte aan, maar moet telkens boedel oorgee. Trinity moet ook die aanslae van ’n baie jaloerse kamermaat afweer. Sy loop ook deur onder ’n kêrel, vier jaar haar senior, wat haar selfbeeld en selfvertroue ’n groot knou gee. Maar die kinkel in die kabel is James, die graad elf seun wat haar deurentyd help en waarsku. Hoekom is hy altyd daar wanneer sy alleen is?  Die boek sorg vir heelwat komiese episodes en so bietjie ligte intrige. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Daisy Club, Charlotte Bingham (Bantam Press, R190)
Tydens die Tweede Wêreldoorlog probeer vyf vriende in ’n klein Engelse dorpie met hul   normale lewens aangaan, terwyl die dorp leegloop van jong mans wat gaan veg. Maar mettertyd begin dit hulle al hoe meer beïnvloed en niemand kan van die werklikheid van die oorlog af wegkom nie. Selfs die vrouens moet uitspring en betrokke raak by werk wat hulle nog nooit vantevore gedoen het nie. Die weermag neem die dorp oor en die inwoners, ongeag klas of stand, moet almal ter wille van oorlewing op ’n spesifieke plek begin saambly. So leer hulle dat almal nie aan dieselfde kant van die politieke spektrum staan nie en dat moraliteit in moeilike tye kan skade ly. Terselfdertyd word ou wonde oopgekrap en harte versag. ’n Storie wat wys dat mens kan vergewe en vergeet. – Amanda van Schoor

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Delhi Deception, Elana Sabharwal (Selfuitgegee, R257)
Tydens ’n kuier by haar ouers in Suid-Afrika besluit Carla Gill, ’n verslaggewer by CNN, om na die huis wat haar oupa haar nagelaat het in Indië te gaan kyk. Terselfdertyd sal sy dan ook by ’n vriendin, Elouise Singh, in Delhi gaan kuier. Carla se ma is Suid-Afrikaans en haar pa is van Indië. Op pad daarheen doen sy aan in Pakistan om haar man Andrew, ’n joerrnalis van die BBC, te verras. Sy betrap hom saam met een van sy vroulike kollega’s in die bed. Ontsteld vlug sy van die toneel en vlieg na Indië. Daar probeer sy van Andrew vergeet deur winkels te besoek en na verskeie glansryke partytjies te gaan. Tydens een partytjie ontmoet sy George Alexander wat vir die Amerikaanse ambassade werk. Deur haar assosiasie met hom word nie net haar lewe nie, maar ook Elouise s’n in gevaar gestel. Dis ’n heel interessante verhaal, maar ongelukkig net te voorspelbaar. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Gate of Air, James Buchan (Quercus, R179)
Jim Smith word deur finansiers uit sy rekenaarmaatskappy in die stad gedryf. Hy onttrek hom van die stad en vestig hom op Paradise Farm, ’n plaas in ’n afgeleë boerderygemeenskap in die weste van Engeland. Alhoewel hy niks van boerdery af weet nie, skaf hy diere aan en plant koring. Hy kry selfs ’n hond, Argos, om hom geselskap te hou en hy verken die omgewing. Jim neem ’n werker, die geheimsinnige en onafhanklike John Walker, in diens om hom op die plaas te help. Hy leer mettertyd die eksentrieke mense en karakters in die omgewing ken. Tydens ’n aandete by die plaaslike magnaat en sy angstige vrou sien Jim ’n spook. Die landelikheid van sy bestaan, en hiermee saam die sekerheid van die moderne lewe, verdwyn. Jim kom te staan teen onverbiddelike elemente en oerkragte so oud soos die omgewing waarin hy hom bevind. Sal hy oorwin?

Buchan is ’n ervare romanskrywer en het al verskeie boeke, fiksie sowel as nie-fiksie, op sy kerfstok. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The House of the Wind, Titania Hardie (Headline Publishing Group, R217)
Twee verskillende verhale wat 650 jaar uitmekaar afspeel, word in hierdie boek ineengeweef. Daar is die verhaal van Madeline Moretti van San Francisco wat treur oor die sinnelose dood van haar verloofde in ’n motorongeluk. En daar is die verhaal van die stomme Mia en haar tante wat ’n gastehuis in Toskane bedryf in 1347.

Maddie se vurige Italiaanse ouma stuur haar Toskane toe vir ’n vakansie om haar te help om oor haar verdriet te kom. In Toskane is Maddie onmiddellik tuis in die gastehuis wat haar ouma se vriendin besig is om te restoureer en sy verdiep haar in die geskiedenis van die pragtige huis.

Titania Hardie het al baie geskryf oor waarsêery en towery en soos verwag kan word is daar baie mistieke elemente in hierdie verhaal ook. – Rheta Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Thirty-three teeth, Colin Cotterill (Quercus, R217)
’n Vervolg op The coroner’s lunch deur dieselfde skrywer, waarin dr. Siri Payboun ook die hooflykskouer in Laos is. Cotterill gee lesers ’n kykie op ’n vreemde kultuur kompleet met antieke geeste. Verskeie onverwante moorde reflekteer die sienings van die regering en alleman in Laos hieroor. Die politiek in hulle omgewing en ongewone spiritualisme maak hierdie verhaal veelkleurig en interessant.

Cotterill spot graag met die heersende party: die eerste vermoordes word mnr A en mnr B genoem, en dis duidelik dat mnr B ’n regeringsamptenaar was met ‘triplikaatsindroom’, omdat sy vingers pers is van eindelose kopieerwerk wat die kommunistiese burokrasie vereis.

Mens en dier en plante is onderling verwant, want volgens die skrywer se belangstelling in Boedhisme is vorms van lewe en vergane mense een. – Mariette Postma