FOTO: verskaf

Boeke

Pat Stamatelos oor ‘n verhaal wat jou in die maag slaan

Haar jongste boek, Pastoor is nie ‘n maklike boek om te lees nie. Die tema daarvan is donker en ontstellend.

Kleintjie Ziman se skokkende verhaal word uit verskillende oogpunte vertel; deur haar man, deur haar sielkundige en deur haarself. Hierdie drie stemme lig mekaar toe en so raak jy bewus van Kleintjie se ontstellende verlede. Sy is die aangenome kind van ‘n egpaar wat ‘n groot probleem met drank het. Sy word deur haar ouers in die arms van die pastoor ingedwing, omdat hy haar sogenaamde berading moet gee vir haar probleme waarmee hulle haar nie kan help nie. Sy word gemolesteer deur die leraar, na wie sy regdeur die verhaal verwys as Pastoor. Dit was maklik vir die ou man om haar ‘spesiaal’ te laat voel, want sy het gesoek na koestering, omdat haar ma en haar pa nie juis daar was vir haar nie. Maar Pastoor was daar. Die grootste onding wat in hierdie verhaal ontbloot word, is hoe die gemeenskap en gemeente wegdraai van die pedofilie en die gevolge vir Kleintjie wat voor hul oë afspeel. Niemand wou betrokke raak nie. Kleintjie blameer haarself vir alles wat gebeur het en word groot met baie skuldgevoelens en baie sielkundige letsels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die verhaal speel af oor ‘n tydperk van 34 jaar en is gebaseer op ‘n ware storie van ‘n vrou. Oor waarom sy Pastoor (Tafelberg, R210) moes skryf, sê Pat Stamatelos sy sal tevrede voel as sy net een mens kan bereik, sodat so iets nie met hulle gebeur nie.

Hoe het jy aan die verhaal gekom?
Die hoofkarakter, Kleintjie, is ‘n vrou wat werklik bestaan. Ek het haar jare tevore deur ‘n vriendin ontmoet en was op ‘n slag in Kleintjie se huis, maar het toe kontak met haar verloor. Jare daarna het ons mekaar in ‘n supermark raakgeloop. Ek kon haar skaars onthou en het haar naam glad nie onthou nie. Sy het my hulp gevra met ‘n boek wat sy oor haar lewe wou skryf. By my huis aangekom, het sy gebieg dat sy nie kan skryf nie en my gevra om die boek te skryf. Ek was baie, baie teësinnig, wat weet ek van ‘n biografie skryf? Ek skryf uit my hart en derms, nie wat iemand anders vir my voorsê nie. Na dae se gesoebat het ek gesê ek sal probeer.

Het dit lank geneem om die verhaal te skryf en was dit ‘n moeilike om verhaal te vertel?
Dit was ‘n vyfjaar-projek. Ek het geskryf en neergesit, uitgehaal, geskryf en weer gebêre. Teen dié tyd was die vrou lankal vort, goed vies omdat ek nie die boek klaar maak nie. Dit was ‘n baie moeilike verhaal en ek sit met baie gemengde gevoelens. Eerstens was dit absoluut ongeloof – ongeloof dat so iets kon plaasvind, onder die neuse van die hele gemeente, jare lank, en niemand doen iets nie. Toe woede, nadat ek hom (die pastoor) gaan besoek het. Ek het hom nie direk uitgevra na Kleintjie nie, maar hy is in total denial dat leraars sulke dinge doen en oortuig dat daar altyd vergifinis is. Die Bybel praat van opsetlike sonde waarvoor daar geen vergifinis is nie, maar die oom het dit blykbaar nie raakgelees nie. En na die woede was dit matelose hartseer.

Jy skryf gewoonlik met heelwat humor in jou boeke. Dit ontbreek heeltemal in Pastoor?
Tog nie heeltemal nie. Ek het probeer om die gewigtigheid ‘n bietjie te balanseer deur die aspek van feetjies in te bring. Hier en daar glimlag die hoofkarakter tog met die vertel van ‘n feetjiestorie, of lag sy vir haar eie kindervertelling. Die storie van haar oupa en ouma en die bottel Bols bly snaaks.

Jy het verskillende vertellers gebruik in die boek. Waarom?
Ek wou meer menings, meer aspekte tot die tragedie gehad het. Haar man, Fred-Jansie se insig verskaf ‘n waardevolle blik op gebeure (dinge wat sy nie wil, of kan vertel nie).Wanda, die sielkundige, se ontleding gee dieper betekenis aan Kleintjie se psige en probleme en streef om die waaroms en hoekoms te beantwoord.

Dis opmerklik dat daar deesdae in Afrikaans meer boeke verskyn wat aan donker temas raak, soos bloedskande en pedofilie. Waarom dink jy is dit so?
Danksy kerke en regerings is die donker waarheid jare lank weggesteek. Maar nie meer nie, nou word alles oopgekloof. Niks is meer heilig nie; prinse sit nie meer op trone nie en oupa’s is lank nie meer die untouchables nie. Dis die era van rekenskap gee en boetedoening. Klein kinders mag deesdae vinger wys en sê HY het my seergemaak en ma’s mag glo dis die waarheid.

Die klavier speel ‘n groot rol in hierdie verhaal. Waarom dink jy is dit die een ding wat Kleintjie so onlosmaaklik gebind het aan Pastoor?
Hy het haar geleer om klavier te speel. Die assosiasie sou haar bybly haar lewe lank.

Wat is vir jou die mees onstellende aspek van Pastoor?
Haar jare lange selfverwyt en skuldgevoelens oor ‘n aborsie. Die stilswye van ‘n hele gemeenskap. Die ma het geweet, die pastoor se vrou het geweet, ek dink almal het geweet. Stilte kan vernietig.

Is daar ‘n nuwe boek waaraan jy werk?
Die storie is geskryf nou moet die uitgewer praat.