FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Pat Stamatèlos skryf bedrieglik eenvoudig.

Pat Stamatèlos se jongste verhaal is bedrieglik eenvoudig. Dit gaan oor gewone mense waarmee gewone goed gebeur, tog is daar baie emosie en mensekennis in die verhoudings wat sy op papier beskryf.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Polly speel die hoofrol in My groot vet Griekse egskeiding (Umuzi, R180). Jy ontmoet haar by die egskeidingshof waar haar Griekse man, Archie nie opgedaag het vir die saak nie en die egskeiding nie toegestaan kon word nie. Archie het al vir ’n jaar lank soos ’n groot speld verdwyn. Niemand weet waar hy is nie, want hy stuur net kort, kriptiese boodskappe van ’n onbekende bestemming. Polly het deur haar huishulp, Catherine, gehoor Archie is weg saam met ’n pragtige, blonde vrou in ’n sportmotor. By die onsuksesvolle hofverskyning ontmoet sy die huweliksberader, Gugu en ’n vriendskap onstaan tussen hulle. Intussen moet Polly Archie se beste vriend, Otis se attensies afweer en sorg dat die boekwinkel aan die gang gehou word onder die bekwame bestuur van Janrap. Hy doen alles in sy vermoë om Polly te help om die raaisel rondom Archie se verdwyning op te los en om haar uiteindelik te oortuig Archie is eintlik dood. Dis net ’n kwessie van om agter die kap van die byl te kom. Daar is ’n paar verrassings waarop ek nie gereken het nie hier aan die einde van die verhaal.
Ek het by tye hardop gelag vir die komiese dinge wat so tussen deur die hartseersake gebeur. Pat Stamtèlos het ’n manier om jou deel van die karakters se wel en wee te maak. Dié oënskynlike eenvoudige verhaal het veel meer diepte as jy die verhoudings bestudeer.

Hoe skryf jy? Kan jy enige plek skryf of het jy ’n spesifieke roetine?
Ek kan nie enige plek aan die werk spring nie en kan glad nie skryf met iemand om my nie. Daar moet nie nog ’n persoon in die huis wees nie. Ek moet op my eie wees.

Hierdie boek is baie anders as Pastoor. Elke boek het seker sy eie ritme?
Pastoor was nie my boek nie, dit het nie uit my uitgekom nie. Dit het uit iemand anders gekom. Ek het geskryf soos sy die storie vertel het. Ek kan dit nie vergelyk met enige van my ander boeke nie. Pastoor was ’n moeilike boek om te skryf.

Jy fokus weer sterk op verhoudings in hierdie verhaal. Waarom is dit vir jou so belangrik?
Is dit nie snaaks nie? Ek is ’n siniese ou vrou. Maar verhoudings is belangrik, miskien omdat ek nooit in ’n goeie verhouding was nie. Miskien is daar ’n leemte in my lewe waar daar ’n goeie verhouding moes gewees het en nie was nie. Dalk probeer ek opmaak daarvoor. Dis vir my lekker om oor verhoudings te skryf, of dit nou vriendinne of familie is. Almal van ons wil ’n goeie verhouding met iemand hê.

Polly en Catherine het uiteenlopende verhoudings met Archie gehad.
Dit was vir my verskriklike lekker teenpole. Ek wou hê daar moet ’n goeie verhouding tussen Archie en sy vrou wees, maar daar was nie. So daar was ’n gebrekkigheid. Erens gaan die man daardie leemte vul en hy het dit gevul deur Catherine, die huiswerker. Sy het hom ontsettend bederf met al die lekker kosse wat sy vir hom gemaak het en die moetie wat sy vir vir sy hare gekry het. Hy het haar weer bederf deur geskenke aan te dra. Tussen die geskenke en die lekker kos was daar iets wat hulle in gemeen gehad het. Maar dit was nie ’n seksuele verhouding nie, dit was ’n vriendskaplike een. Daar kan nie platoniese verhouding wees nie, ek glo nie daaraan nie, maar daar was tog. Daar was ’n leemte tussen hom en Polly en daar was ’n rede voor, maar dit was ’n brug wat hulle nie kon oorsteek nie.

Jy onthul daardie rede eers amper aan die einde van die verhaal. Aan die begin kom mens nie agter waarom Archie en Polly so skuins met mekaar is nie.
Ek was al in baie Griekse huise waar jy voel dinge is nie lekker tussen die man en vrou nie. Dan dink jy, ag daar is nerens so gelukkige verhouding tussen man en vrou nie; daar is maar krapplekke. Hulle is ou getroudes en neem mekaar as vanselfsprekend of wat ook al. Dikwels is daar ’n rede voor, maar jy sal nooit die rede weet nie. In haar gesprek met Gugu het Polly die rede per ongeluk verklap, want sy wou nie regtig daaroor praat nie. Sy het die gebuere onderdruk, want die trauma van dit wat Otis op haar afgedwing het, wou sy nie herleef nie. Die gebeurtenis het twee aande voor haar troue plaasgevind en op haar huweliksaand het dit ’n impak gehad op hoe sy op Archie se liefkosing reageer het. Sy kon nie met Archie praat oor wat Otis aan haar gedoen het nie. Sy het eintlik stil gebly, want sy wou nie Archie se vriendskap met Otis breek nie. Dis asof sy geweet het Archie het iemand nodig in die lewe wat sy nie vir hom kan wees nie. Sy sê ook op ’n plek: “Perhaps Archie needed a friend more than he needed a wife.”

Hoe kies jy jou karakters se name?
Ek is skaam om te sê ek sit my vingers op die sleutels en ek skryf net. Die eerste naam wat in my kop kom, is die naam wat ek gee. Watter naam sal ek nou gee? Polly. Ek moes ’n Griekse naam gee, maar party is so onuitspreekbaar en Archie het net so lekker op die tong gelê. Polly sou net Polly gebly het, maar toe kom Catherine daar werk en sy wou soos ’n queen behandel word. Toe dog ek die Polly en die Catherine gaan nie werk nie. Toe tel ek gou die letters, en toe word sy Pollyana. Ek gaan nie deur ’n lys van name nie. Dis regtig die eerste naam wat opkom in my kop. Julle moet nooit dieper betekenis daarin soek nie, behalwe vir Pastoor. Daar is baie diep dinge wat mense nie eens by uitgekom het nie. Die boek het vir my vyf jaar gevat om te skryf.

Jy skryf eg menslike verhale wat gaan oor dinge wat met gewone mense kan gebeur. Waar kom die saadjie vir hierdie spesifieke verhaal vandaan?
Ons het ’n broer in ons gemeente, ’n dierbare man. As jy hom in Griekse geselskap sien, sal jy dink dis waar hy hoort. Hy het so ring donker hare om sy kop. Dikwels kyk ek hom so en dan wonder ek wie sy hare geblaas het, was dit hy of was dit sy vrou? Met die jare het sy hare al hoe minder geword. Ek het ’n fiksasie met die man se hare gehad en daarmee in gedagte het ek gedink ek moet ’n storie skryf oor ’n man wie se hare al dunner word wat dit nie kan verwerk nie. Dis hoe die saadjie van Archie geplant is. Sy hele lewe het gegaan het oor sy hare, of eintlik die gebrek daaraan. Dit was vir my ’n lekker boek om te skryf.

Kos loop met ’n goue draad deur die verhaal, van Gugu met haar vetkoeke, tot die koek in die winkel en Catherine se lekker Griekse kosse.
In ons huis was ’n ronde tafel en my man het altyd baklei by die tafel. Dit was sy bakleityd. Iets het altyd te kort geskiet. ’n Ding was nooit reg nie en dan gaan die woorde so heen en weer. In my stories is daar altyd ’n lekkerte aan tafel. Ek dink hier in my onderbewussyn wil ek aan ’n tafel sit waar daar ’n lekkerte is. Op ’n manier soek ek genesing deur my skrywe .

Al het Polly nie ’n lekker huwelik nie, het sy ook wonderlike vriendskappe en dan het sy nog die bonus van ’n nuwe vriendskap met Gugu.
Dit was nie die wit counsellor wat vir die swart vrou raad gee nie. Ek wou gehad het dit moet ’n swart mens wees wat vir die wit vrou raad gee. Gugu het baie ondervinding gehad en sy het van voetsoolvlak die ondervinding. Sy het geleer uit boeke uit en sy het haarself leer Afrikaans praat. Sy het mense bygestaan in die hof. Die mense het gekom met ’n hoender, met ’n hondjie, met wat ook al waarmee hulle kon betaal. Sy het gesit en luister. Soms as dit oor verkragting gegaan het, wou hulle net ’n horende oor gehad het. Sy het geleer om te luister en mense luister nie meer nie. Mense het nie tyd om na ’n lang storie te luister nie. Polly het in Gugu ’n horende oor gekry en dit was wonderlik. Gugu het vir haar gesê sy moet Otis konfronteer, want hy besef nie watter onreg hy haar aangedoen het nie. Sy moes van aangesig tot aangesig vir hom sê hy het haar lewe verwoes. Toe Polly dit sê het sy binne vyf minute alles gesê wat sy wou sê. Ten spyte van sy walgooiery en verskoning is hy daar weg met die besef dat hy haar kans op ’n gelukkige getroude lewe saam met sy beste vriend vernietig het. Daardie verhouding tussen haar en Gugu was spesiaal.

Otis is ’n nare stukkie werk. Die ironie is dat hy die oorsaak van die kloof tussen Polly en Catherine is. Waar het jy aan hom gekom?
Hy is ’n sjarmante skarminkel. Otis kon nie verstaan dat Polly aanstoot neem nie. Hy het op ’n ander manier aan Catherine gedoen presies wat hy aan Polly gedoen het, want hy het haar lewe ook verwoes. Agterna het ek besef mens haal goed uit jou onderbewussyn uit en sit ’n tikkie van jouself in jou verhale. Ek sit en huil as ek skryf; ek gaan deur baie emosie. Ek dink ek gaan haal dinge.

Kan jy self sulke lekker Griekse disse kook soos wat jy in die boek beskryf?
Ek was met ’n Griek getroud en ek kon. Ek het ’n wonderlike Griekse boekie gehad met wonderlike en maklike resepte in. Ek was lief om dolmades te maak. Aan die begin stadium het ek al daardie goed gemaak, maar later was dit ou nuus. Later was dit: “Jy eet pampoen vanaand, niks se fênsie kos nie.” Ek het nie alles gemaak nie, maar ek was mal oor Griekse kos.