Boeke

5 boekminute met Pat Stamatélos

Jy het betreklik laat in jou lewe begin skryf. Hoekom?
Nie werklik nie. Ek was ‘n goeie opstelskrywer op skool. Later het ek ‘n kortstorie vir Fairlady geskryf en is ‘n hele R100 daarvoor betaal. Kroes het ek 22 jaar gelede begin skryf op my ou Olivetti-tikmasjien. Maar ek het ‘n huis en kinders gehad en nog ‘n moeilike man ook. Dit was net onmoontlik om voltyds te skryf. Toe my oudste dogter, Anasta, 11 was (dis 23 jaar gelede), het ek die manuskrip van Kroes ingestuur vir publikasie. Dit was nog in die dae voor rekenaars. Petra Müller, die uitgewer, het my gebel en gesê hulle stel belang, maar toe sweef die manuskrip vir ‘n tyd rond. Sy het my laat weet die boek moes ingekort word, omdat die Afrikaanse leserspubliek so klein was. Wat ek toe gedoen het. Nege maande later, ná die boek heen en weer gestuur is, kom die antwoord: Die boek is te kleurgebonde vir sy tyd en word afgekeur.

Dit was baie hartseer, want ek en my dogter het sterk planne vir aftrede met die wins van die boek gehad – sy op ouderdom 11 en ek op 37! Toe gebeur dit nie. Kroes lê toe vir 20 jaar in ‘n kassie in my huis. Dis eintlik goed, want met die weer lees daarvan het ek meer perspektief gehad. Die boek is met groot woede geskryf. Dit is losweg op my lewe gegrond. Ek het die manuskrip toe ná 20 jaar weer ingestuur vir publikasie en het elke keer geys as daar ‘n pakkie vir my kom – natuurlik met die verwagting dis my boek wat weer afgekeur is en teruggestuur word. Maar gelukkig is dit toe aanvaar en ek was baie opgewonde daaroor.

Het jy verwag dat Kroes en die opvolg, Die val van die dice, so goed sou doen?
Ek was verras dat Kroes so goed ontvang is. Dis eintlik ‘n baie eenvoudige storie en dat dit toe op die planke gebring is, slaat my dood! Die opvolg is ook goed ontvang. Ek verwag altyd die ergste tot ek die keurdersverslag kry en besef die boek gaan regtig die lig sien. Ek dink nie uitgewers besef altyd hoe intens dit vir ‘n skrywer is om kritiek op sy werk te kry nie. Die biografiese materiaal in my verhale maak dit erger. Dit word nooit makliker nie – mense wil maar alles weet.

Beplan jy om weer oor Pattie te skryf?
Ek hoop nie so nie. Al my derms is al uitgeryg en daar is nie meer oor nie.

Jou nuwe boek, Die Portier, speel hom af in ‘n hospitaal. Hoekom juis daar?
Ek het jare in ‘n hospitaal gewerk, op die skakelbord. Almal daar het my aangemoedig om ‘n hospitaalstorie te skryf. Dit was ‘n fantastiese plek om te kon werk, want daar is so baie stories daar. Mens weet nie waar om te begin nie. Dit was vir my moeilik om oor ‘n man te skryf, want mans praat mos nie soos vrouens nie. Die naam was vir my maklik om te kry, Max, en ek moes toe besluit in watter agtergrond om hom te plaas. Wat sou hy doen vir ‘n werk? Ek weet niks van dokter wees nie en het besluit om hom ‘n rol as die portier te gee. So kom hy dan met ‘n verskeidenheid van karakters in aanraking, gewone mense en professionele mense. En hy het toegang tot verskillende dele van die hospitaal. Ek verneuk eintlik so bietjie met my karakters, want ek moes regtig nie sterk soek na die karakter van Pattie nie. En weer eens met Max, hy het amper vanself na vore getree uit die hospitaalagtergrond.

Max het ‘n “kopsiekte”?
Ja, hy lei aan obsessiewe kompulsiewe gedrag. Ek het baie nagevors op die internet daaroor en het ook met ‘n goeie vriendin, wat ‘n sielkundige is, gesels oor die siekte. Max is eintlik ‘n baie lenient geval, en sy siekte skep baie moontlikhede vir die ontwikkeling van sy karakter.

Die boek is uit twee oogpunte vertel, die van die portier, Max, en van die matrone, Mara. Waarom?
Toe ek in die hospitaal gewerk het, het ek altyd ‘n goeie verhouding met die matrones gehad. Ek het gedink dit sal lekker wees om ‘n ander stem in te bring as net Max s’n. Dié van ‘n matrone was perfek, want sy kon gaan waar Max nie kon nie. Max se perspektief is die belangrikste in die boek, maar Mara gee die professionele perspektief. Sy kon in gesprek tree met die dokters en ander mense en so agtergrond skep vir baie dinge waarmee Max op ‘n ander vlak te doen het. Dan is daar ook ‘n ander gemeenskaplike draad wat hulle bind. Dit kom mettertyd na vore in die storie.

Jy verpersoonlik Max se ma as Cinder-ella. Waarom dié beeld van haar?
Max se verhouding met sy pa is maar stormagtig en ek moes êrens ‘n anker in sy lewe bring. ‘n Ma speel ‘n belangrike rol in ‘n kind se lewe. Ek het gedink sy sal hom sagter maak en meer afrond, al is hul storie ‘n bietjie hartseer. Die grootste hartseer in Max se lewe is dat hy nooit met sy ma kon praat oor die kas-episode nie. Dit was maar ‘n klein deel van die oorsaak van sy toestand. Daar is nie ‘n blueprint vir ma’s oor hoe hulle kinders moet grootmaak nie. Die cinder van Cinder-ella verwys eintlik na die vlietendheid van bestaan ook – die een oomblik was sy ma nog daar en deel van sy lewe. En dan is sy weg.

Die karakters Ouboet en Otto speel ‘n groot rol in Max se lewe. Waarom kan Max nie met Ouboet praat nie, maar wel met Otto?
Ten spyte van Max se naby-verhouding met Ouboet was dit vir hom moeilik om oor sy intieme gevoelens en vrese met Ouboet te praat. Daarvoor moes hy na ‘n sielkundige gaan en dis waar Otto in die prentjie kom. Tussen hom en Otto is ‘n onpersoonlike verhouding en hy kan daar sy hart uitpraat. Mens raak bewus daar is iets wat hulle bind, maar weet eers aan die einde van die boek wat dit is. Max het afstand nodig gehad van baie van die dinge wat in sy lewe gebeur het. Otto is die brug waardeur Max by Ouboet uitkom en uiteindelik ook by homself.

Verhoudings is weer sentraal in die boek, nes in jou vorige boeke, nè?
Max se verhoudings ís die storie. Sy verhoudings gaan oor vergifnis en verdraagsaamheid. Vergifnis teenoor sy ma, teenoor homself en uiteindelik teenoor sy pa. Veral toe hy onthou dat sy pa tog eintlik regdeur sy lewe daar was vir hom. Verdraagsaamheid teenoor ander mense oor sy siekte, maar ook die ander karakters se verdraagsaamheid teenoor Max – juis oor hy obsessief kompulsief is en nie in ‘n vakuum funksioneer nie. Max se verhoudings is moeilik – veral met sy pa. Sy pa was anders, maar dit maak hom nie noodwendig verkeerd en onaanvaarbaar nie. Ouboet was Max se ander anker, om te help om hul pa se skerp kant te slyp. Dan, Max en die meisies – ek het hom so jammer gekry. Hy is maar ‘n versigtige ou en raak nie sommer vinnig betrokke by ‘n meisie nie. Sy siekte maak dit ook moeiliker om uit te reik, omdat hy ruimte nodig het. Dis iets wat ons almal sal verstaan.

Is jy besig om aan nog iets nuuts te werk?
Ja, ek skryf ‘n verhaal oor ‘n mishandelde vrou en die positiewe groei waardeur sy daarna gaan. ‘n Baie moeilike verhaal.

Wat lees jy?
Ek lees enigiets, maar as ek ‘n boek begin en die storie boei my nie dan lees ek dit nie verder nie. Ek het Amy Tan se The Bonesetters Daughter geniet, Memorandum van Marlene van Niekerk, Alles Mooi Weer van Karin Cronjé en ook Arundhati Roy se The God of Small Things. Ek is nou besig om Frats van Chris Karstens te lees.

Wat doen jy vir ontspanning?
Om te skryf is vir my ontspanning!

* ‘n Kortverhaal van Pat is opgeneem in SARIE 40 flitsverhale, ‘n bundel SARIE-verhale saamgestel deur André le Roux, wat in Junie by Human & Rousseau verskyn.

  • Helene

    Ek sien baie baie uit na hierdie boek. Pat skryf vir my baie mooi.

  • Sheridene Louw

    My naam is sheridene en ek het ook laat begin skryf. Op skool was ek ook baie lief vir opstelle en gedigte skryf. Ek het n boek en kortverhale wat gepubliseer moet word. Ek wonder of julle my dalk kan help.

  • Leonie

    Uit Auckland NZ,"die portier" is deur my skoonsuster Sarie gestuur aangestuur, vreemd om Afrikaans te lees, maar dit baie geniet, sien uit om Kroes te lees.Hoe my oog oop vir nog van Jou boeke, die portier baie geniet

  • Elize

    Wanneer kan die volgende boek verwag word? Ek het nou reeds vir die tweede keer deur al die boeke gelees en geniet haar skryfwyse en gemaklike manier om moeilike issues oor te dra!
    Ek kan nie wag vir die volgende boek nie!
    Groete, Elize