Peter Veldsman FOTO: Facebook

Peter Veldsman FOTO: Facebook

Boeke

Peter Veldsman is ’n legende in die Suid-Afrikaanse koswêreld

Peter Veldsman is sinoniem met die wêreld van kos, as bekroonde kosskrywer en as sjef en restauranteienaar van die restaurant, Emily’s in Kaapstad.

Uit sy pen het elf kookboeke verskyn en nou het hy ’n boek geskryf waarin hy sy “herinneringsreise van ’n fynkok” deel. In Wat die Hart van Vol is (Penguin, R230) wat hy saam met Elmari Rautenbach geskryf het, vertel Peter dinge uit sy lewe, oor mense en oor kos. Van die herinneringe is amusant en vermaaklik, en ander laat jou met heimwee terugkyk na sy herinneringe van die lewe in vervloë dae. Dis verstommend met hoeveel detail Peter spesifieke etes weergee, van die geregte wat voorgesit is, die wyn wat daarmee saam gedrink is, en hoe die kos ontvang is. Hy skets vir jou ’n prentjie van plekke en gebeure soos dit in sy lewe uitgespeel het. Daar is kindertyd herinneringe, dinge wat gebeur het wat hom die mens gemaak het wat hy is. Hy skryf ook oor sy seksualiteit: “Intussen het ek geen geheim daarvan gemaak dat ek tot die kategorie van “andersheid” behoort nie. Maar ek het ook nie daarmee te koop geloop nie. Ek het deur geen wroeging gegaan nie en kon dit selfs met my sin vir godsdiens vereenselwig.” Sy liefde vir dit wat vir hom belangrik is, skemer duidelik deur in hoe hy daaroor skryf. Altyd is kos die spilpunt van die onthoureis.

In die SARIE Kos, Oktober/November 2016 is ’n uittreksel uit Wat die Hart van Vol is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Peter het per e-pos ’n paar vrae oor sy boek beantwoord.

Hoe lank het dit jou geneem om jou die boek te skryf?
Die skryf het ses maande geduur, die redigering deur Elmarie ’n verdere drie maande. Sy moes ongeveer 35 000 woorde sny, want ek het te veel geskryf! Ek wou eers sekere kosaspekte as hoofstukke neem sodat ek dele van my persoonlike lewe kon weglaat, maar het toe, na ernstige refleksie, besluit om liewer alles te skryf – maak nie saak of ek dalk sommige mense aanstoot mag gee nie.

Hoe onthou jy alles so van kindertyd af? Of het jy dagboek gehou in jou lewe?
Ek het ’n selektiewe geheue; dit wat ’n jaar of wat gelede gebeur het, onthou ek minder helder as dit wat 70 jaar gelede gebeur het. My kinderjare op die plaas was so wonderlik dat ek selfs nou nog sekere woorde, besoeke van gaste ens. helder onthou.

Het jy ’n geskrewe resep van jou ouma se bloedwors gehad, of is dit by oorlewering wat jy dit onthou? En al die ander etes waaroor jy skryf, hoe onthou jy die detail?
Om die een of ander rede het ek genoeg insig in kos om ’n resep te realiseer wanneer ek iets proe. My Ouma se bloedwors resep het ek net gedeeltelik onthou, maar ek kon my ma daaroor raadpleeg toe ek dit destyds in ’n artikel in SARIE oor Ladismithse kos gebruik het.

Jy skryf dat die plattelandse bestaan deur ure bepaal is. Word jou lewe steeds deur ure bepaal?
“Ure, dae, jare … gaan deur skadudrome heen …” Die woorde van ’n ou gesang. Kleintyd was dit die daaglikse roetine van die plaaslewe, tienertyd my koppige ontkenning van die soort dissipline, daarna die “deadlines” van etes betyds voorsit, artikels se sperdatums, die geweldige en ergste dissipline van restaurateur wees (en die lang werksdag; min of meer 16 uur per dag, ses dae van die week) en nou? Geen ure, geen deadlines nie – dis nogal gevaarlik: ek raak lui en gemaklik.

Jou verhouding met jou pa was maar stram. Jy skryf baie kortliks daaroor in die boek. Het jy vrede daaroor?
My Pa was meer aangetrokke tot boeke (iets wat ek van hom geërf het) as tot mense. Hy was ietwat van ’n introvert – ek beskryf die dag toe hy my te lyf gegaan het en weens sy oorweldige liefde vir my ma, buite homself my halfdood geslaan het. Dit het ’n verwydering veroorsaak, maar nie ’n afkeur nie. Ek het later verstaan. Kort voor sy dood kon ons hieroor praat en het ons mekaar gevind.

Jy verwys baie na musiek in die boek. Wat is die waarde van musiek in jou lewe?
My oudste (eerste herinnering) is daar in die omgewing van min of meer twee jaar (dalk 3?), die tyd wat kindertjies bewus raak van dinge en dit onthou – toe my oupa vir my op die viool “O Boereplaas” gespeel het. Iewers in my bloed was daar ’n behoefte aan goeie musiek, want toe ons ’n radio gekry het, was ek deur klassieke musiek betower. Musiek is my tweede passie na kos en wyn, en ek luister daagliks na etlike ure se musiek.

Jou weggaan by SARIE toe ’n nuwe redakteur aangestel word, was dit moeilik ná jy soveel jare deel was van die tydskrif?
Ek het snaaks genoeg daarna uitgesien om saam met Bakkies te werk. Ek mis nou nog vir SARIE, dit het vir my baie beteken. Gelukkig is SARIE se kos in goeie hande. Beide Barbara en Herman doen ongelooflike kwaliteit werk en die tydskrif is, wat my betref, steeds die nommer een op kosgebied.

Uit die boek blyk dit dat jy ’n baie sosiale persoon is en maklik vriende maak. Is dit so?
Ek is ’n sosiale persoon, maar maak baie min diep vriendskappe. Die wat ek wel in my lewe gemaak het hou vir ’n leeftyd. My vriende, die Ponte van Pretoria en ek is langer as 50 jaar bevriend. So ook met ’n tiental ander. Kwaliteit vriendskappe is vir my belangrik.

Jy skroom nie om te skryf oor jou seksualiteit nie, maar in jou jong dae moes dit seker baie moeilik gewees het.
Ek het nooit ’n issue hieroor gehad nie, het nie daarmee te koop geloop nie, het dit nie verbloem nie en het vrede daarmee. Ek is oortuig daarvan dat dit nie onbybels is nie en as gelowige hou dit nie vir my probleme in nie. Ek is nie van plan om te trou nie. Daar is geen geliefde in my lewe nie, al vir dekades, en die kerk se trouprobleme is vir my belaglik. Trou die mense wat wil trou en basta! Gelowiges se eerste keuse is die liefde vir God en die liefde vir jou medemens.

As mens betrokke is in die wêreld van kos, hoe belangrik is reis in mens se lewe?
Om te reis is om te lewe. Elke reis is ’n verkenning en ’n verbreding.

Wat is die ongewoonste ding wat jy al moes eet?
Baba palings, so half lewendig. Ek kon nie. Ek kon ook nie slangbloed drink nie en mopaniewurms is nie vir my ’n eetervaring nie.

Gunsteling-bestanddeel om mee te kook?
Porcini’s, goed ryp gemaakte vleis, vars jong groentes, ryk romerige kase, troefels, snaaksighede uit die see, veral seepampoentjies, kreef, garnale, perlemoen … Te veel om te noem. Room, botter, alles wat vet maak!

Jou gunsteling-stad is Parys, maar wat is die een ding wat in jou kop opkom as jy die woord Parys hoor?
Die Saint Chapelle, daardie magiese plek waar ek Parys se geskiedenis beleef en deel van voel.

Waarvoor wil jy graag onthou word?
As ’n geslag of twee van nou af nog Afrikaans lees en iewers is ’n argief of biblioteek my beheptheid met kwaliteit kos vir my landgenote raaklees. Ek het probeer om ’n wegwyser te wees na groter kosbetrokkenheid in ’n tyd toe mans nie gekook het nie en hul liewe vroue ’n beperkende repertoire gehad het omrede hulle hul konserwatiewe manne tevrede wou hou. Dit was ’n geveg om na kos te beweeg, weg van reseppies. Die groter, wyer prentjie se fondamente het nie sonder die inboet van gewildheid gepaard gegaan nie.