petina
Boeke

5 Boekminute met Petina Gappah

In haar verhale beskryf sy haar karakters met wrangheid en humor en ten spyte van die guurheid oor die land wat deurskemer, is daar tog positiwiteit in die stories. Sy bewonder die veerkragtigheid van die Zimbabwiërs om terug te bons en glo dat humor help om die tragiek van gewone mense se situasies te verlig.

Waar het jy grootgeword?
Ek is in Zambië gebore en is op nege maande terug na die ou Rhodesië saam met my ouers. Ek het as kind die onafhanklikheidsvieringe van Zimbabwe beleef. Die omwentelinge in die politiek het ons land se geskiedenis verander en ten spyte van my jeug kon ek die veranderinge in mense se lewens sien. Ons het ná onafhanklikheidswording vanuit die township in Salisbury na ‘n woonbuurt, Cotswold Hills, verhuis. Dit was absoluut wonderlik. Vir die eerste keer was ek in ‘n skool waar ons net 24 kinders in ‘n klas was en nie 48 leerlinge wat moes deel nie. En ons het ‘n biblioteek gehad. Dit was my idee van die paradys, want ek is mal oor lees.

Waar kom die liefde vir lees vandaan?
My ouers het ons altyd aangemoedig om te lees, nie noodwendig vir die plesier daarvan nie, maar sodat ons ‘n beter opvoeding kon kry. Toe ek klein was, is ek een keer amper deur ‘n motor omgery. Ek het die gewoonte gehad om agter my ma te loop met my neus in ‘n boek. My ouers was woedend en het my vir ‘n hele maand die biblioteek verbied. Dit was die ergste straf wat hulle my kon gee. Gelukkig was daar ‘n tweedehands-boekwinkel waar ek baie keer in die boeke gaan staan en lees het. Die ou tante wat daar gewerk het, het my maar verduur. Ek dink sy het van my straf geweet!

Wanneer het jy begin skryf?
Op skool reeds. Dit was ‘n uitvloeisel van my leesgewoonte. Ek het hoofsaaklik drie goed geskryf – gedigte à la Ogden Nash; ‘n klein novel met die naam Return to Planet Earth (oor strafkolonies op Mars en hoe die inwoners geplot het om met ‘n vuurpyl terug te kom aarde toe) en ballet-stories. Ek het self nooit geballet nie, maar was versot daarop en het graag daaroor geskryf. Dit was ‘n perfekte kinderlewe vir ‘n skrywer – ek het altyd die werklikheid verwar met dít wat ek gelees het. “Marooned on a Dessert Island” is my eerste stuk wat gepubliseer is, op Sekondêre Skool in die skooltydskrif.

Jy het regte studeer?
Skryf was nooit ‘n opsie as ‘n beroep nie. Ons is altyd skool toe met die idee om ‘n opvoeding te kry en dan ‘n beroep daarna. Ons moes iéts word. En ek het myself nooit as ‘n skrywer gesien nie, want ek het nie geweet dis ‘n beroep nie. Ek het geen vrou in Zimbabwe geken wat voltyds geskryf het nie.

Ek het altyd die verhale van ‘n manlike skrywer uit Zimbabwe gelees en was verlief op sy werk. Maar hy het oor sy woede, prostitute en sulke onderwerpe geskryf. In 1992 het ek kennis gemaak met die werk van Tsitsi Dangarembga, Nervous Conditions, en het my geweldig vereenselwig daarmee. Die boek is in Zimbabwe verban, maar na Feminist Press dit in London uitgegee en dit ‘n hit geraak het, is dit uiteindelik in Zimbabwe ook uitgegee. Dit was aardskuddend vir my, want ek het myself in haar hoofkarakter herken.

Ek was altyd aan die skryf, reg deur my studiejare. Ek het toe ‘n aktivis geword, wat die wêreld wou verander. Ek het in 1994 afstudeer en is in 1995 Oostenryk toe om verder te studeer. Ek wou ook nog ‘n taal aanleer en Duits het gepas gevoel, omdat so baie mense dit praat. Ek is daarna Cambridge toe om in Internasionale Handelsreg te studeer en is eindelik vir my Ph.D terug Oostenryk toe. Ek en my seuntjie, Kush, woon tans in Switserland.

Wat behels jou regsberoep?
Ek doen legal aid vir organisasies in ontwikkelende lande ten opsigte van handelsbetrekkinge. My beroep beskerm my teen die effe vreesaanjaende wêreld van om ‘n gepubliseerde skrywer te wees. Ek wil nooit hê my bestaan moet afhanklik wees van boekverkope of resensies nie. Ek wil altyd ‘n mate van beheer hê. Ek is angsbevange oor mislukking, maar méér nog oor sukses. Sukses beteken mense verwag elke keer meer van jou. Ek besef my volgende boek word met afwagting ingewag en mens trek partymaal vreemdelinge aan wie se grootste hoop is dat mens misluk. Ek het wel ‘n paar vriende verloor na die publikasie van my kortverhaalbundel. Dit was te wagte. Soms is mense ongelukkig in hulle eie lewe en kan dan nie verduur wanneer iemand anders gelukkig en suksesvol is nie.

Gaan jy terug Zimbabwe toe?
Ja, elke jaar om vir familie en vriende te kuier.

Jou gevoelens oor jou tuisland?
Ek kan nie sê dat ek sterk emosionele gevoelens oor Zimbabwe gehad het as kind nie. Dit was maar waar ons gewoon het. Eers in my tienerjare toe ek die geskiedenis van ons land begin leer het, het ek vir die eerste maal ‘n sterk gevoel van trots in ons jong onafhanklike land begin ontwikkel.
My gevoel oor Zimbabwe skryf ek nou uit in my verhale en rubrieke. Ek lewer baie sosiale kommentaar op die situasie daar. Die feit dat ek nie daar woon nie, maak my meer objektief en krities. Omdat ek so baie reis, kan ek ook vergelykings tref oor sake soos vroue- en kinderregte. Ek is baie krities oor hoe vroue in Zimbabwe behandel word en keur glad nie die gebruik van small houses goed nie. Dis wanneer ‘n man getroud is met ‘n gesin, maar hy het ‘n houvrou wat hy in ‘n ander huis aanhou en versorg. Dis ook ‘n skreiende skande hoeveel ma’s nog hulle dogters aan mans verkoop.

Die naam van jou boek is die naam van een van die verhale. Waarom dié spesifieke een?
Ek wou dit eintlik “Tenacity of a Tree” noem – dis uit die aanhaling wat ek voorin my boek gebruik. My redakteur en ek het egter besluit om “An Elegy for Easterly” te gebruik, omdat ek wou skryf oor ‘n gemeenskap onder beleg – ons viktimiseer onsself dikwels. Mense kan aaklig wees teenoor mense in hul eie gemeenskap. Dit is nogal ‘n onderliggende tema in van my verhale. Ek is ‘n waarnemer van mense, hulle gedrag en mannerismes. Dit staan sentraal in my stories.

Hoe begin ‘n storie vir jou?
Ek luister mense af (op ‘n goeie manier!) en só steel ek nogal idees by baie mense. ‘n Storie begin dikwels met ‘n momentele flits. Dit kan iets wees wat ek hoor of dit kan ‘n opskrif in ‘n koerant wees: “Man danced himself to death”, wat my verbeelding op loop sit. Terselfdertyd was daar ‘n berig oor ‘n skoenfabriek wat toegemaak het en die eienaar wat mense skoene gegee het in plaas van ‘n ordentlike pensioen. Dit het my laat dink oor te klein skoene. Ek lag oor die man wat homself doodgedans het, want dis tragies en komies, maar dan begin ek in my kop uitbrei en aanlas en kombineer. So kom ek uiteindelik met al hierdie elemente by ‘n volwaardige storie uit soos The Mupandawana Dancing Champion.

Hoe voel jy oor resensies?
Ek leer uit party. Maar ek ondervind ook dat mense soms dinge in my verhale lees wat nie daar is nie.

Waaraan werk jy nou?
Aan my eerste volwaardige novel, wat volgende jaar Augustus gepubliseer sal word. The Book of Memory begin met ‘n moordenares in die tronk wat haar verhaal aan iemand skryf. Dis ‘n eerstepersoonsvertelling. Ek wil die boek skryf as ‘n slow revelation. Jy weet, amper as ‘n why done it, nie ‘n who done it nie, want jy weet reeds aan die begin wie die daad gepleeg het.

En daarna?
Ek weet presies wat ek in die volgende 5 jaar wil skryf:
*’n Bundel kortverhale wat in Switserland afspeel, wat handel oor dislocation, iets wat almal voel.
*’n Boek oor David Livingstone.
* my volgende boek oor Zimbabwe sal amper ‘n tipe rip-off wees van Jane Austen se “Persuasion”, waar ‘n basiese element in ‘n ander perspektief gestel word. Ek is mal oor daai storie en ek dink so iets sal binne die konteks van Zimbabwe pas.
* ‘n Baie groot roman wat ek sal skryf wanneer ek voel ek het die nodige gereedskap om dit aan te pak.

Petina se boek, An Elegy for Easterly kan bestel word by www.kalahari.net