Boeke

Phyllis Green gesels oor boeke op RSG

SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, gesels vanaand om 20:00 op RSG se Skrywers en boeke oor haar gunsteling-boeke van 2016.

Hoe kies ’n mens net ’n paar gunsteling-boeke uit die duisende wat elke jaar verskyn? Vir my is dit altyd moeilik, maar ek kyk na watter verhale ’n blywende indruk op my gemaak het. Daardie boeke kom op my lysie. Ek gesels vanaand oor onder meer Karin Brynard se briljante spanningsverhaal Tuisland (Penguin), waarin sy ’n klomp drade op ’n fyn manier bymekaar trek om te fokus op die San se situasie in Suid-Afrika. Lees hier ’n onderhoud met haar waarin sy meer vertel oor die karakters in die verhaal.

Die skrywer wat my die meeste verras het, was Lerina Erasmus, wat ná ’n lang stilte ’n broeiende en boeiende spanningsverhaal vertel in Die leliemoordenaar (Human & Rousseau). Wat die verhaal vir my laat uitstaan, is hoe baie ek van die moordenaar, Abel, gehou het, en hoeveel empatie ek met hom gehad het, ten spyte van die vreeslike grieselrige moorde wat hy pleeg. Dis fassinerende intrige rondom gebeure wat hulle in ’n moeilike tydperk in ons geskiedenis afgespeel het, wat nou in fiksie uitgebeeld word.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Natuurlik is Deon Meyer ook op my lysie met sy ontstellende boek Koors (Human & Rousseau), oor ’n post-apokaliptiese Suid-Afrika waar “Die Koors” die mensdom soos ons dit ken, vernietig het. Die verhaal is in die vorm van Nico Storm se memoires. Hy vertel hoe hy en sy pa gaan soek na ’n veilige plek waar hulle ’n nedersetting kan vestig. Hulle kry ’n gepaste plek en gou kom daar nog mense wat deel van ’n nuwe begin wil word. Dan ontvou ’n boeiende verhaal van hoe die mens eintlik sy eie grootste vyand is, en dat gierigheid die mees edele mens kan ontspoor. Meyer skilder ’n geloofwaardige en skrikwekkende situasie en jy kan nie anders as om ingetrek te word by die gebeure – die goeie en die slegte – in Nico Storm se lewe nie.

Ook op my lysie is Ilse van Staden se Goeie dood wat saggies byt (Protea Boekhuis). Hilda is die hoofkarakter waarom die verhaal draai. Sy is ’n introvert, iemand wat nie haar ideale, versugtinge en wense hardop verwoord nie.

’n Baie groot deel van haar bewustheid speel in haar kop af en uit haar gedagtegang leer ons haar intiemste gedagtes ken. Hilda sleep jou saam op haar verhaal van gewaarwording en jy kan nie anders as om intens betrokke te voel by haar nie. Haar pyn is soms tasbaar. Die roerende vertelling oor ’n geknelde siel bly in jou kop draai lank nadat jy die boek toegemaak het. Lees ’n onderhoud met Ilse hier.

Nog boeke wat op my radar was, is 1795 deur Dan Sleigh (Tafelberg), Amraal deur Marinda van Zyl (Tafelberg), en Verlorenkop deur Celesté Fritze (Queillerie).

Lees die onderhoude met hulle:

Dan Sleigh oor 1795

Marinda van Zyl oor haar historiese roman, Amraal.

Celesté Fritze se verhaal oor ’n familie met baie geheime.