FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Pienkes du Plessis verewig sy Camino-ervaring in ’n reisjoernaal

Vir baie mense is dit ’n droom om die Camino pelgrimstog te stap. Jaarliks lok die roete in Spanje byna ’n kwartmiljoen mense.

Mense durf die staptog vir verskillende redes aan. Vir party gaan dit oor die ervaring van ’n avontuur, vir ander gaan dit oor ’n geestelike belewenis. Skrywer Pienkes du Plessis en sy vrou Lizzie het ook die staptog aangedurf, al is hulle reeds ’n entjie duskant tagtig! In sy reisjoernaal, Ons Camino, ’n Spaanse avontuur, deel hy hul ervaring met lesers. Hy beskryf dié boek so: “Die verhaal is chronologies saamgestel en bevat indrukke, mites, anekdotes en foto’s.” Al beplan jy nie om die pelgrimstog aan te durf nie, is Du Plessis se reisjoernaal ’n lees werd, want dis heerlik om dié ervaring deur sy spitsvondige skrywe en foto’s te beleef. Hierin deel hy ook uitstekende raad vir ander mense wat nog die Camino wil gaan stap. Dis ’n nuttige reisjoernaal met goeie agtergrond, asook wenke.

Hy het per e-pos ’n paar vrae beantwoord.

Lizzie en Pienkes du Plessis. FOTO: verskaf

Lizzie en Pienkes du Plessis. FOTO: verskaf

Jy en jou vrou is nie meer kuikens nie. Waarom die Camino gaan stap as mens tagtig is?
Ons oumenslywe is betreklik sterk en fiks, en ons het nie regtig erge vrese gehad om die Camino aan te pak net omdat ons tagtigers is nie, of dan net ’n paar maande duskant 80!

Daar is soveel verskillende roetes vir die Camino. Hoe het julle gekies watter roete julle wou stap?
John Brierley se wonderlike gidsboek, A Pilgrim’s guide to the Camino de Santiago, is amper die begin en die einde vir enige beginner-pelgrim. Dis ’n boek waarsonder jy nie eers ’n tree op die Camino kan sit sonder om dit nie eers rustig deur te werk nie. ’n Paar praktiese oorwegings: ’n maklik bereikbare beginpunt, ’n bewese roete met genoeg herberge, en dorpies wat soos Cervantes se wêreld lyk en voel.

Het jy elke dag dagboek gehou met die idee om ’n boek te skryf na die stap? Of het die boek eers regtig onstaan ná afloop van jul avontuur?
’n Vriendin het ’n fotoboek van haar reis gemaak, wat vir ons na ’n goeie idee gelyk het. Elke dag se dinge aangeteken en uiteindelik ’n hele joernaal bymekaar gehad, vol foto’s, ryklik toegelig met die snaaksighede van ons belewenisse.

Wat het hierdie boek se skryf vir jou anders gemaak as die van jou ander boeke?
Dit was darem net te lekker om nie nagtelank hoef rond te gerol het en ’n plot uit te sorteer nie! Ek kyk net rond na die klomp stappers om my, na die amper-middeleeuse gehuggies, en lees wat in die gidse staan, en voila! Probleem opgelos.

Was julle navorsing oor die Camino en voorbereiding raking rugsakke, stewels en ander benodigdhede in die kol? Watter raad kan jy aan ander voornemde stappers gee oor toerusting?
Soos almal maar, het ons te veel goed saamgevat. Ons waarskuwing aan voornemende stappers is eenvoudig: Jou voete se welsyn staan eerste, tweede en derde, d.w.s. skoene, sokkies, kouse, en slim pleisters teen dreigende blase. Vierde kom Lip Ice. Dan vat jy die helfte van al die ander goed waaroor hulle in die gidsboeke skryf en los dit net so by die huis.

Almal sê altyd dat dit magies is om die Camino te stap en dat dit ’n lewensveranderende gebeurtenis is. Hoe het jy dit ervaar?
Waarskynlik een van die heel groot belewenisse van ons lewens. Die kameraderie wat jy ondervind, die diep gesels, die alleen-gesels. Hoe sê mens? Wat ookal jou godsdiensoortuigings: Om die Camino te stap, is om met jou voete te bid op God se pad.

Al is jy en jou vrou al ’n leeftyd getroud is dit tog anders om onder moeilike omstadighede so staptog aan te durf. Hoe het dit jul verhouding geraak?
Ja, ná 57 jaar se getroude lewe sal daar darem sowaar groot gate in ’n huweliksbootjie moet kom voordat ons reddingsbaadjies hoef aan te trek. Dis die fisieke uitdaging, duisendes se ontberings voor jou, ’n reis van mites en wondere oor baie, baie eeue heen wat ’n huwelik net nog hegter bind. Want onthou ook: ouer mense het mekaar se hulp nodig op so ’n lang stappad. Allenig gaan jy so waar as wragtag nie die ding maak nie.

Wat was die moeilikste ding van die Camino?
n Paar lastige beserings, die swak ontbyte, en volgens Lizzie die slegte tee. Maar hoog op die moeilikheidslys was die Spaanse taal! Ja-nee, Spaans was ’n yslike berg. En jy moes hom daagliks uitklim, tot heelbo! Maar nouja, as jy so ongeskik soos Britte wil wees, dan is dit seker maklik.

Vir wie het jy die boek geskryf en wat sal jy wil hê moet hulle daaruit neem?
Aanvanklik het ek dit vir die kinders en kleinkinders geskryf, maar soos wat die fotoboek begin lyf kry het, het ek vriende en kennisse begin byvoeg. Die byskrifte by die foto’s het meer en meer geword, 20 000 woorde. Later 30 000 en uiteindelik 41 000 woorde by 87 kleurfoto’s. En toe was dit nie meer die familie se boek nie maar ’n vertelling vir ’n gehoor daarbuite wat wil meeleef en deelneem aan ’n unieke avontuur. Want ’n avontuur is dit, niks minder nie. As dit dan nie met jou lyf is nie, dan wel sekerlik met jou hart en met jou binnekantste.

Waar kan lesers die boek koop?
By die bekendste boekwinkels of direk op die aanlyn bestelvorm by www.onscamino.co.za, of selfs by pienkes@duvesco.com. ’n Koerierdiens, by prys ingesluit, bring die boek binne ’n dag tot by jou voordeur. Of tot by die deur van wie jy dit as geskenk wil stuur.

Met ons Camino sertifikate! FOTO: verskaf

Met ons Camino sertifikate! FOTO: verskaf