FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Pitkos vir die siel


Wanneer ’n nuwe jaar aanbreek, maak ek bestekopname maak van my lewe. Dis dan wanneer ek soek na pitkos vir die siel.

Ek wil dan terugkyk oor die jaar wat verby is en die goeie onthou. Dit wat sleg is, wil ek agter my sit en weet dis verby. Ek wil vorentoe kyk met hoop en optimisme en die verwagting dat die jaar goeie dinge vir my gaan inhou. My gemoed is dan vars en ek sien kans vir enigeen van die onverwagte uitdagings wat die lewe vir my voor die deur gaan lê. Die pikos vir my siel kry ek uit verskillende bronne. Soms is dit ’n paar inspirerende woorde wat my bemoedig. Ander kere is dit iemand se lewensverhaal wat my laat besef hoe gelukkig en geseënd ek eintlik is. Dikwels is dit ’n boek waarin raad gegee word, of sommer net woorde wat inspireer.

Ek is nog hier, Irene Fischer (Selfuitgegee, R220 by Graffiti Boeke)
Crash, boom, bang! En net so verander Irene Fischer se lewe vir altyd! Op 22 Oktober 2009 is Irene Fischer op pad na haar werk by OFM – dit is 05:35. By ’n kruising in ’n besige straat in Bloemfontein ry ’n vragmotor met 25 ton meel oor ’n rooi verkeerslig en vermorsel Irene se motor. Met beserings soos ’n ribbebeen wat deur haar long gesteek het, ’n geskeurde milt en lewer, sewe gekraakde rugwerwels en ’n gebreekte pelvis, sleutelbeen en regterskouer sou jy dink daar is nie ’n manier hoe iemand lewend uit die motorwrak klim nie. Maar sy het geleef, met al hierdie beserings en natuurlik die grootste besering van almal – ’n traumatiese breinbesering. Een wat haar hele regterkant van haar lyf verlam gelaat het, selfs haar tong was aangetas. Sy was nou ’n hemipleeg. Maande in die hospitaal, daarna maande in rehabilitasie, maar vandag, vyf jaar later, is Irene Fishcer op die been.
Hierdie is ’n lekker-lees-boek in Irene se stem. Jy hoor haar praat. Sy draai nie doekies om nie, sê dit hoe dit vir haar is, meng haar taal en gee jou ’n kykie in die lewe van ’n vrou ná ’n lewensveranderende gebeurtenis. Dit het my weer laat besef mens moet nie fokus op dit wat jy nie kan doen nie, maar op dit wat jy kan doen! – Alma Liebenberg

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hartsgesprekke met . . ., Marius du Plooy (Christelike Uitgewersmaatskappy, R139,95)
In die boek gesels ’n verskeidenheid mense uit verskillende velde openhartig oor hul lewens, van hul werk, drome, lewenslesse en godsdiens. Dis gesprekke met sportlui, sakeleiers, kunstenaars en ander mense. Elken het ’n inspirerende boodskap, soos Madiba wat glo mens lei met jou dade en nie net met woorde nie. Jean de Villiers glo jy moet groot droom en hard werk. Vir Shaun Pollock weer is die belangrike ding wat mense moet weet, dat “alles in die lewe gaan oor keuses.” Volgens hom kry jy energieskeppers, energietappers en energieterroriste, en dis jou keuse watter soort mens jy wil wees. So het elkeen van die gespreksgenote ’n pertinenet boodskap wat waarde toevoeg aan die leser se lewe. ’n Heerlike boek om weer en weer te lees.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hope in a ballet shoe, Michaela en Elaine DePrice (Faber & Faber, R210)
Die verhaal neem jou van oorloggeteisterde Sierra Leone na die balletsale van Holland. Mabinty Bangura beland in ’n weeshuis in Sierra Leone, nadat sy haar ouers op ’n jong ouderdom verloor. Dis nie haar enigste struikelblok nie. Sy is met pigmentasie gebore en is weens haar vreemde velkleur ’n buitestaander in haar eie gemeenskap. Maar daar was hoop, want kinders was gelukkig as hulle aangeneem word deur weldoeners en weggeneem word uit die weeshuis.
Sy word aangeneem deur die Amerikaners, Elaine en Charles de Prince en kry ’n nuwe naam, Micheala de Prince. ‘n Nuwe lewe het vir haar gewag in Amerika. Daar kan sy haar brandende droom om ’n ballerina te word, vervul, want al wat haar hoop gegee het in die weeshuis was ’n boek met ’n prentjie van ’n ballerina op.  Dit was destyds haar behoud deur die swaar dae en verlange na haar ouers as haar geboorteland se wreedheid te veel geword het. In Amerika het sy ook die lelike sy van rassisme ervaar, maar ook die warmte van die mensdom.
Haar verhaal is een van deursettingsvermoë, veggees, dryf en passie deur ’n jong meisie wat haar nie laat onderkry het deur die stampe en stote van die lewe nie.  As ’n mens dink die lewe is onregverdig, moeilik en skuld jou iets bewys hierdie boek jy kan enige iets oorkom en jou drome bereik – ’n gepaste titel ”Hope in a ballet shoe.” – Liesel Pienaar

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Last Road Trip, Gareth Crocker, (Penguin, R220)
Jack Everton is ’n tyd gelede deur Paul Edwards gevra om ’n brief voor te lees op sy begrafnis. Die kernboodskap van die brief laat Jack en vier vriende besef dat dit nooit te laat is om te doen wat jou gelukkig maak nie. Dit ruk al die inwoners van die aftreeoord om te besef dat hulle op geleende tyd is. Hulle besluit om voluit te leef in die tyd wat nog oor is. Jack lig Arnold, wat die aftreeoord bestuur, in dat hy, Rosie, Lizzie, Sam en Albert vir ’n paar weke op ’n toer gaan. Arnold weier dat Albert saamgaan omdat hy te swak is en oorgeplaas gaan word na die versorgingseenheid vir verswaktes. Vroeg die oggend voor die oorplasing moet plaasvind ‘ontvoer’ hulle vir Albert en verlaat die aftreeoord.
So begin ’n avontuur van ’n leeftyd met wedevaringe van die Kruger Nasionale Park tot in Kaapstad. Dié wonderlike boek, met skerp humor en gebeurtenisse wat jou laat skater van die lag, laat jou soms ook ’n traantjie wegpink. Dis ’n inspirerende boek wat jou herinner aan die vlietendheid van die lewe. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Map of Heaven, Dr. Eben Alexander (Little Brown, R310)
Dis die tweede boek deur Dr. Eben Alexander oor die hiernamaals. Geskoei op sy eie nabydoodse ervaring, vertel die boek die verhaal van talle ander mense met soortgelyke ervarings. As neurochirurg was Alexander ook ʼn skeptikus wat logiese en wetenskaplike bewyse wou hê, voordat hy in die bestaan van ʼn God kon glo. Sy eie ervaring het egter daardie houding omgekeer.
Die boek begin deur lig te werp op die filosofieë van Plato en Aristoteles en hoe dit aansluit by Alexander se siening. Sewe hoofstukke fokus op sewe gawes naamlik kennis, betekenis, visie, krag, om te behoort, sowel as vreugde en hoop. Dwarsdeur die boek word anekdotiese verhale vertel van mense wat ʼn blik op die hiernamaals gehad het. Alexander se eie ervaring loop soos ʼn goue draad deur die boek. Die boek bied egter nie ʼn konvensionele blik op die hiernamaals nie. Diegene wat verwag dat ʼn lansie vir die Christendom gebreek gaan word, sal teleurgesteld staan. Volgens Alexander lei alle gelowe na ʼn lewe in die hiernamaals en hy praat van God as “Om”. Die boek is goed geskryf, maar dis gerig op oopkop lesers met ʼn alternatiewe siening oor geloof.   – Anne Marais

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Op soek na Jesus, Neels Jackson (Christelike Uitgewersmaatskappy, R139,95)
Dis die aangrypende verhaal van Johannes, die hoofkarakter wat ook ʼn joernalis is. Alhoewel hy in die siniese omgewing van ʼn koerantkantoor werk, is hy oop van oortuiging. Dis juis hierdie eienskap wat hom aanspoor om die waarheid aangaande Jesus op te spoor. Die leser word teruggeneem na die tyd toe Jesus geleef het. Deur hierdie verhaal word elkeen wat die boek lees, ʼn intieme toeskouer van Jesus se lewe. In Johannes se gesprekke met sy dogter Miriam word kritiese vrae gevra en Johannes vind uiteindelik die antwoord wat vir hom vrede gee.
Neels Jackson is ʼn deurwinterde joernalis. Hierdie boek is die antwoord in ʼn tyd wat baie vrae gevra word rondom Jesus en Sy bestaan. ʼn Goeie leeservaring wat ook geestelik verrykend is. Genotvol, aangrypend en potensieel lewensveranderend . . . – Anne Marais      

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Heiligmaking- God se oproep tot ’n lewe van vervulling, Johan Malan (Lux Verbi, R160)
Almal moet eendag voor God se troon verskyn. In die Bybel sê God: “Wees heilig, want ek is heilig” (1 Pet 15-16). Volgens Malan is heiligmaking die aflê van die ou sondige natuur met behulp van die krag van die Heilige Gees. Hy wys hoe en bespreek breedvoerig al die aspekte van heiligmaking ten einde gelowiges toe te rus vir ’n lewe van vervulling.

Al hoe meer kerke en kweekskole verwerp egter heiligmaking, hulle beskou heiligmaking as beloning vir jou goeie dade. Malan daarenteen, maan dat die leer van heiligmaking ernstig opgeneem en nagestreef moet word as deel van die beloning wat Christene op die oordeelsdag gaan ontvang; die krone in Openbaring word bespreek.

Hy waarsku ook dat die Wederkoms van Christus naby is.

Malan het die Bybel baie deeglik nagevors, talle aanhalings uit die Bybel staaf alles wat hy skryf, maar die boek mag dalk nie in almal se smaak val nie. – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Bloedmaan Profesie, Mark Hitchcock (Struik Christelike Media, R169,95)
Is Jesus se Wederkoms voor die einde van die jaar?
Hitchcock bespreek Hagee se boek oor die bloedmane in 2014 en 2015 wat met Joodse Feeste saamval en waarin Hagee beweer dat alles vir ewig gaan verander.

Hitchcock verskil van hom en beweer dat die geskiedkundige getuienis vir die bloedmaan-profesie nie oortuigend is nie. Die vierde bloedmaantetrade is nie die Wederkoms nie, maar mag dalk, soos die vorige drie, belangrik vir Israel wees.

Wêreldgebeure tans dui wel op Bybelse profesieë wat waar word. Vir die eerste keer sedert 135 nC is daar nou meer Jode in Israel as op enige ander plek in die wêreld – byna 6 miljoen!

Volgens die skrywer moet die wegraping van alle Christene voor die Wederkoms plaasvind, en die finale eindtyd sal eers amptelik aanbreek wanneer die antichris ’n vredesooreenkoms vir sewe jaar met Israel aangaan (Daniël 9:26-27).

’n Baie interessante boek! – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Geheim van die Shemitah, Jonathan Cahn (Struik Christelike Media, R169,95)
Is dit moontlik dat ’n 3 000-jaar oue geheim agter al die groot Amerikaanse sosio-ekonomiese rampe skuil? En ook bepaal wat nog wêreldwyd gaan gebeur?

Cahn is ’n leier in die Messiaanse beweging – Jode wat hul geloof in Yeshua, d.i. Jesus as die Messias bely.

Elke sewende jaar is ’n Sabbatsjaar (Shemitah) tot eer van die Here, die grootste gedeelte van die komende Shemitah val in 2015.

Amerika was godvresend maar nie meer nie, en is herhaaldelik gewaarsku!

Die grootste aandelemark-ineenstortings in Wallstraat se geskiedenis het in die verlede tydens die Shemitah gebeur.

Hierdie Shemitah is die sewende en laaste van ’n Jubileum-reeks volgende jaar vanaf laat 2015 tot laat 2016 en kan moontlik tot die Oordeelsdag lei.

Cahn sien wel ’n duidelike patroon wat goed inpas met die Shemitah-siklusse van Levitikus 25, maar God se tyd is nie ons s’n nie. Niemand weet nie.

Veiligheid in hierdie dae kan net in Jesus gevind word.   – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Love from Heaven, Lorna Byrne (Coronet, R210)
Liefde is die kragtigste begrip in die wêreld, skryf Byrne. Dit kom van die hemel en van jou siel. Liefde maak die lewe die moeite werd.

Sy sien en gesels die hele tyd met engele. Volgens haar is alle pasgebore babas suiwer liefde, maar van die ouderdom van 10 jaar sluit meeste mense liefde uit hul lewens.

Sy sê God laat nie toe dat ons hierdie liefde vernietig nie. Haar raad is dat jy jouself moet liefhê want dan het jy meer selfvertroue en is gelukkiger, en slegs dan kan jy ander mense ook liefhê. Almal het ook beskermengele en Byrne gesels gereeld met haar beskermengel, hy beantwoord haar vrae wat sy aan haar leser oorvertel.

Haar roman bevat wel sommige waarhede, maar haar stellings is eintlik baie vergesog. Sy herhaal haarself baie en haar eentonige skryfstyl vloei nie regtig, sodat dit jou aandag hou nie. Nogtans is sy as internasionale top-verkoper bekroon. – Linda Volschenk