FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Plekke om heen te reis, dinge om te doen

Reis is vir my seker een van die lekkerste tydverdrywe wat daar is.

Daardie reise per motor, die agterpaaie wat soms nie eens op kaarte aangedui is, dit maak my opgewonde. Ek wonder altyd wat gaan ek ontdek op daai klein plekkie wat ek nog net oor gelees het in boeke. Ja, hoor ek julle mymer, maar wat van die teleurstelling omdat dit nie in die werklike lewe is soos wat jy gedink het dit gaan wees nie. Vir my maak dit nie saak nie. Die ontdekkingstog is die ding wat saak maak. En elke plek het sy eie misterie, hoe vaal dit ook al op die oppervlak mag lyk. Krap net bietjie vir die storie oor die dorp se mees eksentrieke inwoner, of besondere besienswaardigheid. Iemand gaan jou in ’n rigting stuur en jy sal tog iets beleef. As jy nie in jou motor kan spring om te gaan reis nie, reis maar saam op jou sofa wanneer jy deur een van hierdie week se boeke blaai.

Road Tripping with Justin Bonello, Helena Lombard (Penguin Random House, R290)
Eintlik is dit ’n kookboek eerder as ’n reisboek. Maar soos met Bonello se vorige boeke is dit meer as net ’n blote boek vol resepte. Dis ’n boek met heerlike stories oor die plekke waarheen hy en sy vriende gereis het, toeganklike resepte en fantastiese foto’s. En boonop is daar ’n wonderlike lys met musiek wat hy aanbeveel vir hierdie reis! Helena Lombard skryf in Justin se gemaklike geselstrant en daar is heerlike brokkies inligting oor die bestemmings in Suid-Afrika en Namibië wat deel uitmaak van hierdie kosreis. Sy wenke oor kampbenodigdhede maak ook interessante leesstof. En as jy gedink het jy gaan net oor braaivleis lees, dan maak jy ’n groot fout. Dis verstommend wat jy alles op ’n vuur kan gaar maak. Daar is ’n heerlike die samesyn wat in hierdie boek deurskemer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wild Weekends, Claire Keeton en Marianne Schwankhart (Bookstorm, R221)
Dié handige gids bespreek 34 naweek-bestemmings en avonture iewers in Suid-Afrika. Die boek word verdeel in naweek en aktiwiteite. By naweek kan jy beskrywings lees oor die plekke en wat die skrywers aanbeveel jy daar moet doen. Of jy kan aktiwiteite kies en dan lees oor die dinge wat die twee skrywers daar gedoen het en dit wat jy kan ervaar. Die skrywers het elke bestemming en aktiwiteit self beproef. Die aktiwiteite strek van rotsklim, snorkel en skubaduik, visvang, perdry tot goed wat jou adrenalien sal laat styg. Sommige van die aktiwititeite mag dalk bo jou vuurmaakplek wees, maar daar is werklik iets vir almal in hierdie gids. ’n Wye verskeidenheid dinge waaroor geskryf word, maak dit maklik om een te vind wat gepas is vir jou behoefte en vermoë.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Weekend Trails in the Western Cape, Mike Lundy (Tafelberg, R170)
Eenvoudig, toeganklik en met alle relevante inligting wat jy nodig het om naweek-staptogte aan te pak. Lundy skryf onderhoudend oor die gemiddelde staptyd, die beskikbaarheid van water, sowel as praktiese raad oor veiligheid en weerstoestande, alles aangevul met historiese staaltjies en natuur notas oor elkeen van die roetes. Ek is nie eers ’n naweekstapper nie, maar dié skrywer het my beïndruk met sy kennis oor watter skoene, rugsakke, slaapsakke ens. die mees praktiese is. Sy aanbevelings maak selfs vir my sin. Ek het baie geleer en dis beslis ’n baie bruikbare boekie vir enigeen wat daaraan dink om ’n staptog aan te pak. Dis ook klein genoeg om saam te dra in ’n rugsak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Things to do in moer & gone places, Jacques Marais (MapStudio, R220)
Vir mense wat heeltemal wil wegbreek van die beskawing gee hierdie gids vir jou inligting oor 102 bestemmings in al ons provinsies, sowel as Zimbabwe, Botswana, Namibië, Lesotho, Swaziland en Mosambiek. Marais skryf waarom jy hierdie plekke moet besoek en wat daar te doene. Hy het dit so onderhoudend geskryf dat jy dadelik in jou kar wil spring en een van die bestemmings deur sy oë ontdek. Die uitleg van die boek maak dit maklik dat jy met die eerste oogopslag kan sien wat op ’n plek aangaan. Al lees jy net in hierdie gids, gaan jy jou lewe verryk!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Road Tripping Namibia, onder redaksie van Fiona McIntosh (MapStudio, R295)
Jy kan al 15 roetes in hierdie gids aandurf met ’n gewone motor. Vir elke roete word die tyd wat dit neem om die afstand af te lê aangedui, bestuurskondisies, sowel as besienswaardighede en of dit geskik is vir kinders. Die inligting is beknopte, maar volledig genoeg om reis in ’n vreemde land maklik te maak. Die wenke oor dinge wat dalk probleme kan veroorsaak op elke roete, maak jou beplanning ook baie makliker. Wat die gids ook baie lekker maak, is dat die kaarte vir elke roete deel maak van die beskrywing. Waar dit moontlik was, word ook belangrike kontaknommers gegee. Dis ook geïllustreer met inspirerende goto’s.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A-Z Place names of South Africa, Ann Gadd (MapStudio, R250)
Min van ons dink ooit aan dorpe of stede se name. Ons ken maar net die name, maar weet jy waarom plekke die name het en weet jy waar kom die name vandaan? In hierdie oulike reisgids word 900 plekname in Suid-Afrika alfabeties gelys sodat jy maklik kan naslaan hoe die plek sy naam gekry het. Dikwels is plekke na bekende mense van hul tyd vernoem. Soms het iets in die landskap aanleiding gegee tot ’n naam, soos Bray. Die oorsprong is die Skotse woord ‘brae’ wat koppie beteken. Die skrywer verskaf ook by meeste plekke ’n rede waarom dit besoek moet word: ’n besienswaardigheid of ’n ervaring van iets in die omgewing. Van die interessante name wat ek raakgelees het is Vermaaklikheid, Spoegrivier, Pampierstad, Grootdrink en Lekkersing. Dis ’n wonderlike boekie vir ywerige reisigers en almal wat trots Suid-Afrikaans is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wineries of the Cape, Lindsaye McGregor & Erica Moodie (Sunbird Publishers, R165)
Die reisgids bespreek 56 wynlandgoede in die Kaap, almal binne een uur se reistyd van Kaapstad af. So, elke landgoed is binne ’n 90 km radius van die middestad af en die plekke is so gekies dat dit jou ’n goeie idee gee van wat elke streek bied. Die skrywers sê vir hulle was dit moeilik om te besluit watter plekke is in en watter nie, want hoe kies jy uit die diverse landgoedere wat die Kaap jou bied? Toe het hulle maar besluit om hul persoonlike gunstelinge in te sluit! Hulle gee raad oor wat jy moet saam neem op jou besoeke en ook waarvoor jy moet uitkyk by elke plek. Dis ’n heerlike leesboek wat as uitstekende reisgids dien!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Reef Guide, Dennis King en Valda Fraser (Struik Nature, R270)
Die gids dokumenteer sowat 800 visse en ander ongewerwelde diere wat aan die ooskus en die suidkus van Suider-Afrika voorkom. Voorin is daar ’n handige hoofstuk wat vir jou presies verduidelik hoe jy dié gids moet gebruik. King en Fraser is albei gesoute duikers en het die spesies wat beskryf is self afgeneem tydens hul duiktogte. (Daar was darem ’n paar medewerkers ook). Die boek is uiters volledig en ’n moet hê vir almal wat onder die water na hul diereplesiere soek.

the tourism coachThe Tourism Coach, Shaun van Eck (Tafelberg, R195)
Die boek se subtitel is Make Money from Tourism – A Practical Guide en dis presies wat Van Eck vir jou in die sakeboek verduidelik. Hy begin by die basiese dinge en sit al die elemente wat belangrik is in die toerisme bedryf op ’n verstaanbare manier uiteen. Dis ’n werkboek met oefeninge wat gemik is op almal wat op een of ander manier ’n bestaan maak uit toerisme soos gastehuiseienaar, toeroperateurs en nog ander. Hy behandel onder meer bemarking en dienslewering – wat hy as twee belangrike boustene van die bedryf ag. Die boek is gemik op entrepeneurs en is nie vir lesers wat vir ontspanning lees nie. Dis ’n praktiese werkboek vir mense wat ernstig oor besigheid is.