FOTO: verskaf

Boeke

Raad vanuit onverwagse oorde

Dikwels is dit raad wat van iemand kom wat jy nie verwag het nie, wat die meeste impak maak en wat jy die beste onthou.

Boonop is dit raad wat eintlik logies en voor die hand liggend is, maar soms is mens net so verward en ontsteld oor ’n situasie dat jy nie mooi dink wat jou te doen staan nie. Ek het al baie goeie raad in boeke gevind, veral wanneer ek dit die minste verwag. As daardie raad geskryf is deur iemand wat eerstehands gewroeg het met ’n soortgelyke probleem kan dit mens nogal baie help. Die ou gesegde sê nie verniet ‘Kennis is mag’ nie. Hoe meer jy lees, hoe meer leer jy ook. Hierdie week het ek gekyk na ’n hopie boeke wat daarop gemik is om jou lewe effe makliker te maak.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op Kalahari.com te besoek, om van die boeke aanlyn te bestel.

Bemark of Bevark, André Diederichs (Naledi, R149)
In die eerste hoofstuk van hierdie boek sê Diederichs ’n baie belangrike ding: “Bemarkers moet besef dat kliënte se opvattings direk beïnvloed word deur hulle beskouing van die transaksie wat beklink is.” Dan sê hy verder: “Bemarking is mensgeoriënteer en daarom diensgeoriënteer. Dit is een van die belangrikste menseverhoudingsituasies wat bestaan.” Volgens Diederichs kan almal baat by meer kennis oor bemarking, of jy nou ’n sakeman is, ’n politikus of wie ook al, want “almal wil weet hoe bemarking hulle kan help om hul regmatige plek in die mededingende mark te verseker.” Hy bespreek al die aspekte van goeie bemarkingspraktyke en gee nuttige wenke vir almal wat in hierdie veld werk.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wie Is Ek?, Louis Awerbuck & Lise Swart (Naledi, R159)
Awerbuck sê: “Die boek is gerig op die leser wat meer wil weet en verstaan, maar nie wil worstel met akademiese teorieë of hoogdrawende verduidelikings en beskrywings nie.” In hierdie boek word daar in eenvoudige, verstaanbare taal begrippe uiteengesit wat jou beter insig sal gee in hoekom jou kop werk soos hy werk. Daar is ook praktiese oefeninge waardeur jy gelei word tot selfkennis. Hierdie boek is van waarde vir alle lesers, selfs die wat dink hulle is uitgesorteerd en weet wie hulle is. Die oefeninge help jou om meer objektief na jouself en jou emosionele omstandighede te kyk.

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Don’t film yourself having sex, Emma Sadleir & Tamsyn de Beer (Penguin, R230)
Die doel van hierdie boek volgens die skrywers is nie om so ’n vrees vir sosiale media en die digitale era by jou in te boesem dat jy jouself wil afsonder op ’n plek waar geen rekenaars, slimfone of sosiale media bestaan nie. Maar hulle wil jou tog ’n bietjie bang maak, want hierdie digitale era kom met nuwe uitdagings wat groot reperkussies vir jou kan inhou.Hulle wys al die slaggate van sosiale media uit en gee dan raad van hoe jy dit behoort aan te pak sodat jy jou reputasie nie skade berokken nie. Hulle beklemtoon dat daar nie aparte reëls en regulasies bestaan vir die digitale wêreld nie – dieselfde wette geld as die wat in die werklike lewe geld. Jy word steeds verantwoordelik en verantwoordbaar gehou vir wat jy kwyt raak in die digitale wêreld. Dis ’n maklik verstaanbare boek en het baie aspekte van die uitdagings rondom ’n aktiewe digitale lewe duideliker gemaak. My enigste kritiek is dat my oë nogal moeg geraak het, omdat die boek se lettertipe nie so gemaklik lees nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Write Stuff: The Style Guide with a Difference, DJ Dykman, JDU Geldenhuys en EE Viljoen-Smook (Pharos, R195)
Taal is nie ’n dooie ding nie en soos wat die wêreld verander en nuwe ontwikkeling plaasvind, so bly taal ook groei. Partykeer voel dit vir my taal groei sommer onder my uit, want taalreëls hou tred en verander. Elke Afrikaanssprekende wat Engels as tweede taal gebruik, sal weet hoe jy soms twyfel oor wat nou eintlik reg is, veral wanneer jy besig is om iets te skryf. Die eenvoudigste goed kan jou soms pootjie, soos: Is dit: a/an SMS confirmation; a/an SARS document; a/an SABS specification. . . So is daar nog allerhande ander interessante riglyne in hierdie boekie. Ek is gefassineer deur hierdie gids, want ek kon dit op absoluut enige bladsy oopslaan en ’n waardevolle lessie leer oor wat die korrekte wyse is oor hoe om iets te skryf. Uiters genotvol en hulpvaardig ook is die toetse, eintlik oefeninge, waardeur ek kon werk. Die antwoorde is agter in die gids. Hierdie boek bly sommer op my lessenaar vir vinnig raakvat wanneer ek iets wil naslaan.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Make love like a Prairie Vole, Andrew G. Marshall (Bloomsbury, R145)
Die dae dat oor seks gepraat is agter toe gordyne en geslote deure is gelukkig lankal verby en deesdae is daar ook baie boeke wat oor dié onderwerp gaan. Seks word in hierdie boek deeglik onder oë geneem en baie van die probleme wat paartjies tussen die lakens ervaar, word aan die hand van gevallestudies bespreek. Dan gee die skrywer ook praktiese oefeninge wat paartjies kan help om die gaping tussen hulle te oorbrug. Dis van hoe om oor seks te praat, hoe om meer bewus te wees van jou sintuie, tot hoe om jou seksdrome uit te leef. Die boek is bedoel vir paartjies om saam te gebruik om sodoende hul sekslewe te verbeter. As jy wonder waar die titel vandaan kom, dan sal jy maar die boek moet lees om te kyk watter eienskappe die prêrierot het wat hom met die mens vergelykbaar maak rakende verhoudings.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Thrive, Ariana Huffington (WH Allen, R257)
Almal moet hierdie boek lees, maar die boodskap is ook spesifiek gerig aan vrouens. Huffington vra dat elkeen van ons die definisie wat ons van sukses het, heroorweeg en kyk of dié sukses regtig waarde toevoeg tot ons lewens. Sy vertel van hoe sy ineengestort het omdat sy haar werk bo haar eie welstand geplaas het en dat dit haar laat wakker skrik het om haar lewe en hoe sy dit lei, in heroënskou te neem. Die boek gaan oor wat sy noem “The Third Metric to Redefining Success and Creating a Happier Life.” Die bene hiervan is “well-being, wisdom, and wonder. The last element to the Third Metric is the willingness to give of ourselves, prompted by our empathy and compassion.” Uitbranding, stres en depressie is ’n epidemie wat ons wêreld vandag oorheers en dit word gedryf deur ons soeke na sukses. In hierdie boek bespreek sy al die aspekte van hoe jy jouself moet bemagtig om die aanslag van hierdie epidemie af te weer sodat jy gesonder en meer vervuld deur die lewe kan kom. Beslis die lees werd.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Thanks for the Feedback, Douglas Stone & Sheila Heen (Portfolio Penguin, R295)
Almal van ons kry daagliks terugvoer van die een of ander aard, in ons professionele lewens sowel as op persoonlike vlak. Hierdie hele boek gaan oor terugvoering, spesifiek oor hoe die een wat aan die ontvang-kant is dit ervaar. Terugvoer kom van ander mense, maar mens vergeet soms van die kritiek wat jy teenoor jouself uitspreek. Dikwels is hierdie eintlik van die felste terugvoer, omdat mens baie krities teenoor jouself is. Van die dinge wat jy uit hierdie handige boek gaan leer, is hoe om waarde uit terugvoer te put, selfs uit negatiewe terugvoer. Hoe jy kritiek hanteer, het ’n impak op jou verhoudings met ander mense. Natuurlik sal jou stresvlakke ook verbeter as jy terugvoer beter kan hanteer. Interessante gevallestudies en stewige navorsing vorm die basis van die hulpvaardige boek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Notes from a Headmaster’s Desk, Marc Falconer (Macmillan, R184)
Uit die perd se bek, of in hierdie geval die skoolhoof se mond! Falconer skryf uit eie ervaring as skoolhoof van een van Johannesburg se uitsoek-skole oor onderwyssake. Dis persoonlike staaltjies wat hy vertel, maar tog is daar in elk van die vertellings suiwer opvoedkundige wyshede te bespeur. Ek het nie kinders nie en het ook baie jare gelede klaargemaak met skool. Tog het ek hierdie boek boeiend en baie leesbaar gevind. Falconer het baie ‘common sense’ en in baie van die gevallestudies waaroor hy skryf is dit duidelik dat die gebrek daaraan by sommige ouers die oorsaak is van heelwat van die probleme wat tieners op skool ervaar. Die boek is deurspek met waardevolle raad wat gegrond is op sy jare in die onderwys agter sy skoolhoof- lessenaar. Die lekker van hoe hy skryf, is dat jy nie voel asof daar vir jou gepreek word of inligting in jou keel afgedruk word nie. Onderhoudend en iets wat enige ouer behoort te lees.