FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Rebelse Jurie steel karre

Jurie is rebels sonder dat sy skoolmaats of pa weet hy is rebels. Want hy steel karre.

Dis sy geheim, sy manier om sin te maak van sy ouer broer, Daniël se selfmoord. Daniël het voorgeloop, was ’n leier op skool, ’n presteerder – iemand wie se skoene Jurie voel hy kan nie volstaan nie. Dit laat hom so klein bietjie beter voel dat hy wat Jurie is dit kan regkry om ’n kar te steel. Hy wil net ’n paar draaie ry en dit op ’n plek parkeer waar dit weer gevind kan word. Tot die dag dat daar ’n meisie agter in die kar was wat Jurie gegaps het. So begin hy ’n onwaarskynlike vriendskap met die eerstejaarstudent Nandi Ngobeni. Dis waar Jurie begin om met ander oë na die lewe te kyk. Leer hy sy les om nie weer ’n kar te steel nie? Dit, en wat Bambaduze beteken, moet jy self in die boeiende verhaal uitvind.
Derick van der Walt het ’n manier om jou ’n gevangene van die verhaal te maak. Jy bly lees tot jy sien wat die uiteinde van Jurie se karstelery, sy vriendskappe en sy verhouding met sy ouers is, en of hy uiteindelik vrede gaan kry oor Daniël se dood. Die karakters is geloofwaardige mense wat die gewone uitdagings van ’n alledaagse bestaan moet trotseer. Hulle boei juis omdat daar raakpunte met ons almal se lewens is. Ek het met Derick gesels oor skryf en oor waar Bambaduze (Tafelberg, R160) begin het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy skryf al jou hele lank in jou professionele loopbaan, maar jy het eers in 2008 kreatief begin skryf. Was dit ’n maklike oorgang?
Ek het regtig net een Saterdagoggend wakker geword met ’n storie in my kop en ek het ’n hoofstuk van Lien se lankstaanskoene geskryf. Nie die eerste hoofstuk nie. Toe ek dit doen, toe dog ek hoekom het ek nog nooit daaraan gedink nie? Ek het nooit beplan om kreatief te skryf nie. Dit het net gebeur. Toe ek begin, toe dink ek dis hoekom ek op die aarde is, ek moet dit doen.

Waar kom die inspirasie vandaan vir jou stories? Is dit iets wat jy sien, iets wat jy hoor of kom verskillende stories maar verskillend by jou op?
Ek kan nie vir jou sê nie, behalwe Bambaduze, wat op die werklike gegrond is. Maar ek kan nie vir jou sê waar ek aan die ander gekom het nie, ek kan nie onthou nie. Ek hou van gewone mense, ouens wat swem om te oorleef, wat kinders kry teen wil en dank. Hulle het nie ’n keuse nie. Dit interesseer my. Ek sal nooit oor ’n hoofseun skryf nie, of oor ’n belangrike ou nie. Ek het nou die dag daardie liedjie van Hey there Delilah, ek ken dit al jare, se woorde vir die eerste keer regtig geluister. Hoe die outjie musiek maak in New York en hy skryf vir sy meisie in Los Angeles hoe hy eendag so baie geld gaan maak met sy sang dat hy al die rekeninge gaan betaal. Dit broei nou by my. Bambaduze is deur werklike goed geïnspireer. Ek ken iemand wat drie seuns het en die oudste een het selfmoord gepleeg by die universiteit. Eendag was ek en my vrou by ’n geleentheid en die oorblywende broers het aan ons tafel gesit. Ek het hulle so gekyk en gewonder wat gebeur met jou as jou oudste broer selfmoord pleeg. Wie is jy dan nou in die wêreld? Dit het ek in my kop gebêre vir lank, nog voordat ek Hoopvol geskryf het. Lank daarna moes ek vir ’n kliënt ’n foto neem van die wegspring van ’n marathon in Johannesburg. Daar onder was ’n sokkerveld waar mense geparkeer het en terwyl ek gestaan en wag het, sien ek uit die hoek van my oog ’n oranje karretjie wat daar uitkruip. Toe hy by die hek kom, trap hy petrol en die mense begin skreeu dat die kar gesteel word. Vir ’n oomblik het ek die outjie agter die stuur gesien; hy was bitter bleek, hy was so sewentien met sulke langerige swart hare. Dit was baie ontstellend vir my. Maar toe het ek die twee goed bymekaar uitgebring: die selfmoord en die karstelery.

Die mense in jou verhale moet altyd die een of ander krisis weerstaan. Is dit omdat dit maar hoe die lewe is of maak dit vir ’n goeie storie?
Dit is maar hoe die lewe is, maar ek dink ook daar moet konflik in die storie wees. Ek is verskriklik lief vir fliek en die boeke wat ek skryf, is baie soos die flieks waarvan ek baie van hou. Ek is mal oor gesinsdrama’s, soos August: Osage County, wat oor ’n baie disfunksionele familie gaan.

Hoekom skryf jy juis jeugverhale?
Ek dink eerlikwaar nie ek skryf jeugverhale nie. As ek ’n boek skryf, dink ek nie eers wie is die gehoor nie. Ek skryf ’n boek wat uit my hart uit kom. Wanneer dit oor tieners gaan, is dit bloot toevallig en nee, ek beplan dit nie. Ek dink my verhale is vir ’n groter gehoor. Dis onregverdig dat my boeke in die jeugafdeling staan, want ander lesers sien dit nie raak nie.

In elkeen van jou boeke raak jy kwessies aan waaroor debat gevoer kan word, soos verhoudings tussen pa en seun, selfmoord, gebrek aan kommunikasie en nog ander. In Bambaduze raak jy ook aan verskuilde rassisme, wanneer jy skryf oor Nandi se ma se werkgewer.
Dis vir my verstommend hoeveel rassisme daar nog is onder witmense, mense wat ek ken wat oulik is. Die rassisme lê net onder die oppervlak. Mens sal dit nooit sê nie, maar as daar ’n krisis kom, dan speel dit orals ’n rol. Dis nogal vir my sad dat ons nog steeds aan mense dink in kassies en hulle daarin sit. Ek is nogal bietjie depressief oor rasseverhoudings in Suid-Afrika. Ek dink mense is bang en stereotipes maak die lewe makliker. Jy hoef nie te twyfel nie.

Jou karakters is baie geloofwaardig. Hoe onstaan jou karakters?
Ek beplan glad nie. Ek het min of meer ’n idee oor hoe die storie gaan wees: oor hierdie kind wat ’n kar gesteel het en ’n selfmoord. Ek weet darem min of meer hoe dit gaan eindig, maar hoe ek daar kom, weet ek glad nie. Ek ken gewoonlik die hoofkarakter en dan kom die ander by soos ek skryf. Dis vir my net so verrassing en lekker om te skryf.

Wanneer jy wel daardie karakter skep, waar kom die inspirasie vandaan; is dit mense wat jy ken, is dit stereotipes waarmee jy werk?
Soms. Baie keer is dit heeltemal iemand wat ek opmaak, maar ek gee vir hulle trekke. Waaroor ek nou skryf, is oor drie pare van my ouderdom. Jare lank familie, hulle kinders is nou uit die huis uit, hulle issues. Ek weet hoe lyk die mans. Die vrouens is vir my vaag. Toe ek begin skryf, begin die vrouens kom. Die een het ’n komplekse verhouding met die ma en al die vriendinne wat ek ken wat nie goeie verhoudings met hul ma het nie – ek gryp van daai werklikhede en maak my eie karakters daarvan. Ek leer hulle naderhand ken.

Is daar ’n karakter in Bambaduze waarvan jy nie hou nie?
Ja, die tannie wat so oor die gordyntjie loer vir Nandi en Jurie. Ek ken te veel van hulle, vol van hul eie opinies. Hulle is kamstig liberaal, maar hulle is so . . . ry op die man se sukses. Mevrou-dokter.

Gunstelingkarakter?
Almal sê vir my hulle is mal oor Nandi en sê hulle is teleurgesteld dat dit nie op iets spesifieks uitgeloop het nie. Maar ek wou juis die einde oop hou. Jurie moes besef hy het keuses en hy hoef nie nou te kies nie.

Hoe het jy die taalgebruik in die verhaal benader?
Mens moet versigtig wees. Ek het baie Engelse woorde uitgehaal in die finale bladproewe. Mens kan sien dis ’n jeugverhaal sonder dat jy probeer om cool te wees en te veel slang te gebruik. Omdat ek ’n joernalis is, is dit tot my nadeel. Dis so in my om netjies te skryf. Ek gaan nooit ’n ryker Afrikaans skryf nie. My styl is te deel van my. Ek hou daarvan dat mense self tussen die lyne kan lees.