FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Harry Potter-boek in SA verkoop soos soetkoek!

Mense wat mal is oor Harry Potter het weer bewys sy towerkrag oor hulle is nog steeds baie sterk.

Om middernag op Sondag, 31 Julie, het geharde Potter-aanhangers die koue getrotseer om hul hande op ’n nuwe boek oor Harry Potter te lê. Harry Potter and The Cursed Child Parts One and Two het daardie aand op winkelrakke verskyn, die dag nadat dié toneelstuk sy speelvak in Londen afgeskop het.

Van dié boek is in die eerste week wat dit op rak is reeds 22 515 eksemplare verkoop in Suid-Afrika. Dis die boek wat die vinnigste verkoop in die land sedert 2007 toe Harry Potter and the Deathly Hallows verskyn het.

Eugene Ashton, hoof uitvoerende beampte van Jonathan Ball uitgewers, het in ’n verklaring gesê: “Dis amper ’n dekade sedert ons laas ’n boek in Suid-Afrika gehad het wat ware energie in die boekbedryf ingespuit het. Ja, daar was party vinnige verkopers, maar verrassing-verrassing, die vinnigste een van die laaste nege jaar is Harry Potter and the Cursed Child. Dit gaan nie net oor die verkope nie, maar, magic het teruggekeer na boekwinkels landwyd en dis ’n welkome gesig!”

J.K. Rowling het ’n reeks van sewe Harry Potter-boeke geskryf, wat die winkels getref het van 1997 tot 2007. Al die boeke was top-verkopers en reg oor die wêreld is meer as 450 miljoen eksemplare verkoop. Die boeke is ook in 79 tale vertaal. Daar het ook agt rolprente die lig gesien, almal lokettreffers.