FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Roerende verhaal oor ’n man en sy hond

Ek hoor al hoe jy sê dis glad nie ’n oorspronklike idee om ’n verhaal oor ’n man en sy hond te skryf nie.

Ja, en jy sal reg wees. Daar is al baie boeke oor mense en hul vierpotige vriende geskryf. Maar hierdie een, Spill Simmer Falter Wither deur Sara Baume (Penguin, R180) het my verras. Dis nie een van daai tradisionele goedvoel verhale nie. Die hond en die man is nie die beste voorbeelde van hul spesies nie. Dis ’n verhaal oor ’n lelike hond met net eenoog, die hond wat by die DBV agterbly wat niemand wil hê nie. Een waarom jy ’n wye draai loop, want hy lyk of hy jou gaan aanval. Die hond in dié verhaal, One Eye, kry tog ’n baas, maar Ray is ook ’n buitestander van die gemeenskap. Dié twee uitgeworpenes vind mekaar en in weerwil van alles ontwikkel daar ’n hegte verhouding tussen man en hond. Hul verhouding gaan deur al die seisoene van die lewe. Baume skryf ongelooflik beskrywend en jy kan die tonele in jou geestesoog sien, die ysigheid van die winterlandskap en die gestrooptheid van die natuur. Maar wat mens in die hart tref, is hoe empaties sy die liefde tussen Ray en One Eye beskryf. Die eensaamheid van om buitestanders te wees en om dan ’n onwaarskynlike vriend te vind wat die lewe betekenis gee. Die verhaal laat mens dink oor die waarde van menswees, van liefde en van betekenis in die lewe. Die boek laat mens met ’n gevoel van hartseer oor hoe genadeloos die lewe kan wees vir mens en dier wat nie aan die norm van die samelewing voldoen nie.

Ek het per e-pos met Sara gepraat oor haar boek.

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Wou jy altyd ’n skrywer word?
Ek het visuele kuns studeer en wou eintlik ’n beeldhouer word. Ná kollege, toe ek in ’n galery in Dublin gewerk het, het ek begin skryf oor kuns: resensies en artikels wat in koerante en tydskrifte gepubliseer is. Dit was hierdie kritiese stukke wat my geleidelik daartoe gelei het om met fiksie te eksperimenteer.

Het jy verwag jou debuutwerk sal op die kort- en langlyste vir literêre prys verskyn?
Beslis nie! Ek het nie eers verwag dat dit uitgegee sou word nie.

Waar het die idee vir die roman ontstaan?
Ek was besig om deur ’n onrustige en moeilike tyd in my lewe te gaan toe ek ’n eenoog-hond wat niemand wou hê nie, aangeneem het. Die hond het my op vele maniere van myself gered en ek wou dit vaslê in ’n storie op die een of ander manier.

Waarom die titel, “Spill Simmer Falter Wither”?
Die roman se struktuur bestaan uit vier seksies, seisoen vir seisoen, en elke werkwoord reflekteer die toon van elke seksie. So, Spill is vir lente, Simmer vir somer, Falter vir herfs en Wither vir winter.

Jy gebruik nêrens in die verhaal die woord ‘dog’ nie. Was dit opsetlik?
Goed opgelet! Dit was opsetlik. Ek was vasberade dat die roman nie gekategoriseer word as ’n ‘hondeboek’ nie.

Op wie het jy Ray se karakter gegrond?
Meer as enigiemand anders, is Ray ’n weergawe van myself.

Ray het ’n intense verhouding met One Eye. Watter kwaliteite wou jy weergee in die verhouding?
Ek dink ek wou wys hoe noodsaaklik ’n stil, onbevooroordeelde vriend kan wees.

Die verhaal is ongelooflik beskrywend. Is jy ’n baie visuele waarnemer?
Beslis. Ek veronderstel dit kom van my kunsagtergrond af. Skryf is vir my ’n proses van visualisering en die beskrywing van tonele en beelde.

 Wat wil jy hê moet lesers uit jou boek put?
Daar is ’n belangrike reëltjie nader aan die einde van die boek: “Community is only a good thing when you’re a part of it.”

Werk jy aan iets nuut en het die prys druk op jou geplaas oor hoe jy jou tweede boek aangepak het?
Ek werk aan ’n tweede roman wat in die lente van 2017 uitgegee sal word as alles volgens plan verloop. Baie van dit was reeds geskryf teen die tyd wat die eerste boek uitgekom het. Ek is oortuig daarvan dis ’n goeie ding!