FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Romanse, romanse, romanse


Skielik het ek begin wonder oor romanse. Wat beteken dié woord regtig?

Ek vereenselwig romanse altyd met liefde, maar om my nuuskierigheid tevrede te stel, soek ek dit op in my ou Pharos Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Hier is die verklaring vir “romanse: 1. Ou volkslied in eenvoudige taal oor ’n roerende onderwerp. 2. Soortgelyke gedig in strofevorm. 3. Lied oor enige teer of aandoenlike onderwerp; liefdeslied. 4. Liefdesverhouding tussen ’n man en ’n dame. 5. (mus) Klein instrumentale komposisie.”

Die woorde wat hier vir my uitspring is ‘roerende’, ‘teer of aandoenlike’ en ‘eenvoudige taal’. Hoe waar is dit nie oor daardie groot onderwerp, die liefde, nie! Wat is mooier as om net vir iemand te sê: “Ek is lief vir jou.” Miskien is die toneeltjie van ’n gryskop man en gryskop vrou wat nog met hande ineengevleg saam loop mooier. Of dalk is dit daardie vinnige drukkie wat ’n dikmond tienerseun so in die verbyloop vir sy ma gee. O wee, sy maters moet tog net nie sien nie . . . Dit kan ook daardie liedjie wees waarmee jou kleuter jou kom wakker sing, die een waarvan die woorde nie regtig sin maak nie en die wysie ook maar op sy eie note saam wals. Dikwels is dit net ’n vang van ’n oog oor ’n vol vertrek, daardie woordelose boodskappie wat sê hoe spesiaal jy is. So kan ek aangaan en nog duisende toneeltjies beskryf, dingetjies wat die liefde spesiaal maak. Hierdie week het ek gesoek na boeke wat so bietjie meer vertel oor romanse soos gedefinieer deur my Pharos. Maar wat ook gaan oor verskillende soorte liefde . . .

Afdraaipad, Elaine Marais (Naledi, R109)
Lize Lategan groet haar vaderland met ’n gebed in haar hart. ’n Onweerstaanbare werksaanbod is wat Lize Engeland toe gelok het. Skaars daar of die onskuldige Lize verloor haar hart op haar gasheer, die nimlike Conrad Buckle. Sommer gou word ’n troue gereël en alles blyk wonderlik te wees. Conrad oorheers toenemend elke aspek van Lize se lewe – wat sy moet eet en watter klere sy mag aantrek – maar Lize is jonk en onervare en die liefde is blind. Toe Lize vir Conrad een aand verras met ’n eg Suid-Afrikaanse ete, verloor hy sy humeur. Dis die eerste keer dat hy sy hand vir Lize lig. Vasgevang in ’n maalkolk van begeertes en seerkry, word Lize op haar knieë gedwing. Hoe vind sy weer hoop en vertroosting by God nadat sy die afdraaipad weg van Hom gekies het? Daar is net een manier – maak jou oë toe en bid.

’n Boeiende boek wat my diep geraak het. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Heading out to wonderful, Robert Goolrick (Hutchinson London, R253)
Op ’n dag in 1948 ry oud-soldaat Charlie Beale in sy ou bakkie die dorpie Brownsville binne. Op die sitplek langs hom is twee tasse: een tas bevat sy klere en sy slagtersmesse en die ander tas is vol geld. Hy besluit dat hy van die dorp hou en kry toestemming om net buitekant die dorp naby die rivier te kamp. Natuurlik is almal in die dorpie doodnuuskierig oor die stil vreemdeling, maar hulle begin hom aanvaar toe hy by die slaghuis begin werk. Tot die dag laat in Augustus toe Sylvan Glass, die pragtige jong vrou van die rykste man in die omgewing, die slaghuis betree. . .

Hierdie boek is vreemd boeiend, maar terselfdertyd ontstellend. Dit laat die leser met heelwat vrae en is ’n sprekende voorbeeld van hoe die liefde mense kan bedwelm en beroof van gesonde verstand. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

In love and war, Lesley Lokko (Orion books, R285)
Lexi Sturgi is ’n 36-jarige oorlogkorrespondent wat vir die NNI netwerk. Sy werk veral in Algerië, Egipte en omliggende streke. Tot dusver is sy nog alleenlopend en woon sy by haar tante, Julia, in Londen. Sy het grootgeword in Lusaka, haar ouers het geskei na haar ma se buite-egtelike verhouding. Haar jonger boetie, Toby, is die ergste hierdeur geraak en het later ook selfdood gepleeg. Lexi het een vriendin, Jane Marshall, ’n uitvoerende beampte by NNI wat ook ’n alleenloper is. As enigste kind word sy afgesonderd groot en haar ma sterf, terwyl Jane nog op skool is.

Lexi en Jane se lewens word onherroeplik verander wanneer ’n Britse dokter, Deena Kenan, in Egipte gaan uithelp en ontvoer word. Adnan en Niall, bure uit Deena se kinderdae,  word ’n integrale deel van hul lewens. Lexi trou wel met Mark Githerton, ’n bekende fotograaf, maar mens wonder of dit gaan hou.

Probeer maar kophou met name en plekname, terwyl jy die boek lees. Dit raak soms nogal verwarrend. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Liefde in die skemering, Lizet Engelbrecht (Satyn, R94)
Monique is die private verpleegster van ’n ryk ou man, Matty Olsen, teenoor wie sy baie beskermend is. Hy vra haar ’n guns ten opsigte van ’n besoeker wat gaan kom. Sy is teensinnig, maar sy kan nie weier nie. Die besoeker skyn die aantreklike Joseph te wees, met sy tekens van gekwestheid en sy soeke na sy ware identiteit.

Blykbaar is hy die ou man se kleinkind, maar saam met hom kom ’n ingewikkelde verhaal oor sy voorgeslagte wat opgelos moet word. Monique help hom om ’n misterieuse en baie waardevolle hangertjie op Dasseneiland te gaan soek, wat dinge sal opklaar. ’n Skelm is egter ook agter dié juweel aan. Die vonke spat, en meesal tussen Monique en Joseph. Sy wil hom weerstaan, maar sy kan nie.Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mad about You, Sinead Moriarty (Penguin Ireland, R170)
Die hoofkarakters in hierdie hedendaagse verhaal verhuis van Ierland na Engeland en terwyl James dadelik sy voete vind in ’n uitdagende werksomgewing, moet Emma en haar twee jong kinders gewoond raak aan ’n nuwe huis, bure, skool en stad. Nadat sy ’n kinderoppasser aanstel en begin werk, gaan dit sommer baie beter. Maar nie vir baie lank nie. Haar suster en haar ou vriende beleef krisisse. Hulle maak baie op Emma-hulle staat vir ondersteuning. James en Emma se huwelik word skielik bedreig en hulle vertrou niemand meer nie, selfs nie eens die mense naaste aan hulle nie. Wie weet so baie van hulle af dat hul privaatheid geskend word?

’n Interessante verhaal oor sterk morele- en familiewaardes en liefde wat jou laat besef dat almal nie is wat hulle voorgee om te wees nie. – Amanda van Schoor

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Onder ’n Sterrehemel en Goue Dagbreek, Bets Smith (Lapa Uitgewers, R214,95 elk)
Die eerste verhaal speel in die Kaapkolonie af, verwyder van die dreigende oorlog, maar nie verwyder van die effek daarvan nie. Dis ’n geskiedkundige oorlogsroman sonder te veel oorlog. Onder ’n Sterrehemel is die eerste boek in ’n tweeluik.

Met die Anglo-Boereoorlog op hande loop Catriona Fraser, ’n jong meisie uit die Kaapkolonie se grensdistrik, weer vir Rudolf Dreyer van die buurplaas raak. Hulle het mekaar as kinders geken, maar nou is hulle nie meer kinders nie. Sy is beeldskoon en onskuldig; hy is indrukwekkend, stil en sterk. Sy ontdek baie gou dat hy steeds die man is wat haar hart in sy hande hou. Wanneer sy Rudolf se onbegryplike optrede probeer verstaan, loop sy haar trompop teen ’n jarelange geheim waaroor almal wat sy ken, swyg. Wat is die geheim van dié nag toe Rudolf by haar in die grot op Ben Nevis, hul tuisdorp, gebly het, hy 16 en sy agt? Hoekom moes hy weggaan uit Ben Nevis en moes sy kosskool toe? Hierdie vrae moet eers opgeklaar word alvorens sy kan verstaan hoekom Rudolf haar vermy en voordat daar weer hoop vir hulle kan wees.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

In Goue Dagbreek hervat hul verhaal ongeveer 13 maande later en is daar twee dinge wat ’n oënskynlike onoorbrugbare kloof veroorsaak en ’n ingrypende invloed het op Catriona en Rudolf se lewe: haar Skotse pa, Gordon Fraser, en die oorlog wat uitbreek. Waar daar ’n kort tyd gelede nog liefde was, lees Catriona nou haat, afkeur en veragting in Ben se oë. Rudolf Dreyer is verewig begrawe die dag toe sy twee broers tereggestel is en nou is hy Ben van den Berg, skerpskutter vir die Boere en soms Ben Sutherland, ’n Kakie offisier. Hy glo sy was deels betrokke en verantwoordelik vir sy broers se teregstelling. As Rooikruisverpleegster reis sy op ’n ambulanstrein deur die Boererepublieke met die hoop dat sy hom sal raakloop en van haar lojaliteit, onskuld en liefde kan oortuig. Toe hul paaie wel kruis, vertel sy oë haar steeds dat hy vermoed sy gaan hom weereens verraai, al stel sy haar lewe in gevaar as spioen vir die Boeresaak.

’n Aangrypende verhaal van hoe oorlog mense polariseer en die slegste in hulle na vore bring. Maar waar daar ’n slegte kant is, is daar ook ’n beste kant, in hierdie geval, die liefde! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Return to Mandalay, Rosanna Ley (Quercus, R170)
Lawrence Garner kan die mooiste verhale vertel van sy verblyf in die pragtige Burma. Eva, sy kleindogter, is die perfekte luisteraar. Hy was in Burma voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy het sommer net aangebly vir die oorlog nadat hy vir ’n Britse maatskappy as houtverskeper begin werk het in Burma. Daar raak hy verlief op Maya, ­­’n Burmese meisie. Lawrence keer egter terug na Engeland na die oorlog. Hy voel verplig om met Helen, sy ouers se jarelange vriende se dogter, te trou. Hy bring ’n antieke Burmese erfstuk saam wat Maya vir hom gee en wat een van ’n paar is. Lawrence en Maya vergeet nooit van mekaar nie. Eva kry dan die geleentheid om Burma toe te gaan deur haar werk as antieke handelaar. Lawrence vra haar om die erfstuk aan Maya terug te besorg. Gaan Eva haar of haar familie opspoor na al die jare? Burma is alles en nog meer as wat Eva verwag het: pragtige natuurskoon en geboue, unieke huise en ’n ryk geskiedenis. ’n Paar onverwagse ontmoetings en ervarings sorg vir romanse en ook bietjie spioenasie werk. Sy vind uit dat die maatskappy waarvoor sy werk besig is met onwettige handel. Eva ontmoet Maya se kleinseun, Ramon, en daar is dadelik ’n aangetrokkenheid tot mekaar. Eva moet terugkeer na Devon, Engeland. Dis of haar oupa net gewag het vir haar nuus uit Burma dat Maya nog leef en nooit van hom vergeet het nie en dan rustig heengaan. Dis amper of Lawrence en Maya se romanse herhaal word in hul kleinkinders. Die boek is aangename leesvermaak. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Stiletto’s van Staal, Bernette Bergenthuin (Lapa Uitgewers, R214,95)
In Stiletto’s van Staal volg ons die intriges van die drie vurige Beauman-susters, Lona (Barcelona), Vanessa (Venesië) en Sienna, elk vernoem na ’n Europese stad. Hulle is die dogters van ’n vurige Italiaanse ma en ’n Afrikaanse pa.

Die drie susters is in verskillende stadiums van hul lewe. Elkeen ervaar haar eie uitdagings en hanteer dit op haar eie manier. Lona is ’n jonggetroude voorstedelike ma wat agter haar twee kindertjies aanhardloop, terwyl sy die romanse in haar huwelik probeer lewendig hou. Vanessa is die besigheidsgedrewe ene wat met haar werk getroud is en Sienna is die student wat effens twyfel oor haar kursus en probeer om haar eie matchmaking-besigheid op die been te bring – natuurlik sonder die medewete van haar ouers. Dan is daar is ook nog die verwikkelinge by die familiebesigheid, Beaumans . . .

Hierdie moderne lekkerlees-verhaal se karakters is realisties en dis propvol komiese, hardop-giggel oomblikke en tonne romanse. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sistermoon, Kirsten Miller (Random House Struik, R190)
Catherine, ’n suksesvolle rolprentvervaardiger het die perfekte familie – ’n man wat haar in alles ondersteun en ’n begaafde 10-jarige dogter. Hulle drie neem haar pa, wat sy Samuel noem en wat dementia het, na ’n versorgingseenheid in die Kaapse kusdorpie waar sy en haar suster Devin grootgeword het.

Maar die spoke en pynigende herinneringe van die verlede tree na vore, Catherine se sukses kom met ’n prys wat betaal moet word. Sy en haar pa ken die donkere familiegeheim en weet wat van Devin geword het. Cat, soos haar pa sy gunsteling-dogter altyd genoem het, vermoed dat Devin seksueel mishandel is deur haar oom, haar pa se broer.

Sistermoon is ’n verhaal van liefde en grootword, van uitsluiting en mishandeling – dié moeilike onderwerp word egter met uitstekende insig deur Miller hanteer, maar dit bly nogtans ’n onstellende storie wat jou as leser emosioneel raak. – Linda Volschenk