FOTO: verskaf

Boeke

Romantiese verhale Vir Valentynsdag

Valentynsdag is ‘n groot gebeurtenis in baie mense se lewens. Veral mense wat verlief is, of wat nog die romanse in hul verhouding probeer hou.

Maar waar kom dié dag nou eintlik vandaan? Ek was nuuskierig oor hierdie romantiese, maar uiters kommersiële tradisie. Uit my leeswerk is dit baie duidelik dat daar verskillende opinies is oor waar die dag ontstaan het en waarom dit gevier word. Dis lang stories en ek gaan dit nie nou vir julle oorvertel nie, buiten om te sê, besluit self watter weergawe jy wil glo. Ek dink julle moet maar self oplees oor die geskiedenis van Valentynsdag.

Maar ek het hierdie week ‘n klompie boeke bymekaar gemaak wat almal met liefde te make het. Geniet jou Valentysdag! Ek hoop jy kry sommer baie sjokolade en liefde – twee dinge wat enige vrou se hart warm maak!

Blinde liefde, Elsa Hamersma (Tafelberg, Satyn, R94,95)
Karla, geskei en met emosionele bagasie, gaan werk as sjef en bemarker vir Hugo Joubert op sy Swartlandse gasteplaas. Dadelik is sy aangetrokke tot dié buitengewoon aantreklike man, wat ongelukkig van moord op sy broer verdink word. Sy vermoed ook dat hy iets met die skone Natalie van die buurplaas aan die gang het. Haar eksman maak ook weer sy opwagting om die waters nog meer te vertroebel. Moord, dwelms, agterdog, werkspanning en liefde wat ten spyte van alles groei, maak die verhaal boeiend. Karla vermoed dat haar liefde waarskynlik blind is, maar sy word nogtans deur passie meegesleur. Daar is ’n paar warm, dog smaakvolle liefdestonele.  – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Te eenders, te anders, Elsa Winckler (Tafelberg, Satyn, R94,95)
Twee gedrewe rooikoppe bots, dog is hulle van die begin af tot mekaar aangetrokke. (Waarom het die twee karakters op die voorblad nie rooi hare nie?) Aileen en Allen is albei van Skotse afkoms, maar dit is al wat hulle gemeen het. Allen het ’n dominerende, doelgerigte en kritiese persoonlikheid, maar hy is sexy. Hy is die eienaar van die gebou waarin Aileen haar pâtisserie wil oopmaak. Minagtend noem hy dit “koekies bak”. Hy vryf haar so verkeerd op dat sy ’n humeurige snip word. Maar hy soen hemels, en sy kan hom eintlik nie weerstaan nie. Hy kan haar ook nie weerstaan nie. Die resultaat? Vuurwarm liefde en passie. – Malene Breytenbach

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dryfhout, Chanette Paul (LAPA Uitgewers, R190)
Aengel Rousseau trek Kierangbaai toe op soek na antwoorde, en sommer baie . . .  Wie is die geheimsinnige visvrou en hoe is hulle met mekaar verbind?  Hoekom mag sy nie haar hare sny nie, wat behels die dagboeke en skulp wat aan haar nagelaat is?
Soos Aengel antwoorde begin kry op hierdie vrae, kom daar net meer vrae oor Roark, en Annie se vloek oor die Niemands.  Toe daar vier moorde gepleeg word op die rustige dorpie,  word elke inwoner  ‘n verdagte, en moet Gys Niemand en Fortuintjie ingeroep word om die raaisels op te los.
Selfs al het mens nie een van die vorige boeke in die Niemand-reeks gelees nie kruip Gys vinnig diep in jou hart en hou die spanning jou op die punt van jou stoel.
Die boek is boeiend, snaaks en op plekke romanties, ‘n lekker storie wat mens tot laataand aan die lees sal hou. – Deidre Reinhardt

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The accidental husband, Jane Green (Penguin books, R145)
Twee vroue aan weerskante van die oseaan is glad nie bewus van mekaar se bestaan nie, maar hulle word onwetend tog met mekaar verbind.  Sylvie verloor haar man weens kanker. Sy het’n dogter,  Eve. Sylvie is ‘n warm mens, baie kunstig en kan met min klaarkom. Maggie en haar drie kinders, Grace, Chris, en Buck,  leef  in weelde  en is net aan die beste gewoond.  Wanneer die noodlot intree, bars altwee hierdie gesinne se borrel. Wanneer die balju voor Sylvie se deur opdaag om twee duur motors’ wat hulle nie besit, te konfiskeer vermoed sy daar is ‘n slang in die gras.  Haar vermoedens word bevestig wanneer sy vir Eve by die lughawe gaan oplaai en sy histeries vertel dat Mark, Sylvie se man, ‘n ander gesin het. Eve het Grace, Mark se dogter, ontmoet deur ‘n gemeenskaplike vriendin.
Hulle lewens verander handomkeer en ongelukkig word Eve en Grace die swaarste getref.  Wie sou kon dink dat na al die drama en hartseer Sylvie en Maggie aan die anderkant uitstap as hegte vriendinne.  – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The longest ride, Nicholas Sparks (Little Brown, R200)
Die verhaal gaan oor twee paartjies wat in verskillende dekades leef. Hulle word gebind deur die manier hoe hulle mekaar bemin. Ira en Ruth se verhaal saam begin reeds voor die Tweede Wêreldoorlog.  Luke en Sophia se paadjie saam begin in 2011.
Ira en Ruth het ‘n baie ryk en vol lewe. Hulle is geweldig lief vir mekaar, maar een ding ontbreek egter – hulle het nooit kinders gehad nie. Oor die jare koop hulle letterlik honderde skilderye van baie bekende skilders.  Maar nie oor die beleggingswaarde daarvan nie, wel omdat Ruth so ‘n passie en aanvoeling het vir die kunswerke. Ira koop die kunswerke aan net om te kan aanskou hoe Ruth haarself daarin inleef.  Ruth sterf en vir nege jaar moet Ira sonder haar klaar kom.  Hoe gaan hy dit ooit kan oorleef?
Aan die anderkant het ons vir Luke en Sophia, sy is ‘n kunsgeskiedenis student en hy ‘n plaasboer en rodeoryer.  Hulle raak verlief en voel vinnig onafskeidbaar.  Daar is egter groot kompromieë en keuses wat gemaak moet word.  Luke en sy ma gaan hul familieplaas verloor weens finansiële redes. Luke kies om op te hou met die rodeos omdat dit vir Sophia en sy ma baie ongelukkig maak.  Hy het baie ernstige beserings en permanente skade opgedoen met ‘n vorige rodeo wat amper sy dood beteken het. Dinge verander egter handomkeer wanneer Luke en Sophia se paaie toevallig kruis met dié van Ira Levinson.  ‘n Pragtige dubbele liefdesverhaal in tipiese Sparks-styl. Jy wil amper nie die boek neersit nie!  – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Verlief , saamgestel deur Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R100)
Ek was nog nooit regtig kwaai verlief nie, maar hierdie boek laat dit nogal na pret klink! Daar is elf verlief-stories in dié bundel, en van my gunsteling-skrywers het stories geskryf, soos Fanie Viljoen, Christien Neser en Elizabeth Wasserman.
Die lekkerste een in die bundel vir my, was egter die heel eerste een, Vakansieromanse, deur Jaco Jacobs. Dit was die langste storie, die opwindendste een en die een waarin ek die meeste dinge uhmm . . .  geleer het. Die storie gaan oor Vicky, wat nog nooit eens op vakansie was nie, wat nog te sê van verlief wees. Maar dan, op haar heel eerste vakansie, ontmoet sy haar heel eerste ou en skielik is Pierre al oor wie sy kan praat. Totdat dinge lelik begin uitrafel oor ’n klein misverstand. Kan sy vir Pierre vertrou, en wat gebeur as ’n mens jou groot hou en begin shooters drink? Ek het ook gehou van Hoogtevrees, ook deur Jaco Jacobs, wat gaan oor Wikus wat dolverlief  is op Reza en alles wat hy vir haar moes doen. Dis ’n lekker boek om in die vakansie langs die swembad of op die strand te lê en lees. – Nina Swart, 12 jaar oud, Bela-Bela