FOTO Unsplash / Oscar Keys

Boeke

Sanger met sistiese fibrose is inspirasie vir roerende verhaal

Alice Martineau het aan sistiese fibrose gely en het in 2003 aan dié aftakelende siekte gesterf toe sy maar net dertig was.

Ten spyte van haar siekte het sy nooit opgehou om haar droom om ’n suksesvolle sangeres te wees, na te jaag nie. Haar eerste album, Daydreams, is in November 2002, vrygestel en sy het al elf liedjies op die album self geskryf en opgeneem.  Haar lewe het die skrywer, Alice Peterson, so geraak dat sy ’n roman, A Song For Tomorrow (Simon & Schuster, R170) daaroor geskryf het.

FOTO verskaf


Hierdie boek het my so laat huil, want dis ’n storie wat jou hart breek. Tog is dit ook opbeurend en glad nie swartgallig nie. Met Alice se geboorte het die spesialis haar ma gewaarsku dat Alice se lewensverwagting maar net tien jaar is. Die verhaal begin waar Alice haar broer Jake se kunsuitstalling bywoon. Jy word ook voorgestel aan haar kêrel, ’n aaklige kalant met wie mens glad nie aanklank vind nie. Gelukkig bly hy nie vir lank deel van die prentjie nie. Dan verskyn Tom op die toneel nadat hy op Alice verlief geraak het die eerste keer toe hy haar by die kunsuitstalling ontmoet het.

Dis ’n ongewone liefdesverhaal, want Tom moet leer hoe om Alice se siekte te hanteer. Sy kan nie net vir ’n naweek weggaan soos ander mense nie. Daar is pakke medisyne en ’n verstuiwingstoestel wat ingepak moet word. Boonop het Alice ’n uitgerekte oggendroetine wat haar help om beter met haar sistiese fibrose te leef. Nie almal is bewus van hoe ernstig Alice se siekte is nie en wat dit vir haar vat om net gewone goed te doen wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar. Ten spyte hiervan groei die liefde tussen haar en Tom. Hy moedig haar ook aan om aan haar sangloopbaan te werk. Wat wonderlik is van die verhaal is hoe die familiedinamika uitgebeeld word. Alice se familie moes dikwels opofferings maak om haar siekte te akkommodeer. Hulle het dit outomaties en uit liefde gedoen, want sy was ’n uitsonderlike dogter en suster.

Moet nie dink jy gaan gebombardeer word met feite oor sistiese fibrose nie. Dis eerder ’n roerende en emosionele liefdesbetuiging. Ná die lees van hierdie verhaal word jy gelaat met ’n intense gevoel van inspirasie. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

Born a Crime and Other Stories, Trevor Noah (Macmillan, R260)
Noah skryf intens persoonlik oor sy eie lewe en beskryf hoofsaaklik sy grootwordjare tydens die laaste dae van apartheid. Dit was baie moeilike jare, want sy ma was nie getroud met sy Switserse pa nie. Trevor vertel hoe hy nie wit genoeg was om regtig wit te wees nie en hy was nie swart genoeg om as swart aanvaar te word nie. Dit het gemaak dat hy ’n buitestaander was wat vinnig moes leer om oral in te pas. Dus het sy interaksie met ander mense oor hom as mens gegaan en nie oor sy velkleur nie.

Wat duidelik uit sy vertelling is, is hoe misdaad (direk en indirek) deel vorm van jou oorlewing as jy een van die armstes van die armes is. As jy nie kos het om te eet of klere het om aan te trek nie, dan is dit maklik om vasgevang te word in kriminele aktiwiteite om geld te maak. Noah moes baie hindernisse oorkom om uiteindelik die sukses en aansien te hê wat hy vandag het. Hy skryf brutaal eerlik en met wrang humor wat jou aan die keel gryp. Die boek is nie ’n chronologiese biografie nie, eerder kort staaltjies oor verskillende aspekte van sy grootwordjare en hoe die gebeure hom gevorm het. Ten spyte van sy rebelsheid en vermoë om homself telkens in die moeilikheid te kry, het sy ma deurlopend ’n groot rol in sy lewe gespeel. Haar liefde vir hom en onwrikbare geloof het hom standvastigheid gegee. Sy het geglo dat hy eendag vir groter dinge in die lewe bestem is.

Aan die einde van die boek kon ek nie anders nie as om beïndruk te wees met Trevor se deursettingsvermoë en sy vernuftigheid om die negatiewe gebeure in sy lewe om te keer op so manier dat dit sy karakter positief beïnvloed het nie. Hy is suksesvol omdat hy hard werk, op sy voete dink en geleenthede aangryp wat aan hom gebied word. As ’n wit Suid-Afrikaanse leser het sy boek my ook meer insig gegee in die lewensomstandighede van my medeburgers van kleur. Ek het baie meer empatie oor hoe elke dag vir baie van hulle bloot oor oorlewing gaan eerder as die geleentheid om ’n vol, ryk en suksesvolle lewe te lei. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

Elders, Erns Grundling (Queillerie, R250)
Derduisende mense het al die Camino gestap en daar is honderde boeke op ’n spektrum wat strek van die geestelike tot die praktiese. Al is Grundling bekend as reisjoernalis, is dié boek egter nie ’n reisgids nie. Dis sy storie van sy Camino – intiem en eerlik. Dis die moeite werd om te lees, of jy nou belangstel in die Camino of nie, want dis ’n boeiende memoir oor hoe ons almal worstel om sin te maak van die lewe. Dit herinner nogal aan Wild, Cheryl Strayed se topverkoper waarvan ook ’n rolprent gemaak is. Grundling verwys self na Wild, een van vele boek- , musiek- en rolprentverwysings wat ek nog wil opvolg. (Daar is ongelukkig nie ’n lysie agterin Elders nie en my plan is dus om die boek oor ’n jaar of wat weer te lees, maar dié keer met ’n notaboekie byderhand.)

As ek die boek nou te diep en swaar laat klink het, wees gerus, dis propvol humor en vermaaklike staaltjies ook: Grundling weet hoe om met homself te spot. Maar nog meer prysenswaardig is dat hy nie skroom om oor sy broosheid te skryf nie – mag ek maar sê dat ek dit ongewoon vind vir ’n Afrikaanse man, en baie aantreklik?

Grundling het natuurlik nie al die antwoorde nie – niemand het nie. Maar soms moet ’n mens ver weggaan om weer huis toe te kom. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

My name is Mahtob , Mahtob Mahmoody (Little Brown, R385)
Hierdie vervolg op Not without my daughter word vertel deur die dogter, Mahtob, wat Maanlig beteken. Staal jouself vir ’n eerlike en nugter beskrywing van sommige wreedhede waartoe mense in staat is.

Mahtob, in haar dertigs, begin kyk deur notas, koerantknipsels, foto’s, reiskaartjies en ander artikels met sentimentele waarde wanneer sy haar eerste eie blyplek het. Sy dink terug aan haar pa Sayyed, ’n briljante narkotiseur wat in Amerika gekwalifiseer het, wat haar en Betty, haar Amerikaanse ma, vir ’n kort vakansie na sy geboorteland Iran sou neem. Toe hulle egter eers daar was, het hy volstrek geweier dat hulle kon terugkeer. Sayyed het ’n algehele persoonlikheidsverandering ondergaan en hulle vir 18 maande lank gevange gehou. Haar ma het desondanks Sayyed se buierigheid en aggressiwiteit ’n plan beraam om hulle terug in Amerika te kry met die hulp van goedgesinde vreemdelinge.

Mahtob skryf hoe beangs sy en Betty steeds was, te midde van die geluk wat hulle in Amerika teruggevind het ná hul moeilike en vreesaanjaende ontsnapping.

Hierdie eerlike vertelling en terugblik op wat ’n baie moeilike lewe moes wees, is ’n waardevolle leeservaring. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

Golden Age, Jane Smiley (Pan Macmillan, R285)
Dis die derde aflewering in die trilogie oor die Langdon-familie. Die boek begin in 1987 waar die Langdons weer almal op die familieplaas byeen is om Charlie te ontmoet. Charlie is ’n langverlore, buite-egtelike afstammeling van Tim. Hy is saggeaard en avontuurlustig. Sy hart behoort aan Riley. Soos die web verweef, kry Charlie dit reg om vir Riley werk te kry by Richard Langdon, ’n lid van die kongres. Sy tweelingbroer Michael is die teenoorgestelde van Richard en hul suster Janet het jare laas met hul pa, Frank Langdon gepraat. In hierdie familie is daar konflik en geheime. Maar soos die jare aanstap tot in die 21ste eeu, raak die geheime moeiliker om weg te steek. Verhoudings vertroebel tussen baie van die familielede. Partykeer is vergifnis onmoontlik, al is dit jou eie bloed.

 

Smiley doen ’n meesterlike werk met die vertelling van hierdie fiktiewe familie se verhaal. Dis moeilik om al die karakters te volg as jy nie die eerste twee aflewerings gelees het nie. Die stamboom voor in die boek help ietwat om die karakters te plaas, maar dit vat lank om die karakters te leer ken.  – Antoinique van Staden

 

FOTO: verskaf

The Architect’s Apprentice, Elif Shafak (Penguin, R294)
Hierdie historiese roman speel af in Turkye in die vroeë 1600’s. Jahan, ’n arm Indiese seun, kom in Istanboel aan saam met Chota, ’n rare wit olifant, wat ’n geskenk is van die Maharaja aan die Turkse Sultan. Heeltemal per toeval word Jahan aangestel as die olifant se temmer. Die prinses, Mihrimah, besoek gereeld die olifant in die dieretuin buite die paleis en vinnig raak Jahan smoorverlief op haar, ’n liefde wat sy hele lewe lank sal hou.

Toe die olifant begin werk op ’n bouperseel leer ken Jahan vir Sinan, die Sultan se argitek. Mettertyd word Jahan aangestel as een van die argitek se vakleerlinge en werk saam met hom aan verskeie historiese Turkse geboue wat vandag nog bestaan.

Die boek dek ’n tydperk van 60 jaar en raak soms ’n bietjie langdradig, maar is nog steeds die moeite werd om te lees. – Retha Burger