FOTO: verskaf

Boeke

Simon Rademan oor mode en styl

Vir modeontwerper Simon Rademan is styl baie belangrik. So belangrik dat hy ‘n hele boek daaroor geskryf het.

In The Style Bible (Zebra Press, R250) verduidelik hy wat styl regtig is en wat jy kan doen om stylvol te wees. “As jy in die mode is, beteken dit nie noodwendig jy is stylvol nie,” sê Simon. Die verskil tussen mode en styl sit hy baie duidelik uiteen in hierdie boek. Maar dis ook gepak met praktiese wenke van hoe jy ‘n klerekas beplan, waarna jy moet oplet as jy bykomstighede kies, wat is etiket ten opsigte van dress code en nog baie meer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Besonder interessant ook is die tydlyn vanaf die Georgiaanse era in 1714 tot die hede in 2013 en die belangrikste gebeure van elke jaar wat die mode beïnvloed het. Die kort opsommings is gepak met uiteenlopende en interessante brokkies uit die geskiedenis. Vir inspirasie is die boek ook deurspek met aanhalings van vroue uit verskillende agtergronde. Een van my gunstelinge is die woorde van Janis Joplin :”You can destroy your now by worrying about tomorrow.” Ek het met Simon gesels oor sy boek en waarom styl vir hom so belangrik is.

Waarom wou jy ‘n stylbybel skryf?
Ek kry ontsettend baie oproepe van mense wat vra wat hulle moet dra, hoe hulle moet kies en ek moet dieselfde vrae oor en oor antwoord. Dis nie inligting wat daar buite is nie. Behalwe alles wat in die mode is, is styl nooit in die mode nie, of die konsep van styl is nooit in die mode nie. Ek bly steeds modeontwerper, maar ek wil hê vir ‘n rukkie moet styl in die mode wees.

Hoe lank het dit jou geneem om die boek te skryf?
Die saadjie is eintlik jare gelede geplant. Ek is 24 jaar in die bedryf. My hele lewe lank werk ek aan ‘n loopbaan waar ek wil hê mense rondom my moet beter lyk. So vier jaar gelede het ek in die hospitaal beland met my rug. Ek het baie tyd gehad om te dink en besef ek werk in’n wêreld waar modeontwerp, iets wat jy begin en sodra dit werklik is, is dit ou nuus en dis verby.  Dis waar dit begin het. Ek het begin navorsing doen oor waarom styl nie in die mode is nie.

Het jy voor die tyd ‘n raamwerk gehad vir die boek sodat jy die navorsing stelselmatig kon aanpak? Of het die boek struktuur gekry soos wat jy navorsing gedoen het?
Ek het altyd ‘n raamwerk gehad. Sodra jy begin aantrek en jy het klaar onderklere gekry, waarna kyk jy dan. Dan kry jy klere. Daarna kom jy by bekomstighede, afronding, hare en grimering. Baie mense wat ek ken besluit eers watter skoene hulle gaan aantrek. Ek het ‘n raamwerk gehad van hoe jy opstaan in die oggend en wat die proses is waardeur jy gaan om jou dag se dinge aan te pak. Geskiedenis was nog altyd belangrik vir my. Die einddoel was om terug te keer na wat die basiese beginsels is van wat jy moet aantrek na watter tipe geleentheid.  Dit gaan nie oor my opinie van styl in die boek nie. Daarom is daar 120 vroue se opinies en daar is aanhalings uit verskillende bronne.

In die inleiding sê jy: Almal is deesdae ‘n modekenner en dit beïnvloed styl. Is daar nog plek vir kenners en wie is die kenners?
Daar sal altyd plek wees vir kenners. Ek glo jy is ‘n kenner as jy ten minste 10 000 ure aan ‘n onderwerp spandeer het. Jy kan nie ‘n kenner wees as jy op Facebook en Twitter was en 3 tydskrifte gelees het nie. Ek dink hierdie fase waarin ons lewe sal verby gaan. Mens moet altyd teruggaan na die basics. Mense moet net bietjie terugstaan en nie na al die duisende mense wat raadgee, luister nie.

Is daar iets nuuts op die modefront of is dit net ‘n herverpakking van goed wat ons al gesien het?
Dit is in ‘n nuwe verpakking. Maar daar is nuwe materiale en daar is nuwe druktegnieke en ons kry nuwe kleure en patrone. Wat styl aanbetref, niks is regtig nuut nie. Daar is nog plek vir verandering, soos waar jy bykomstighede dra en hoe jy dit dra.

Die lyn tussen werklike styl en mode is vaag. Waarna moet ‘n vrou streef as sy stylvol en modieus wil wees?
Vir my persoonlik is hierdie een van die belangrikste aanhalings: “A fashionable woman is not always stylish, but it would be so wonderful if she could be”. Daar is ‘n verskil tussen wat jou modieus maak en tussen wat jou stylvol maak. Dit bespreek ek in die eerste paar hoofstukke van die boek.

Jy skryf in diepte oor die klein swart rokkie (LBD). Wat is die regte  LBD?
Die regte LBD is ‘n rok wat volgens jou vorm gesny is, en wat nie klaar allerhande trieks aan het nie. ‘n LBD het nie reeds ‘n buckle, of shoulderpads of dun strappies ens nie. Die rok pas jóú liggaamsvorm en het jou mouvorm, jou neklyn en jou korrekte lengte.  Die res sit jy by met bykomstighede.

Wat is die grootste fout wat vrouens maak as hulle inkopies gaan doen vir klere?
Hulle vat ‘n vriendin saam én hulle luister  na die verkoopsdame.

Is daar ‘n gebeurtenis of tydperk in die wêreld is wat ‘n kolossale impak op mode gehad het?
Die Tweede Wêreldoorlog. Dit is waar mense regtig armoede geken het. Daar was rantsoene. Dis waar die potloodromp vandaan kom. Mense het punte gekry en dit moes hulle gebruik vir wat hulle wou hê. Dit het die mode vir ewig verander.

Jou lys van stylvolle vroue is baie uiteenlopend en daar is onverwagse mense op die lys, onder meer  Anna Neethling-Pohl, Carike Keuzenkamp, Frene Ginwala, Michélle van Breda. Waarom hierdie vroue?
Dis ‘n stylvolle lys. Styl behoort nie aan een mens of een tipe mens nie. Ek ken van die grootste mense wat stylvol is. Met die lys  moes ek aanmekaar seker maak of  dit hulle klere is, die manier waarop hulle praat, hoe hulle lyk, en wat die wêreld reeds van hulle dink, wat bepaal het of hulle op die lys kom. Al hierdie dinge speel ‘n rol by my keuse. Ek wou nie styl marginaliseer nie. Ek het 20 vroue gekies en almal is daar vir die balans wat hulle het. As jy lees wat ek van die vroue sê, sal jy besef dat styl nooit aan net een tipe vrou sal behoort nie.