FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Skarlaken bring twee aweregse karakters bymekaar.

Sarah en Jaap is altwee aweregse karakters en is teenpole van mekaar. In Skarlaken snoer hulle kragte saam om ’n raaiselagtige reeks moorde op te los.

Ons het reeds met dié twee karakters kennis gemaak in Venter se vorige boeke, waar hulle noodgedwonge saam moes werk om ’n vermiste meisie op te spoor. Verder ken hulle mekaar nie en verstaan mekaar ook nie eintlik nie. In Skarlaken (Human & Rousseau, R230) dwing persoonlike motiewe hulle weer in mekaar se geselskap in. Sarah is jonk, effe ongeskik, en is ’n uitstekende kuberkraker wat volgens haar eie reëls leef. Sy probeer om onder die radar te bly, maar kry dit nie altyd reg nie. Jaap is ’n afgetrede polisieman en verkies om dinge volgens die letter van die wet te hanteer. Hy is ook nie so gemaklik met rekenaars en nuwe tegnologie nie.

Sy peetkind, Janien Steyn, is drie jaar gelede op haar ouers se plaas in die Groot-Karoo vermoor. Haar lyk is uitgestal asof sy deel is van ’n landskapkunswerk. Die polisie kon nooit die moord oplos nie, en Jaap soek antwoorde vir die raaisel. Uit desperaatheid maak hy kontak met Sarah, want sy is heel moontlik die enigste mens wat hom kan help om inligting (wat diep weggebêre is, of as daar iets is . . .) op Janien se foon en rekenaar op te spoor. Sarah is self besig om te herstel van persoonlike tragedie en raak teen haar eie beterwete betrokke by Jaap se ondersoek. Dié boeiende verhaal hou jou aan die lees tot op die laaste bladsy. Venter is ’n meester wat jou die heeltyd aan die raai hou en laat wonder wie die skuldige is. Daar is niks voorspelbaar aan hoe sy die gebeure laat ontvou nie. Die moordtonele word so visueel beskryf dat jy die prentjies moeilik uit jou kop kan sit. Uitstekende navorsing verseker dat die agtergrond waarteen die gebeure afspeel heeltemal geloofwaardig is. Deon Meyer sê op die omslag van die boek: “Skarlaken bewys net weer: Irma Venter is wêreldklas.” Al wat ek kan sê, is amen, Deon, amen.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Al jou boeke se name begin met ‘s’; waarom?
Ek sukkel om titels vir my boeke uit te dink. Skoenlapper het nie as Skoenlapper begin nie en Skarlaken het ook eers ’n ander titel gehad. Toe ek na drie probeerslae uiteindelik by Skoenlapper uitkom het ek ’n groep vriende bymekaar gekry en vir hulle gevra om potensiële boekname uit die HAT neer te skryf, maar om net onder die letter S te soek, aangesien ek nou klaar een boek het wat met die letter begin.

Ek kan nie met ’n boek begin as ek nie ’n titel het nie. Die eerste sin is ewe belangrik.

Waarom die spesifieke twee aanhalings voor in die boek?
Aa, die motto’s. Baie mense vra oor die twee aanhalings voor in die boek. Elke boek wat ek skryf word deur ’n aanhaling, gedig of ’n nuusberig geïnspireer. Hierdie spesifieke aanhalings handel oor Janien Steyn, die slagoffer in Skarlaken, se innerlike krisis. Beide dui op haar gevoel van gevangeneskap. Haar behoefte om haarself te wees, om haar passievolle self uit te druk. Ek hoop altyd dat die aanhalings as ’n voorbode vir die leser sal dien, as ’n vinnige inleiding tot daardie eerste bladsy.

Die twee hoofkarakters, Sarah en Jaap, het klein rolle gespeel in jou vorige boeke. Moes jy teruggaan na oorspronklike karaktersketse van hulle om kontinuïteit te behou?
Ek moes, ja. Ek moes weer gaan seker maak ek verstaan wat hulle dryf en wie hulle is. Van hier af moes ek hulle altwee ekstra lyf gee sodat lesers van hulle sal hou – of ten minste van een van hulle sal hou.

Dis vir my belangrik dat lesers van my karakters hou. Ek hou daarvan as ’n leser ’n love affair het met ten minste een van my karakters. Daar moet iemand in die boek wees wat mense in die kop of die hart besig hou. Beide is natuurlik beter.

Waarom juis dié twee by mekaar uitbring, want hulle is altwee maar effe aweregs?
Ek hou mos maar van aweregse karakters. Hulle is baie interessanter as ons gewone mense. Ek wou die jong, menssku, IT-slim Sarah in kontras stel met die ouer, ervare Jaap. Jaap weet veel meer van mense as rekenaars. Ek het dit geniet om stadsjapie Sarah plaas toe te neem en om vir Jaap meer van rekenaars te leer. Ek het dit net so geniet om soms ’n brug tussen die twee te bou. Elkeen kon ook sy eie besondere vaardighede gebruik om die storie vorentoe te dryf.

Jy beskryf die moordtonele van die slagoffers ongelooflik visueel. Waar kom die inspirasie vir die uitsonderlike moordtonele vandaan?
Ek het ’n paar jaar gelede by die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe se uitstalling by Aardklop ingeloer. Sy werk is fassinerend. Ek het van sy idees geleen, en ook een of twee by die nuus. So twee jaar gelede was daar byvoorbeeld hierdie storie oor ’n Suid-Afrikaanse Indiërfamilie wat ’n blik wit verf in die motor gehad het en toe in ’n ongeluk betrokke was. ’n Foto wys waar hulle almal spierwit langs die motor staan. Janien se moordtoneel kom uit my verbeelding.

Tegnologie speel ’n groot rol in hierdie verhaal, nie net die kuberkrakery nie, maar ook in die aanwending van DNS om skuldiges vas te kan trek. Hoe het jy hierdie navorsing aangepak en waarom dit so fundamentele deel van die verhaal maak?
Tegnologie fassineer my. Ek het ’n reeks artikels oor The DNA Project gedoen. Hierdie nie-winsgewende organisasie werk baie hard dat die SAPD hulle DNS databasis kan uitbrei om meer soos dié van Amerika en Kanada te lyk. Ek glo so ’n databasis sal regtig help om misdaad in Suid-Afrika te bekamp. Ek het ook ’n CNN.com artikel gelees oor ’n vrou wat maskers van DNS bou wat sy op openbare plekke optel. Ek moes eenvoudig hierdie ‘huwelik’ tussen kuns en tegnologie in Skarlaken uitbeeld. Dit het vir my baie goed ingeskakel by die aweregse vennootskap tussen Jaap en Sarah. Ek hoop ook natuurlik dat lesers die tegnologie hoek interessant sal vind.

Was daar iets in die verloop van verhaal wat jou verras het, wat jy nie heeltemal beplan het nie?
Ek het nie werklik geweet wie die skuldige is tot so 50 bladsye voor die einde nie. Sarah staan langs die pad met haar rekenaar, die battery amper pap, en sy besef wie die moordenaar is . . . Dis heerlik as ’n boek homself amper so natuurlik klaar skryf.

Wie se verhaal gaan ons volgende lees en sal Ranna en Alex ’n terugkeer maak in dié verhaal?
Die volgende boek gaan Adriana s’n wees. Adriana is Sarah se tante, en ook die vrou wat Ranna van ’n vervalste paspoort voorsien het. Inligting is vir haar ’n kosbare kommoditeit. Sy is ’n restauranteienaar van so in die veertig met ’n interessante geskiedenis. Ek betrek vir Ranna en Alex by haar storie. Die boek handel oor kinders, liefde en moord en loop van die 1980’s tot nou. Die voorlopige titel is Sirkus.