FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Boeke

Skryf is vir Karin Brynard soos om bakstene uit te kraam.

Ja, skryf is vir haar moeilik, maar met haar jongste boek, Tuisland, het dit nog moeiliker geraak.

Met hierdie boek was sy baie meer bewus van alles wat in die skryfproses kan verkeerd gaan. Met haar eerste boek, Plaasmoord, was dit ’n nuutjie en ’n opgewonde besef van dat dit wat sy probeer darem werk. Maar toe wen dié boek ’n prys en Karin moet haar tweede boek skryf. Daar begin die vertwyfeling, want haar eie verwagtinge is so groot, en dit maak die skryf toe vir haar “soos om bakstene uit te kraam.” Onse Vaders, haar tweede boek, is besonder goed ontvang deur lesers en kritici en almal sien met groot afwagting uit na ’n volgende verhaal uit Karin se pen. Tuisland (Penguin, R250) het vier jaar ná Onse Vaders op die winkelrakke geland, vier jaar van bloedsweet vir Karin.

Sy sê self dat skryf vir haar moeiliker geword het. “My eie verwagtinge maak dit moeiliker. Ek glo jou grootste vyand lê in jouself, want dis die waarheid in my lewe. Die natuur, dis die enigste plek waar ek kan terugkeer na kalmte, na perspektief. Daar is geen verskil tussen my en die tandarts op die dorp nie. Die tandarts is net slimmer. Ek is ook glad nie anders as die kassier in die winkel nie. Skryf is net ’n werk en mens is geneig om dit te vergeet.  As ek so angstig raak, dan weet ek ek het vergeet dis net ’n werk.”

Om daardie angstigheid hok te slaan, het Karin geleer om te mediteer. “Ek het baie gesukkel met die boek, omdat ek dit aanvanklik nie kon regkry nie. Toe ek so 90 000 woorde in die verhaal was, besef ek maar die storie gaan glad nie waar ek wil hê dit moet gaan nie. Toe gooi ek dit weg en begin van vooraf. Daar het ek ’n vreeslike wobble gehad en in ’n diep depressie ingegaan. Dit was ’n algemene slegte tyd en die meditasie het my daardeur gehelp. Ek kon die vrees fisiek voel soos ’n pyn deur my liggaam. Wanneer ek gevoel het dit kom, dan het ek gemediteer. Mens verloor perspektief en jy dink wat jy doen is belangrik. En dis nie. Dis net nog ’n crime boek van die duisende wat elke jaar gepubliseer word.”

Vir Karin mag dit dalk voel soos net nog ’n spanningsverhaal wat in die mark beland, maar vir lesers is dit ’n opwindende nuwe episode in die lewe van Albertus Beeslaar. In Tuisland  speel ’n paar storielyne gelyktydig af: Beeslaar se ondersoek na ’n San-leier se klagtes oor polisiegeweld, Koekoes Mentoor se ondersoek na die moord op Kappies, en die Duitse toeris wat aangeval is. Die verhaal skop af met Kytie Rooi wat die Duitse toeris aanval en met die kind wat hy wou misbruik op vlug slaan. Met die hulp van ander mense beland sy en die kind in die Kalahari, waar al die ander storielyne afspeel. Hoe pas Kytie en die kind by die gebeure in en waar pas die Duitse toeris in die raaisel? Jy moet enduit lees om te sien presies hoe fyn trek Karin die drade bymekaar. Dis ’n verhaal wat lank by jou spook nadat jy die boek klaar gelees het. Veral die benarde situasie van die San los jou met baie vrae.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Toe ons verlede keer gesels het, het jy vertel jy is op pad na die Kalahari. Is dit waar hierdie boek begin het?
Ek dink ons het mekaar gesien in Okt 2012 en ek het daardie Desember gegaan. Ek het nie eintlik ’n goeie idee gehad van wat ek daar gaan doen en wat ek gaan aantref nie. Ek het net in die Kalahari aangekom en begin soek na die mense. Oom Dawid Kruiper het nog gelewe en baie van die ander oumas was nog daar. Daar was een ouma in die omgewing wat die taal kon praat. Ek het haar nog gesien, maar al die mense is intussen oorlede. Ek het net in my kar geklim en gery sonder dat ek geweet het waarheen die storie moet gaan, en wie die mense gaan wees wat hom bevolk.

Maar waar het daai besef toe ingeskop van ‘dis waarheen ek gaan met die storie en hierdie mense dryf dit’?
Ek het altyd geweet dat ek ’n sentrale storielyn het. Ek het ’n moord gehad, en ek het moorde gehad wat daaraan aangelas word. Dit was van die begin af my plan van wat moes gebeur. ’n Deel van die plan was om te kyk na die tragedie en die geskiedenis van die San. Ek wou ’n manier vind om te kyk na wie hoort in die land en wie nie. Dit was ’n debat wat toe in die land was en wat in Europa groter begin word het. Hoe meer ek bewus geraak het, hoe meer het ek opgelet. My antennas het reg oor die wêreld die ding opgetel van hoeveel mense migreer. Dis ’n verstommende hoeveelheid van die wêreldbevolking wat eintlik immigrante is. Baie mense woon hier, maar werk elders. Die hele migrasie wat ons gehad het uit Suid-Afrika uit van wittes wat oral heen is, en die mense wat weer hiernatoe kom en die xenofobiese gesprek … Dis wat aan die gebeur was toe ek met die storie begin het. Plus die idee van ‘hier is die San nou, ná duisende jare wat hulle van hul tuiste afgeskop is”. Maar die sentrale ding was die moorde en ek wou uitkom by die tragedie van die San. Ek moes ’n voertuig vind daarvoor.

In die vorige boeke was Beeslaar baie sentraal, maar in hierdie verhaal is hy amper ’n byspeler. Koekoes Mentoor speel die hoofrol. Ek het nogal gesukkel om vat te kry aan haar. Hoe het jy haar geskep?
Die meeste mense kry nie vat aan haar nie, want sy is moeilik. Ek wou nog altyd ’n vrou gehad het wat ’n teenpool is van myself in terme van grootte, omdat ek self graag kleiner wou gewees het. Ek het nog altyd ’n geleentheid gesoek om so iemand te skep, ’n alter ego. Maar in haar geval wou ek gehad het sy moet ’n red herring wees en dis wat sy geword het. Sy moes van die begin af kickass wees in terme van moeilik. Ek het haar aanvanklik vreeslik getemper sodat sy minder wild is en minder vloek, maar ek kon dit nie beheer nie. In ’n stadium het ek haar karakter herskryf en in die eerste paar hoofstukke het ek byvoorbeeld al die vloekwoorde gaan uithaal en dit vervang met jene en mapstieks. Dit het net glad nie gewerk nie. (Lag)

Ek hou baie van Beeslaar. Wat maak hom vir jou spesiaal?
Ek wou ’n ou hê wat bedaard kan wees en wat op ’n manier nie bewus is dat hy tog ’n ontfermer is en dat hy tog ’n mensch is onder sy vel. Van die begin af het ek aan hom die gevoel gehad hy is die ewige buitestaander. Hy is die ongelukkige een in terme van sy kinderlewe. Hy het nie ’n bright kinderlewe gehad nie. Sy jong volwasse lewe was nie geslaag nie en nou gaan hy in sy middeljare in en hy het nog steeds ’n hunkering. In Tuisland wou ek teen die einde vir hom sê: “Die hunkering wat jy het, is nie regtig na die dinge buite jou nie. Dit is ’n gat binne jouself wat jy moet heel.” Maar toe het ek gedink, nee wat, hy moet dit op sy eie manier agterkom en dit is hoekom ek hom geposisioneer het in hierdie boek as iemand wat ’n hunkering het na ’n tuiste. Vir my op die ou einde lê die menslike tuiste binne jouself.

Die interessante ding van hom is toe Beeslaar by Boy Geldenhuys was nadat Heilna hom gebel het, dat hy kon doen wat sy vra. Jy maak nie sy lewe vir hom maklik nie.
Nee. Wat ek nog altyd probeer het met hom, is hy moet genade hê. Hy het ’n versugting na genade, maar hy besef ook hoe noodsaaklik genade in die lewe is. En dit is. Dis eintlik ’n baie moeilike ding vir ’n polisieman, amper soos ’n eed van Hippokrates wat jy aflê, jy moet lewe beskerm. Jy moet nie lewe neem nie, maar ons lewe in ’n baie meer komplekse samelewing.

Ek lees baie sosiale kommentaar in jou boeke, want jy raak onder meer aan seksuele molestering, drankmisbruik en genadedood. Is dit kwessies waaroor jy wonder en kom dit net natuurlik uit in die verhaal?
Dis goed wat my fassineer en dis goed waaroor ek baie dink en baie praat en lees. Ek lees dwarsdeur my lewe verskriklik baie. Ek dink ook omdat daar eggo’s van my eie lewe in is. Soos wat mens ouer word, het mens maar taamlike rowwe patches, hierdie stukke grys pad wat jy moet loop. Baie keer begin van die grys paaie in jou kindertyd. Vir my het dit daar begin en ek dink dit het my op ’n ander manier gestuur as my broer en susters van wonder oor dinge. Vroeg begin lees daaroor. Lees vreeslik baie nie-fiksie, in die sielkunde in, antropologie en geskiedenis. Ek probeer om die kwessies apart te hou, want ek wil in die eerste plek ’n spanningsverhaal skryf. Ek wil nie ’n traktaat skryf oor sosiale kwessies of die politiek of die sielkunde nie. Maar ek dink ek kan dit nie keer nie.

Maar dit is tog in die verhaal soos Jannas wat sê dat depressie is een van die grootste moderne siektes – ’n leegheid van die siel. Is dit so en dink jy as die mens sy band met die natuur herstel dit ’n verskil sal maak?
Vir my maak dit ’n verskil. Ek dink baie van ons lewe baie gefragmenteer. Die feit dat ons in ’n moderne samelewing moet oorleef, maak dit so. Ons raak al hoe meer gediskonnekteer van  dinge wat vir ons sin gee. Een van die diskonneksies wat ontstaan het, is ons diskonneksie met ritueel; ons diskonneksie met godsdiens; diskonneksie met ’n plek waar ons voel ons hoort. Die stedelike samelewing is so ’n amorfe, jy kan ’n bestaan voer waar jy nie jou wortels in ’n spesifieke plek het nie. Daai soort invloede skep leegheid. Jy vermoed dat daar sekere goed is wat jy nodig het, jy werk vreeslik hard, want jy wil die beste vir jou mense gee. In jou veertigs kyk jy eweskielik terug en jy besef jy het niks reggekry nie. Die manier waarop die Boesmans tradisioneel gekyk  het na die plek van die mens in die groter geheel, is dat die mens op ’n liniêre lyn staan met die groter geheel. Dis nie in die Abrahamitiese tradisie van die Weste van God is bo en dan kom die res nie. Die Boesmans het dit nie so gehad nie. In die natuur raak mens weer bewus van daai ordening van dinge en dit is helend.

Jy het weer ’n geweldige lys bronne agter in die boek wat jy geraadpleeg het. Hoe kies jy watter inligting om te gebruik, sodat jou storie nie verlore raak in die navorsing nie?
Dis bietjie van ’n spanpoging. Ekself, omdat ek sensitief is daarvoor, kyk daarna. Aanvanklik het ek navorsing gedoen oor tradisionele plante en ek het gekyk na moderne wetenskaplike uitvindings oor depressie. Ek wou skryf oor depressie en ’n middel daarvoor. My redakteur het gesê gaan weg van depressie af. Toe het ek ’n kanker-ding gaan uithaal. Ek sit letterlik met berge navorsing: ek gaan praat met plantkundiges en dis boeke en dis die internet. So dit is ’n magdom inligting. Aanvanklik skryf ek wat ek dink is relevant en probeer dit inwerk in dialoog. Ek skryf klaar en dan probeer ek reduseer. Dit is maar die enigste manier waarop ek dit doen. Dan het ’n redakteur, Fourie Botha, en ’n buite redakteur, Hettie Scholtz, en dan het ek ook nog vir Frederik de Jager gehad wat na die manuskrip gekyk het. Dis ’n klomp mense wat jou weer so bietjie terugklap en sê nee, jy probeer nou te slim wees.

Die titel, Tuisland, het jy dit van die begin af gehad?
Ek het ’n werkstitel gehad. Dit was Die laaste van die eerste mense omdat dit reg van die begin af moes gaan oor ons eerste mense en die laaste groepie van hulle, en dat daar nou ook moorde onder hulle plaasvind. Toe ek daar aankom, toe besef ek dis so snaaks, in apartheid het ons die tuislande gehad. Tuislande het hierdie verskriklike konnotasie aan hulle. Dis ’n vreeslike gelade woord. En wat het nou hier gebeur, dié mense het basies ’n tuisland gekry. Maar niemand durf dit so noem nie. Dit het my geslaan en toe het ek besef dis wat die titel moet wees.


Gunsteling-karakter in die boek?
Koekoes. Ek het vreeslik deernis met haar ontwikkel omdat sy moeilik is en niemand van haar hou nie. Ek het my so begin vereenselwig met haar. Ek het aanvanklik ’n erge downfall vir haar beplan. Sy moes doodgaan, maar ek kon dit net nie regkry nie. Ek het gedink dit sal ’n goeie einde wees, omdat sy nie ’n karakter is van wie mens hou nie.

Jy het al vir my gesê jy sonder jouself af as jy skryf. Hoe ondersteun jou man, Rien, jou as jy skryf?
Hy ondersteun my meestal deur sy mond te hou. (Lag). Hy is gelukkig self baie privaat en hy glo aan ander mense se privaatheid en respekteer dit.