FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Skrywer oor dood en verlies

Hoe verwerk jy die skielike dood van ’n geliefde? Is daar ’n resep om dié verlies te verwerk?

Vir die skrywer, Helen MacDonald was daar geen resep van hoe om haar pa se skielike dood te verwerk nie. Haar resep om die pyn te verwerk, het ingesluit om haar af te sonder van mense en om ’n sperwer (goshawk) te koop wat sy opgelei het om te jag.

Valkejag vorm ’n deel van haar boek, H is for Hawk (Vintage Books, R175), waarin sy meer vertel van haar verhouding met haar sperwer en die opleidingsproses. Sy delf ook in die geskiedenis en die kultuur van valkejag en die voëls se plek in die natuur. Dié storielyn vervleg sy met ’n biografiese oorsig van die skrywer T.H. White wie se boek oor sy eie poging om ’n sperwer af te rig, haar reeds as agtjarige dogtertjie gefassineer het. Sy kon toe nie alles in die boek verstaan nie, maar wat haar getref het, was dat hier ’n volwassene was wat erken het hy kan iets nie doen nie. Sy het geglo volwassenes skryf boeke oor goed wat hulle weet hoe om te doen en sy kon nie verstaan waarom hy oor sy mislukte poging wou skryf nie. Dit het haar anders na grootmense laat kyk. Sy het besef hy het van iets probeer weghardloop en vir hom was sy sperwer en die opleiding daarvan die manier om dit te doen.

Nadat haar pa dood is, was sy opnuut aangetrokke tot White se boek. Daar is parallelle tussen haar ervaring en die van White, veral rakende die verliese wat hulle in hul lewens ervaar het. Mens raak vinnig meegesleur deur haar obsessie met Mabel, haar sperwer en hoe sy probeer het om deur haar verhouding met dié voël te onstnap van ’n onuithoudbare situasie.

Vir haar is hierdie boek ’n manier om sin te maak van die rouproses, van verlies, en van heelword ná so ’n ingrypende gebeurtenis. Sy verduidelik dit aan die hand van ’n pottebakkersmetafoor: om ’n pot te maak, gooi die pottebakker ’n stuk klei op die wiel, dan begin hy om vorm daaraan te gee totdat dit ’n pot is. Vir haar was hierdie boek die pot wat sy uit haar rouproses geskep het. Daarin is al die spore van pyn, depressie, gemis en verlies vasgevang en kon sy uiteindelik die boek op ’n rak sit. Die boek was haar manier om haar pa te groet, maar ook die mens wat sy was, want deur die skryf van dié boek het sy ’n ander mens geword.

FOTO: Marzena Pogorzaly

FOTO: Marzena Pogorzaly

Dis ’n ongewone boek wat nie in ’n spesifieke genre ingedeel kan word nie. Dis deels memoir, natuurverhaal en biografie oor die skrywer T.H.White. Toe jy dit begin skryf het, het jy dit spesifiek so beplan of het dit in die skryf daarvan ontwikkel?
Dis so bietjie van altwee. Ek wou hê dit moes ’n vermenging van genres wees, maar ek het nie geweet hoe dit sou ontwikkel toe ek dit begin skryf het nie. Ek wou wel begin met die hoofstuk oor die natuur. Die tweede hoofstuk is die rou memoir en die derde handel oor die skrywer T.H. White. Die drie genres begin afsonderlik, maar bots met mekaar en raak ineengevleg. Dan raak dit moeilik om dit in ’n genre in te deel. Dit was alles ’n eksperiment soos wat die skrywery gevorder het. Voordat ek begin skryf het, het skrywers my vertel, ’n boek begin jou dikwels skryf soos wat jy dit skryf. Dit vertel jou wat om te doen en dit was inderdaad ook so! Ek het die boek gevolg. Daar was tye wat ek baie hard probeer het om te skryf; ek het byvoorbeeld ’n hele stuk geskryf oor ’n partytjie wat ek in Londen bygewoon het. Dit was vir my belangrik, want ek was in daardie stadium so treurig en ek het nie ingepas nie. Maar dit het nie gewerk nie. Die boek het dit geweier en ek moes dit uithaal.

Hoe was die skryfproses, want jy moes baie introspeksie doen oor jou gevoelens oor die skielike dood van jou pa?
Skielike sterftes is eienaardig. Dit was my eerste ervaring daarvan. Met sy dood het ek besef daar is ’n storie, maar dit was groter as ek. Dit het my vyf jaar geneem om genoeg afstand te kry voordat ek daaroor kon skryf. Die verhaal moes die spoor volg van my ontdekkings en insigte van die jaar ná sy dood. Party daarvan was baie selfvernietigend, party was om te probeer ontvlug en party was om ’n voël te wou wees. Stadigaan het ek meer begin verstaan oor lewe en dood, die groot goed. Ek wou hê die boek moes dit navolg asof dit in reële tyd gebeur en daarvoor moes ek ’n karakter in my eie boek word. Dit was interessant, want sy is nogal ’n onbetroubare verteller om mee te begin. Sy het nie ’n benul gehad van enigiets nie. Dikwels het ek myself afgevra, veral in die vroeëre dele van die boek: wat het jy gedink?! Ek was regtig gebroke; ek en my pa was goeie vriende en hy was die eerste groot verlies van my lewe. Ek dink daardie eerste verlies is altyd ’n slegte een . . .

Jy beskryf jouself as ’n waarnemer in die boek, maar jou pa was ook een. Hy was ’n fotograaf en vliegtuig ‘spotter’. Is jy as waarnemer so bietjie van ’n buitestaander?
Inderdaad. My pa het my geleer hoe om na die wêreld te kyk. Ons het baie vir onsself gelag, want ons was altwee ‘nerds’, met ons verkykers om ons nekke. Ek het van voëls gehou en hy van vliegtuie. Ons het ’n gemeensaamheid gehad juis deur die wete dat ons nie in die wêreld ingepas het nie. Die gevoel van om ’n waarnemer te wees is iets wat ek by hom geleer het, om bietjie bang te wees om sommer in sosiale situasies in te storm. Ek was altyd die buitestaander aan die rand van die partytjie, wat in my eie verbeeldingswêreld gewonder het wat almal doen. Mens kan maklik in ’n patroon verval en dis nie altyd gesond nie. Soms moet jy tussen mense wees. Die hele punt van die boek is dat dit as buitestaander ’n fassinerende manier is van kyk na die wêreld, maar dat mens te ver kan gaan. Toe ek die sperwer gekry het, het ek die waarnemer par excellence geword. Ek het ’n ding geword van oë en vlerke en ek het gevoel asof ek deel was van die landskap. Dit was ’n radikale manier van waarneem en het my amper laat disintegreer tot niks weens my vreemde verbeeldingsvlug.

Waarom wou jy juis ’n sperwer oplei nadat jou pa dood is?
Dis een van die enigste voëls wat ek nog nie opgelei het nie en ook omdat dit legendaries moeilik is om dit te doen. Hulle is fynbesnaard met ’n reputasie as geveerde haelgewere – doeltreffende en wrede moodenaars. Daar’s ook ’n aanname dat vrouens nie sperwers kan oplei nie. Die tendens is dat dit eerder voëls vir mans is. Toe my pa gesterf het, was ek hierdie afgesonderde, en effe moorddadige mens. Ek dink daar is dikwels baie woede vasgevang in rou. Ek het soos ’n sperwer gevoel, maar ek het ook geweet die sperwer sal ’n massiewe afleiding wees. Van al die roofvoëls is die sperwers so bietjie die under dogs, hulle is nie die voëls van posh valkeniers nie! Met hulle gaan jag jy skelm en gaan dan huis toe met aandete. Ek hou daarvan dat hulle nie ’n hoë status het nie.

Waarom die naam, Mabel vir jou sperwer?
Dis na aanleiding van die Latynse woord amibilis wat liefdevol beteken, en ek wou iets gehad het om lief te hê, al was ek ’n bietjie stukkend. Dis bisar om te dink jy kan liefde by ’n roofvoël vind. Maar ek het haar ook Mabel genoem omdat daar in valkejag ’n tradisie bestaan van hoe wreder naam jy jou valk gee, hoe groter is die kans dat sy ’n swak jagter sal wees. Ek het ’n vriend met ’n sperwer met die naam Babydoll, maar selfs hy voel ’n bietjie skaam daaroor. Hoe langer mens ’n dier ken, hoe meer leer jy van sy persoonlikheid. Ek het ontdek dat Mabel ’n regte sweetie was – net nie as jy ’n haas was nie! En ons het selfs gespeel. Baie van my kennisse was gevul met afgryse hieroor. Ek het later uitgevind baie van hulle speel ook met hul sperwers, maar wil dit net nie in die openbaar erken nie. Dit sê baie meer oor die kultuur van manlikheid as oor sperwers.

Wat vir my uistaan in die boek is hoe selfvernietigend jy geraak het in die rouproses. Wanneer het jy besef dis glad nie goed vir jou nie?
Ek kon verlore geraak het in dwelms of ’n affair, maar die sperwer was my manier om te ontvlug. Ek het weggehardloop van mense af en was regtig alleen. Ek’s spyt dat ek na my pa se dood nie meer tyd saam met my ma en broer deurgebring het nie. Hulle het my vergewe, maar ek was baie selfsugtig. My aha-oomblik was in Londen by die gedenkdiens wat ’n geruime tyd na my pa se begrafnis gehou is. Dit was ’n vreemde ervaring. Hy was ’n koerantfotograaf en het baie kollega’s en vriende gehad. Ek moes praat en ek was skielik vreesbevange. Toe ek na die gehoor kyk, het alles verander. Ek het besef dis my pa se vriende en kollega’s wat voor my sit. Toe het ek geweet ek was ’n idioot om my so af te sny van ander mense. Ek het ook besef dat ek hierdeur myself baie depressief gemaak het en dat ek professionele hulp nodig gehad het.

Was jy verras dat die boek so goed ontvang is en hoe moeilik is dit om daarna jou volgende boek aan te pak?
Ja. Dis uitsonderlik. Toe ek die boek aan my redakteur gestuur het, was ek baie bekommerd, omdat ek geweet het dis ’n ietwat vreemde boek. My ma is baie verheug, want vir jare het ek nie ’n sent gehad nie en nou het ek! Ek het nog nie tyd gehad om regtig aan die volgende boek te dink nie. As ’n boek so goed doen, dan is dit ysingswekkend om te dink wat ek volgende gaan skryf. Dit kan nie soortgelyk wees aan hierdie een nie. Op ’n manier is dit baie bevrydend, want ek kan iets ongewoon aanpak. Ek dink my volgende boek sal heel moontlik iets te doene hê met die mens se verhouding met die natuur.