Schalk Schoombie met Griet

Schalk Schoombie met Griet

Boeke

Sonde met die bure oor ’n boom

Die verhaal gaan oor ’n boom, of eintlik twee bome wat aanleiding gegee het tot sonde met die bure.

Met die intrapslag kon ek met die navorser identifiseer oor sy ergernis met sy bure wat die twee bome afgesaag het. Al het die groot witstinkhout- en die wit moerbeiboom in die bure se erf gestaan, het die navorser die twee bome as syne geag, want hulle takke het oorgehang in sy erf en ’n pragtige skadu gegooi. Sy vreugde oor die twee bome was ongekend, en die twee bome was deels ook die rede waarom hy en sy vrou jare gelede die huis gekoop het. Nou ja, toe saag die bure die bome af en die navorser begin met sy vete. En wat ’n vete . . .

In Schalk Schoombie se debuutroman, Boomkastele, ’n Sprokie vir ’n stadsmens (Human & Rousseau, R226) loop dié storielyn parrallel met die van ’n jong misdaadverslaggewer wat stories jaag, maar ook op soek is na die ontwykende graffiti-kunstenaar wat Da Vinci se Vitruviaanse Man op stadsmure spuitverf. Vervleg deur die boek is daar ook koerantknipsels en rekenaar-gemorspos, daai bedelbriewe wat gewoonlik in jou ‘spam’-legger land.

Die boek is lieflik geskryf en jy weet die skrywer het elke woord opgeweeg voordat hy dit ingespan het om sy boeiende verhaal te skep. Dis moeilik om kortliks te sê waaroor die verhaal gaan, want daar is ’n paar verskillende temas wat saamwerk om die geheel te vorm. Daar is bome, ’n boomfluisteraar, vreemde mense, boomhuise, papegaaie, donderstorms en nog baie meer. Lees dit net, want dis roerend en laat jou oor baie dinge in die lewe nadink. En moet nie mense of boeke op ’n baadjie takseer nie.

Ek het per e-pos met Schalk gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy skryf in verskillende genres, maar jy is ook ’n joernalis. Hoe het dit gekom dat jy ’n roman geskryf het?
Die insident met die afkap van die bome het werklik met ons gebeur, meer as vyftien jaar gelede. Ek wou iets daaroor skryf, nie noodwendig ’n roman nie. Dit sou ook kon werk as ’n kortverhaal of novelle, maar toe ek die eerste hoofstuk skryf, het die storie begin uitkring,wortel geskiet.

Waar kom die inspirasie vir die verhaal vandaan?
Die tydsgees fassineer my. Ek het as rolprentresensent jare lank probeer peil wat die impak en dryfvere daarvan kan wees. Die groot boom in my agterplaas wat ek deur my skryfplek se venster kan sien, lok heelwat voëls. Dit het my monsterboom geword, die boom van die kennis van goed en kwaad in ’n moderne milieu.

Moes jy baie navorsing doen daarvoor en hou jy van navorsing?
O ja, baie. Die navorsing het so algaande gebeur, en een ding lei na die volgende. As joernalis is navorsing vir my ’n leefwyse en noodsaaklikheid, dit hou nooit op nie. En deurentyd kom jy op vreemde stories en feite af, immer bruikbaar vir ’n storieverteller!

Hoeveel van die verhaal is outobiografies?
Eintlik baie min. Van die kwessies waarmee die navorser stoei, is natuurlik my eie. Sekere insidente het wel gebeur, maar ek het dit oordryf en opgestuur. Maar die draad van koddige nuusstories wat deurloop, het ek oor jare versamel. Niks is so fabelagtig en vreemd soos die werklikheid nie.

Daar loop twee verhale parallel met mekaar in die boek, waarom?
Ek wou iets wys van ’n karakter wat in sy eie afgesonderde wêreld leef, weg van die gewoel, dis die navorser. Hy bou aan sy droomplek waar ’n boomkasteel moontlik is. Maar om hom gaan die lewe voort in die regte, soms wrede wêreld, waar die misdaadverslaggewer op soek is na ’n geheimsinnige muurkunstenaar. Tog is geen mens ’n eiland nie, die grense kan onverwags vervloei. . . En ek vind dikwels dinge is op vreemde maniere verbind.

Grond jy die karakters op mense wat jy ken, ontmoet het of dink jy hulle uit?
Iets van al drie. Dis samestellings van mense. Jy hou jou oë oop, luister hoe mense praat. Jy leen en steel maar ’n bietjie hier en daar, nie te opsigtelik nie, wysig en pas aan, op ’n speelse manier. Jy onthou mense uit die gryse verlede. Die navorser het sekere kenmerke wat my aan myself herinner. Maar al die bure is my eie skepsels.

Was daar ’n karakter wat hom/haar deur die loop van die verhaal aangemeld het vir diens? Of het jy van die begin af ’n helder besef gehad van wie almal in die storie gaan speel?
Die boomfluisteraar Lydia het skielik opgedaag. Ek het nie die boek aangepak met haar in gedagte nie. Toe onthou ek dat die vermaaklikheidsagent Moonyeen Lee my een keer van ’n boomdokter vertel het wat siek bome in haar straat behandel het. En toe ek dit op die internet begin navors, het ek gevind daar’s werklik boomfluisteraars in die VSA. Hulle is baie interessante mense, taamlik eksentriek.

 Daar is verskillende temas in die verhaal. Watter een lê jou besonder na aan die hart?
Hoe ons met die natuur saamleef in die voorstede. In ons tuine en parke. Die bome in die boek het sterk karakters ontwikkel. Hulle het selfs mitiese name. Ek het antieke bome nagevors en was verstom om te ontdek dat sommige bome die oudste lewende wesens op aarde is, duisende jare oud. So het ek nuwe respek en liefde en waardering vir bome gekry. Ek kyk oral en gedurig na bome.

Jy is ook ’n bekende resensent. Hoe voel jy oor resensies oor jou eie werk?
Mens hoop dat die resensente sal verstaan wat jy wou bereik en self meegevoer raak, nie net analities koud lees nie, maar betrokke nes “gewone lesers”. Dis nie altyd die geval nie. Maar dis tog deel van skryf, om reaksie uit te lok. Nie alles wat jy skryf gaan byval vind nie. Elkeen het sy eie, soms nie so beskeie, mening.

Lê daar nog ’n roman voor, of is daar eers ander skryfwerk wat wag?
Ja, ek werk reeds aan iets nuuts. Dit is ’n “whodunit” met ’n kinkel of vier. Die meeste skrywers werk mos maar aan meer as een projek gelyk, soos die inspirasie hulle pak. Ek skryf meestal om den brode as joernalis en resensent, en as ek gelukkig is ook as dramaturg.

Van die genres waarin jy skryf, het jy ’n voorkeur vir ’n spesifieke een?
Die maklikste vir my is dramas, omdat ek dit gestudeer het en al meer as ’n dosyn verhoogstukke geskryf het. Joernalistiek kan soms baie opwindend wees, soms weer dood vervelig. Om’n roman te skryf is baie harde werk, maar bevrydend en vervullend op vele vlakke. Dis ’n ontdekkingsreis soos min.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer met ’n roetine?
As joernalis moes ek desnoods altyd skryf om spertye te haal, verskeies gelyk. So ek kan myself nogal dissiplineer om daagliks te skryf, al is dit net ’n paragraaf. Dis mos hoe mens ’n olifant eet, happie vir happie.

Watter boeke lê tans op jou bedkassie?
Die Bybel (Ou Vertaling), Die Onbekende Van Gogh, Chris Schoeman se boek oor Vincent van Gogh se kleinboet, Cor. Ek’s in die pylvak met Charles Dickens se lywige meesterstuk, Little Dorrit. En The Vanished Ones, ’n slim riller deur Donato Carrisi.