FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Soveel boeke, soveel menings

Daar is soveel boeke om te lees. Ek kom bloot nie altyd by alles uit wat ek graag wil lees nie.

As ek graag wil weet of ek ’n nag moet opoffer om ’n spesifieke boek te lees, gaan soek ek dikwels na ’n paar resensies daaroor. Wanneer ek die resensies lees, besef ek daar is soveel menings oor een boek. En dis reg so. So hoort dit ook. Elke leser is geregtig op sy mening. Van die boeke wat as onleesbaar beskryf is, het ek al uit nuuskierigheid gaan lees. Partykeer is ’n paar vir my eintlik lekker stories, maar daar is ook twak wat uitgegee word. Wanneer ek ’n boek lees, dink ek altyd “sal ek geld uitgee hiervoor?” Maar dan moet ek ook bieg, waar dit boeke aangaan, het ek ’n besondere oop beursie!

A Sportful Malice, Michiel Heyns (Jonathan Ball Publishers, R200)
Michael Marcucci, ’n Suid-Afrikaanse geleerde, is op pad na Toskane om sy literêre navorsing af te rond en laat ’n minnaar agter met wie hy sy avonture via e-pos deel. Die dorpie Gianocini skyn die ideale omgewing te wees om sy werk voort te sit. Tog kou dié verwaande pedant harde bene; sy aandag word deur verskeie vermaaklike insidente afgetrek en boonop kruis hy paaie met etlike aanstootlike karakters. Die voorvalle raak by tye verspot, maar in die hande van ’n meesterlike storieverteller soos Heyns geniet ’n mens hierdie klugtige oomblikke terdeë. Ten spyte van Heyns (bekroonde vertaler en self ’n akademikus van formaat) se uitgebreide woordeskat, gedetailleerde verteltrant en ietwat trae verloop van aksie, raak die storielyn egter nooit voorspelbaar of vervelig nie – dié roman word sonder voorbehoud aanbeveel. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Aandete, Herman Koch (vertaal deur Daniel Hugo, Protea Boekhuis, R200)
Hierdie roman deur ’n Nederlandse skrywer maak opslae in verskeie tale. Die storie handel oor twee broers, hul eggenote en veral die vyftienjarige seuns.
Welvarende Paul en Claire Lohman en Serge en Babette Lohman gesels by ’n goeie restaurant oor onbenullighede terwyl ’n bloedstollende verhaal mettertyd deur Koch blootgelê word. Die roman verloop soos ’n uitsoek-ete in vyf hoofdele, met die fooitjie as ’n epiloog.
Paul is jaloers op sy suksesvolle broer Serge wat ’n kandidaat in die nasionale verkiesing is, en dis aanvanklik maklik om hiermee te identifiseer. Die seuns se aanval op ’n vrou sonder heenkome word deur ’n versteekte sekuriteitskamera opgeneem en uiteindelik word hulle almal gekonfronteer met die gevolg van hul onbesonnenheid.
Die verhaal bring onafwendbaar die plaaslike gebeure ten opsigte van die Waterkloof-vier na vore. Die storie belig morele waardes en maak die leser bewus van ouerskap, en hoe jy jou kind se toekoms kan beïnvloed. Die spanning is voelbaar en die vraag ontstaan tot watter mate ouers eerlik is en blameer kan word vir hul kinders se dade. - Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kersfees op Wonderfontein, Gerrit Olivier (Rosslyn-Uitgewers, R120)
Wat ’n kosbare bundel van Gerrit Olivier, wat afspeel in die Bosveld, Vrystaat, en die Kaap. Olivier skryf kultuurgeskiedenis van onmeetbare waarde op. In Maart ontvang hulle moskonfyt van die Kaap, en die gesin kry moskonfyt wat ’n broodjie deurdrenk en huisgodsdiens na ete, albei deesdae skaars ondervindings.
Olivier vertel hoe hy skool toe is en van die destydse foto met sy skoolpet. Hy moes uit die koshuis skoolgaan en hy dink nostalgies terug aan die vriendelike koshuismoeder. Kostelik is sy ma se waarskuwing om sy skooltrui op te pas, terwyl Olivier droogweg skryf dat hy nie bekommerd was dat iemand sy groen skooltrui met geel hasies ongesiens sou vaslê nie.
Die gesin reis deur die nag vir Kersfees na Wonderfontein, waar die kinders soms in die fontein bad met swemklere aan. Roerend om te lees hoe sy ouma altyd ’n groot bol tou in haar voorskootsak gehou het vir die kleinseuns wat gereeld ’n stukkie “nodig” gehad het, al wonder Olivier nou wat hulle daarmee gedoen het. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kosblik, saamgestel deur Nicole Strauss (Quellerie, R220)
’n Fees van klein happies vir diegene met kort leestydjies. Verskeie Afrikaanse verhale bied elk ’n vars interpretasie van kosvertellings.
Isobel Dixon se heimwee oor kinderdae en haar susters vertel van ’n kaas-en-tamatiebroodjie. Kerneels Breytenbach se koninklike bredie of Emile Joubert se wynhoender van Boergondië verg meer moeite as Dixon se broodjie, maar dien as inspirasie vir ’n spesiale dis.
Aangesien die medewerkers so verskil, is die spyskaart uiteenlopend, en kan jy jou verlustig in stories oor tradisionele geregte soos Japie se gunsteling of waterblommetjiebredie.
Hierdie bundel is ook bedoel vir ernstige lesers, nie net vir entoesiastiese eters nie. Rachelle Greeff se beige handsak-verhaal van die sieklike, bejaarde Tannie Bester wat smag na tee en yskastert eindig onverwags. Pearlie Joubert se donker “Aandete” oor ’n ontstellende verhouding is treffend, soos Emile Joubert se meervlakkige “Hotel Room” oor twee mense in ’n gesofistikeerde restaurant.
Die bundel verras verder met ’n paar gedigte. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Watch Your Back, Karen Rose (Headline, R265)
Stevie Mazzetti se man en seun word doodgeskiet tydens ’n winkelroof wat skeefgeloop het. Die skuldige is aangekeer en gevonnis. Stevie was verwagtend met ’n dogtertjie toe die tragiese gebeure plaasgevind het. Alhoewel sy sukkel om haar man en seun se dood te verwerk, moet sy aangaan met haar lewe ter wille van haar dogter. Agt jaar later is sy ’n speurder vir die polisie in Baltimore. Sy is ’n paar maande gelede op ongeskiktheidsverlof geplaas nadat sy geskiet is tydens ’n ondersoek. Op haar eie tyd ondersoek Stevie sake waarby haar voormalige kollega betrokke was, nadat dit aan die lig gekom het dat hy korrup was. Die oud-polisieman Clay Maynard het haar lewe gered. Hy is verlief op haar en sal alles in sy vermoë doen om haar te beskerm. Daar’s weer ’n aanslag op Stevie se lewe. Sy moet probeer uitvind watter een van die sake wat sy ondersoek haar lewe op die spel geplaas het. Clay probeer help, maar in ’n poging om hom te besekrm, wil sy nie hê hy moet betrokke wees nie. Wanneer haar dogtertjie se lewe ook bedreig word, besef sy hulle moet saamwerk om uit te vind wat aangaan voordat dit te laat is. Die uitstekende speurverhaal boei tot aan die spannende einde. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Verwoerdburg, Johann Rossouw (Umuzi, R180)
Jakes Botha het in Verwoerdburg grootgeword, maar hy het lankal die stof van Verwoerdburg en Suid-Afrika van sy voete afgeskud. Hy bevind hom nou in Monaco waar hy ’n idilliese bestaan voer saam met sy veel ouer vriendin, Ariane, wat hom die vryheid bied om voltyds te skryf. Al probleem is dat hy nie aan die skryf kan kom nadat hy sy eerste roman “Die agtergeblewenes” voltooi het nie. Met hierdie boek (Verwoerdburg) het hy sy verlede uit hom probeer uitskryf, en daarin rig hy ’n dwarsklap aan al sy eertydse skoolmaats, wat dit as verraad beskou.
Die verhaal word afwisselend deur elkeen van hierdie ou skoolmaats vertel, met Jakes wat tussenin aan die woord kom. Op hierdie manier word die leser voorgestel aan al die karakters in die boek.
Die boek is ’n toonbeeld van die identiteitskrisis wat baie blanke Afrikaners teister wat in die 70’s en 80’s grootgeword het.   – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vaarwel, klein soldaat, Piet van Rooyen (Protea Boekhuis, R140)
Jim Thorpe beheer ’n geheime kommando op die plaas, Langlaagte in die Vrystaat met streng militêre dissipline. Sy half-Sjinese dogters, Lulu-pai en Nicole, is van die gevaarlikste soldate in sy kommando. Lulu-pai se eerste sending is uiters suksesvol. Dit gee haar selfvertroue om haar teen Thorpe te verset. Sy vermoor hom en die twee susters vlug. Deur die toedoen van Yerter-Garrido, die enigste mens wat Lulu-pai in Johannesburg ken en vertrou, beland die susters in die onderwêreld van dwelms en prostitusie. Met die hulp van Thorpe se twee Sjinese vrouens en die Sjinese gemeenskap slaag kaptein Gericke en Ruben om hulle op te spoor en te bevry, sodat hulle kan tereg staan op die moord op hul pa. Die verhaal is op die waarheid gegrond en gebeure en omstandighede word grusaam en realisties beskryf. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The love and death of Caterina, Andrew Nicoll (Quercus, R166)
H.R. Valdez is ’n beroemde skrywer op ’n dorpie in Argentinië. Hy word as ’n ikoon beskou en is hoogs gerespekteer. Dan tref skrywersblok hom en vir maande worstel hy met slegs een sinnetjie wat net nie meer wil word nie! Die dorpie word regeer deur die polisie commandante. ’n Groep rebelle smee ’n komplot om die verdrukking te beëindig.
Valdez ontmoet en raak verlief op ’n student by die universiteit waar hy lektor is. Caterina is baie jonger as hy, en sy skryf ook. Liefde is vir Valdez ’n vreemde ervaring, want hy het grootgeword met ’n pa wat onder baie verdagte omstandighede verdwyn het en ’n baie kil ma. Onder druk van sy ma vir kleinkinders, besluit hulle om te trou. Caterina maak egter dan die groot fout om haar boek vir Valdez te gee. Omdat haar boek verfrissend en nuut is, verander Valdez se oppervlakkige liefde in woede en jaloesie. Met ’n oproep na die commandante gee hy Caterina oor as ’n revolusionêr, sy word gevange geneem en verdwyn eenvoudig. Waarop Valdez natuurlik Caterina se boek laat publiseer onder sy naam! Die boek lees maar langtand, en ek beveel dit nie aan vir iemand wat iets ligter geniet nie. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Secrets from the past, Barbara Taylor Bradford (HarperCollins, R210)
Serena Stone is ’n oorlogfotograaf, net soos haar bekende pa, Tommy, en haar peetpa, Harry. Na haar pa se dood begin sy om ’n boek oor sy lewe en sy fotografie te skryf. Tydens haar navorsing kom sy af op ’n pak ou foto’s wat haar geweldig skok en wat haar alles in haar lewe laat bevraagteken. In haar desperate pogings om agter die waarheid te kom, stel sy haarself en haar kêrel, Zac, in gevaar.
Die verhaal word onnodig lank uitgerek, en die geheim (waaroor die boek eintlik gaan) kom eers in die tweede helfte van die boek te voorskyn. Daarby is dit asof die skryfster haar leser onderskat en alles in geweldige detail verduidelik. Van die dialoog is ook heeltemal absurd. Aanhangers van Barbara Taylor Bradford sal seker die boek geniet, maar enigiemand anders moet maar verbyhou.   – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mateship with Birds, Carrie Tiffany (Picador, R296)
Die verhaal speel af op ’n Australiese plattelandse dorpie in die 1950s. Harry is ’n middeljarige oujongkêrel wat ’n melkboerdery bedryf en ’n ywerige voëlkyker is. Hy ontwikkel ’n obsessie met sy buurvrou, Betty, ’n enkelma van twee jong kinders, maar doen niks daaromtrent nie, behalwe om haar met sy verkyker dop te hou. Mettertyd neem Harry dit op homself om Michael, die buurseun, bietjie in te lig oor die blommetjies en die bytjies. Dis waar die boek volgens my uitmekaarval: die seksuele tonele word op ’n kru, onaangename manier beskryf.
Die titel van die boek het ’n tweeledige betekenis: voëls en dan ook die Australiese slengterm vir ’n vrou. Soos afgelei kan word verwys ‘mateship’ na vriendskap maar dan ook na die seksuele daad.
Ek kan glad nie die punt van die boek insien nie – mens wonder wat die skrywer gerook het terwyl sy hier geskryf het. – Retha Burger